Mooie Mauritius het ’n interessante geskiedenis

  • 0

Foto’s: Clifford Roberts

.......
Teen die laat 20ste eeu het Mauritius een van Afrika se mees stabiele en florerende ekonomieë geword.
.......

“Wat doen julle die laaste week van volgende maand en die eerste week van die daaropvolgende maand?” kom die vraag ewe onskuldig van Norwegian Cruise Line se Engeland-verteenwoordiger. Eers dink ek sy gaan vra of sy ons kan ontmoet vir koffie as sy Kaapstad besoek vir werksverpligtinge. Maar nee, sy wil die koffie vervang met ’n lang sonsaksopie en die bestemming eerder die poeierwit strande van Mauritius maak …

En as ons daar uitgekuier is, klim ons op ’n luukse skip en vaar na talle Afrika-eilande, voor ons dae later – uitgerus en bruingebrand – in Kaapstad afklim.

Ek sal nog by die skipgedeelte uitkom – dalk in ’n volgende storie – maar vir nou, eers Mauritius!

Jy weet jy is op ’n tropiese eiland as die orgidee wild langs die pad groei. (Foto: Clifford Roberts)

Die eiland het op 12 Maart 1968 onafhanklikheid van Brittanje verkry en die oorgang was vreedsaam. Die volgende dekades het Mauritius in ’n stabiele en welvarende demokrasie ontwikkel. In die 1980’s het die eiland verskuif van ’n suikerafhanklike ekonomie na ’n meer gediversifiseerde een, met ’n groeiende klem op toerisme, tekstiele en finansies.

Die transformasie was merkwaardig en teen die laat 20ste eeu het Mauritius een van Afrika se mees stabiele en florerende ekonomieë geword. Sir Seewoosagur Ramgoolam, die eerste premier van Mauritius, het ’n deurslaggewende rol gespeel in die versekering van die land se onafhanklikheid en word as die vader van die nasie beskou. Die lughawe waar ons laatmiddag op die tropiese paradyseiland in die Indiese Oseaan land, is na hom vernoem.

Palmbome, wit sand en potblou see sover die oog kan sien. (Foto: Clifford Roberts)

Gelukkig is dit net vier uur se vlug van Johannesburg af en boonop was ons slim en het laataand uit Kaapstad gevlieg en by die City Lodge Hotel by OR Tambo International Airport oorgebly. Vroegoggend het ons ons bagasie afgegee en teruggestap hotel toe vir ’n heerlike ontbyt met cappuccino’s voor ons aan boord gegaan het vir die vlug.

Ons is pootuit toe ons na ’n uur se rit by die Le Méridien Ile Maurice in Pointe aux Piments arriveer, maar die louwarm see wink en die musiek by die strandkroegie speel oor die strand uit. Ons wil die eiland se mooiste strande, Belle Mare in die ooste en Flic en Flac in die weste, gaan ontdek, maar dis laaste op die prioriteitslys met wat ons by die hotel met sy privaat strand kan geniet.

As jy om die eiland ry, is dit potblou, spierwit en grasgroen wat mekaar afwissel in ’n tropiese landskap. (Foto: Clifford Roberts)

Die skip arriveer oor vier dae en ons is opgewonde om soveel moontlik te beleef voor daardie avontuur begin.

Ons het vir die reis die geleentheid om die nuwe Canon EOS R10 te beproef en my geliefde lag terwyl hy die lense ruil dat jy nie ’n lelike foto hier op die strand kan neem nie, maak nie saak hoe goed of sleg die kamera is nie!

Dis toe inderdaad waar. Maar die kamera het baie daarmee te make gehad. Dis lig in jou handsak, die gevorderde lenstegnologie verseker baie skerper fokus en die twee lense – Canon RF 24-50 en 55-210mm – het ewe goed gewerk vir ’n mooi foto van ’n wilde orgidee tot die branders deur die palmtakke.

Ons sit laataand by die swembad met konjak en kyk hoe die maan oor die see opkom. Ons het met die hotel se personeel gesels en ons volgende paar dae is mooi beplan, sodat ons die eiland in verskillende dele kan besigtig. Dit spaar baie rytyd en verhoed ook dat jy hoef te jaag. Ons kan rustig slaap voor ons vroegoggend ons taxi en gids by ontvangs ontmoet.

