Ishigaki, deurgang na die Yaeyama-eilande

  • 0

Hoe lekker om ons eerste Japannese ervaring met só ’n verwelkoming te begin! (Foto: Clifford Roberts)

........
Dis ons derde dag aan boord die luukse Norwegian Spirit op die Suid-Chinese Seevaart van 13 dae toe ons vroegoggend ons kajuit se skuifdeur oopstoot en die loom briesie die gordyne roer. Buite roep Ishigaki ons name.
........

Ons eerste kennismaking met Japan is die klein tropiese eiland, Ishigaki, ver suid van Japan. Dis die deurgang na die Yaeyama-eilande, ’n groep afgeleë eilande 400 km suidwes van Okinawa se hoofeiland.

Ek kan nie glo dat aan die westekant van ons kajuit (natuurlik steeds meer as 270 km weg) is Taipei, die hoofstad van Taiwan, nie. Ons sou 20 jaar gelede daar gaan Engels onderrig het, maar dis ’n storie vir ’n ander keer.

So tropies as kan kom! (Foto: Clifford Roberts)

Ons het amper meer foto’s van plante en blomme op ons fone as van toeristeattraksies, want elke blom is prentjiemooi. (Foto: Clifford Roberts)

Dis ons derde dag aan boord die luukse Norwegian Spirit op die Suid-Chinese Seevaart van 13 dae toe ons vroegoggend ons kajuit se skuifdeur oopstoot en die loom briesie die gordyne roer. Buite roep Ishigaki ons name. Onder in die hawe staan die busse en taxi’s gereed vir die vyf verskillende daguitstappies wat passasiers kan onderneem.

Met die vroegontbyt is daar ’n opgewondenheid: Mense vertrek op verskillende tye in groepe na hul uitstappies. Die oulike Freestyle Daily (die skip se koerantjie) het al die inligting oor hoe en waar en wat en almal weet presies waar om te wees, sodat hulle die beste van die sowat agt uur aan wal kan maak.

Die vyf opsies sluit in: hoogtepunte van Ishigaki; panoramiese Ishigaki; die pottebakkersfabriek en strand – almal van net minder as vier uur – die natuurskone rit en vrye tyd van vier uur of die glasbodem-boot en tekstielfabriek van net meer as vyf uur.

Die uitstappies is ook só ontwerp dat mense met verskillende mobiliteitsvlakke in die pret kan deelneem. Ons het egter besluit om ons eie ontdekking te doen.

Bo en onder: Dis eilandleefstyl op sy beste met vissersbote, vissermanne, wit strande en palmbome. (Foto: Clifford Roberts)

Daar is wonderlike strande en Kabirabaai aan die westekant van die eiland, is beslis die bekendste en dis baie gewild onder duikers, omdat die koraalriwwe en potblou water goeie sig bied en die verskeidenheid gekleurde visse wat hier voorkom, is enige oseaanliefhebber se droom. Ons wou die glasbodem-bootrit onderneem, maar dis jellievisseisoen en ons besluit daarteen, want mens sal mos wil swem as jy daardie mooi oop waters en kleurespel onder die oppervlak gewaar.

Mens kan die Ishigaki Yaima-nedersetting besoek, waar verskeie tradisionele huise van regoor die eiland hervestig is om ’n opelug kultuurmuseum te maak.

Daar is ook kalksteengrotte met stalagmiete en stalaktiete waarvan miljoene foto’s deur gretige toeriste geneem is.

Ons stap van die hawe af en die eerste verwelkoming is ’n reusestandbeeld van ’n voëltjie in ’n verkeerspolisie-uniform, wat met die Yaeyama-distrik-verkeersveiligheid se assosiasie se 65ste herdenking opgerig is, maar alles is in Japannees. Hy is oulik en ons neem natuurlik eers ’n foto!

Ons stap van die hawe af en die eerste verwelkoming is ’n reusestandbeeld van ’n voëltjie in ’n verkeerspolisie-uniform. (Foto: Clifford Roberts)

Ishigaki-eiland is skaars 230 km2 groot en het minder as 50 000 inwoners en word diep beïnvloed deur die Ryukyu-tradisie, wat steeds sy kultuur en daaglikse lewe vorm. Die eiland se gebruike weerspieël ’n unieke mengsel van inheemse Ryukyu-praktyke van die Ryukyu-koninkryk van 1429–1879, met invloede van China, Suidoos-Asië en Japan. Die mense van hierdie suidelike Japannese eilande was ’n mengsel van Mongolese, Ainu- en Maleisiese kulture.

