
As jy vroegoggend die eerste klanke van ander lewe buite die skip hoor en jy arriveer in ’n nuwe hawe, is daar sommer groot opgewondenheid. (Foto: Clifford Roberts)
Die daguitstappies aan boord Norwegian Cruise Line se luukse skepe is dikwels net so ’n groot deel van die gaste se opgewondenheid as die dae op die diepsee. Jy kry die geleentheid om saam met gidse van die wêreld se raarste plekke te besoek en ervarings te geniet wat baie min ander mense in so ’n kort tydjie beskore is.
Jeju-eiland, in die kobaltblou waters van die Koreaanse Straat, is ’n asemrowende lawaparadys wat bekoor met sy natuurlike skoonheid en ’n idilliese klimaat. Die eiland is onder Koreane bekend as die Koreaanse Hawaii.
Ons vaar die Jeju-eiland se hawe in. Dis Korea se grootste eiland. (Foto: Clifford Roberts)
Die dramatiese vulkaniese landskappe, welige groen teeplantasies, palmbome en ongerepte strande maak Jeju ’n gewilde vakansiebestemming en verskeie Koreaanse pop- en filmsterre het villas hier.
Ons moes mooi kyk na die verskeie uitstappies wat vir die dag beskikbaar was: Dit was moeilik om te besluit tussen die teeplantasies en Hallim Park, of die stadshoogtepunte, of om die teekultuur en mark te verken. Jy kan ook die hele verhaal van hul groen-energie eerstehands ervaar, of by die tradisionele Seongeup-gemeenskap gaan kuier.
Die hoogste piek in Korea is hier op Jeju-eiland. (Foto: Clifford Roberts)
Jy kan ook die busse wat gereeld tussen die skeepsvaartterminaal en die middedorp ry, gebruik en dinge op jou eie ontgin as jy nie lus is vir gidse en toerbusse nie.
Ons ry in bus nommer 7 saam met die gids Sujin Jwa (Suzie vir die ongeoefende toeristetong) en sien die majestueuse Hallasan-berg wat bykans 2000 meter bo die eiland uitstyg en avonturiers nooi om sy roetes te verken. Sy lag en sê dit sal jou 10 uur se voetslaan kos omdat dit so klipperig is, maar “gelukkig het ons nie vandag daarvoor tyd nie. Ons sit eerder en kyk hoe mooi die eiland is en hou die bergpiek van die bus dop”.
Ons gids Sujin Jwa (Suzie vir die ongeoefende toeristetong). (Foto: Clifford Roberts)
Sy verklaar dat daar jaarliks net 90 dae van die jaar goeie sig is: Vir ses maande is dit met sneeu bedek en dikwels is dit onder mis, reën of wolke. Ons kyk gereeld na die piek – Korea se hoogste – en luister na haar vertellinge oor die geskiedenis van die eiland – Suid-Korea se grootste eiland wat ’n oppervlakte van 1 833,2 vierkante kilometer beslaan en ovaalvormig op ’n kaart is; 73 kilometer oos-wes en 31 kilometer noord-suid, met ’n sagte helling rondom die Hallasan-berg in die middel. Die lengte van die hoofpad is 181 kilometer en die kuslyn is 258 kilometer.
Sy gebruik haar gesig as voorbeeld om te verduidelik dat ons nou van haar voorkop (noord – die hawe) tot haar wangbeen (suidwes) gaan ry om die twee besienswaardighede op ons toer te besoek.
.........
Die eiland is ongeveer twee miljoen jaar gelede deur die uitbarsting van ’n onderwatervulkaan gevorm en is ’n natuurlike wêrelderfenisgebied. Die Jeju- vulkaniese eiland en lawabuise, wat in die botaniese park te sien is, was die rede hoekom ons juis hierdie uitstappie gekies het.
.........
Die eiland is ongeveer twee miljoen jaar gelede deur die uitbarsting van ’n onderwatervulkaan gevorm en is ’n natuurlike wêrelderfenisgebied. Die Jeju- vulkaniese eiland en lawabuise, wat in die botaniese park te sien is, was die rede hoekom ons juis hierdie uitstappie gekies het.
Sy vertel die eiland is drie maal groter as Singapoer en het 750 000 inwoners. Met die veerboot neem dit 24 uur van die Koreaanse vasteland van Incheon tot hier, maar dit is net ’n uur se vlug. Dit het ons skip 12 uur geneem om die eiland te bereik.
