Afrikaans is springlewendig en gedy op verskeie terreine. Dit sal egter naïef wees om te dink die taal sal oorleef net omdat dit gepraat en gesing word, aangesien die hoër funksies van Afrikaans onder druk is.
So het Michael Jonas, direkteur van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM), Woensdagaand (17 Augustus) tydens die jaarlikse Marie Luttig-gedenklesing in die Paarl gesê. Hy sê op voetsoolvlak gedy Afrikaans, maar wat hoër funksies betref, is die taal onder beleg.
Jonas sê terwyl daar ’n berekende poging van regeringskant is om die invloed van Afrikaans en Afrikaanses af te skaal, is Afrikaanssprekendes besig om oor ’n wye spektrum te verenig.
As voorbeeld het hy verwys na die voorgestelde naamsverandering wat die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, wou hê om die woord “Afrikaanse” uit die ATM se naam te verwyder. Jonas sê die reaksie daarop was oorweldigend en die oorwegende sentiment betreffende die naamsverandering was ’n groot “Nee!”.
Die tema van vanjaar se gedenklesing was “Die behoud van Afrikaans as inklusiewe taal”. Jonas het verwys na die uitsluiting van sommige streekvariëteite van Afrikaans in die verlede. Dit is volgens hom een van die faktore wat gelei het tot die verengelsing onder baie sogenaamde gekleurde Afrikaanssprekendes, omdat hulle uitgesluit gevoel het in Afrikaans.
Die gedenklesing is vanjaar vir die sestiende keer deur die Hugenote Gedenkskool, wat na restourasie in 2002 in gebruik geneem is, aangebied. Dié skool, wat op 14 Maart 1883 geopen is met die doel om moedertaalonderrig in Afrikaans te verseker, is op die plaas Augusta Kleinbosch in Dal Josafat tussen die Paarl en Wellington geleë.
Vanjaar se Marie Luttig-gedenklesing is in die Strooidakkerksaal aangebied. Marie Luttig was ’n mediese praktisyn wat met haar dood in 1997 in haar testament ’n aansienlike deel van haar boedel nagelaat het vir die bevordering van Afrikaans. ’n Toekenning word jaarliks uit die Luttig-trust aan die Hugenote Gedenkskool gemaak om die gedenklesing ter ere van haar aan te bied.
Jonas het in sy lesing ook verwys na Afrikaans se pynlike en kontroversiële verlede. Hy sê sedert 1994 is ’n diverse groep Afrikaanssprekendes egter besig om weer hulle stemme in Afrikaans te vind.
’n Deel van hierdie Afrikaanse diversiteit was duidelik te sien in die voordrag van die skrywer en digter Diana Ferrus wat as gaskunstenaar opgetree het en van haar gedigte voorgelees het.
Sy het vertel hoe haar gedig oor Saartjie Baartman gehelp het om te sorg dat Saartjie se oorskot wat in ’n Franse museum was, na meer as 100 jaar teruggebring is Suid-Afrika toe. Die gedig het Frankryk se minister van kultuursake so beïndruk dat hy haar gevra het of hy dit in Frans mag laat vertaal. Uiteindelik is die gedig in die Franse wetgewing opgeneem, wat gesorg het dat Baartman se oorskot kon terugkom Suid-Afrika toe.
Die vraag is volgens Jonas hoe mens voortbou op die diversiteit wat reeds in Afrikaans bestaan. “Hoe skep, bevorder en handhaaf ons inklusiewe ruimtes waar alle Afrikaanssprekendes, insluitend tweedetaalsprekers, tuis voel?”
Hy meen taal- en kultuurorganisasies soos die ATM en Hugenote Gedenkskool moet aan die voorpunt wees van die proses om bewustheid van Afrikaans se gedeelde verlede te bevorder. Dit moet geleenthede skep vir groter deelname wat kan lei tot die opeis van eienaarskap van die taal.
“Met hierdie taalstrategie moet die fokus wees op die ontwikkeling van ’n houding van verdraagsaamheid onder die Afrikaanse taalgemeenskap, die ontwikkeling van ’n gedeelde bestaansnarratief, skep van taaltrots en die aanvaarding van eienaarskap,” sê Jonas.
“Taal- en kultuurorganisasies moet aan die spits wees by die skep van ’n omgewing waar diversiteit omarm word terwyl verdraagsaamheid asook verantwoordbare burgerskap gekweek word.”
