
Die kuier by Thali in Kaapstad ’n paar jaar gelede was regtig ’n tikkie Indië in die Moederstad.
- Foto’s: Clifford Roberts, Claire Gunn en verskaf
In die Indiese kookkuns verwys “thali” na ’n ronde bord of opdienbak waarin kos voorgesit word, en dit is dikwels ’n maal wat uit verskeie disse bestaan en op een groot bord bedien word. Die woord “thali” beteken “bord” of “skinkbord” in Hindi.
Tydens my eerste kennismaking met thali – in Myanmar se Inle-meer, in die Nyaungshwe-streek in die Shan-staat – hoor ek dié verduideliking met baie handgebare by ons kelner. Dit was ’n tradisionele Indiese restaurant en die spyskaart alles in Burmees, dus het ons net verduidelik ons is honger – my geliefde hou van erg brand, ek van net geurig – en ja, lekker baie geurige rys en knoffelnaanbrood.
Die kelner het met een van dié skeefgetrekte blikskinkborde opgedaag en bakkies met kleurvolle, geurige bykosse gebring en ons het gesmul aan bokkerrie in kokosneutmelk wat in piesangblare bedien is. Jy kon jou dis laai met brandrissie of nie, allerhande gekapte heerlikhede van die skinkbord daaroor gooi, die laaste sousies opslurp met die naanbrood en net salig oor die water uitkyk.

“Liefde en respek vir Indiese kookkuns en tradisie inspireer ons, maar om die grense te verskuif om kos te skep wat vars, kleurvol en kontemporêr is, is wat ons dryf,” verduidelik die kelner by Thali in Kaapstad ’n paar jaar gelede.
Net daar is ons versot op thali, al het ek later besef dis maar hoe alle (behoorlike) kerries regoor die wêreld bedien word. Dit is ’n klein kykie in die streek se kookkuns, erfenis en gewoontes en ’n wonderlike manier om eg plaaslik te eet.
’n Paar jaar later verras my geliefde my vir een van ons huweliksherdenkings met ete by Thali in Kaapstad, een van die geliefde restaurante van Liam Tomlin.
Ek hou van die kelner se verduideliking: “Ons Thali is nie-tradisioneel: Indies-geïnspireerde kos met ’n prettige moderne sensitiwiteit, wat in die beproefde formaat van Chefs Warehouse se tapas vir twee bedien word.”

Die Kaap beloon ons met ’n mooi sonsondergang terwyl ons aan thali-disse peusel.
Die deurdagte vermenging van speserye en die aandagtige voorbereiding van elke item onder toesig van sjef Nathanael Coe maak die Thali-ervaring baie spesiaal en eg Suid-Afrikaans.
Ons sit agter in die tuin met die liggies wat soos sterretjies om ons koppe dans. Ons het die drankies wat ons by die skemerkelkiekroeg bestel het, saamgedra om verder hier te kuier. Die mooie Tafelberg is toevallig daardie aand verlig en ’n mens kan nie anders as om net heeltemal tuis te voel nie. Tuis in jou vel, tuis in jou stad, tuis in jou land.

Thali in Kaapstad (foto: Claire Gunn)
Terwyl die kelner die geregte van die skinkbord afpak, vertel hy: “Liefde en respek vir Indiese kookkuns en tradisie inspireer ons, maar om die grense te verskuif om kos te skep wat vars, kleurvol en kontemporêr is, is wat ons dryf.”
Elk van die drie gange bestaan uit verskeie geregte, speserye, souse en brode, alles daagliks vars gemaak – met ’n progressie van milder en ligter vingerhappies tot pittiger, meer substansiële kerries. Selfs die vegetariese en vegandisse is geurig en ’n lekker afwisseling van vleis.
In 2019 kom die uitnodiging om Indië te gaan ontdek. Effe anders as wat ons gedink het, maar ’n wonderlike geleentheid: Ons is die gaste van Paul John Whisky, wat hul nuwe proelokaal vir bekroonde Indiese whiskies buite Goa geopen het.
Natuurlik kon ons toe nie wag om Indië te gaan verken om thali te gaan geniet vanwaar dit kom nie. Natuurlik het ons opgelees en blykbaar is vis-thali dié gereg wat jy in Goa moet eet. Die moegheid sit stram in my bene en spiere toe ons by Caravela Beach Resort op Varcastrand in Salcete aankom. Die hitte buite die lugverkoelde taxi is versengend en ons gly deur die stort en toe af na die swembad voor ons kamer.

Thali in Kaapstad (foto: Claire Gunn)
Aandetes is by Beach Hut op die strand, waar ons smul aan Goaanse kerries, spierwit rys en allerhande tuisgemaakte atjars. Die twee sjefs, Saurabh Puri en Amitava Paul, kom vra gereeld of ons gelukkig is. Hul tevredenheid dat Suid-Afrikaners hul kos geniet, sprei in groot glimlagte oor hul gesigte.
Die kleurespel buite ons taxiruit op pad na die nuwe besoekersentrum is baldadig én oordadig: amper te veel kleure om gelyk in te neem. Die streek het ’n ryk Portugese geskiedenis en die meeste van die reusevillas langs die pad dateer uit daardie dae en is meer as 200 jaar oud; nuwe huisverf is blykbaar deel van die kultuur.
Ons ry verby verskeie rys- en boontjielande, waar mense gebukkend werk en beeste staan en herkou.
Teen die gangmuur hang ry op ry toekennings. Ek kan nie glo die distilleerdery het skaars sewe jaar tevore hul eerste whisky vrygestel en spog met meer as 232 internasionale toekennings nie.