“Hoewel die eiland klein is en hier nie miljoene mense woon nie, is hier baie verkeersknope, want elke twee minute land hier vlugte vol toeriste. Ons tweede internasionale lughawe is tans in aanbou en elke dag meer ’n internasionale skip hier vas. Dis duidelik dat die eiland baie gewild is!”
Die eiland is oortrek met teeplantasies en die groentee is effe soet. (Foto: Clifford Roberts)
Sy vertel die ooreenkomste tussen Jeju en Hawaii stop nie net by mooi natuurskoon en ’n tropiese klimaat nie. “Die temperatuur val ook selde benede vriespunt, wat die eiland geskik maak vir lemoene, sojabone, tee, kersies en ander landbougewasse, en die lawagrond is geil en vrugbaar. Hier is ook baie palmbome en ons locals noem dit ‘Hawaii-eiland in Korea’ en dis baie gewild as wittebroodbestemming.”
Soos ons ry, flits die lemoenboorde met Jeju se eie kultivar verby. Dié stroopsoet Jeju-lemoene word regoor die wêreld uitgevoer en Suzie sê dis nie net gesog omdat dit so lekker is nie, maar ook omdat dit die enigste plek in Korea is waar lemoene groei.
Sy vertel ook hier is geen aktiewe vulkane, geen tsunami’s of aardbewings nie, al is dit so na aan Japan. Junie tot September is tifoonseisoen en Jeju word eerste getref. Die eiland kry ook baie wind en daarom is daar nie vreeslike hoë geboue nie en dit verduidelik ook die talle windplase. Sommige van die groot spinnekopagtige windturbines staan in die see. Daar is geen fabrieke op die eiland nie en Suzie sê hulle is baie trots op hul skoon lug en water.
Die eiland het geen tekort aan wind nie en daarom is windturbines oral, selfs in die see. (Foto: Clifford Roberts)
Deur die eeue het die eiland onder verskillende name bekend gestaan, waaronder Doi, Dongyeongju, Juho, Tammora en Taekseungnido (die vreedsame warm eiland in Joseon), en tot 7 Julie 2000 is dit as Cheju gespel.
“Voor die Japannese anneksasie in 1910 was die eiland vir Europeërs bekend as Quelpart; tydens die besetting was dit onder die Japannese naam Saishū bekend. Quelpart, wat uit Frans kom, is klaarblyklik toe te skryf aan die naam van die eerste Nederlandse skip wat die eiland in 1642 gewaar het – die Quelpaert de Brack.”
Die Koreane het ongelooflike brûe en ek voel half soos ’n argitekstudent omdat ek hulle almal wil afneem ... (Foto: Clifford Roberts)
Suzie vertel liries van die Hyeopjae-strand, waar blou golwe die goue sand soen, of hoe jy kan dwaal deur die betowerende velde van kanolablomme wat die eiland in die lente bedek, of onder die kersiebloeisels in Februarie en Maart wanneer die takke kreun onder die pienk bloeisels.
Die eiland se bekende Jeju-lemoene is op elke moontlike lappie grond geplant. (Foto: Clifford Roberts)
Swemtyd op die eiland is maar kort: Junie tot Augustus, anders is dit te koud en mense swem eerder in verhitte swembaddens by oorde of hul huise.
Ons vra uit oor die Koreaans wat sy praat; hoewel ons nie veel verstaan nie, val dit effe anders op die oor as die Koreaans wat ons die afgelope week in Seoel gehoor het. “Die Jeju is inheems aan die eiland – baie mense wat hier gebore word, het geen begeerte om ooit na die vasteland te gaan nie en dié wat weggaan, kom heel dikwels baie gou terug. Ons Jeju-taal word deur UNESCO as kritiek bedreig beskou.”
........
Maar Jeju is nie net ’n mooi gesig met sy eie taal en kultuur en lemoene nie; sy ryk kulturele tapisserie is geweef met unieke tradisies, soos die fassinerende geskiedenis van die Haenyeo, die legendariese vroulike duikers.
........
Maar Jeju is nie net ’n mooi gesig met sy eie taal en kultuur en lemoene nie; sy ryk kulturele tapisserie is geweef met unieke tradisies, soos die fassinerende geskiedenis van die Haenyeo, die legendariese vroulike duikers.
