En daar is nog ’n koalisie in sy maai. Dié keer is dit die Nederlandse eerste minister, Mark Rutte, wat op Vrydagaand 7 Julie 2023 net voor middernag die handdoek ingegooi het. Die rede? Immigrasie.
Rutte se party, die konserwatiewe Volkspartij voor Vrijheid en Democratie (VVD) en hul een koalisievennoot, die meer konserwatiewe Christen-Democratisch Appèl (CDA), wou seker maak dat strenger wetgewing teen immigrasie ingestel word, terwyl die ander twee koalisievennote, die ChristenUnie (CU) en die Democraten 66 (D66), nie wou gehoor gee aan, in hulle oë, meer drakoniese wette nie.
Het is geen geheim dat de coalitiepartners heel verschillend denken over het migratiebeleid. En vandaag moeten we helaas de conclusie trekken dat die verschillen onoverbrugbaar zijn. Daarom heb ik het ontslag van het voltallige kabinet aangeboden aan de Koning.
Volledig… pic.twitter.com/iIbxtichRh
— Mark Rutte (@MinPres) July 7, 2023
Rutte het Saterdagoggend die koning gesien, wat hom waarskynlik formeel sou vra om waar te neem tot ’n nuwe verkiesing gehou kan word – iets wat moontlik in November sal gebeur.
Immigrasie ’n twispunt in die politiek
Die uitval tussen die VVD en die CDA aan die een kant, en die CU en die D66 aan die ander kant, het eintlik al begin broei nog voor die koalisie 18 maande gelede tot stand gekom het.
Vrydagaand se gebeure het gegaan oor ’n klein deel van die migrasiekwessie, naamlik die hereniging van gesinne. In het korte wou sekere lede van die koalisie (D66 en CU) hê dat vlugtelinge wat reeds in Nederland gevestig is so gou as moontlik die reg moet hê om hul gesinne na Nederland te bring. Dit gaan veral oor minderjarige kinders en die (eg)genote van vlugtelinge. Die VVD en die CDU sien rooi ligte, en het gesoek na wat hulle noem “de pauzeknop” – ’n maatreël wat die regering sou toelaat om tydelik sulke herenigings stop te sit.
Die D66 en die CU wou onder geen omstandighede toelaat dat die regering onbepaalde magte gegee word om gesinsherenigings te verhoed nie. Rutte het sy kloue gewys. As hy nie kon kry wat hy wou hê nie, dan ontbind hy die kabinet.
Getalle, beddens en stemme
In 2022 het die aantal mense wat na Nederland verhuis het baie skerp toegeneem.
Dit het geweldige druk op die owerhede geplaas, en toe daar persberigte begin verskyn oor die haglike omstandighede waarin sommige asielsoekers hulle bevind, was Rutte se regering deeglik in die spervuur. Nie elke asielsoeker het elke aand ’n bed gehad nie, wat beteken het dat sommige in die buitelug moes slaap. Vir Nederland was dit ongewoon en die skandaal was kwetsend vir Rutte se party.
Waarom dié toename?
Poetin was deels daarvoor verantwoordelik, maar ...
Die Nederlandse statistiekdiens is voortreflik in die byhou van data, en ook in die bekendmaking daarvan.
In 2022 het 401 351 mense na Nederland verhuis. Dit was 148 823 meer as in 2021. Dit klink erg. Tog is dit nie die hele waarheid nie, want ’n hele 64% van hierdie migrante was van Europese afkoms. Hulle het na Nederland gekom vir werk, of om te studeer. Die meeste van hulle vertrek weer na ’n paar jaar. Hulle bly nie permanent in Nederland nie. Hulle is nie asielsoekers nie. Hulle is egter ’n probleem vir baie Nederlanders.
Waarom sou tydelike migrante uit Europa dan ’n probleem wees? Die antwoord is eenvoudig: behuising. Nederland het tans ’n geweldige behuisingstekort. Talle jong volwassenes bly nog by hul ouers. Hulle kan óf nie ’n eie huis kry nie, óf hulle kan dit nie bekostig nie.
