..........
“Ek is opgewonde oor die digkuns, die konstante produsering van nuwe werk, die voorheenbenadeeldes wat ontpop en hulle pad oopskryf, die rymklets, die ‘performance poetry’, ek is regtig baie trots op wat ons tans vermag.”
..........
Die digter Diana Ferrus tree by die Open Book Festival op wat tot 8 September 2019 in Kaapstad plaasvind:
GROUNDING SESSIONS #COCREATEPOETICA EDITION | 5 September
18:30 - 20:30 | R45 | Koop kaartjie EN RSVP
Sy het met Cliffordene Norton gesels oor die Suid-Afrikaanse digkuns, haar jongste digbundel, Die vrede kom later, en haar toekomsdrome.
Jy het onlangs jou jongste digbundel, Die vrede kom later, bekend gestel. Hoe het jy die titel en tema vir die digbundel gekies?
My bundel handel oor my pa wat ’n krygsgevangene gedurende WWII was. Hy het posttraumatiese stres opgedoen waarvan ek nie bewus was nie; ek het ná sy dood stories oor hom by my oom gehoor.
Dit was gebeure waarvan ek nie geweet het nie. Dit was toe duidelik vir my dat my pa sy hele lewe lank met PTSD gesukkel het. Ek het besef dat hy nie eintlik vrede gehad het nie, nog gesukkel het met die oorlog.
Ek het toe besef dat sy dood alleenlik vir hom vrede gebring het, soos ek in my boek Plato aanhaal, “only the dead have seen the end of war.”
Tydens vanjaar se Iziko Vrouedag-funksie het jy aan die gehoor vertel dat die passasiers nie geweet het dat Sarah Baartman se oorskot op die vlug is, totdat die vlieënier in Johannesburg dit aangekondig het nie. Kan jy onthou wat was die passasiers se reaksie?
Die passasiers het hande geklap! Miskien was dit ons wat geweet het, wat so hard hande geklap het. Daar was ’n gejuig en mense het opgewonde begin praat! Ek kan nie baie onthou van daardie oomblik nie.
Indien jy met haar kon gesels, wat sou jy graag van Sarah Baartman wou weet?
Ek wou haar vra na wie en wat sy die meeste verlang het. Het sy moed opgegee? Het sy enige hoop gehad dat sy weer haar geliefde land sou sien? Hoe het sy die koue hanteer, wat het sy gedink van die Europeërs?
Wat dink jy is die huidige stand van die Suid-Afrikaanse digkuns?
Ek kan met trots sê dat ons ’n gesonde digkuns-era beleef.
Mense skryf en skryf vrylik oor wat hulle wil sê, niemand hoef bang te wees dat hulle in die tronk gestop sal word nie.
Ek is opgewonde oor die digkuns, die konstante produsering van nuwe werk, die voorheenbenadeeldes wat ontpop en hulle pad oopskryf, die rymklets, die “performance poetry”, ek is regtig baie trots op wat ons tans vermag.
Wie dink jy is opkomende Suid-Afrikaanse digters waarna lesers moet uitsien?
Ek wil nie so ’n stelling maak nie. My ondervinding is dat daar vele talent daar is wat nie die geleentheid kry nie; ander kry wel die geleentheid maar kan dit om een of ander rede nie volhou nie.
Daar is opwindende stemme maar die vraag is, kry hulle die geleentheid, of moet hulle terugstaan want die literêre wêreld het net spasie vir ’n paar?
Wie is die digters wat jou inspireer?
Daar is sommer baie, Tracey Heeger, Michael Weeder, Shaun Warner, Mengelmoesdigters onder andere Gaireyah Fredericks, Merle Danhouse, Adriaan Williams, Theresa Carstens, Jacqueline Saaiman, Frazer Barry, Churchil Naudé, Jolyn Phillips, Vangile Gontsho, Pieter Odendaal en vele ander.
Jy het geweldig baie bereik in jou lewe. Wat lê voor?
Ek wil nog meer skryf, nog vele bundels, en ek wil graag ’n roman skryf. Ek wil ’n skrywerskursus ontwerp, ek wil nog sien dat my werke vertaal word in vele tale.
Aan watter Open Book Festival event(s) neem jy deel?
Ek neem deel aan die program met Roche Kester, ook een van my gunsteling-digters.
- Foto’s: Cliffordene Norton
Lees ook op Voertaal en LitNet
"I ended up writing poetry because of the Wachowskis" – an interview with Simone Atangana Bekono
Worlds come alive from page to stage at #cocreatePOETICA (Open Book Festival)
Buro: MvH