Treinstelsel lamgelê
Die treinverkeer in Nederland het Maandagmiddag tot stilstand geknars na ’n tegniese fout wat veroorsaak het dat masjiniste nie met mekaar kon kommunikeer nie. Die stelsel waar die fout voorgekom het, beheer ook die sinjale. Die probleem is om halfdrie aangemeld en reisigers landwyd moes spook om hul bestemmings te bereik. ’n Reisiger met wie Voertaal gepraat het, Ruurd Schaap, werk in Amsterdam, maar moes sy inenting in Den Haag ontvang waar hy woon. Hy moes spesiaal ’n geleentheid met iemand uit Amstelveen, suid van Amsterdam, reël om betyds vir sy afspraak te wees.
Die eerste treine het weer om halfvier begin ry en omstreeks halfvyf het ProRail, die maatskappy wat verantwoordelik is vir die instandhouding van spoorinfrastruktuur, laat weet dat die probleem opgelos is, maar die nagevolge daarvan het nog ure lank geduur.
Belgiese soldaat hou geen bedreiging meer in nie
Die verregse voortvlugtende soldaat Jürgen Conings is steeds op vrye voet. Die Belgiese minister van binnelandse sake, Annelies Verlinden, sê dit is betreurenswaardig dat Conings nog nie aangekeer is nie, maar sy het ’n beroep op die publiek gedoen om kalm te bly. Sy sê Conings se dreigemente is sekerlik ernstig en dit blyk dat hy ook voorbereidings getref het om die dreigemente uit te voer. Alle leidrade word opgevolg om hom op te spoor.
Conings is sedert verlede week voortvlugtig nadat hy swaar wapens uit ’n leërmagasyn geneem het en hy in die omgewing van die huis van die viroloog Mark van Ranst opgemerk is. Intussen berig die dagblad De Morgen dat benewens Van Ranst nog minstens 10 mense beskerming kry. Die mense word almal as potensiële slagoffers van Conings beskou.
Ma op straat doodgesteek terwyl sy gaan stap
In die Brusselse voorstad Evere is ’n 36-jarige ma van ’n baba op straat doodgesteek toe sy met haar kind in ’n stootwaentjie gaan stap het. ’n Ondersoek is gelas en ’n verdagte is aangekeer. Die omstandighede omtrent die voorval word nog ondersoek. Die voorval het omstreeks halfagt plaasgevind toe die vrou met ’n skerp voorwerp in haar nek gesteek is. Die vrou het in die hospitaal aan haar wonde beswyk. Die baba is ongedeerd. Dit is nog onbekend of die slagoffer en verdagte mekaar geken het. Die burgemeester van Evere, Ridouane Chahid, het sy meegevoel aan die familie van die slagoffer betuig: “Het overlijden van deze mama van drie kinderen is een drama voor haar gezin, haar naasten en voor de gemeente Evere. De gemeente Evere staat aan hun zijde en zal alle nodige steun verlenen," het hy in sy mededeling gesê.
Nederlandse staatshoof stel voorbeeld en wag vir sy inenting
Die demissionêre minister-president Mark Rutte is uiteindelik ook ingeënt. Nederland het op 6 Januarie vanjaar, effens later as sy buurlande, met inentings begin en volgens die RIVM, die Nederlandse weergawe van die NIOS, is daar tot dusver al minstens 9,4 miljoen inentings toegedien. Anders as in Suid-Afrika, waar daar nog slegs sowat 967 000 inentings toegedien is en president Cyril Ramaphosa een van die eerstes was wat sy inenting gekry het, het Rutte geduldig sy beurt afgewag vir wanneer mense van sy ouderdom aan die beurt sou kom. Rutte skryf op Twitter: “Vaccineren is de weg uit deze crisis en dat vooruitzicht komt dankzij het vaccin van Janssen nu ook voor mij persoonlijk een stap dichterbij. Met heel veel dank aan alle medewerkers van @GGDGHORNL die zich elke dag inzetten om Nederland uit deze crisis te helpen.”
Vaccineren is de weg uit deze crisis en dat vooruitzicht komt dankzij het vaccin van Janssen nu ook voor mij persoonlijk een stap dichterbij. Met heel veel dank aan alle medewerkers van @GGDGHORNL die zich elke dag inzetten om Nederland uit deze crisis te helpen. pic.twitter.com/uwN7Lk2btU
— Mark Rutte (@MinPres) May 31, 2021
Intussen bly die COVID-19-besmettingsyfers in Nederland en België daal en die druk op hospitale en veral waakeenhede neem ook af. In beide Nederland en België mag mense vanaf Junie meer as drie mense tuis ontvang. Restaurante gaan ook weer oop om gaste binne te ontvang, en konsertsale, bioskope, teaters en skole mag weer oopmaak. Sportbyeenkomste mag weer voor die publiek gehou word.
Groot oorwinning vir omgewingsorganisasies
Die Nederlandse omgewingsorganisasie Milieudefensie het verlede Woensdag ’n regsaak teen die oliereus Shell gewen. Milieudefensie en ses ander organisasies, waaronder Greenpeace, Fossielvrij NL en die Waddenvereniging, het in 2019 ’n saak teen Shell aanhangig gemaak om die maatskappy te dwing om sy koolstofvrystelling in ooreenstemming met die Parys-klimaatooreenkoms skerp te verminder. Die hof in Den Haag het beslis dat gesien die dringendheid van die saak in terme van klimaatsverandering en die ernstige gevolge wat dit inhou, Shell inderdaad sy koolstofvrystelling met 45% vergeleke met die vlak van 2019 moet terugdwing. Dit geld nie net vir die moedermaatskappy nie, maar ook vir al sy leweransiers. Die hof het gelas dat die oliemaatskappy onmiddellik aan die vonnis gehoor moet gee, selfs al besluit hy om appèl aan te teken.
Die wolf voor die deur
Die wolf is met mag en mening terug in die Lae Lande. In die Belgiese munisipale gebied van Oudsbergen in die provinsie Limburg is ’n koei in die weiveld doodgebyt. Het Agentschap voor Natuur en Bos het bevestig dat die koei deur ’n wolf doodgebyt is. Boereverenigings is bekommerd oor die jongste voorval en sê om weivelde bestand teen wolwe te maak is heeltemal onbekostigbaar. Het Instituut voor Natuur- en Bosonderzoek, die INBO, sê egter dit is nie nodig nie, omdat dit eintlik selde gebeur dat wolwe koeie aanval. Dit is nie die eerste keer dat wolf se kind hom aan ’n maklike maal op ’n plaas verlustig nie. Twee weke gelede het ’n wolf ook gemaai onder skape in Friesland in Nederland toe twee skape en ’n lammetjie doodgebyt is. Wolwe het in Nederland en België so te sê uitgesterf, maar word sedert 2010 meer gereeld aangetref. Die diere geniet ’n beskermde status en kan dus nie sommer net van kant gemaak word nie.
Die volgende video vertel oor die wolwe in Nederland:
Lees ook:
Rechter beveelt: oliegigant Shell moet CO2-uitstoot flink verminderen
Vuurpyllanseerders en vals poskodes oorheers die Covid-nuus in België