Proe die beste van Suid-Afrika op Taste of Amsterdam

  • 0

Die eerste naweek van Junie vind in Amsterdam die jaarlikse food festival Taste of Amsterdam plaas. Madri Gerber, ’n Suid-Afrikaner wat al agtien jaar in Nederland bly, het hard gewerk om ’n pawiljoen met die heerlikste Suid-Afrikaanse geregte en wyne in te rig. Al die lekkernye laat ’n mens trots Suid-Afrikaans voel. 

Madri, wat behels Taste of Amsterdam?

Taste of Amsterdam is ’n grootse kulinêre gebeurtenis in Amsterdam en bestaan vanjaar tien jaar. Alles nuut en hip op die gebied van kos en wyn. Top Amsterdamse restaurante sit hulle beste voetjie voor vir die 30,000 besoekers.

Kyk hier vir ’n voorsmakie van Taste of Amsterdam 2018:

Wat beplan jy alles vir die Suid-Afrikaanse bydrae aan Taste of Amsterdam?

Ek stal Suid-Afrika uit as kulinêre bestemming. Almal is al bekend met ons mooi mense, kultuur en natuur, maar ons is verseker ook voorlopers as dit kom by die kulinêre belewing. Ek wil besoekers ’n lusmaker gee van wat ons het om te bied in Suid-Afrika. Ons gaan mooi wyne en pragtige geregte van chef Martin de Kock (Diemersdal Eatery) aanbied, maar ook het ons besoek van die bekende skryfster Marita van der Vyver, wat haar nuwe kosboek bekend sal stel tydens Taste. Dit moet ’n totaalbelewing wees.

Wie is jou gaste?

Die besoekers is mense wat ’n konneksie het met Suid-Afrika, of hulle was daar op vakansie of is besig om ’n vakansie te beplan. Miskien het hulle daar gewerk of het hulle vriende of familie wat in Suid-Afrika woon. Of miskien weet hulle nog niks en is net puur nuuskierig. Ons deel graag tips uit en wissel idees. Na drie dae heeldag praat oor Suid-Afrika het ek behoorlik heimwee en weet ek weer presies hoekom dit vir my belangrik is om ons land op die kaart te sit.  Ons is veel meer as die politieke onrus wat heers en ons is ’n nasie wat saam wil bou aan ’n mooi land vir almal.

Met watter tipies Suid-Afrikaanse geregte en wyne kan die besoekers kennismaak?

Ons chef, Martin de Kock, het vier pragtige geregte ontwerp wat ’n mooi beeld gee van tipies Suid-Afrikaanse geregte met internasionale invloede. ’n Tippie van die sluier: daar is ’n bobotiekroket met appelkoos-aioli (my mond water al net by die lees daarvan), ’n mooi mengsel van tipies Suid-Afrikaans en Nederlands. Wyne van Stellenbosch, Botrivier, Robertson en Swartland sal te proe en te koop wees. My personeel word geklee deur die mooi ontwerpe van Anesca Smith van We Be Sisters.

Robertson Wine Valley, via Wines of South Africa

Watter borge sou jy wou noem?

Heerlik dat South African Tourism ook so opgewonde is om Suid-Afrika by hierdie mooi geleentheid te bemark! BOS ondersteun ons met van hulle bemarkingsmateriaal. We Be Sisters klee van die personeel met haar mooi Afrika-ontwerpe.  Kookstudio 54 in Amsterdam ondersteun ons deurdat ons hulle professionele kombuis mag huur vir voorwerk aan Taste en deur ons chef te ondersteun met raad oor leweransiers.

Verder het ek uit verskillende oorde ondersteuning en belangstelling gekry en ook partye wat graag volgende jaar wil meewerk of ander moontlike gebeurtenisse wil ondersteun waar ek weer Suid-Afrika in die son wil sit. Dit was vir my duidelik dat die droom om dit te doen, vir ander mense net so aangespreek het as vir my. Mense was gewillig om saam te dink en te beplan om die droom ’n werklikheid te maak. Mense is lief vir Suid-Afrika en dit het my hart laat klop om dit te beleef.

Wat hoop jy vir die toekoms?

Ek droom groot en glo dat die Suid-Afrika-paviljoen by Taste of Amsterdam 2018 net die begin is van nog vele soortgelyke geleenthede.

Op kulinêre gebied volg ek Suid-Afrika met veel lus en liefde, want ek beskou ons as baanbrekers en voorlopers. Ons neem inisiatief , is vindingryk en passievol en wil mense daarmee verlei.

In die verlede het ek goeie besigheidskontakte gemaak by Taste of Amsterdam wat nou nog troue klante is van De Wijnlijst.

Ek is al klaar weer besig met nuwe moontlikhede vir Taste 2019. Die vennote en borge deel my passie. Saam wil ons Suid-Afrika as toeristebestemming versterk, omdat ons as land soveel het om te bied.

Ek doen ook kleiner events om ons platform te versterk en meerdere klein en groot besighede die kans te gee om hulleself bekend te stel.  Onlangs het De Wijnlijst en KuierKos (bekend vir hulle biltong, droëwors, boerewors en nog veel meer) begin met ’n samewerking as “Die Reisende Kombuis” om saam events te reël. Ons is nou besig met planne vir ’n lekker Suid-Afrikaanse basaar. Die eerste Suid-Afrikaanse basaar word op 10 en 11 November by Het Seinwezen in Haarlem gehou. Ek stel voor dat belangstellendes hulle aanmeld om die nuusbrief te ontvang en op hoogte te bly van toekomstige events.

 

Taste of Amsterdam: Vrijdag 1 Junie t/m Sondag 3 Junie, Amstelpark, Amsterdam.

Meer inligting: www.tasteofamsterdam.com

Meer over Madri Gerber en De Wijnlijst: www.dewijnlijst.nl

 

Het boek Een jaar koken in de Provence van Marita van der Vyver is speciaal samengesteld voor de Nederlandse lezersmarkt.

Het is veel méér dan een vertaling van een van Van der Vyvers Afrikaanse boeken. Verhalen en recepten uit haar “Franse” kookboeken en verhalenbundels zijn aangevuld met Zuid-Afrikaanse verhalen en met recepten van de traditionele gerechten die haar kinderjaren in Zuid-Afrika smaak en geur hebben gegeven.

Zo is een uniek nieuw boek ontstaan, met meer dan vijftig eenvoudige recepten voor onder meer Baskische kip, Kaapse curry, citroen-meringuetaart, bobotie, meloensalade en Provençaalse groenteschotel.

Meer weten? Klik hier.

 

Lees ook

Zuid-Afrika sterk vertegenwoordigd op Taste of Amsterdam

Buro: IG
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top