Nie sleg om ontbyt of middagete met hierdie uitsig te geniet en dan sommer in die see in te stap vir lafenis nie! Die hotel het verskeie eetplekkies. (Foto: Clifford Roberts)

Daar word by die hotel sommer in die swembad wynproeë aangebied. (Foto: Clifford Roberts)

 

Ons dae vloei inmekaar. Tussen nuwe taxi’s wat nuwe roetes saam met ons ontgin, leer ons dat die eerste hoofstuk in Mauritius se geskiedenis die ontdekking van die eiland deur die Portugese in die vroeë 16de eeu was – al was dit die Nederlanders wat hulle die eerste keer in 1638 op die eiland gevestig het. Hulle poging tot kolonisasie was van korte duur, aangesien hulle niks suksesvol hier kon kweek nie en teen 1710 het hulle groener weivelde gaan soek.

Dit was die Franse wat ’n blywende invloed op die eiland sou laat en in 1715 beheer oorgeneem het. Hulle het suikerplantasies gevestig en Afrikaan-slawe ingevoer om die veld te bewerk, wat die eiland se ekonomie vir die volgende eeu gevorm het.

........
Hierdie migrasie het die lewendige, multikulturele samelewing geskep waarvoor Mauritius vandag bekend is, met Indiese, Afrika-, Chinese en Europese invloede wat mettertyd saamgesmelt het.
........

Maar dit was die Britse oorname in 1810 wat ’n keerpunt in Mauritius se geskiedenis was. Na ’n reeks vlootgevegte het die Britte die eiland van die Franse verower, maar die Franse invloed het gebly, veral in die regstelsel, taal en kultuur. Die Britte het slawerny in 1835 afgeskaf, maar om die arbeidsmag te vervang, het hulle duisende gekontrakteerde arbeiders uit Indië gebring, wat die eiland se demografiese samestelling vir altyd verander het. Hierdie migrasie het die lewendige, multikulturele samelewing geskep waarvoor Mauritius vandag bekend is, met Indiese, Afrika-, Chinese en Europese invloede wat mettertyd saamgesmelt het.

By Grand Bassin voel jy klein voor die reuse-Hindoe-standbeelde op die heilige meer van lord Shiva en godin Durga. (Foto: Clifford Roberts)

Ons gaan in stille verwondering by Grand Bassin voor die reuse-Hindoe-standbeelde op die heilige meer van lord Shiva en die godin Durga. Dis vir kilometers sigbaar en deur die Indiese beeldhouer, Shri Matu Ram Verma, opgerig. Baie Hindoes maak jaarliks die pelgrimstog hierheen.

Ook in die omgewing is die bekende sewekleureaarde by Chamarel Geopark, waar miljoene jare se erosie, wind en weer en vulkaniese uitbarsting die sand in sewe verskillende kleure omskep het. As jy die sand in ’n houer skep en deurmekaar skud, sal dit weens die digtheidsverskil weer terugsorteer na afsonderlike kleure. Die park het ook ’n pragtige Chamarel-waterval. Dis ook die moeite werd om na die dormante vulkaan, Trou aux Cerfs, te gaan kyk.

Ook in die omgewing is die bekende sewekleureaarde by Chamarel Geopark, waar miljoene jare se erosie, wind en weer en vulkaniese uitbarsting die sand in sewe verskillende kleure omskep het. (Foto: Clifford Roberts)

Middel en onder: The Chamarel Rum Distillery, waar die begeleide toer die hele proses van distillering verduidelik en jy verskeie rums kan proe. (Foto’s: Clifford Roberts)

’n Katspoegie verder is ’n toer van The Chamarel Rum Distillery, waar die begeleide toer die hele proses van distillering verduidelik en jy verskeie rums kan proe.