Jonas sê hy wonder dikwels tot watter mate taal soms gebruik word om mense uit te sluit. “Hoe word toelatingsprosesse byvoorbeeld geadministreer by oorwegend voormalige model C-skole? Hoe verwelkom en betrek ons die ander deel van ons taalgemeenskap by organisasies, ons werksaamhede en ons geleenthede?”
Jonas se pleidooi is dat gemeenskappe moet fokus op die skep van inklusiewe ruimtes en ontmoetingspunte waar die taal in al sy gedaantes gevier kan word.
Hy sê meertaligheid en veeltaligheid moet as ’n bate gevier word. Daar moet gefokus word op die gemeenskaplike vraagstukke waarmee inheemse tale daagliks gekonfronteer word en die invloede van inheemse tale op mekaar. “Die belangrike rol van Afrikaans as tweede en derde taal in die versterking van Afrikaans moet ook nie uit die oog verloor word nie. Ek is oortuig die toekoms van Afrikaans is in Afrika met mede-Afrikane.”
Volgens Jonas moet daar egter gewaak word om nie meer- of veeltaligheid bloot te gebruik as ’n voorwendsel om te verengels nie.
Hy is van mening die voorbestaan van Afrikaans kan verseker word deur meer te fokus op die gelykwaardige insluiting van variëteite in alle gebruiksdomeine soos die skoolkurrikulum, media, kultuurindustrie en vele ander.
“Die voortbestaan en krag van Afrikaans lê in almal wat dit praat, ongeag die dialek of variëteit.” Hy verwys spesifiek na Kaaps, Afrikaaps, Gariep of Oranjerivierafrikaans, Moslem-Afrikaans ens.
Jonas sê wanneer die gestandaardiseerde variëteit ’n hoër maatskaplike status as die ander variëteite geniet, dit tot doelbewuste uitsluiting en sosiale rangordening binne die taalgemeenskap lei.
Hoewel ’n taal ’n gestandaardiseerde variëteit nodig het ter wille van onder andere spelreëls en grammatika, moet dit ten doel hê om te reguleer en nie aangewend word as die enigste of noodwendig voorkeurmanier van kommunikeer nie.
Anders kan dit maklik daartoe lei dat die grootste deel van Afrikaanssprekendes daarvan weerhou word om op hul unieke wyse om te gaan met die taal. Taal is immers die draer van kultuur en staan sentraal tot elkeen se komvandaan.
In hierdie dikwels komplekse debat oor Afrikaans is die gevolgtrekking waartoe Jonas kom, dat voorheen gemarginaliseerde Afrikaanssprekendes besig is om die taal op te eis en eienaarskap daarvan te neem. “Al hoe meer bruin en swart Afrikaanssprekendes betree die openbare domein via die media en kulturele bedrywe, waar hulle stemme tel.”
Volgens Jonas beskik Afrikaans oor die vermoë om ’n beduidende invloed uit te oefen, nie net op die daaglikse bestaan van sy sprekers nie, maar ook op die kulturele, spirituele, opvoedkundige, politieke, ekonomiese en maatskaplike terreine van Suid-Afrika.
“Dit beskik oor die grootste rassediversiteit van alle inheemse tale. Afrikaans het nie kleur nie, maar wel vele tongvalle.”
In die woorde van Neville Alexander het Jonas ’n beroep gedoen op almal wat Afrikaans is om alle strome, dood of lewend, wat na die hoofstroom loop, te versterk en so die behoud van Afrikaans as inklusiewe taal te bevestig.
Lees ook op OuLitNet:
Dis finaal … Saartjie Baartman kom huistoe!!! (Jason Lloyd)
Lees ook op LitNet en Voertaal:
Wit en bruin staan saam oor Afrikaans by ATM (Afrikaanse Taalmonument- en museum)
"Ons beleef ’n gesonde digkuns-era": ’n onderhoud met Diana Ferrus
Saartjie Baartman se afstammelinge verdien meer as naamverandering
My Mother's Mother's Mother: Monument voor de vrouwenstem uit Zuid-Afrika
ATKV-taalerfenissimposium: Gerda Odendaal oor die herstandaardisering van Afrikaans
Van daar na waar? ’n Oorsigtelike blik op die herstandaardiseringsdebat van Afrikaans
’n Strategie vir die insluiting van Kaapse Afrikaans by die formele skoolkurrikulum
Is alles oraait byrie hys?: ’n Onderhoud met die stigter van Vannie Kaap
Die eerste Kaaps-woordeboek: ’n onderhoud met Quentin Williams
Review vannie Arabies-Afrikaans Workshop met die Afrikaanse Taalmuseum
Buro: MvHOranjerivierafrikaans is nxa!: ’n onderhoud met Anzil Kulsen