“Hierdie merkwaardige vroue, waarvan die jongste in haar 50’s en die oudste 95, duik diep in die see sonder enige asemhalingsapparaat en vertrou op eeue-oue tegnieke wat deur generasies oorgedra is. Hulle swem in duikpakke, gewapen met net messe en nette. Die beste seekos is sowat 20 meter onder die oppervlak en hul geoefende langasems stel hulle in staat om seekos los te wikkel en in hul nette te sit.
Die oupastandbeeld wat oral op die eiland te sien is en glo inwoners en besoekers beskerm. (Foto: Clifford Roberts)
“Hul indrukwekkende vaardighede stel hulle in staat om ’n verskeidenheid seekos te oes, wat nie net vir die eiland se gebruik is nie, maar ook vir die vasteland en oorsese lande beskikbaar is. Hulle duik onder meer perlemoen, seekomkommers en seekat. Maar met laag- en hoogwater, slegte weer wat dit moeilik maak om onder water te sien en te veel reën kan hulle net 10 dae elke maand werk.”
Klimaatsverandering het natuurlik ook die patrone, voorkoms en oordadigheid van seekos benadeel en soms moet hierdie vroue baie verder gaan om seekos te vind.
Sy vertel dat dié werk destyds net deur mans verrig is, maar met die verskeie oorloë waarin mans moes gaan veg, is hele gemeenskappe se voortbestaan aan vroue oorgelaat. Hulle moes inspring om hul gesinne te voed.
Hallim Park is ’n groot besienswaardigheid en duisende toeriste kom maandeliks hierheen. Hier ontspan ’n ma en haar jong kinders op een van die vele grasperke. (Clifford Roberts)
“Vandag is dit net vroue hier op Jeju wat duik en selfs hierdie tradisie is besig om uit te sterf. Niemand wil meer hierdie werk doen nie, omdat dit so gevaarlik is. Jaarliks verdwyn van hierdie duikers onder die branders en hul liggame word nooit gevind nie.
“Ons probeer om ons kultuur te behou, maar dit word al moeiliker,” voeg sy by.
Die Haenyeo-kultuur, wat sedert 2016 deur UNESCO as ’n kulturele erfenis erken word, is ’n bewys van die belangrike rol wat hierdie vroue in hul gemeenskappe speel. Besoekers aan Jeju kan hul merkwaardige duikslae aanskou en leer oor hul ryk geskiedenis, wat ’n onvergeetlike ervaring maak wat die eiland se lewendige maritieme erfenis vier. Dit was een van die ander daguitstappies wat gaste aan boord Norwegian Spirit kon onderneem.
Daar is verskeie teeplantasies met kafeterias, maar by Osulloc is daar heelwat te doen. (Foto: Clifford Roberts)
Ons vra uit oor al die museumbordjies onderweg en sy lag en sê dis maar meer temaparke. “Parkeienaars het besef dat as hulle plekke as museums adverteer, dit meer belangstelling prikkel. Die meeste van hulle is geskoei op ’n spesifieke tema en bied vermaak vir die kinders, ’n geskenkwinkel en kafeteria. Daarom noem Koreane Jeju ook ‘museumeiland’.”
Daar is ’n lang tou karre op die snelweg en langs die park staan honderde motors in rye geparkeer. Sy verduidelik dis die “Swartvark-fees, waar almal saam om braaivleisvure vergader en die dag geniet”. Die unieke Jeju-vark se vleis is swart en te oordeel aan die braaivleisvure en reusevlieër wat hoog in die lug dartel, is dit inderdaad groot pret.
Die pragtige kafeteria kyk uit oor die teeplantasies, waar toeriste foto’s in die ruie rye neem. (Foto: Clifford Roberts)
Ons stop by een van die teeplantasies, Osulloc, waar jy jou eie seep of gesigprodukte kan meng, tee en verskillende soetighede in die kafeteria kan geniet, of in die soewenierswinkeltjie kan leer hoe tee op die eiland geplant, geoes, gedroog en verpak word. Bo ons koppe hang sakkies tee wat in die winkeltjie gekoop kan word. Dis groentee en effens soet en gou is die meeste van die mense wat saam met ons op die bus is, se mandjies vol teeprodukte gepak.
Voor jy kan teeproe, kan jy aan die droë teeblaartjies ruik en voel hoe dit voel as dit pas gedroog is.
