Muchu gustu: Oor sokker en melk

  • 0

Hierdie aankondiging is belangrik vir mense wat van melk drink hou, maak nie saak of dit kondensmelk is, of melk van ’n geit [Afrikaans: bok, MvH ‒ Voertaal], of volmelk is nie. (Ek dink room is ook ingereken.)

Wat is fout met dié drankie? Wel, dalk is dit ’n teken dat net mense melk drink as hulle lankal nie meer babas of peuters is nie, of nie? Dit veroorsaak allerhande tipes pyne en krampe; daar is dié van ons wat die laktose nie kan hanteer nie. Dit kan kanker veroorsaak, hartklagte, puisies en oorgewig; en die gif wat al hoe meer gebruik word in die landboubedryf, dra ook by tot ’n verslegtering van die produk.

Hierdie tipe berigte maak my altyd weer benoud – dalk is dit maar die beste om te leef van water en winegums light.

Die gesondheidsprobleme is kinderspeletjies as dit kom by die groot pienk olifant in die melkfabriek: volgens PETA (People for the Ethical Treatment of Animals) is om melk te drink ’n rassistiese daad. Melk is ’n teken van wit oorheersing.

Hoe nou? Die onskuldige glas melk is toe glad nie so onskuldig nie: ekstreem regse mense gebruik dit glo dikwels as ’n simbool. Dit kan dus gebeur dat ’n rassistiese oom ’n glas melk begin drink terwyl hy my kwaai en stip aankyk omdat hy wil wys dat hy magtiger en beter en mooier en slimmer is as ek. Om ’n glas melk te drink word ’n provokasie. “Sidder en bewe,” sê hy vir my, “en bly stil en gaan terug na jou eie land, anders drink ek nóg ’n glas kondensmelk, hoor jy my!” Die sweet sal van my rug tap.

Gelukkig word daar in Nederland al hoe minder melk gedrink. Tussen 2013 en 2018 het die jaarlikse verbruik van melk 63 miljoen liter gedaal na 747 miljoen liter. Dit sou pragtig wees indien dit sou beteken dat die wit, regse populisme in Nederland óók aan die krimp is – dalk moet iemand ondersoek doen hierna.

Daar is ’n sekere groep mense wat na aanleiding van ondersoeke oortuig is dat wit Europeërs geneties superieur is omdat hulle gestel laktose glo beter kan hanteer. Dit wys weer eens hoe gevaarlik dit is om genetiese ondersoeke te veralgemeen, en hoe maklik “resultate” in die hande kan beland van mense met ’n sekere agenda en bewus verkeerd lees, so skryf Amy Harmon in The New York Times:

Instead of long-discounted proxies like skull circumference and family pedigrees, according to experts who track the far-right, today’s proponents of racial hierarchy are making their case by misinterpreting research on the human genome itself. And in debates that have largely been limited to ivory-tower forums, the scientists whose job is to mine humanity’s genetic variations for the collective good are grappling with how to respond.

Die hele storie is eintlik te bisar vir woorde, maar haat mag mens nooit wegvee as net onsinnig nie.

Wat moet ons dan maak? My eerste reaksie sou wees: Eien die melk toe, mense van kleur, soos rap-musiek met die N-woord gedoen het; drink nét melk. As ons partytjie hou, dan gooi ons whiskey by of ander soorte alkohol by watter soort melk ook al. Maak van dié “rassistiese” vloeistof jóú vloeistof.

’n Toenemende melkinname is egter nie wenslik nie, om ander redes, sê PETA. Daar is net te veel mishandeling wat plaasvind by die vervaardiging daarvan. Koeimelk is eintlik net bedoel vir kalfies. Die alternatief is dus ’n veganistiese leefstyl, en ja, dit is iets wat mens kan aanleer. Maar ook iets waar ek, en vele ander, behoorlik mee sou sukkel.

Om meer bewus te lewe is dalk al ’n groot verbetering, en om die groot prentjie te bly sien. Ek mag verkeerd wees, maar mense soos Steve Biko, James Baldwin, Frantz Fanon, Maya Angelou en Martin Luther King sou dalk gesê het dat die stryd wat hulle gevoer het, nie belaglik gemaak moet word deur futiliteite oor melk drink nie.

Miskien is dié ’n boodskap wat werk vir ons tye: “Melk Verdeel, Sport Verenig.” Die Suid-Afrikaanse rugbyspan was miskien ’n bietjie stadig met Siya Kolisi wat nou eers die eerste swart kaptein is van die Bokke, maar die Nederlandse sokkerspan is gelukkig al vir ’n ruk ’n redelike weerspieëling van die samelewing. En ja, die Nederlandse vlugbalspanne, hokkiespanne en skaatsers bly ver agter. Sokker is nie om dowe neute ’n “volksport” nie.