Thali in Kaapstad (foto: Claire Gunn)
Ons doen die keldertoer, proe al hul whiskies en gaan verken Noord-Gao se 650 tempels en kerke; gooi ’n draai verby die gedenktuin met die standbeeld van keiser Chhatrapati Shivaji na wie die lughawe in Mumbai vernoem is; voor ons dankbaar aanmeld vir jenewer en tonikum en kerrie in die strandrestaurant. Ons sê vir die baie ywerige, jong kelner van ons nuutgevonde liefde vir thali.
.........
[D]ie tradisie van thali dateer eeue terug en is gewortel in Ayurvediese beginsels, wat ’n balans van ses smake beklemtoon: soet, sout, suur, bitter, skerp en verfrissend. Die idee is om die liggaam én die sintuie te voed.
.........
Hy glimlag breed en vertel dat die tradisie van thali eeue terug dateer en gewortel is in Ayurvediese beginsels, wat ’n balans van ses smake beklemtoon: soet, sout, suur, bitter, skerp en verfrissend. Die idee is om die liggaam én die sintuie te voed.
“Lank voor moderne voedingswetenskap, het Indiese kulinêre tradisies die belangrikheid verstaan om proteïne, vesels, probiotika en vette in een maaltyd in te sluit. Elke item op ’n thali – van branderige piekels tot verkoelende jogurt – het ’n funksionele én gastronomiese rol.

“Histories was thali’s ’n simbool van gasvryheid. In antieke Indiese huishoudings is gaste ’n volledige maaltyd op ’n enkele bord bedien, met ruim hervullings deur die gasheer.” (Foto: Claire Gunn)
“Histories was thali’s ’n simbool van gasvryheid. In antieke Indiese huishoudings is gaste ’n volledige maaltyd op ’n enkele bord bedien, met ruim hervullings deur die gasheer. Die samestelling van ’n thali verander van streek tot streek. ’n Rajasthani thali kan dal baati churma, gatte ki sabzi en ker sangri insluit, wat die woestynstaat se afhanklikheid van nie-bederfbare bestanddele weerspieël. ’n Suid-Indiese thali, aan die ander kant, bevat dikwels sambar, rasam, poriyal en gegeurde rys wat op ’n piesangblaar bedien word. Dit word as beide higiënies en omgewingsvriendelik beskou.”
Ons gaan kuier by twee ander hotelle wat deel van die Paul John Resorts & Hotels-groep is: Kumarakom Lake Resort in die Kottayam-distrik van Kerala waar die trappies uit jou kamer in die lang swembad uitloop. Ons “swem” sommer na die pragtige houtrestaurant op die meer en geniet die kerries, terwyl ons die vissermanne op die Vembanad-meer gade slaan.

Bo en onder: Kumarakom Lake Resort in die Kottayam-distrik van Kerala is deel van die Paul John Resorts & Hotels-groep en jou kamer se stoeptrappies loop uit in die swembad.
Die oord is uniek: 106 huise uit die groter Kerala-provinsie wat almal ouer as 100 jaar is, is gekoop, teël vir teël afgebreek en na hierdie terrein vervoer. Dit het gespesialiseerde ambagsmanne en bouers langer as vier jaar geneem om die huise weer in hul oorspronklike styl op te rig en te restoureer.
Paul John, die eienaar van die groep, wat ook die land se bekende distilleerdery insluit, kom oorspronklik van Kerala en bring met hierdie oord ook hulde aan sy herkoms. Die geboue, soos die jogasentrum, restaurante en kroeë, het geen kantmure nie en pragtige teëls versier die dakstrukture. Elke teël is anders versier en elkeen is handgemaak.
Die oord geniet erfenisstatus – ’n seldsaamheid vir Indiese oorde, hoor ons.

Bo en onder: Heerlike disse wat jy op die meer by Kumarakom Lake Resort se restaurante kan geniet.
Tydens ons verblyf kuier ons ook in die seekosrestaurant, Vembanad Seafood Bar, op die meer en eet garnaal- en viskerrie wat nog nie die binnekant van ’n vrieskas gesien het nie. Die groep het ook ’n wynetiket, Banyan Tree-wyne, en met elke gang word ’n ander wyn voorgestel. Ek geniet die Cabernet Sauvignon 2017 sommer saam met al my disse op die skinkbord, want dit is geurig en souserig, maar nie branderig nie.
Die volgende aand is ons terug by Ettukettu vir hul spesialiteitskerrie en hier steel die etniese Kerala-cuisine se eendkerrie ons harte. Ons is hartseer om te vertrek.
Die krokodiltrane word gou afgedroog by Forte Kochi, die derde hotel in die groep waar ons oorbly. Die hotel is klein en histories en dis heerlik om met jou voete in die swembad te sit, dan minute later by die klein houttafeltjie in die restaurant te sit en heerlik aan thali te smul.

