NG Kerk twis alweer oor gays

  • 0

Die twis in die NG Kerk oor gays word dié week vir die soveelste maal voortgesit tydens die algemene sinode wat in Benoni plaasvind.

Vanjaar se agenda loop oor met aanhangsels vol besware oor selfdegeslagverhoudings, byna dikker as die Bybel self.

Diegene wat teen gay verhoudings gekant is en diegene ten gunste daarvan gaan alles in die stryd werp wanneer daar Dinsdagaand begin word met die gesprek oor homoseksualiteit. Dis alles of niks, berig die Sondagkoerant Rapport.

Een van die beswaarmakers oor 2015 se besluit dat gays mag trou, Johann Ernst, dreig in sy beswaarskrif dat die kerk hom vir nóg ’n hofsaak moet gereedmaak indien die sinode nie die 2015-besluit van die tafel vee nie. Daar word aangevoer dat 2015 se besluit net soos 2016 s’n herroep moet word omdat dit nie volgens die regte prosedure geneem is nie.

“Sou die algemene sinode in 2019 dit nie beslissend doen nie, sal die hof nou weens die uitputting van die beskikbare remedies gevra moet word om dit te doen,” waarsku Ernst in sy beswaarskrif.

Hy sê die algemene sinode sal self moet besluit of ’n tweede uitgerekte en kostedraende hofgeding die moeite werd sal wees, gegewe die besliste erkenning dat ná die hofsaak ook die 2015-besluite nie regsgeldig stand kan hou nie en reeds deur kerkvergaderings en lidmate as nietig geag kan word.

Diegene wat ten gunste van 2015 se besluit is, het egter regsadvies ingewin wat die kerk waarsku dat hulle wéér hulle rieme in die hof kan styfloop indien daar besluit sou word om weer teen gays te diskrimineer.

............

“Een van die beswaarmakers, Chris van Wyk, is intussen van haatspraak aangekla omdat hy ’n vergelyking getref het tussen homoseksualiteit en pedofilie.” 

............

Die gay-geveg in die NG Kerk is die naweek deur Rapport as ’n lae-intensiteit oorlog bestempel. “Dis die Bybel versus die Grondwet”, lui een van die opskrifte.

Verskeie gemeentes dreig om die kerkverband te verlaat indien mense van dieselfde geslag toegelaat word om in die NG Kerk te trou.

Een van die beswaardes, Theo Danzfuss, beweer in sy beswaarskrif daar was ’n fynbeplande pro-gay propagandaveldtog van binne en buite die sinode wat gelei het tot 2015 se besluit dat gays mag trou.

Hy sê verder die voorsitter, Nelis Janse van Rensburg, het nie “hierdie onheilige en onkerklike manipulering en/of indoktrinasie” tydens die debat en besluitnemingsproses aangespreek of gestop nie.

Nog een van die beswaarmakers, Chris van Wyk, is intussen van haatspraak aangekla omdat hy ’n vergelyking getref het tussen homoseksualiteit en pedofilie. Die SA Menseregtekommissie (SAMRK) het aangedui dat hulle ’n klagte teen Van Wyk gaan indien by die Gelykheidshof.

In sy beswaarskrif aan die sinode vaar Van Wyk sterk uit teen selfdegeslagverhoudings. Hy sê die kerk behoort pastorale sorg te verskaf aan mense wat tot dieselfde geslag aangetrokke voel.

“Gelowiges wat sulke aangetrokkenheid beleef, moet begelei word tot die verwesenliking van God se skeppingsdoel met man en vrou deur óf die huwelik óf die beoefening van ’n selibate lewenstyl,” skryf Van Wyk in sy betoog.

Diegene ten gunste van gay verhoudings het die afgelope naweek ook ’n ope brief aan die kerk gerig waarin hulle versoek dat die sinode hom sal hou by 2015 se besluit. Die brief is onderteken deur sowat 100 mense waaronder verskeie bekendes soos die voormalige Wes-Kaapse premier Helen Zille, die sanger Bouwer Bosch, die akteur Deon Lotz, die joernalis en skrywer Dana Snyman en verskeie ander bekendes.

Volgens die ondertekenaars van die brief praat die Bybel nêrens van homoseksuele oriëntasie as sodanig nie. Hulle sê homoseksualiteit is nie ’n Bybelse term nie en die woord dateer eers uit die 19de eeu.

Lees ook 

NG Kerk se base gee bes oor gays

NG Kerk “verleë” na hofuitspraak oor gays

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top