In die verlede het “Oranje” al spelers gehad soos Ruud Gullit, Frank Rijkaard, Aron Winter, Stanley Menzo, Winston Bogarde, Clarence Seedorf, Edgar Davids, Pierre van Hooijdonk en Patrick Kluivert. Baie van hierdie spelers was op ’n stadium kaptein van die span. Nou is daar ’n nuwe generasie spelers wat hopelik die Nederlandse sokker uit die sportput kan trek en nuwe oemf kan gee. Willem Vissers skryf hieroor in de Volkskrant, ná die wedstryd teen die ewige mededinger Duitsland, wat “ons” op 13 Oktober 3–0 geklop het: 

De vader van Memphis Depay is Ghanees. Die van Nathan Aké komt uit Ivoorkust. Debutant Denzel Dumfries heeft ouders uit Aruba en Suriname. De moeder van aanvoerder Virgil van Dijk is Surinaams. In een tijd waarin minister van Buitenlandse Zaken Blok zijn twijfels uitsprak over het slagen van de multiculturele samenleving, en immigratie één van de grote politieke thema’s is, is het nieuwe Nederlands elftal gevarieerder dan ooit. 

Sport (krieket, sokker, tennis, rugby) is religie. En die gode wat die sport beoefen, het ’n voorbeeldfunksie (jammer, Ronaldo). As jy jouself as ’n klein meisietjie of seuntjie gerepresenteer sien in ’n span, dan kan jy dalk voel dat jy óók drome mag droom, dat jy ook goed genoeg is, dat jy ook talent het en iets kan bereik deur harde werk. Die “nuwe” sokkerspan wys daar is hoop, so sê Vissers:

Van de 24 spelers in de selectie van Ronald Koeman die zaterdag met 3-0 won van Duitsland in de Nations League, de grootste zege op de aartsrivaal in de historie, heeft de helft (12) minimaal één ouder van buitenlandse afkomst: uit Suriname, Ivoorkust, Curaçao, Dominicaanse Republiek, Ghana, Nigeria, Kaapverdië of Aruba. In het basiselftal speelden zes migrantenzonen, bij het eindsignaal stonden er zeven in het veld, in totaal kwamen er negen in actie. De drie doelpunten waren van Van Dijk, Depay en Wijnaldum.

Die simpatieke sportaanbieder Tom Egbers het vir Willem Vissers gesê hy het glad nie eers aan hierdie soort van statistieke gedink nie. Hy het net gesien hoe “het Nederlands elftal” ’n geweldige wedstryd gespeel het. Ongelukkig bly dit belangrik om wél raak te sien – polarisasie is mos steeds ’n feit en binnekort, wanneer Nederland weer die Sinterklaasfees vier en die “zwarte Piet-discussie” begin, sal ons weer groot verdeeldheid sien. Ongelukkig bly dit belangrik om wél raak te sien – polarisasie is steeds ’n feit, en noudat Nederland weer Sinterklaas vier en die jaarlikse “zwarte Piet-discussie” begin het, sien ons weer groot verdeeldheid.

En waar is die Marokkaanse spelers? Anders as in die verlede kies talentvolle Nederlandse sokkerspelers met ’n Marokkaanse agtergrond soos Noussair Mazraoui en Hakim Ziyech deesdae vir die nasionale span van Marokko, en nie vir Nederland nie. Die voormalige speler Ali Boussaboun noem dat die immigrasiedebat ’n groot rol speel by hierdie keuse:

“Als een Marokkaanse Nederlander iets verkeerd doet, moet hij terug naar zijn eigen land,” zegt Boussaboun. “Maar als hij goed kan voetballen, moet hij verplicht in Oranje.” Een “dictatoriale gedachtegang,” meent Boussaboun. “Wij moeten helemaal niets, behalve ons aan de wet houden.”

Hoe dikwels hoor ’n mens dat ’n persoon van kleur ’n Nederlander is, ’n trotse Nederlandse produk – veral met sport of in die musiek. Is die storie minder positief, dan is hy of sy skielik ’n buitelander, iemand wat nie in Nederland hoort nie. En hoe het dit ook weer gegaan met Ashwin Willemse?

Hmm ... Hoe was my slagspreuk nou weer? “Melk Verdeel, Sport Verenig”? Ai, jammer vir daardie tweeledige fake slogan.

Enkele verwysingsartikels:

Lees ook

Sinterklaasintocht: snoepgoed, eieren en arrestaties

Rugby ontbloot Suid-Afrika se rasseverdeeldheid

Muchu gustu: Blank vs wit

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top