In Nederland bou jy nie ’n sinkkaia en plak nie. Glad nie. Nederland bou nuwe voorstede volgens ’n plan: Skole, parke, klinieke, als word in die stadsbeplanning gevoeg; wat wonderlik is, maar ook duur en langsaam. Nuwe grond is boonop nie geredelik beskikbaar nie, en daarom word landbougrond dikwels opgekoop. Dit maak weer die boere kwaad – iets wat vererger word deur Nederland se streng maatreëls oor stikstof. Veeboere in Nederland is reeds onder geweldige druk om hulle vee te verminder weens stikstof, en dan word landbougrond boonop gebruik om nuwe wonings op te rig. Hieroor word gereeld en openlik getwis, selfs betoog.
Tydens die Covid-inperkings het talle behuisingsprojekte boonop stilgestaan, wat die tekorte vererger het.
Daar is dus gewoon nie genoeg huise in Nederland vir almal wat een wil hê nie.
Jong mense, veral diegene wat nie goed opgelei is nie en nie uit hul ouerhuise kan trek nie, raak al hoe meer ongemaklik met migrante wat na Nederland kom vir werk, of om te studeer, want dié mense beset huise wat hulle graag wil bewoon.
Koppel dit aan die oorlog in Oekraïne, dan begin die prentjie duideliker word. Oorlogsvlugtelinge kom met niks en moet onderhou word – en hulle moet iewers bly.
In 2022 het 120 149 mense, waarvan 62,7% vroue was, uit lande wat onder die voormalige Sowjetunie geval het na Nederland gevlug. Net meer as 50 000 van hulle was uit Rusland self, en byna dieselfde getal mense het uit Oekraïne gekom. Talle Pole, wat weet hoe dit is om onder die Russe te leef, het ook na Nederland gevlug.
Hierdie getalle is belangrik, want die verregse siening dat migrante jong mans uit Afrika is, word deur die statistiek verkeerd bewys. Maar statistiek of nie statistiek nie, Nederland se behuisingstekort is sonder twyfel ’n feit en dit word vererger deur migrasie. Enige asielsoeker, maak nie saak van waar nie, dra by tot die probleem.
Koppel dus ’n enorme gebrek aan behuising en ’n morrende jeug aan persberigte oor migrante wat ’n nag buite moes slaap weens ’n tekort aan beddens, dan spring kiesers maklik op en af om teen enige vorm migrasie te stem, of om daarteen te betoog.
Asielsoekers
Anders as die Europese migrante wat gewoonlik na ’n paar jaar weer uit Nederland vertrek, is dit asielsoekers, dikwels uit Afrikalande of Sirië, wat deur die regses voorgehou word as ’n probleem vir ’n klein landjie soos Nederland, wat maar 18,3 miljoen inwoners het.
Poetin se oorlog het toe die getalle geweldig opgestoot.
Verregse stemme mopper teen hierdie inkommers. Rutte self moes erken dat dit duur is om voortdurend ’n “bad, bed en brood” aan asielsoekers te verskaf, veral as hulle onwettig aanbly ná hul asiel geweier is.
Rutte het besef dat hy gesien moes word as iemand wat iets aan die probleem doen en het beloof om “voor die somer” die aantal asielsoekers wat toegelaat word, te verminder.
Die Nederlandse somer is besig om te draai en Rutte se tyd loop uit. Hy wou dus die pouseknoppie gereed hê; ’n maklike manier om te sê dat migrasie uit sekere lande tydelik beperk sou kon word – mits dit deur feite veroorloof sou kon word.
In breë trekke wou Rutte vir homself tyd koop, en hy wou kon bewys dat hy ’n sterk ruggraat het. Sy linkse koalisievennnote wou nie byt nie. Vir hulle was dié idee te vaag en sou dit net te maklik wees vir die regering om blatant te weier om gesinne van asielsoekers na Nederland te bring.
Die CU en D66 kyk na die statistiek. Rutte kyk na die morrende volk en tel stemme.
Onkant gevang
Rutte se hardnekkige houding het talle mense onkant gevang. Sy eie Minister van Asiel en Migrasie, of in Nederlands bekend as die Staatssecretaris voor Asiel en Migratie, Eric van der Burg, was in trane toe Rutte aankondig dat hy die koning gaan inlig dat hy nie meer kans sien om die koalisie te lei nie. Van der Burg is van die VVD, soos Rutte.
