Suriname is weer oop vir toeriste wat ingeënt is.
In Nederland skryf De Volkskrant:
“Spring op de fiets, trek wandelschoenen aan: dit is de zomer van buitenkunst en beeldenroutes. Het aanbod is overweldigend, want door corona werden veel exposities uitgesteld. De Volkskrant selecteert tien expedities langs rivieren, in kloostertuinen, parken en natuurgebieden.”
In Brussels is mense genooi om maskerloos ’n hengse nagklubjol te hê. Dit is gereël deur departement in beheer van Cultuur, Toerisme en Grote Evenementen. Hulle het naamlik 300 kaartjies beskikbaar gestel vir enige een om in ’n nagklub te gaan dans, die plek waar die sogenaamde superspreader events die gereeldste voorkom.
Nog 50 kaartjies is uitgedeel aan die kunstenaars en die tegnici wat daardie aand sou werk.
Almal is toe kort voor die geleentheid aan twee toetse onderwerp: ’n sneltoets en ’n meer akkurate toets waarvan die resultate eers dae later bekend sou word.
Uit die 300 mense wat kaartjies gekry het om te gaan dans, het 250 uiteindelik opgedaag vir die toets. Dié wat negatief getoets het, kry toe ’n QR-kode op hulle fone en hulle kon ingaan.
Foto: Pixabay
Om 22:30 het partytjie begin. Om 03:00 het die laaste musiek gedoof en almal is weer getoets.
Die rede? “Het doel is om feest te vieren zoals in de goede oude tijd, om te kunnen dansen, mensen ontmoeten en plezier te beleven zonder masker en zonder afstand, en zonder in een bubbel te blijven.”
Almal vrees die Delta-variant en in België soek die owerhede dus maniere om mense te toets vóór hulle toegelaat word by moontlike superspreader events.
In Nederland, waar die inentingsyfer baie hoog is, kon die owerhede die technokultuur toelaat om, ten minste tydelik, weer na normaal terug te keer. In Klub Paradiso, waarna soms verwys word as die Amsterdamse poptempel, is 1 500 jongmense by die heropening weer toegelaat om maskerloos te dans dat die sweet spat.
Die Belge wil ook sulke groot geleenthede weer toelaat, maar aangesien Delta, wat veel meer invektief is enige van die ander variante, nou besig is om deur te wêreld te versprei, probeer die owerhede kyk of blitstoetse dalk die verspreiding effens kan vertraag. Delta is tans die dominante variant in België.
Delta is ’n bliksem, maar hoop is die uitkoms
Vyf jaar gelede was ek in St Lucia in KwaZulu-Natal, kamera om die nek. Ons het langs die strandmeer gaan stap waar daar baie duidelike waarskuwings teen krokodille opgerig was.
Foto: Marianne de Jager
Ek en my geliefde het langs die bord gaan staan en my ma het ons afgeneem (ons seun was te cool om by sy ouers gesien te wil wees).
Ek brand om terug te keer na daardie dae, toe die “moordenaars” sigbaar was.
'n Lang lens is die antwoord, veral daar in St Lucia as jy kaalpoot rondloop. (Foto: Izak de Vries)
As fotograaf neem ’n mens soms berekende risiko’s. Ek sal ’n krokodil nooit onderskat nie – hulle is blitsvinnig oor ’n kort afstand. Maar ek sal ook nie dat vrees my keer om goeie foto’s te kry vanaf ’n redelike afstand nie.
Foto: Izak de Vries
Ek is al deur ’n leeu aangeval. Dit het blitsvinnig gebeur. Ek was binne ’n motor saam met ’n ander fotograaf. Ongeveer 20 meter van ons af was ’n redelik gevrekte leeumannetjie aan die dut. Skuins regs het ’n leeuwyfie aangekom. Ons het effens uitgeleun by die venster om haar beter te kan afneem, toe storm sy.
Ek het my kamera teruggegooi en agter die ruit, wat effens opgedraai was, ingeduik. Haar slagtande het dawerend teen die ruit gebots en my kussing wat ek gebruik het vir dooierus, het sy gegryp en weggehardloop.
Nog een waarvoor ek versigtig is. Seekoeie maak mense dood as hulle bedreig voel. Die foto is van 'n boot af geneem. (Foto: Izak de Vries)
Dit het niks met die virus te doen nie, en dis deels die punt. Ons gaan maniere moet vind om die onsigbare moordenaar te tem sodat ons weer sigbare moordenaars kan afneem.
Nie almal hoef so mal te wees soos ek nie, maar almal kan saamwerk om weer hoop te vind.
Vir sommige jongmense beteken hoop die uitsig om weer te kan dans.
