Drie perde se koppe hang oor ’n klein plaashekkie. Ons gaan krap hul koppe voor ons om die hoek stap waar ek een van die mede-eienaars gewaar het. Hulle is maar net daar. Soos die klossie bloekombome wat saggies in die laatmiddagwindjie wieg om jou nostalgie van ’n ander tyd te kom loswikkel.
Die dorp is McGregor, maar die skoolgebou, wiegende bloekombome en perde, die gruis onder jou voete as jy uit die motor klim en die laatmiddagbriesie is universeel.
Ons is agt vriende wat vir ’n langnaweek die gerestoureerde skoolgebou bespreek het, waar voormalige klaskamers nou in gerieflike en suite-kamers - elkeen met sy eie kuierplek en ingerigte kombuis - spog.
Dis ’n vreemde tyd toe ons uit verskillende uithoeke van die Wes-Kaap die pad aanpak. Daar is modderstortings, kragpale wat omgewaai word, vragmotors wat in swaar reën en wind van die snelweg gewaai word en riviere styg en glip modderig oor brûe en sluit mense van die buitewêreld af.
Dis amper apokaliptiese tye as die weer teen jou draai – een oomblik is daar lente in die lug, die volgende oomblik verswelg dik modderstrome karre daarin. Ons hou die nuusflitse dop en kom net betyds oor die brug dorp in, wat amper agter ons gesluit word vir vloedgevaar.
Elkeen het die gesprek in die motor onderweg gehad dat as dit die einde van die wêreld of ons lewens moet wees, dit goed sal wees. Snaaks hoe vinnig ’n mens met Covid nog vars in die geheue aanvaar dat die lewe skielik, onverwags kan eindig en elke dag kosbaar is.
Amelia se handdruk is stewig, haar glimlag gul. Sy lyk so tuis hier in die tuin van haar en haar man Jan van Zyl se plattelandse skoolgebou, wat bekend staan as The Old School. Sy sê dis vir hulle ’n plek van introspeksie, kreatiwiteit, inspirasie en rus. Presies wat ons vier paartjies hier kom soek, vertel ek.
“Ons het vier van die klaskamers in een van die oudste geboue in McGregor liefdevol ingerig as luukse oopplan-ateljeewoonstelle. Die ou skool, met sy hoë plafonne en houtvloere, nooi nie net individue of paartjies vir ’n rustige verblyf nie – dit is ook ideaal vir groter groepe vriende en familie om saam te kom vir sielvolle feesvieringe.
“Met twee ekstra klaskamers en ’n ouwêreldse skoolsaal met plek vir 100 mense is dit die ideale plek vir werkswinkels en groter groepe en dit kan by die McGregor Wisdom School gehuur word. Dit is ’n wonderlike helende ruimte vir rus, ontspanning en aanvulling. Kreatiewe siele sal die stilte geniet en sal geïnspireer word om hul poësie, kuns of studies te verdiep.”
Haar oë vonkel as sy praat van die werkswinkels, sielvolle wegbreke en praatjies wat sy daar in die ou skool wil aanbied.
Ek vra uit oor hul liefde vir die dorp. Sy vertel: “Ons was aangetrokke tot McGregor van ons eerste besoek hier, meer as 30 jaar gelede. As ’n pasgetroude paartjie het ons fietse gehuur om die dorp en omgewing te verken. In die daaropvolgende jare het ons talle staptogte in die omgewing voltooi en altyd aangetrokke gevoel tot hierdie spesiale dorp en sy mense. In die vroeë 2000’s het ons ’n leierskapkursus in McGregor bygewoon wat in die ou skool (toe nog bekend as Die Kampterrein) aangebied is.”
Sy vertel voorts dat toe hul oudste dogter in 2021 by McGregor Waldorfskool skoolgehou het, het hulle meer gereeld kom kuier en deur blote toeval het dieselfde eiendom weer hul pad gekruis. Die skool het aan die kerk behoort en teen 1990 gesluit. Dis as ’n kampterrein vir werkswinkels ingespan, maar teen 2016 toe ’n ontwikkelaar dit gekoop het, het dit reeds baie agteruitgegaan.
Amelia se suster Carien en haar man Leon de Klerk het as mede-eienaars saam met hulle die projek aangepak.
“Ons vier deel ’n groot belangstelling om ruimtes te skep waar mense kan saamkom en geïnspireer kan word. Die tema van ’n ‘lewenslange leerder wees’ is een wat diep resoneer met al vier van ons en dis wat ons hoop om by die ou skool te skep,” vertel sy. Opnuut weerklink daar vrolike gelag in die gang, is die bekende voeteval op houtvloere weer in jou ore.