Forte Kochi, die derde hotel in die Paul John Resorts & Hotels-groep. Die hotel is klein en histories en dis heerlik om met jou voete in die swembad te sit; dan minute later by ’n klein houttafeltjie in die restaurant te sit en heerlik aan thali te smul.
Die kerries verskil merkwaardig van streek tot streek, maar ek is mal oor die gebruik van klein porsies dat mens alles kan proe. Ook beteken dit my brandbekkie-sielsmaat kan nog brandrissie en ander speserye oplaai, terwyl ek matigheid voor oë hou.
Dit is die herinneringe wat ons deel, terwyl die son goud en pienk en oranje oor die Moederstad sak by Willaston Bar in die Silo Hotel verlede week. Dis thali wat ons hierheen gebring het.

Die Silo Hotel is ’n bekende baken in die Kaap en om daar te kuier, ’n lekker trots-voel-ervaring.
Die nuwe thali-tappas-styl-spyskaart is van Julie af beskikbaar en word van 15:00 bedien. Ons arriveer net na 17:00 en sit by ’n tafeltjie waar Tafelberg deur die interessante glasvensters met hul bultende mae en driehoekpatrone omraam word. Om ons sit toeriste van regoor die wêreld in verwondering oor die mooi uitsig en ek is sommer nog trotser op ons mooie stad.

Die uitsig oor die berg is mooi van die trappies voor die hotel, maar nog mooier van die sesde vloer!
Soos wat mens van die span by The Royal Portfolio (eienaars van die Silo Hotel, Royal Malewane, La Residence en Birkenhead House) verwag, is die skemerkelkies net so mooi soos die kroegie se dekor.
Ons geniet die Rose Ginvino met jenewer, lemmetjiesap, Chenin Blanc en bloedlemoen en Bloody Mary, voor ons die eerste vier disse bestel. Jy kan meng en pas soos jy wil. Elke R425 sluit vier disse in.
Daar is paratha met gerookte-eiervrugraita, garnaalkrokette met klapperblatjang en groenbrandrissiekonfyt, en jy kan karringmelkhoenderpakoras met gekruide spinasiejogurt of hoenderkebabs met gepekelde sjalotjies bestel.

Veronica Canha-Hibbert, uitvoerende sjef by die Silo Hotel se Willaston Bar. (Foto: Claire Gunn)
“Dis ’n prettige én ander manier om die disse te geniet,” verduidelik Veronica Canha-Hibbert, uitvoerende sjef. “Ons probeer nie mense oor thali opvoed nie, en ek probeer nie Kapenaars oor outentieke Indiese kos opvoed nie. Ons leen uit die thali-bedieningstyl, en gaste kan hier ’n geliefde weergawe van thali verwag.”
.......
“Dis ’n prettige én ander manier om die disse te geniet,” verduidelik Veronica Canha-Hibbert, uitvoerende sjef. “Ons probeer nie mense oor thali opvoed nie, en ek probeer nie Kapenaars oor outentieke Indiese kos opvoed nie. Ons leen uit die thali-bedieningstyl, en gaste kan hier ’n geliefde weergawe van thali verwag.”
.......
Sy vertel: “Ons thali-aanbieding is geïnspireer deur die bestaande Kaaps-Maleise invloede op die spyskaart, en brei uit na ’n samesmelting van Noord-Indiese kerries, Suidoos-Asiatiese styl en Kaaps-Maleise tradisies. Die resultaat is ’n interessante spyskaart wat warmte en diepte bied. Wat geur betref, het ons sekere oorspronklike resepte aangepas om seker te maak dat hulle goed inpas by plaaslike en oorsese gaste en natuurlik perfek pas by die heerlike wyne, jenewer en boetiekbiere wat aangebied word.”
Veronica beveel die Kerala-viskerrie aan, met sy sterk geur maar sagte speserye, wat jou toelaat om die delikate vis te geniet, of die Garnaal Breyani, een van haar persoonlike gunstelinge vir sy rykdom in beide smaak en tekstuur. My gedagtes loop vêr terug na sorgelose dae in Kerala.
Prettig en heerlik is die thali-spyskaart inderdaad; die heel beste manier om ’n aand by die teater of goeie fliek af te skop. En waar anders gaan jy die son só mooi sien sak as van die sesdevloerkroeg by die Silo Hotel?
Kitsfeite:
- Bespreek jou heerlike thali-tapas by Dineplan – nie-hotelgaste is ook baie welkom. Meer inligting oor alles wat jy kan geniet, is by https://www.theroyalportfolio.com/blog/new-thali-tapas-style-menu-at-the-silo-hotel/.
- As jy in Indië gaan kuier, bespreek jou distilleerderytoer by info@pauljohnwhisky.com en leer meer oor dié bekroonde whisky by https://pauljohnwhisky.com/en
Lees ook:
Nuwe baadjie vir Spier Hotel, maar dieselfde goeie beginsels


