“In ons vallei kry honde voorrang,” vertel Shawn Hewitt terwyl ons in die dorp se hoofstraat afry en hy spoed verminder sodat ’n tweehondman, wat sy hande vol het om die voortbeurende brakke in toom te hou, oor die straat kan stap. “As jy die NG Kerk sien met die berge in die agtergrond weet jy, jy kan net op een dorp wees en dis Riebeek-Kasteel.”
Ons is gereelde besoekers aan die dorp, maar wil vir ’n slag die dorp deur die oë en tong van ’n toergids ervaar. Dis waar Shawn en Riebeek Valley Tours & Transfers inkom. Hy gee agtergrond en insig – boonop in ’n lugverkoelde bus.
“Riebeek-Kasteel is een van die oudste dorpe in Suid-Afrika en sowat 80 km noordoos van Kaapstad geleë. Die Riebeekvallei is vir die eerste keer in 1661 deur ’n groep Kaaps-Hollandse ontdekkingsreisigers onder leiding van Pieter Cruythoff beskryf. Die destydse Kaapse bevelvoerder Jan van Riebeeck het skaars nege jaar tevore aan die Kaap geland en gereelde ontdekkingsekspedisies die binneland in aangemoedig.”
Ek het op die dorp se toerismeburo se webblad gelees: “Die berg, Kasteelberg, is deur hierdie ekspedisie na Jan van Riebeeck vernoem en die nedersettings langs die oostelike hang van die berg het later hul name daaraan ontleen. Met die dorpe se name se vertaling van Nederlands na Afrikaans is die letter c in ‘Riebeeck’ weggelaat. Die eerste setlaars het in die vroeë 18de eeu in die gebied aangekom.
“Die sustersdorp, Riebeek-Wes, is in 1858 as gemeente van die NG Kerk gestig. Jan Smuts is op 24 Mei 1870 in Bovenplaatz, naby Riebeek-Wes gebore. Daniel Malan is in 1874 in Riebeek-Wes gebore. Albei mans het later eerste ministers van Suid-Afrika geword. Daarna het boere hulle in die vallei gevestig en gedurende 1900 is die dorp in en om sy bestaande kerk en sy buurman The Royal Hotel, een van die oudste hotelle in Suid-Afrika, aangelê.”
Shawn ry voor die kerk en skool verby en vertel van die grappie destyds dat dit die enigste dorp is waar die bar, die kerk en die skool bure is!
Hy stem heeltemal saam dat die beste plek op die dorp is om laatmiddag die laaste sonstrale oor die berge in die verte te sien ondergaan met ’n gin en tonic in die hand op die Royal Hotel se stoep. Terwyl die liggies een vir een aangaan, sal die geure uit die omliggende restaurante jou neus verlei.
In 2009 is Riebeek-Kasteel deur die Sondagkoerant Rapport as een van die drie mooiste dorpe in die Wes-Kaap aangewys. Met sy wuiwende koringlande in die somer, grasgroen wingerde daarna en olyfbome wat swaar aan pikswart olywe dra, is dit geen wonder nie.
Tot ’n paar jaar gelede het die dorp jaarliks die Olyffees aangebied, maar nou is dit meer bekend vir Solo Studios Intimate Art Encounters. Maar meer daaroor later.
Die Bergrivier-kanomarathon gaan in Julie daar verby. Daar is talle wynplase wat in verskeie kultivars spesialiseer, maar “Trots Shiraz-wêreld” op hul kennisgewingborde skryf. Die vallei is ook die tuiste van die bekende Swartland Independent Producers, ’n groep alternatiewe jong wynmakers wat ’n dekade of wat terug begin het om ongefiltreerde wyne en wyne met minimale kunsmatige inmenging te begin maak. Vandag is hulle almal wynhelde wat steeds die wynwêreld met hul innoverende projekte verbaas.
Oor naweke is die dorpie oortrek met toeriste wat op stoepies aan croissants knaag en aan cappuccino’s teug terwyl hul stadshonde by hul enkels waak. Hulle ry uit na wynplase, smul aan kos wat herinner aan die Mediterreense streke van die wêreld en droom van die dag dat hulle ook hier in die Swartland kan kom aftree.