Vir natuurliefhebbers is Black River Gorges Nasionale Park ’n moet-besoek. Hierdie uitgestrekte reservaat is die tuiste van endemiese wild en bied ’n verskeidenheid staproetes. Die park is welig met tropiese bome, bruisende watervalle en panoramiese uitsigte, insluitend die bekende Alexandra-waterval en Rochester-waterval. Dit is die perfekte plek vir avontuursoekers en diegene wat weer met die natuur wil kontak maak.

Die slawemuseum is beslis ’n besoek werd. (Foto: Clifford Roberts)

Dis later by die suikermuseum, L’Aventure du Sucre in Beau Plan, wat in ’n gerestoureerde suikermeule ingerig is, waar jy werklik ’n baie goeie algehele oorsig kry oor Mauritius se suikerbedryf en die belangrike rol wat dit in die vorming van die eiland se ekonomie en kultuur gespeel het. Die uitstallings wys die evolusie van suikerproduksie, die impak van slawerny en die opkoms van die eiland se suikerlandgoedere. Aan die einde van die museum is daar ’n oulike winkeltjie en hier kry ons sommer die kans om verskillende suikers van die eiland te proe en ook hul bekende Dodo-rum.

Dis later by die suikermuseum, L'Aventure du Sucre in Beau Plan, wat in ’n gerestoureerde suikermeule ingerig is, waar jy werklik ’n baie goeie algehele oorsig kry oor Mauritius se suikerbedryf en die belangrike rol wat dit in die vorming van die eiland se ekonomie en kultuur gespeel het. (Foto: Clifford Roberts)

Nie ver van die suikermuseum nie, is die botaniese tuine. Ek het hieroor geskryf in hierdie artikel, maar in retrospek sou ek ’n piekniek gepak het en langer daar vertoef het. Dis ’n totale teenpool vir die geroesemoes van die res van die eiland en jy kan werklik die windjie in die takke hoor en ure na die reuseblomme staar.

Soos ons ontdekkingsreis ontvou, leer ons al meer van die kompleksiteit van hierdie eiland. Dit word ’n interessante dag in die hoofstad, Port Louis.

Die ou fort, Fort Adelaide, bied ongerepte uitsigte oor die hawe en omringende berge. (Foto: Clifford Roberts)

Die ou mark (ook bekend as die Port Louis Bazaar) waar jy speserye, vars groente, vrugte en vis kan koop. Die stroopsoet vrugte is net waarna jou natgeswete eilandlyf smag. (Foto: Clifford Roberts)

Een van die stalletjiehouers sny ’n pynappel, dat jy dit soos ’n draairoomys of suigstokkie kan eet. (Foto: Clifford Roberts)

Dis bo by die ou fort, Fort Adelaide, met sy ongerepte uitsigte oor die hawe en omringende berge – vanwaar ons op die laaste dag die luukse skip, NCL Dawn, waarop ons gaan vaar, gewaar – wat mens kan verstaan hoekom die Britte die hawe en fort juis daar gebou het. Die rede vir die fort is volgens die toerismeborde onduidelik, want die fort is nooit vir verdediging gebruik nie en het ook nooit troepe gehuisves nie.

In die ou stad gaan stap ons deur die groente- en vrugtemark (ook bekend as die Port Louis Bazaar) en die stroopsoet vrugte is net waarna jou natgeswete eilandlyf smag. Een van die stalletjiehouers sny ’n pynappel dat jy dit soos ’n draairoomys of suigstokkie kan eet.

Government House, ’n Frans-koloniale gebou uit 1738, met ’n standbeeld van koningin Victoria voor. (Foto: Clifford Roberts)

Daarna is ons dorp-in. Hier is enkele hoogtepunte die Place d’Armes, ’n pragtige vierkant met palms en verskeie vryheidstandbeelde tot aan die voete van Government House, ’n Frans-koloniale gebou uit 1738 met ’n standbeeld van koningin Victoria voor. Straatmusikante speel musiek in die koelte van die palms en mense ontspan op bankies met middagete.

