Koronavirus het Suid-Afrikaners op hol

  • 0

............

“Waarvoor is ons bang? Dit is nie so erg nie – mits ons onsself met kennis oor die koronavirus bemagtig.” – minister van gesondheid, Zweli Mkhize

............

Fopnuus en paniek oor die koronavirus versprei skynbaar vinniger in Suid-Afrika as die virus self.

Slegs drie gevalle is tot dusver in Suid-Afrika geïdentifiseer, maar op sosiale media word reeds spoke opgejaag oor die land se vermoë om die virus in toom te hou indien dit verder sou toeneem onder Suid-Afrikaners.

Dit is veral in KwaZulu-Natal, waar die eerste Suid-Afrikaners met die virus geïdentifiseer is, dat daar groeiende paniek is. Daar word gevrees die provinsie se hospitale is nie voorbereid indien die virus verder sou versprei nie.

Foto: Pixabay.com

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het dié naweek vure probeer doodslaan. Hy het Suid-Afrikaners die versekering gegee dat daar geen rede tot paniek is nie. Hy sê die departement se pogings om al die mense op te spoor wat in kontak was met die drie persone in Suid-Afrika wat met Covid-19 gediagnoseer is, is suksesvol. Hy sê die departement het vasgestel wie op dieselfde vliegtuig was as die egpaar van Hilton naby Pietermaritzburg wat positief vir die virus getoets het. Die toetsuitslae van die groep wat saam met die egpaar in Italië was, word vroeg vandeesweek verwag.

Die Suid-Afrikaanse Rooikruisvereniging in KwaZulu-Natal sê hy gaan sy spanne in die provinsie ontplooi om vrese oor die Covid-19-virus uit die weg te ruim. Die opleidingskoördineerder van die Rooikruis in KwaZulu-Natal sê die spanne is opgelei om die publiek oor higiëne in te lig sodat hulle die siekte nie maklik kan opdoen nie. Hulle sal ook mense oor die virus inlig.

............

“Die meeste dokters en medici in Suid-Afrika is dit eens dat daar geen rede tot paniek is nie. Die beste raad om te volg is steeds gesonde higiëne. Was gereeld hande, verkieslik met ’n alkholjel, en vermy naby kontak met mense wat koors met griepsimptome het.” 

............

Mkhize sê sommige Suid-Afrikaanse studente wat nog in die Chinese stad Wuhan is, het besluit om te bly. Die Suid-Afrikaanse weermag gaan dié week ’n groep van 184 Suid-Afrikaners in China na Suid-Afrika repatrieer. Aanvanklik het 150 mense aangedui dat hulle wil huis toe kom, maar die getal het tot 184 gestyg. Dit is nog nie bekend hoeveel studente van plan verander het en besluit om te bly nie. Mkhize sê die studente voer aan dat die siekte nie meer net in China is nie, maar oral in die wêreld voorkom.

Mkhize het bekommerde inwoners dié naweek in en rondom Pietermaritzburg toegespreek nadat die twee gevalle van die virus in Hilton aangemeld is.

Hy het volgens Netwerk24 gesê daar is niks om voor bang te wees nie. “Waarvoor is ons bang? Dit is nie so erg nie – mits ons onsself met kennis oor die koronavirus bemagtig.”

Luisteraars van RSG het Maandag die stasie oorval met kommentaar en boererate hoe om die situasie te hanteer in antwoord op ’n luisteraarsvraag. Die radiostasie wou by sy luisteraars weet wat doen hulle om hulself te beskerm.

Sommige luisteraars was van mening dat die virus niks anders is as gewone griep nie, terwyl ander meen dit is ’n ernstige pandemie.

Marius Baartman skryf op RSG se Facebook-blad hy volg die uitbreek van die virus van die begin af op Twitter. Hy glo daar is genoeg om te sien wat regtig aangaan rondom die virus in die wêreld om bekommerd te wees. Hy dink nie Suid-Afrika is gereed vir die virus se behandeling nie en beskik nie oor die regte infrastruktuur om dit te behandel nie.

Die meeste dokters en medici in Suid-Afrika is dit eens dat daar geen rede tot paniek is nie. Die beste raad om te volg is steeds gesonde higiëne. Was gereeld hande, verkieslik met ’n alkholjel, en vermy naby kontak met mense wat koors met griepsimptome het. 

Gesondheidsamptenare in Italië het ’n beroep op lande wêreldwyd gedoen om voor te berei vir nog gevalle van die virus. Dit sluit in om gouer diagnoses te maak en gesondheidswerkers en die publiek op te lei oor die hantering van die virus. Die aantal gevalle in Italië het in een dag met 133 toegeneem tot 366 ’n dag. Meer as 7 000 mense in Italië het nou die virus, wat dit die grootse aantal infeksies buite China maak. Die aantal infeksies wêreldwyd het tot 107 000 gestyg met 3 600 sterftes.

  • Indien enige verdere inligting oor die koronavirus verlang word, kan die 24-uur-noodlyn geskakel word by 0800 029 999.

Lees ook 

Afrika systap nog gevreesde Covid-19

Dodelike koronavirus op pad na Suid-Afrika

Suid-Afrika gereed vir dodelike koronavirus

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top