Die ander helfte van die skoolgebou se oop klaskamers word gebruik vir joga en werkswinkels.
En toe elkeen van ons ons kamers oopsluit, is daar baie “oe’s” en “aa’s” te hoor, want Amelia se goeie dekor-oog kom tot volle reg hier. Sy was nie verniet die stigter van die geliefde dekorskou Kamers/Makers nie. Haar liefde vir tuinmaak is ook duidelik in die groen oase neffens die skool.
Sy vertel dat sy en ’n kunstenaar-vriendin Ina-Marie Killian, die eienaar van Local Works op Stellenbosch, saam aan die dekor gewerk het. “Ons fokus was om te werk met wat ons reeds gehad het. Die meeste van die meubelstukke en kuns het ’n spesiale storie. Ons het gevoel dat die ruimte klaar so mooi is dat ons dit eenvoudig wou hou. Die fokus is op stilte en om ’n rusplek te skep,” vertel sy toe sy groet.
Met ons vriende se bespreking oor watter naweek ons gaan kom saamkuier, kon ek hoor hoe elkeen van ons agt soortgelyke heimwee het oor ’n klein skoolgebou. Terwyl elkeen nesskop in sy kamer wat volgens kleure versier is, loop my gedagtes ver, bitter ver.
Ek het as kind somervakansies saam met my ouers op my pa se grootworddorp Koekenaap gaan kuier. Om een of ander rede het ons nefies en niggies altyd by die plaaslike skooltjie op die speelgrond gaan albaster of Hasie Blou speel. Meer as drie dekades later is ek terug daar op ’n onthoureis vir my toe 80-jarige pa, wie se oë sag word toe hy in die skadu van ’n soortgelyke klossie bloekoms staan en kyk na dit wat oor is van sy laerskooltjie waar hy in die 1930’s skoolgegaan het.
Die houtvloere, houtpolitoer-reuk in jou neusgate, hoë plafonne, buisligte en skuifraamvensters met lang ysterpenne waarteen die boonste ruit kan oopval om in versengende hitte ’n koel briesie deur te laat, voer my terug na die skooltjies van my jeug. Iewers pouses op die skoolgrond, nerfaf knieë. Klein dorpies, fietse en bendes. Sorgeloosheid.
Met die laaste kos en wyn ingedra, word twee tafels van ons buurkamers ingedra en teen mekaar in ons sitkamergedeelte geskuif en dis die naweek se kuierplek. Die nostalgie wat dik in my keel kom sit het, vir eers opsygeskuif om nuwe herinneringe te maak.
Almal het iets lekkers gebring om die ander mee te bederf en te verras. Gou is die glase vol wyn, die bakkies vol biltong en neute en ons kuier ’n hond uit ’n bos uit.
Die goed-toegeruste kombuis is ideaal vir aandete maak en voor ons ons kom kry, hoor ons ’n uil in die bloekombome en die maan hang silwerwang agter die rantjies in die verte.
Op ons koffietafel lê ’n boek The Well of Being: A Children’s Book for Adults deur Jean-Pierre Weill, ’n geïllustreerde ondersoek na die kuns van geluk en wat dit beteken om waarlik in ons daaglikse oomblikke te lééf. Deur kuns, filosofie en poësie bied die boek ’n verfrissende en bemagtigende manier om onsself te heroorweeg. Dis presies hoe ons almal voel in daardie magiese oomblikke in die ou skoolgebou.
Saterdagoggend is ons vroeg uit die vere en stap na die klein markie oorkant die kerk vir iets te kou, geselsies maak en snuffel voor ons by Café 51 vir ontbyt inval. Op die stoepie van die ou geboutjie oorkant die pad is daar ou porselein- en kristalware wat my vriendin se oog vang en kunsafdrukke wat die kunstenaars onder ons groep gevange hou.
Daar is honde aan leibande, water in leivore, grondpaaie wat die dorpie deurvleg. Ons stap oral, ook sommer na die pragtige tuine by Temenos Retreat, waar daar einde September ’n geleentheid is om jouself weer te herontdek en einde Oktober ’n asemskep-werkswinkel aangebied word. Die bordjie “Please honour the silence of our garden” praat tot in my siel. Ek kan vir ure daar in my eie gedagtes dwaal.
Amelia is net so mal oor geskiedenis soos ek en die McGregor Erfenisstigting se navorsing op hul webblad oor die ou McGregor Sekondêre Skool, waarin ons bly, is in die klein verwelkomingsboekie in ons kamer vervat.