Shawn voeg by dat al meer toeriste kom vra oor kuns as hulle die dorp besoek en hy bied as deel van sy dienste ook persoonlike besoeke aan ’n wye verskeidenheid kunstenaars soos Solly Smook, Riaan van Zyl, Emma Willemse, Gordon Williams, Lizette Visser, die RK Contemporary Gallery, Môi Gallery en Pictorex Photo Gallery, wat hy op afspraak kan organiseer. Dis juis met een van hierdie persoonlike besoeke dat die Solo Studios ’n paar jaar terug onder ons aandag gekom het. Lees my storie oor die pas afgelope een hier.
Ons groet hom toe inderdaad voor die Royal Hotel waar ons ’n drankie saam met vriende gaan drink. Die volmaan hang blinkwang oor die vlaktes toe ons Marras toe ry vir aandete. Dis op die buurdorp, maar Martin “Marras” Lamprecht is een van die onafhanklike produsente en sy pizzas en wyn is net die regte medisyne ná ’n lang week. Feestelike liggies hang buite asof daar partytjie binne op jou wag.
Ons gastehuis vir twee nagte is Villa Anna Katarina, wat teen die heuwel sit en die mooiste uitsig oor die vallei bied. Die effense Franse styl voer jou regtig na verre lande van baguettes en barets. Die heining voor ons kamervenster is mooi oopgesnoei dat jy die maan kan sien. Ons sit laataand in die doodse stilte op ons klein stoepie met ’n koppie tee en besin oor die wonderlike dag van ervaring, nuwe vriende maak en ou vriende sien.
Die volgende oggend is ons op en sit weer op ons stoepie; hierdie keer om die son te sien goud lek bo die berg.
Geen besoek aan die dorpie sal volledig wees sonder om jou motor by jou verblyf te los en die dorp plat te stap nie. Daar is kunsgalerye, heerlike koffiewinkels, restaurante, ’n wonderlike museum en wynplase wat die dorp omsoom. Vir ’n lekker plattelandse proe-ervaring gaan kuier by die nuwe Deli-Co-restaurant buite die dorp.
Teen 07:30 is ons te voet deur die dorp se stil straatjies en beland by Beans about Coffee vir cappuccino’s en ’n sjokolade croissant op die stoep. Toe ons lywe afkoel, skuif ons na binne voor die kaggeltjie.
Die son skyn so lank in die kort systraatjie af tot voor die koffiemasjien en maak lang skaduwees van my voete op die sementvloer.
Dis nie naweek nie, so die dorp se locals is hier te sien en te hoor. Hulle ruil nuus uit en drink gou koffie, terwyl honde buite aan leibande in die vroegoggendsonnetjie lê en wag.
Teen die bultjie uit sit die dorpsmuseum, die Riebeek Valley Museum, wat in die ou kerkie wat uit 1856 dateer, gehuisves word. Tussen die ossewaens, ou foto’s en baie interessante geskiedenisboeke en antieke ware verlang ek sommer opslag na my oorlede ouma en ma wat sulke goeie stories oor hul dae op die plaas tydens die Depressie kon vertel. Baie van die artikels wat deel van hul daaglikse lewe was, word daar in die museum uitgestal en die nostalgie sit brandend in my bors.
Buite die museum slaan ek my oë op na die berg en bewonder die natuurskoon. Voor die museum pryk die Pieter Cruythoff-monument wat sy ekspedisie hierheen soveel eeue gelede herdenk. Dit voel my die man roep ons, want sy naam dop oral uit...
Voor ek heeltemal te hartseer word, bel vriende en vra of ons gou wil middagete eet by Café Felix om die draai met sy ou Franse linne en beskutte binnehof, waar jy maklik kan dink jy is iewers op die Franse platteland. Ons smul aan springbokskenkel en besef inderdaad hoe eg Suid-Afrikaans dit nou eintlik is.
Namiddae is vir skuinslê en boeklees, voor jy vir aandete na The Barn toe ry. Daar van die stoepie af het jy die mooiste uitsig oor die kerk wat so saam met die sakkende son van agtergrondkleur verander.
