Jan Mutton (Foto: Izak de Vries)
Die belangrikheid van vertalings in die letterkunde en die akademie is die afgelope naweek opnuut beklemtoon tydens ’n vertaalkollokwium oor Nederlands-Afrikaanse vertaling wat deur die Suid-Afrikaanse Sentrum vir Nederland en Vlaandere (SASNEV) in Kaapstad aangebied is.
SASNEV se voorsitter, Jan Mutton, sê ’n nuwe wêreld het vir SASNEV oopgegaan toe hulle ’n tydjie gelede in samewerking met die Nederlandse Bibliotheek in Kaapstad begin het om alle Nederlandse boeke wat in Afrikaans vertaal is, te versamel.
Mutton sê dit het die wêreld van die vertaalde boek met nog meer horisonne oopgemaak. Die versameling het ondertussen gegroei tot ongeveer 300 boeke wat bestaan uit werke van Nederlandse en Vlaamse skrywers wat oor dekades van Nederlands in Afrikaans vertaal is.
“Ons het so gefassineer geraak deur die hoe en hoekom van vertaling dat ons besluit het om op 17 Augustus ’n kollokwium daaroor by SASNEV in Pinelands te hou.”
Die soektog na boeke en die samestelling van die versameling het verskeie vrae laat ontstaan oor vertaling: oor die aard van die boeke wat vertaal word en die skrywers, oor die uitdagings vir die vertaler, die keuses wat die uitgewer moet maak en die rol wat die akademie speel om goeie vertalers beskikbaar te maak.
Om van hierdie vrae te beantwoord is daar die afgelope naweek tydens drie paneelbesprekings saam deur kenners besin oor vertaling en vertaalde werke.
Marius Swart, Daniel Hugo, Hendrik Theys en Fanie Olivier (Foto: Izak de Vries)
Tydens die eerste paneelgesprek van die akademiese konferensie het Marius Swart van die Universiteit Stellenbosch (US) met die skrywer en vertaler Daniel Hugo, digter en vertaler Fanie Olivier en die akademikus Hendrik Theys, dosent by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT), gesels.
Izak de Vries, Nicol Stassen en Catrina Wessels (Foto: Alma Rossouw)
In die tweede gesprek het Izak de Vries met Nicol Stassen van Protea Boekhuis en Catrina Wessels van PEN Afrikaans gepraat oor vertaling en die uitgewer, terwyl vertaling en die akademie in die derde gesprek deur Andries Visagie van die US met Ilse Feinauer (US) en Carla Lindt (UWK) bespreek is.
In al die gesprekke is die belangrikheid van vertaling beklemtoon.
Olivier sê as student van WEG Louw het die wêreld vir hom oopgegaan deur middel van sy Nederlandse studie by Louw. “Die Nederlandse kultuur was soveel anders en groter as waaraan ons gewoond was in Suid-Afrika; dit het vir my die wêreld oopgemaak.”
“Dit het die Europese wêreld vir die Afrikaanse leser toeganklik gemaak, nie ’n Britse wêreld nie maar ’n Europese wêreld.”
“Afrikaanse mense kan eenvoudig nie Nederlands lees nie. As mens daardie wêreld wil ontsluit en bekendstel, is vertaling uiters belangrik as jy nie die brontaal kan lees nie,” sê Olivier.
In sy eie vertalings probeer hy om Afrikaans te bevorder in die sin dat so baie ouer woorde verlore gaan in Afrikaans en hy poog om sulke woorde lewend te hou.
Hugo stem saam dat Afrikaanse mense doodgewoon nie Nederlands kan lees nie. “Vertalings is ’n weggesteekte skat en daar is ook nie baie boeke in Suid-Afrika wat uit Nederlands in Engels vertaal is nie, daarom is Afrikaanse vertalings so belangrik.”
Hugo het self meer as 50 boeke uit Nederlands in Afrikaans vertaal. Slegs twee van daardie boeke was in Engels in Suid-Afrika beskikbaar in die tyd toe hy dit vertaal het. Een was Oorlog en terpentyn van die Belgiese skrywer Stefan Hertmans en die ander een was Die aandete van Herman Koch.
Theys sê as dit nie vir vertaalde werke was nie, sou die Suid-Afrikaanse letterkunde baie armer gewees het. Hy het van kleins af grootgeword met Nederlandse kinderverhale en Heinz Konsalik se vertaalde boeke uit Duits in Afrikaans.
Op akademiese vlak is dit volgens Theys belangrik om die sterk verband tussen Afrikaans en Nederlands te beklemtoon. Hy sê kinders behoort steeds by skole geleer te word om Nederlands te lees sodat die sterk verband tussen die twee tale beklemtoon kan word. Daarom is dit volgens hom nodig om die Nederlandse departemente aan Suid-Afrikaanse universiteite uit te bou en die studente aan te moedig om te lees.
