All the light we cannot see
’n Minireeks op Netflix (2023)
Geskryf deur Steven Knight
Regie deur Shawn Levy
Gebaseer op die roman van Anthony Doerr
Hoofspelers
Aria Mia Loberti as Marie-Laure LeBlanc
Louis Hofmann as Werner Pfennig
Lars Eidinger as Reinhold von Rumpel
Hugh Laurie as Etienne LeBlanc
Mark Ruffalo as Daniel LeBlanc
Nell Sutton as ’n baie jong Marie-Laure LeBlanc
Louis Hofmann as Werner Pfennig (Foto: Katalin Vermes/Netflix | © 2023 Netflix, Inc.)
“Hou jy van lees?” vra iemand in hierdie reeks vir Werner, die jong Duitse seiner wat die posisie van ’n geheime radiosender moet opspoor.
“Nee,” sê hy. “Ek hou van luister.”
Ek, Izak, sal veel eerder lees, maar ’n goeie film maak my ook opgewonde.
My geliefde het toentertyd Anthony Doerr se roman All the light we cannot see gelees en was verruk. Toe moes ek dit natuurlik ook lees. Die roman het my diep geraak.
Toe Netflix met groot fanfare laat weet die boek is nou verfilm, wou ek by die geliefde weet of sy sou belangstel om dit te kyk. Glad nie. Nie in die minste nie. Sy wou nie haar eie kopprentjies besoedel nie.
Ek het dit wel gewaag om die reeks van vier episodes te kyk en is bly ek het.
Beveel ek dit aan? Beslis, maar ernstige lesers mag dalk twee keer wil dink.
Iets oor die boek, voor ons by die reeks kom
All the light we cannot see was ’n sensasie in 2014 en teen 2015 was dit ’n megaboek. Dit het onder andere in 2015 die Pulitzer-prys gewen, en Barack Obama het dit tweede op sy aanbevole leeslys vir 2015 geplaas.
Vir my het die krag van die boek gelê in die fyn manier waarop Walter Pfennig, die jong Nazi, uitgebeeld word as mens. Sommige kritici het die boek afgeskiet juis omdat Walter so menslik uitgebeeld word – alle Nazi’s moet mos monster wees?
Nee, daar is genoeg (Nazi-) monsters in die storie, soos daar in enige oorlog is. Werner se menslikheid wil-wil skaaf teen die monsterregime, maar hy is ’n soldaat en ’n soldaat moet opdragte uitvoer.
Uiteindelik is die meeste soldate slagoffers. Punt. Dit maak nie saak vir wie hulle veg nie. Die generaals leef luuks; die arme troepe loop in die koeëls vas. Doerr speel met hierdie ambivalensie en hy doen dit goed.
Aria Mia Loberti as Marie-Laure LeBlanc (Foto: Atsushi Nishijima/Netflix | © 2023 Netflix, Inc.)
Wat die roman so besonders gemaak het, was dat ons ook intiem betrokke kon raak by die Franse weerstandsbeweging wat teen die Nazi’s geveg het. Marie-Laure LeBlanc, die blinde meisie wat die sender beheer waarna Werner uiteindelik moet soek, word vir die kyker ’n mens, en jy kan nie anders as om te hoop dat Werner sou misluk in sy taak om haar op te spoor nie. Die probleem is, as Werner misluk, is sy lewe én die van sy sussie in gevaar.
Hoe goed is die reeks?
Die reeks is baie goed. Nie sonder foute nie, maar ek beveel dit aan.
Steven Knight, wat Doerr se roman in ’n draaiboek verwerk het, kon daarin slaag om dit slim in vier episodes te verdeel wat lieflik verfilm is en elkeen uiters spannend eindig, en waarvan die geheel boonop die essensie van Doerr se roman goed uitbeeld.
Shawn Levy se regie is oorwegend baie goed.
Die reeks het nie die boek se chronologie of diepte probeer vasvang nie. Hulle het ’n TV-reeks probeer maak en dit het geslaag.
Nell Sutton as die baie jong Marie-Laure LeBlanc en Mark Ruffalo as Daniel, haar pa (Foto: Atsushi Nishijima/Netflix | © 2023 Netflix, Inc.)
Meer nog: Louis Hofmann oortuig as Werner en Aria Mia Loberti speel die blinde Marie-Laure baie deeglik. Nell Sutton, wat ’n baie jong Marie-Laure uitbeeld, moet ook vermeld word. Sy is uitstekend.
Eintlik oortuig al die spelers, of hulle goeie mense of monsters uitbeeld – nie een voel enkelvlakkig nie. Bravo dus aan Levy se regie.
Die filmstel is puik en ’n mens sukkel soms om te glo dat die reeks maar eers nou die dag gemaak is. Die kostuums en agtergronddetail is meldenswaardig.
Doerr se teks is Engels en die karakters praat dus almal Engels in die roman. In die Netflix-reeks is dit ook so behou. Selfs die pamflette wat die Engelse oor Frankryk neerlaat om die Franse teen verdere aanvalle te waarsku, is in Engels. Ek hou van films waarin die akteurs die tale praat van die karakters wat hulle speel, maar nie almal is ewe gemaklik met onderskrifte nie.
Het ek kritiek? Ja.
Daar is goed waaroor ek soms moes lag. Redelik vroeg in die reeks word ’n kroegman met ’n pistool geskiet. Hy val kaboems om, morsdood. Dit lyk soos ’n kind wat in ’n skoolproduksie moet sterf. Enkele ander goed het ook vir my laat wonder of Levy soms lighartig wou omgaan met ernstige oomblikke. Maar nou ja.
Ook is die manier waarop Werner skynbaar reguit na die “vyandelike” sender kan ry sonder veel driehoeksmeting, taamlik vreemd. Selfs die “verduideliking” in ’n volgende episode is dalk ’n bietjie te eenvoudig. (Die uwe is deur die Nasionale Party se weermag opgelei as seiner. Ek was ’n Werner in ’n ander oorlog, maar helaas nie so goed soos hy nie.)
Dus?
Oorlog is nie goed nie. Ons sien dit nou met Rusland se aggressie in Oekraïne en ook met Israel se vergrype in Palestina. Dink ’n bietjie aan die troepe wat ingestuur word om die dade van aggressie te pleeg. Niemand wen as magtige mans ophou omgee vir gewone mense nie.
All the light we cannot see is ’n beeldskone Netflix-reeks, wat gebaseer is op Anthony Doerr se uitsonderlike roman met dieselfde naam. Dit is ’n oorlogsfilm wat wys dat geen party ongedeerd aan die ander kant uitkom nie.
As film is All the light we cannot see dalk nie so goed soos Im Westen nichts Neues nie (op Netflix onder die Engelse titel All quiet on the Western front), maar dit is veel, veel makliker om te kyk. Die twee kom tot dieselfde gevolgtrekking.
Dus: Boek of film?
Ek dink albei. Ek wil die roman nou weer lees.
My geliefde het gekies om die boek se prentjies in haar kop te bewaar. Vir talle ander mense is vier goeie episodes op Netflix ’n puik alternatief. Werner sou, as hy kon, sonder twyfel na Netflix kyk.
Hierdie reeks op Netflix beeld twee dinge baie deeglik uit: Ons verskil, en ons is nie almal so nie. Die boek doen dit ook.
Ervaar beide, as jy kan.
Lees ook:
Im Westen nichts Neues is ’n historiese film oor dit wat vandag weer gebeur