Tradisionele seremonies, soos die shōgatsu (Nuwejaarsvieringe) en obon (’n Boeddhistiese fees wat voorouers vereer), word gekenmerk deur danse, musiek en aanbiedinge wat vir geslagte oorgedra is. Die kenmerkende Eisa-dans, wat tydens feeste uitgevoer word, is een van die mees ikoniese uitdrukkings van Ryukyu-kultuur, met ritmiese tromspel en lewendige bewegings.

Die Ishigaki-stadsmuseum het ’n wonderlike versameling artefakte, ou kaarte en tradisionele kostuums wat die Ryukyu-kultuur uitbeeld.

Bo en onder: Die kenmerkende Shisa (leeuhond-beelde) wat huise en besighede bewaak en beskerming en voorspoed simboliseer, pryk oral. (Foto’s: Clifford Roberts)

Plaaslike kunsvlyt, soos handgeweefde tekstiele en pottebakkery, is een van die redes hoekom toeriste graag hier Japannese soeweniers koop. Dis veral die kenmerkende Shisa (leeuhond-beelde), wat huise en besighede bewaak en beskerming en voorspoed simboliseer, wat goeie geskenke maak. Hulle pryk ook oral.

Daar blyk geen reëls oor hul voorkoms te wees nie, want jy kan alles van groot standbeelde tot klein beeldjies vind, van tradisionele tot modernes in ’n wye verskeidenheid kleure.

Daar word geglo dat Shisa boosheid afweer en hulle word amper altyd in pare gesien, een met ’n oop mond en een met ’n toe mond. Een van hulle is manlik en een is vroulik, maar afhangende van wie jy vra, kry jy verskillende antwoorde.

Besighede wat nie beelde van die Shisa het nie, het dit in plaveistene aangebring. (Foto: Clifford Roberts)

Sommige glo dat die een met ’n oop mond manlik is en hy skrik die bose af, maar ander sê dat hy die toe mond het, om boosheid uit die huis te hou. Die wyfie met ’n oop mond deel goeie geluk met ander, terwyl die een met ’n toe mond die geluk binne die huis hou.

Ons stop aanhoudend en neem ’n paar af, maar besef daar is te veel ander goed om te gaan verken.

Die eiland is ’n vermenging van oud en nuut, met lae woonstelblokke uit die laaste paar dekades en houtgeboue en tempels van etlike eeue oud. (Foto: Clifford Roberts)

Die bekende boeremark is gesluit vir die dag en ons verken verder. Nie veel verder nie, stap ons by die Torinji- en Gongen-do-tempels verby.

Torinji-tempel is in 1614 gestig op voorstel van koning Sho Nei, die sewende koning van die Ryukyu-koninkryk. In 2014 is ’n monument opgerig om die 400ste herdenking van sy stigting te herdenk. Dit is die eerste Boeddhistiese tempel in die Yaeyama-streek.

Torinji-tempel is in 1614 gestig. (Foto: Clifford Roberts)

Voor die tempel se deur is ’n raamwerk met wit papierlinte, wat “shide” genoem word en kom oral by heilige plekke in die land voor. Dis goeie wense wat mense daar los vir die priesters om te lees. (Foto: Clifford Roberts)

Dis baie gewild vir begrafnisse en Boeddhistiese gedenkdienste. Voor die tempel se deur is ’n raamwerk met wit papierlinte wat “shide” genoem word en kom oral by heilige plekke in die land voor. Dis goeie wense wat mense daar los vir die priesters om te lees.

Langsaan is Gongen-do, ’n Shinto- heilige plek (shrine) wat net so oud soos sy buurman is, maar na die 1771-tsunami herbou is. Ons sit op ’n bankie in die koelte en laat die stilte ons omvou.