“Suid-Afrikaners het nie ’n leeskultuur nie. As mens dit met die leeskultuur in Nederland vergelyk, is dit amper soos ’n brommer op ’n beespens, so klein is dit,” sê Theys. “Daar is soveel mooi kinderboeke in Nederlands, dit is vir my vreemd dat van hulle nooit in Afrikaans vertaal is nie. Ons hoef nie dik boeke voor te skryf nie, maar kan ten minste kort verhale en kinderverhale aan ons kinders gee om te lees, want ons durf nie daardie band tussen Nederlands en Afrikaans breek nie.”
“Was dit nie dat ek Afrikaans-Nederlands studeer het aan die universiteit nie, het ek nie so maklik in Nederland studeer nie,” het Theys gesê.
Hugo sê vertaling is vir hom veral belangrik omdat Nederlands so ’n groot woordeskat het. “Die Vlaamse skrywers het ’n veel groter woordeskat as die Nederlandse skrywers en dit het alles te doen met die verskillende dialekte in Vlaandere. Die Vlaams en Nederlands is ’n veel ryker taal en dan is die Vlaminge natuurlik ook emosioneler mense as die noordelike Calviniste.”
Dit is volgens Hugo ’n groot uitdaging om daardie ryke Vlaamse taal in Afrikaans te laat lewe. “Ons het ’n veel kleiner woordeskat en idiomeskat as hulle, daarom moet mens jou soms verlaat op Nederlandismes wanneer jy van Nederlands na Afrikaans vertaal.”
Olivier het grappenderwys gesê ’n groot bemarkingsfoefie is nodig om weer die mense aan die lees te kry. Hy dink die rugbyspelers kan daarmee help. “Kan jy jou voorstel Faf de Klerk sit in sy onderbroekie en lees ’n digbundel. Wat sal dit nie doen om die verkope die hoogte te laat inskiet nie!”
Andries Visagie, Ilse Feinauer en Carla Lindt (Foto: Izak de Vries)
In die gesprek oor vertaling en die akademie het die deelnemers onder andere daarop gewys hoe goed masjienvertaling soos ChatGPT deesdae is.
Ilse Feinauer, wat ook die voorsitter is van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, sê masjienvertaling het ’n geweldige wending in vertaling veroorsaak. Sy sê dit het amper ’n eksistensiële krisis veroorsaak oor die pad vorentoe ten opsigte van vertaling. Daar is vanjaar baie min honneursstudente oor vertaling in haar departement. Sy sê dit kan direk toegeskryf word aan kunsmatige intelligensie (KI). “Hulle dink nou is daar nie meer ’n rol vir ’n redigeerder of vertaler nie.”
Sy sê die nuwe masjienvertalings is briljant en selfs beter as die gemiddelde student se vertaling. “Die hele opleiding oor vertaling sal as gevolg daarvan moet verander. Studente moet nou geleer word hoe hanteer jy die program en watter leidende vrae hulle vir die KI moet gee om die beste resultate te kry.”
Sy sê daar is geen uitkomkans nie. Vertalers sal moet leer om met masjienvertaling te werk en opleiding sal ernstig aangepas moet word. Basiese opleiding in vertaling sal egter nog lank aan studente doseer word.
Carla Lindt van die departement Afrikaans en Nederlands by UWK sê by UWK het die eerstejaars wat vertaalkunde doen, nie Nederlands as vak nie. In die verlede is daar wel Nederlandse vertalings gedoen as deel van die kursus. Sy beoog om dit weer in te bring by die derdejaarstudente. In dié stadium word daar by UWK se vertaalopleiding gefokus om studente te leer hoe om te vertaal en bloot te stel aan verskillende tekstipes, soos wetenskaplike tekste waar daar moeilike woorde is om te vertaal uit Engels in Afrikaans, asook vertalings van koerant- of tydskrifartikels uit byvoorbeeld Engels.
Stassen van Protea Boeke het vanuit ’n uitgewersoogpunt oor vertalings gesels. Hy sê dit hang baie van ’n uitgewer se beleid af om te besluit watter boeke hulle as vertaalde werke wil uitgee. In Protea se geval gee hulle baie meer vertaalde boeke uit as boeke wat deur plaaslike skrywers geskryf is.
Protea se beleid is dat die vertaalde werke wat hulle uitgee, van die beste boeke in die wêreld is wat beskikbaar is om te vertaal. Dit is gewoonlik boeke wat ook in ’n groot klomp ander tale vertaal is. Wat kinderboeke betref, is dit volgens Stassen ook die keur van die wêreld se kinderboeke wat deur Protea uitgegee word.
Catrina Wessels van PEN Afrikaans het gesels oor die PEN Afrikaans Vertaalfonds. Die PEN Afrikaans Vertaalfonds is in Junie 2017 opgerig met finansiële ondersteuning van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO). Dié fonds se sentrale doelstelling is om die Afrikaanse letterkunde internasionaal te bevorder deur meer vertalings en publikasies van verdienstelike Afrikaanse werke moontlik te maak.
Dit is ’n vertaalfonds wat daarop gemik is om die vertaalkoste te dek van boeke wat uit Afrikaans in ’n ander taal vertaal word en in die buiteland gaan verskyn. Die meeste daarvan is boeke wat uit Afrikaans in Nederlands vertaal word.
Lees ook:
Vertaalhistoricus Lieven D’hulst over de tactiek van kleine talen