Hoe om ’n bank te steel

  • 0

Hoe steel ’n mens ’n bank? In Suid-Afrika sirkuleer daar gereeld posts op sosiale media wat wys hoe rowers sommer deur ’n skuifdeur of selfs ’n muur bars, ’n bakkie in ’n winkel in trek en die kluis van die ATM binne-in oplaai. Net ’n kwessie van tyd voor iemand sommer die hele winkel met ’n hyskraan wegdra. Enigiets is moontlik in Mzansi.

As dit ’n digitale bank is, soos alle banke deesdae, is dit natuurlik veel makliker. Vra maar vir die meesterbreine agter die grootste bankbedrog in Suid-Afrika se geskiedenis, die kaping van VBS (Venda Mutual Society Bank), Robert Madzonga en Tshifhiwa Matodzi. Behalwe dat dit ook makliker is om jou te vang. Die twee het bykans R2 miljard ontfutsel. Wat vele deskundiges en bankiers die vraag laat vra: Hoe het hulle gedink hulle gaan wegkom met so baie geld?

Soos die Reserwebank se speurder, adv Terry Motau, dit in die aanhef van sy verslag stel: ’n ruk gelede het ’n bende rowers weke lank gewerk om ’n tonnel onder ’n bank in Krugersdorp te grawe (ja, mense doen nog sulke goed). Hulle het ’n skamele R400 000 gesteel.

Is VBS se skelms baie dom, of is hulle baie slim?

Venda is ’n unieke gebied in Suid-Afrika. Die taal van die streek is moeilik klassifiseerbaar, ietwat soos Baskies in Europa. Eeue gelede was die taal die band wat ’n ryk aanmekaar gehou het, en nie soseer die grond waaroor dit geheers het nie. Nie te ver van Mapungubwe nie, die bouvalle wat bewys dat ’n gesofistikeerde beskawing lank voor die koms van Europeërs in die noorde van Suid-Afrika bestaan het.

Dis die een gebied wat wit mense nog nooit heeltemal kon onderwerp nie. Die boere van die destydse Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) kon die grond nie in die 1890’s afneem nie, en moes tevrede wees met die stigting van ’n nuwe dorp aan die rand van die ryk, waar dit veel droër en moeiliker is om te boer. Die dorp, Pietersburg, is vernoem na Piet Joubert, die aanvoerder van die ZAR-magte; na 1994 het dit Polokwane geword en dit is vandag die hoofstad van Limpopo, een van die armste provinsies in Suid-Afrika.

Die dele waar geen Europese owerheid nog die septer kon swaai nie, het in die apartheidsjare die kern geword waaromheen wit mense se plase onteien is om die tuisland Venda te skep. Vandag is dit steeds ’n diep tradisionalistiese gebied, waar bonatuurlike gebeure onder baie inwoners as feit aanvaar word, en skole soms beskadig en selfs vernietig word in oproere wat die regering self as “raaiselagtig” en “onverstaanbaar” beskryf.

Hongerte is die “verstek”, en op plekke kry mense net een maaltyd per dag. Baie inwoners kan nóg Engels nóg Afrikaans praat. Vrouens en kinders oorheers – die mans werk in die stede en stuur geld, dog nie altyd nie. Om te oorleef, sit die vrouens die bietjie wat hulle het, bymekaar in ’n sogenaamde stokvel, ’n soort spaarvereniging waarin lede beurte kry om enkelbedrae te ontvang vir uitgawes soos skoolfonds, bouwerk, ens.

Dis hierdie geld wat VBS in sy rekeninge gehou het. Of so het dit gelyk vir die Reserwebank, wat dit duidelik as ’n klein, diep-plattelandse onderneming beskou het wat nie sulke noukeurige toesighouding as die reuse nodig gehad het nie. Totdat die bank uit die bloute aankondig hy sal die R7,8 miljoen betaal wat die hof bevind het die destydse president, Jacob Zuma, aan die staat moes terugbetaal vir onwettige opknapping van sy private woning te Nkandla.

Ondersoeke het gou aan die lig gebring dat behalwe oumense en stokvels se spaargeld, ook ’n hele rits munisipaliteite die bank gebruik het. Die Reserwebank het Motau aangestel om amptelik ondersoek in te stel. Hy het bevind dat amptenare omgekoop is om munisipale rekeninge na VBS te verskuif, en hierdie geld is weer gebruik vir ’n netwerk van lenings en sommer net skenkings aan sowat 50 mense in wat neerkom op ’n Ponzi-skema.

Om terug te keer na die oorspronklike vraag: Hoe kon hulle so skaamteloos te werk gaan? En R2 miljard steel?