Die Gongen-do-tempel, ’n Shinto- heilige plek (shrine) wat net so oud soos sy buurman is, maar na die 1771-tsunami herbou is. (Foto: Clifford Roberts)

Die hek en klipmuur verklap glad nie die eeue-oue tempels wat daaragter skuil nie. (Foto: Clifford Roberts)

Ná die vrede van die tempels, dwaal ons in die klein straatjies en verkyk ons aan die klein ruimtes waar mense ’n lewe voer. Daar is dorpskaarte oral om jou idees te gee van die toeristeattraksies, maar dis alles in Japannees en ons het nie toegang tot die internet nie. Dus duur die dwalery teen ons eie pas heel gelukkig voort.

Die eiland is klein; die straatjies en winkeltjies is klein en selfs die motors mag nie groter as 600cc-enjins hê nie! (Foto: Clifford Roberts)

Voor ’n viswinkeltjie is ’n reusetuna waarvan ’n sirkeltjie plek maak vir ’n mens se gesig en langs die vis is die “visserman” wat glo dié bielie uitgetrek het, waardeur my geliefde sy gesig steek.

Ons kies vir middagete koers na die ondergrondse publieke mark en hoewel baie mense daarheen kom vir soeweniers, het ons gehoor van die klein restaurantjies waar jy tradisionele Japannese kos kan geniet.

Soewenier van ’n ander aard: ’n slang in alkohol. Giftig! (Foto: Clifford Roberts)

Ek was aanvanklik skepties toe mense ons in die rigting van Yugurena Mall beduie, want inkopiesentrums is nooit waar die hart van ’n samelewing ervaar kan word nie. Gelukkig is al ons vrese besweer en daar is niks mall-agtig aan die twee stegies met winkeltjies nie.

Ons vind die ondergrondse restaurantjies te lekker. (Foto: Clifford Roberts)

Die eiland is bekend vir sy Ishigaki-beessoesji, wat nêrens anders in die wêreld geniet kan word nie.

Ons is by die trappies af en smul aan Ishigaki-beesvleis met noedels in ’n heerlike deurskynende sop en sluit die maal af met veerligte Japannese pannekoeke, wat eintlik meer soufflé is. Ons moet blykbaar Orion – The Draft, ’n bier eie aan die Okinawa-eilande, geniet en ons voldoen graag aan dié vereiste!

Ons hou van ons Ishigaki-beesvleis saam met noedels en warm, dankie! (Foto: Clifford Roberts)

Ons koop brandrissiesous in die oulikste klein botteltjies met ryspapier-etikette en kan nie wag om dit vir vriende tuis te gee nie. Ons drentel die res van die dag deur die klein straatjies.

Daardie aand sit ons in die Henry’s Pub op die sewende dek van die skip. Die gees is vrolik en almal gesels oor en weer oor hul dag. Een Fransman vertel ywerig dat vriende van hom se van Courtet is en hy die eiland wou besoek, omdat Guillaume Courtet een van die eerste Franse was wat Japan besoek het. Dit was glo in 1636. Die eerste aangetekende nedersetting op die eiland was egter eers in 1908, toe dit as Yaeyama Village bekend was. Dis na Ishigaki Village verander in 1914, het ’n dorp geword in 1926 en ’n stad in 1947.

Ander wys foto’s van hul besoek aan die Mineya Minsa-tekstielfabriek, waar katoen geweef en gekleur word. Voornemende bruide kom al vir honderde jare na tekstielfabrieke om mooi en unieke patrone op hul kimonobande te laat weef. Besoekers aan Mineya kan hul eie sakdoek kleur met natuurlike kleursel van die eiland se inheemse plante. Die patrone en kleure is volgens jou eie smaak.

Ons moet na ’n besoek aan dié eiland saamstem. (Foto: Clifford Roberts)

Dit blyk dat die noordoostelike kus van die eiland, waar jy by Tamatorizaki by ’n observasiedek die Stille Oseaan aan die een kant van die eiland en die Oos-Chinese See aan die ander kant kan sien, ’n gunsteling was.

Ons wys foto’s van ons besoek aan die tempel en die kosmark en almal stem oor ’n glas Franse rooiwyn saam dat niemand verloor het met hul besoek aan die eiland nie! Daar is genoeg om te sien en doen, ongeag hoe lank jy daar vertoef.

Lees ook:

Jeju-eiland: Suid-Korea se geheime juweel

Laat die Hanrivier en eggo’s van lag ’n Seoel-simfonie speel

Mooie Mauritius het ’n interessante geskiedenis

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top