In die hoek van die restaurant is ’n paar Franse eikehoutvate opgestapel en ons vra die eienaar Thomas Jamneck daaroor. “Dis my eie brandewyn wat daar verouder. Die inspekteurs kom vandag kyk daarna,” vertel hy trots terwyl sy hand koesterend oor die boepens skat gly.
Die kanolavelde staan goudgeel soos rytjies gevlegte hare op ’n skoolmeisie se kop toe ons laatoggend by Babylon’s Peak se proelokaal inval. Stephan en Inalize Basson wag ons in en vertel dis ’n privaatkelder wat daar teen die hange van die Paardeberge geleë is.
Vier generasies het hier geboer en hul wynmaakkennis en passie deur die eeue oorgedra. Stephan sit vandag hierdie trotse nalatenskap voort: “Die naam Babylon’s Peak is afgelei van die baie hoë granietpiek op die plaas wat aan plaaslike mense bekend staan as ‘Babylonstoren’. Van die hoogste wingerde in die Swartland-streek kom hier op sowat 700 m bo seespieël voor. Die Paardeberg-area word gekenmerk deur ontbinde granietgronde en unieke terroir, wat lei tot optimale gronduitdrukking en vrugsuiwerheid.
“Al die druiwe wat vir ons wyne gebruik word, word sorgvuldig geselekteer en behandel voordat die wyn op die tradisionele manier gemaak word. Omdat ons ’n privaatkelder is, het ons die geleentheid om slegs die beste kwaliteit wyne te kies en te botteleer,” vertel Stephan terwyl ons wyne proe wat binnekort hul etikette kry en dan te koop aangebied sal word.
Sy passie vir die plaas, die grond en die wingerde is tasbaar. Hy plant elke jaar hier nog wingerd by en vertel dat Rhône-kultivars “maar ons ding is”.
Die oudste wingerd op die plaas is die 1974-Chenin, wat deel is van die Old Vine Project (OVP) wat wingerde ouer as 35 jaar huldig. Stephan se oupa was een van die stigters van die Swartlandse Koöperatiewe Wynkelder in 1948. Vanjaar vier Stephan en sy vrou hul 20ste jaar op die plaas en werk nou aan hul nuwe etikette.
Gaan proe olywe, koop olyfolie of wyn en verwyl die ure in die middedorp se klein handelstegie Short Street, met ’n glas yskoue Pieter Cruythoff van Riebeek Wine Valley Co. Ek het mos gesê die man roep ons! Pieter Cruythoff Brut eer die man wat as “stigter” van die vallei gereken word en vier die ekspedisie wat hy in 1661 gelei het. Dis ’n Chardonnay & Pinot Noir-versnit en gly maklik en heerlik in die keel af.
Ons hoor heel toevallig van die ou films wat die kunstenaar Riaan van Zyl saam met Marco Pellis van Kaapstad vertoon en stap laataand in sy ateljee aan die eindpunt van Short Street in. Riaan druk ’n glas yskoue vonkelwyn in my hand en sy gawe vrou glimlag breed toe sy die vuurwarm springmielies met sout besprinkel en aangee.
Die gevoel van kleindorpie-samesyn is wat soveel mense oor die jare al hierheen laat vlug het.
Ons stap weer in die volmaan huis toe. Die kerk is helder verlig en ’n baken agter ons rug op pad na Villa Anna Katarina.
Môre gaan my hart seer wees as ons hierdie pragtige vallei vir eers weer moet groet. Gelukkig roep die vallei – en Pieter Cruythoff – baie gereeld en ons luister graag!
Kitsfeite
- Kontak die Riebeek Vallei Toerismeburo by 022 001 0096, riebeekvalley@swartlandtourism.co.za of besoek https://www.riebeekvalleytourism.co.za/ of loer by hulle in: Pleinstraat 11, Riebeek-Kasteel.
- Villa Anna Katarina is in Fonteinstraat 41, Riebeek-Kasteel. Bespreek by 072 826 0555 of katarinas.riebeek@gmail.com.
- Bespreek jou kulturele, wyn-, kuns-, kos- of historiese toer saam met Shawn Hewitt van Riebeek Valley Tours & Transfers by 082 528 6785 of via epos by goodintentconnections@gmail.com.
Foto’s: Clifford Roberts