Meer nog, die CDA se leier, Wopke Hoekstra, wat Rutte gesteun het in die soeke na asielbeperking, het in sy verklaring die val van die kabinet as “onnodig” bestempel.
Rutte is egter ’n slim politikus en hy weet wanneer hy in ’n hoek is. Dié keer wou hy aan die kiesers wys dat hy sal baklei vir wat hy wil hê.
Wie is Rutte?
Sedert 2010 het Mark Rutte Nederland gelei as die hoof van ’n koalisieregering. Dit is die langste wat enige leier nog ooit ’n regering, of dan vier regerings, in Nederland kon lei.
Rutte is gewild.
Hy is bekend daarvoor dat hy fietsry werk toe, soms met twee lyfwagte, ook op fietse, wat saam met hom ry. Dink aan Paul Mashatile se blouligbendes, dan begin die prentjie van ’n bloedjong man in ’n konserwatiewe donker pak uit die verf kom.
Ja, hy is jonk. Tans 56.
Rutte is konserwatief, en dis belangrik om gisteraand se dramatiese gebeure te verstaan. Die woord konserwatief beteken iets anders in Nederland as in hier in Suid-Afrika, waar ons nog te maklik terugval na diegene wat “ja” gestem het vir demokrasie, of diegene wat daarteen was. In die filosofiese sin sou konserwatief beteken “die behou van tradisionele waardes”, iets wat Rutte steun.
Rutte besef te goed dat Nederland tans probleme het en sy droom is om gematigde kiesers weg te hou van regse partye.
Sy huidige kabinet is nie sonder struweling geskep nie. Dit het maande geduur, die langste ooit in die Nederlandse geskiedenis, voor Rutte na die koning kon gaan om aan te kondig dat hy genoegsame steun van die CDA, die CU en D66 het om ’n kabinet te lei. Hierdie koalisie, bekend as Rutte IV, of dan die vierde Rutte-kabinet, was altyd ongemaklik. Die pers het dit as ’n “liefdelose huwelik” gesien.
Gaan Rutte dus weer staan om Rutte V te probeer vorm?
Hy het al tevore daardie vraag gehoor en sy antwoord Vrydagaand was dieselfde as al die vorige kere: Hy het die nodige energie, maar hy sal mooi daaroor moet dink.
Lesse vir Suid-Afrika?
Vir Suid-Afrika mag Vrydagaand se gebeure lesse inhou.
Suid-Afrika begin nou reeds gewoond raak aan die vreemde idee dat ’n veelpartyregering beter werk as een wat té veel mag het, maar ons sien ook gereeld hoe moeilik dit is om sulke koalisies in stand te hou. In Gauteng en in Gqeberha is daar elke nou en dan ’n nuwe burgemeester, want iewers konkel ’n party met ’n ander en dan word ’n nuwe koalisie gevorm.
Nederland is al gewoond aan koalisies. Meer nog, Nederland is al gewoond aan Mark Rutte se koalisies. Nederland se kiesstelsel werk ook anders as Suid-Afrika s’n. Suid-Afrika sal vinnig moet lesse neem.
Aangesien daar tans sewe politieke partye is wat saamwerk om die ANC uit die kussings te lig, is die kanse groot dat ons koalisies sal hê na 2024, want as hulle nie saam die pyp rook nie, sal die ANC en die EFF wel hul verskille eenkant toe skuif om ’n koalisie te vorm.
Uit die sewe partye wat nou teen die regering staan, probeer die DA, die grootste van almal, baie hard om ’n tradisionele konserwatiewe party, in die filosofiese sin, te wees, ’n bietjie soos Rutte se VVD. Die meeste ander in hierdie pakt is egter taamlik ver regs op die spektrum.
Wat lê dus voor vir Suid-Afrika?
Herman Mashaba slaan al baie lank die antimigrasietrom in Suid-Afrika. Gaan ’n vuisvoos kieserskorps die mag oorhandig aan diegene wat asielsoekers blameer vir ons kwale?
Lees ook:
Koninklike slaapplek vir vlugtelinge, skoon energie, musiek en motorongelukke
’n Stikstofkrisis, die koloniale verlede en ’n bietjie goeie nuus