Paulien Cornelisse, ’n rubriekskrywer vir De Volkskrant, sê: “Mijn eigen strategie in het afdwingen van de normale wereld is deze: een reisgids bestellen voor die vakantie.”
In die EU is daar ’n toep wat jy op jou foon kan aflaai wanneer jy ingeënt is. Dit word ’n “paspoort” om te gaan reis.
En hoekom nie? In Suid-Afrika kan enige een bo 50 nou registreer. Sodra jy jou registrasie het, kan jy by enige entsentrum opdaag en die personeel sal hulle bes doen om jou te help. My dogter van 23 is vanoggend ingeënt as deel van die regering se onderwyserprogram.
Kry ’n droom. Gryp dit aan. Beplan jou volgende reis ...
Die reis hoef nie internasionaal te wees nie.
Die redaksie en die medewerkers van die groot Nederlandse koerant die NRC Handelsblad het hierdie week ’n reisgids saamgestel onder die opskrif “Er zijn nog plekken te ontdekken in Nederland”. Die idee was om mense te laat uitkom en hulle land te laat ontdek – minder as ’n uur van waar hulle bly. Dit kan tans maskerloos geskied. Slegs wanneer jy van openbare vervoer gebruik maak, moet jy nog ’n masker dra in Nederland.
In ander wêrelddele word dié idee van reis wat hoop bied, al is dit plaaslik, ook gebruik om mense te laat inent. Slowakye het byvoorbeeld aan die einde van verlede week reisbeperkings ingestel op diegene wat nie ingeënt is nie; dié wat wel ingeënt is, kan hulle vryheid gaan gebruik.
Andries Bezuidenhout, een van ons groot musikante, sing in sy lied “Duskant doodstil” die woorde “ompaaie ry ek, selde direk” (op die album Spoorlangs.)
Lekker. Ek ook.
Terwyl Suid-Afrika tans gebuk gaan onder die derde golf, het daar ’n mooi inisiatief ontstaan op Facebook: Koop wegneemetes by jou plaaslike restaurante.
Ry daardie ompaadjies deur nuwe restaurante te ontdek! Baie slim.
Ons het Vrydagaand die plaaslike Chinese gesin se soesji gaan koop. Vir ’n paar kort oomblikke was ons almal saam om die tafel, chopsticks in die hand. Heerlik. ’n Stukkie Chinese gasvryheid in ’n koue, nat Kaapstad.
Delta is ’n bliksem, maar die inenting bied die weg na hoop
Die Sisonke-studie se nuutste resultate het Vrydag op my lessenaar beland.
Vir diegene wat nie weet nie: Sisonke was die kodenaam vir die inentingsveldtog vir gesondheidswerkers.
Hulle het J&J gekry, deels omdat J&J baie goed gewerk het teen die Beta-variant wat hier in Suid-Afrika die tweede golf veroorsaak het.
Voor Sisonke het ongeveer 10% van die gesondheidswerkers Covid gekry. Talle is in die hospitaal opgeneem en ’n groot aantal is dood.
Die Sisonke-studie bied hoop. Selfs met Delta, wat verantwoordelik is vir die huidige golf in Gauteng en vir vol hospitale in die Wes-Kaap, is daar tans net 1% gesondheidswerkers wat positief toets. Die beste van alles is: 94% van alle gesondheidswerkers wat positief toets, het geen erge simptome nie. Hulle bly uit die hospitaal, sit die kwarantynperiode uit, en val weer in.
Variantfabrieke vs dié met hoop
Ongelukkig is daar in Europa reeds planne onderweg vir die vierde golf, en die VSA hou ook hulle syfers fyn dop.
Hoekom? Want selfs in Europa is daar mense wat nie die inenting wil hê nie. In húlle liggame kry die virus genoeg tyd om te muteer. CNN praat van sulke mense as “variant factories”. Delta Plus, ’n variant van die variant, is reeds ’n werklikheid.
Suid-Afrika word ook in die berig genoem.
In Engeland is daar tans ook ’n enorme uitbraak onder diegene wat nie ingeënt wil word nie.
Hoe kan ons dit keer? Kry die spuit.
In Nederland begin die regering nou reeds kinders tussen 12 en 18 inent. Hoe meer mense die virus vroeg reeds kan bloedneus slaan, hoe beter.
Daar is hoop.
Sisonke wys dit.
Nagklubs in Nederland en België wys dit.
Suriname is oop vir besoekers wat ingeënt is. Hoe fassinerend sal dit nie wees om in Suid-Amerika te gaan kuier en oral Nederlands te hoor nie!
Ek? Ek kan nie wag om weer te gaan krokodille afneem nie. Ek is ingeënt.
Wat is op jou lysie van dinge om te doen, en plekke om te besoek?
Lees ook:
Met een miljard inentings gaan China dalk die eerste land sonder maskers wees!