Besoekers aan Osulloc kry ’n baie goeie idee van die hele teeproses. (Foto: Clifford Roberts)
Die pragtige kafeteria kyk uit oor die teeplantasies, waar toeriste foto’s in die ruie rye neem. (Foto: Clifford Roberts)
Buite op ’n reusegrasperk speel kinders, ouers kuier op komberse onder die bome, terwyl die standbeeld van Jangwon Sung-Whan, stigter van Osulloc, waghou.
Daarna kies ons koers na Hallim Park, wat in verskeie afdelings verdeel is en selfs ’n pragtige bonsaituin het waar jy bonsais van tot 300 jaar oud kan sien. Die park is in 1971 geopen en die visie van een man, Song Bong-gyu, het ’n barre landskap in hierdie ongelooflike groen paradys van meer as 330 578 vierkante meter verander. Hy het begin deur ’n palmlaning aan te plant en toe die res van die tuin ontwerp.
Een van die horingoue bonsais in die tuin. (Foto: Clifford Roberts)
Wat die tuin nog meer merkwaardig maak, is twee lawabuisgrotte – deel van ’n 17 kilometer lange lawabuisstelsel waarvan twee gedeeltes oop is vir die publiek en wat klaarblyklik die enigste lawagrotte ter wêreld is wat stalagmiete en stalaktiete bevat. Suzie vertel dit word dus ’n “lewendige grot” genoem. Dis glo 25 miljoen jaar gelede deur ’n vulkaniese uitbarsting gevorm en bevat beide lawa- en kalksteen in een grot. Die kalksteenmure lyk in die skemer – lig verwoes die wande – amper asof dit beskilder is.
Die twee lawabuisgrotte is lewendige grotte, omdat stalagmiete en stalaktiete daarin groei, vertel Suzie ons. (Foto: Clifford Roberts)
In die tuin kan jy die Hyeopjaegul- en Ssangyonggul-lawabuisgrotte besoek. Hulle is elk ongeveer 200 meter lank, 10 meter wyd en vyf meter hoog. Dis glad nie bedompig en beknop nie en met ’n gemiddelde temperatuur van 17–18℃ is dit ’n lekker welkome breek van die somerhitte bogronds.
Deur een man se visie is hierdie palmlaning binne 53 jaar só groot! (Foto: Clifford Roberts)
Die Hyeopjaegul-lawabuisgrot is aangewys as Natuurmonument No 236 en tel onder die wêreld se belangrikste geheimsinnige grotte, soos die klipsoutgrot van Peru en die onderwater-kalksteengrotte van Slowenië.
Die park het ook ’n oulike tradisionele dorpie waar jy kan sien hoe die eilandbewoners honderde jare gelede gewoon het. Voor die klein nedersetting staan ’n reusestandbeeld en Suzie verduidelik dis “die oupastandbeeld” wat geluk en vrede bring. Dis regdeur die eiland te sien en beskerm glo almal hier.
Een van die huisies in die tradisionele nedersetting in die Hallim Park. (Foto: Clifford Roberts)
Die ou Jeju-huisies is met perdemis, lawaklip, hout en pampasgras gebou.
Toe iemand haar aan die einde van die dag vra hoe gereeld sy na die vasteland gaan, vra Suzie: “Hoekom? Ek is in die paradys hier.”
Ons wag laatmiddag by die robot en op die middelman is ’n teken: “I love Jeju”. ’n Mens kan dit glo en verstaan hoekom Suzie eerder hier in die middel van die oseaan haar lewe slyt. Dis waarlik ’n tropiese paradys.
Pragtige blomme en plante floreer in hierdie tropiese paradys. (Foto: Clifford Roberts)
Kitsfeite:
- Vir meer inligting oor die fassinerende lawagrotte en die Hallim Park-geskiedenis, besoek www.hallimpark.co.kr.
- Vir meer inligting oor al die skeepsvaarte wat jy in Asië, die Oos-Chinese See en die Stille Oseaan met Norwegian Cruise Line kan onderneem, besoek www.ncl.com.
Lees ook:
Laat die Hanrivier en eggo’s van lag ’n Seoel-simfonie speel
Die ontwykende vos het ons, wel, bly ontwyk (Hornstrandir-natuurreservaat, die Westfjords, Ysland)