Suid-Afrika se voorste banksake-kenner, Stuart Theobald, se teorie is dat die twee meesterbreine toegekyk het hoe Zuma stelselmatig sy eie sakke vul en dit regkry om die land se vervolgingsgesag en spesiale polisie op hul knieë te bring met bepaalde sleutelaanstellings. Onder hierdie sambreel moes hulle vinnig spring om hul eie sakke te vul, en dis bekend dat VBS groot ondersteuners van die Zuma-faksie in die ANC is, en ook van die EFF, wie se kanse goed is om ’n paar munisipaliteite in Limpopo te beheer.

Maar dit het my laat terugdink aan my eie ondervindinge elders in Afrika, veral die verskynsel bekend as die confusão in die Portugeessprekende lande.

Toe ek eenmaal ’n verkiesing in Angola dek, was ek terdeë bewus van die gebruik om ’n verwarring met rekeninge te skep wanneer mense uit hotelle wil uitboek. Toe daar dus so ’n rel ontstaan by die toonbank van my hotel in Luanda, het ek ’n boek uit my sak gehaal en op ’n bank gaan sit en lees terwyl die res van ons geselskap sake uitpluis.

Tot my ontnugtering het die confusianistas besluit om op ’n enkeling te fokus: op my. Daar is fout met my rekening – ek skuld die hotel $1 000, sê hulle. Hulle kon niemand laat gaan voor ek nie betaal nie. Dit was heeltemal onmoontlik – ek het dan weggebly van die minikoelkas of kamerdiens om so ’n situasie te vermy.

Ek het besluit om vas te skop. Hulle het daarop gereken dat ons ons vlug die oggend ten alle koste wil haal. As jy nie iets betaal nie, sal jy nie net moet agterbly nie – in die meeste Afrikastede staan die polisie reg om jou in die tronk te gooi. Aan my kollegas het ek verklaar: Ek wou nog altyd ’n tronk in Angola ervaar; my koerant sal my ’n hele bladsy daarvoor gee.

Ek het voortgelees in my boek, en die hotel se personeel het voortgegaan om glase af te droog vir die middagete. Naderhand is my kollegas daar weg in ’n duur taxi, want die hotel se bussiedrywer het nie kans gesien om hulle te vat nie.

Op die ou end het die hotel toegegee: Betaal hulle $50, en hulle sal die papiere namens my kook. Dit was nog steeds verregaande, maar ek moes dit aanvaar – hulle sou my nie kans gee om tronkstories te skryf vir so ’n klein bedrag nie. Vir my was $50 geen ramp nie; vir die twee agter die hoteltoonbank was dit dalk na aan ’n maand se salaris.

Maar dieselfde beginsel het ek elders in Afrika teëgekom. Maak die teiken hiperbolies hoog, ver anderkant die grense van absurditeit. Die uiteindelike bedrag wat jy uitkry wanneer die plan nie meer werk nie, is steeds ’n goeie opbrengs gemeet teen die moeite en geld wat jy aanvanklik insit.

Dit is dalk waarom die berugte 419-bedrog uit Nigerië altyd sulke enorme bedrae behels. Aan die een kant sorg dit dat mense wat te slim is, uitgesif word. En diegene wat die briewe glo, sal enigiets glo – in die “eerlike” sektore van die ekonomie word groot geld bestee aan bemarking om sulke mense op te spoor en te melk. In Nigerië het ’n man vertel hoe sy hele familie nie kon verstaan hoe hul telg, ’n prokureur, ’n 419-bedrogspul geglo het en sy vingers natuurlik lelik verbrand het nie.

Maar hy kon dit verstaan, het hy gesê, want die bedrag was net te groot – sy broer het gereken hy moet darem iets daaruit kry.

In baie arm gemeenskappe, veral waar die reg nie altyd sterk is nie, is dit dikwels ’n eer vir ’n lid van ’n familie om wraak te neem vir ’n moord op, of dergelike misdaad teen, ’n ander familielid en dan tronkstraf uit te dien. In die geval van VBS het die skuldiges dalk goed geweet hulle gaan aan die pen ry, maar hul families sou op die ou end beter daaraan toe wees as toe hulle gewone, eerlike lewens probeer ly het.

Dit is ook nie so ver verwyder van gewone banksielkunde nie. Gewone mense dink banke maak hul wins uit groot transaksies met groot multinasionale maatskappye, maar in die digitale wêreld is dit daardie klein fooitjies, of die administratiewe boetetjies wat jy die heeltyd moet betaal en nie oor omgee nie, want dis sulke klein bedraggies wat vir die winsmarges van bepaalde eenhede in die bankonderneming sorg.

Lees ook

ANC en EFF slaan vure dood oor bankplundery

EFF se rooi gesig oor beweerde bankdiefstal

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top