Ek gaan lees dit later volledig aanlyn en vind onder meer uit: “Uit: ‘A History of the McGregor NG Congregation’, ’n Meestersgraad in die Teologie-proefskrif deur L.W. Breytenbach (Stellenbosch). [...] Wat ook al gebeur het, ’n dorpie is op Over-den-Berg geskep. Die gemeenskap - of sekerlik die NG lidmate - het nie dadelik ’n kerk gebou soos die naburige gemeenskap van Robertson nie. Lady Grey (of Over-den-Berg soos dit in die begin genoem is) het as ’n wyk van die Nederduitse Gereformeerde Gemeente Robertson aangesluit.”
Ek onthou uit ’n staptog saam met ’n gids hier jare gelede dat hulle genoem het dat die dorp in 1905 herdoop is na McGregor, ter ere van dominee Andrew McGregor wat vir 40 jaar die NG Kerk-predikant vir die Robertson-distrik was.
Ek lees verder: “Hoewel Robertson net ’n klipgooi weg is (mits jy ’n motor het natuurlik), was dit nie so maklik om dienste daar by te woon nie en die dorp het sy eie kerk benodig. Dit is aanvanklik in die skoolsaal gehuisves en vandag, meer as 122 jaar later, is daar steeds goeie verhoudinge tussen kerk en skool.”
“Sela,” knik my vriend toe ek hom daarvan vertel, “vanoggend het ons kougoed gekry by die kerk, vanaand vind ons skuiling in die ou skool... Niks het verander nie.”
Inderdaad. Niks het in ons harte verander nie, want toe ons teen sonsak die braai buite begin pak en braaibroodjies maak, is ons almal weer kind. Daar word stories en grappies vertel om die vuur en vir ’n kosbare paar uur is dit net ons, ons vriendskap en die koesterende lig van die vuur se vlamme.
Dis mos nou hoe ek my kinderdae as vlegseldogtertjie onthou: Sorgeloos, omring deur vriende en beskut teen die wye wêreld daarbuite.
Gaan loer ook in by:
- Die dorpie is omring deur bekende wynplase en ons gaan kuier altyd graag by Tanagra Wyn- & Gasteplaas. Dit het vandag net 6 hektaar onder druiwe - was voorheen 13 hektaar toe Robert en Anette Rosenbach ook druiwe aan die plaaslike kelder gelewer het. Vandag is al hul druiwe net vir hul eie etiket en die plaas is sedert 2021 ’n wynlandgoed. Robert maak nie net wen-wyne nie, maar ook grappa, likeurs en eau de vie. Volgende jaar stel hy ook ’n brandewyn vry. Teen die muur pronk ’n medalje as WWF Bewaringspioniers 2023.
- As jy lief is vir vonkelwyn, moenie net buite die dorp by Henk en Monika van Niekerk se Paul René-proelokaal verbyry nie. Die paartjie se borrels is vrolik en daar is iets vir elke smaak: Die Paul René Brut Chardonnay is ’n Blanc de Blanc; die Brut Rosé is 75% Pinot Noir en 25% Chardonnay en hul nuutste toevoeging, die Paul René Nectar, het ’n talmende soetheid op jou tong.
- As jy hou van iets anders, gaan kuier by Bemind Wyne in die dorp se hoofstraat, ’n garagiste wynkelder waar jy die liefde en passie kan voel.
- Lord’s Wines buite die dorp is ook ’n groot gunsteling. Dit voel of die pad daar teen die heuwels doodloop. Daar is ’n lieflike restaurant waar jy voor die kaggel kan kuier as daar ’n byt in die lug is of buite op die stoep as die somershitte jou lok. Die kelder en plaas het wingerdboukundige Jacie Oosthuizen se liefde vir wyn en krieket in 2006 saamgesnoer en vandag is hierdie familiebesigheid gereeld in die kollig. Die trou-onthale wat daar gehou word, is legendaries.
- Eseltjiesrus Donkey Sanctuary is ’n wonderlike kuier-, eet- en snuffelplek as daar gereelde boekverkopings gehou word. Hier kry donkies ’n tweede kans op ’n goeie lewe.
Amelia en Jan se wenke vir natuurliefhebbers:
- Gaan stap in die Vrolijkheid Natuurreservaat en doen ook die Boesmanskloof stap.
Kitsfeite:
- Bespreek jou verblyf by The Old School in Kerkstraat 1 by Amelia by 072 224 7674 of besoek hul webwerf by www.theoldschoolmcgregor.co.za.
- As jy meer oor die dorp se geskiedenis wil weet, besoek: www.mcgregorheritage.co.za.
Foto’s: Clifford Roberts en verskaf