Dis by Aapravasi Ghat, nog ’n UNESCO-wêrelderfenisgebied, wat die geskiedenis volsirkel kom. Hierdie historiese immigrasiedepot vertel die verhaal van gekontrakteerde arbeiders wat tussen 1849 en 1923 uit Indië hier geland het om op suikerplantasies te werk. Die terrein is baie belangrik vir Mauritius se kulturele erfenis en die museum bied insig in die land se diverse en komplekse geskiedenis wat op kolonialisme en slawerny gebou is.

Die stad is ’n mengelmoes van Franse, Britse en Nederlandse ou geboue. (Foto: Clifford Roberts)

Nie ver daarvandaan nie, is die Blue Penny Museum – ’n klein maar fassinerende museum – wat Mauritius se storie vertel deur ’n versameling skaars artefakte, insluitend die bekende Blue Penny-seël. Hierdie seldsame seël, wat in 1847 uitgereik is, is een van die mees gesogte in die wêreld omdat dit so raar is en een van die twee eerste seëls wat op die eiland uitgereik is.

Die gids buite die museum vertel dat ’n seël – in goeie toestand, natuurlik – tot een miljoen Euro werd kan wees!

Daar is ook ’n posmuseum om die draai.

Ons loop in die waterfront rond en neem talle foto’s van die veelkleurige sambrele voor ons by een van die straatkafees gaan eet.

Ons loop in die Port Louis Waterfront rond en neem talle foto’s van die veelkleurige sambrele voor ons by een van die straatkafees gaan eet. (Foto: Clifford Roberts)

Ons het nooit by die Château de Labourdonnais in die noordelike deel van die eiland uitgekom nie, maar dis glo iets om te sien. Dis ’n tipiese koloniale herehuis wat eens ’n vooraanstaande Franse familie gehuisves het en bied ’n kykie in die lewe onder slawerny – maar van die eienaar se (baie welgestelde) perspektief.

Toe ons vyf dae later op die NCL Dawn klim, begin die volgende avontuur – al het ons nooit by ander poeierwit strande uitgekom nie. Ons is wyser oor die slawegeskiedenis; gefassineer deur die rol van suiker in ’n eilandekonomie; en mal oor die mense, die natuurskoon en die Indies-Kreoolse kos.

Dat ons terugkom hierheen, ’n uitgemaakte saak!

Ons sien hoe die Norwegian Dawn op ons voorlaaste aand om die eiland vaar, terwyl ons met skemerkelkies by die hotel se strandkroegie kuier. (Foto: Clifford Roberts)

Kitsfeite

  • Bespreek jou kajuit aan boord vir een die volgende NCL-skeepsvaarte: Madagaskar en Mosambiek van Port Louis, Mauritius (Januarie 2025); Suid-Afrika, Madagaskar en Mosambiek van Kaapstad (Januarie 2025); Namibië, Kaap-Verdiese eilande, Angola en Ivoorkus van Kaapstad (Maart 2025); Madagaskar en Réunion van Port Louis, Mauritius (Maart 2025); Suid-Afrika tot Madagaskar van Kaapstad (November 2024, November 2025 en Februarie 2026); en Kanarie-eilande, Namibië en Senegal van Kaapstad (Maart 2026). Bespreek by www.ncl.com, (021) 200-6586 of deur jou reisagent en maak ’n paar ekstra dae in Mauritius deel van jou vakansie.
  • Die City Lodge Hotel by OR Tambo International Airport is baie gerieflik om by oor te bly as jy laatnag of ’n dag vroeër wil vlieg en verseker dat jy nie ligdag moet opstaan vir jou vlug na Mauritius of Madagaskar via Johannesburg nie. Bespreek by: https://citylodgehotels.com/hotels/152/city-lodge-hotel--or-tambo-international-airport.
  • Ons het heerlik gebly by Le Méridien Ile Maurice. Meer inligting hier: https://www.marriott.com/en-us/hotels/mrumd-le-meridien-ile-maurice/overview/. Kies die pakket wat kos en drankies insluit, dan hoef jy nie weer oor beursie-ronddra te bekommer nie.
Lees ook:

Réunion: ’n Klein stukkie Frankryk in die Indiese Oseaan

Betowerende botaniese tuine bied skuiling in die stad

Magiese markte

Slawerny is steeds deel van ons

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top