Sport is ’n afgod in Suid-Afrika. In baie opsigte is dit die sterkste bindende, of selfs reddende faktor in ’n land wat onder rassisme (en beslis ook korrupsie) ten gronde wil gaan.
Hier is sowat 120 nasionale sportliggame (waaronder toutrek-, en selfs yshokkieliggame ‒ in Suid-Afrika?) en oor die 30 000 sportklubs; alle TV- en radio-sportkanale sorg dat sport op skoolvlak meer aandag as byvoorbeeld die kunste sou kry.
Praat jy van sokker, rugby, krieket, tennis, atletiek, selfs boks en Oosterse selfverdediging, dan trap jy gemene grond. ’n Swart vroueatleet, Caster Semenya, “behoort” aan die nasie; Hashim Amla, ’n Indiër, is almal se krieketheilige; Chad le Clos, wit, is almal se swemmer; en foto’s van Siya Kolisi, die eerste swart Springbok-rugbykaptein, pryk op die mure van ryk wit skoolseuns se kamers. Swart taxi’s word al lank Zola Budd genoem om die vaart van daardie wit Afrikaanse vroueatleet te suggereer.
Pas het die ganse Suid-Afrika kop gelig toe die tennisspeler Kevin Anderson die halfeindrondestryd op Wimbledon gewen het na ’n titaniese spel teen John Isner in 6 uur en 40 minute. (Anderson het die eindstryd teen Novak Djokovic verloor.)
Juigkrete en hubris het sommige kommentators selfs laat voorspel dat die geknelde politieke sfeer van die land ’n hupstoot vorentoe sal kry.
Die hoop het beskaam. Wanadministrasie, korrupsie, argeloosheid van regeringskant, wedstrydknoeiery en omkopery het diep tentakels in feitlik alle sportbedrywighede.
Pas weer het rassisme en seksualiteit weer die sportwêreld getref.
Caster Semenya is ’n transgenderatleet wat uit ’n nederige agtergrond in die provinsie Limpopo in Suid-Afrika kom. Sy is opsigtelik gespierd, en praat met ’n diep stem, maar is en word oral as ’n vrou erken. Sy het onlangs ’n wêreldtitel gewen en opnuut het die kwessie van transgenderisme in die sport weerklink.
Suid-Afrikaanse aanhangers veg verwoed om geen geslagsdiskriminasie teen haar ingestel te kry vanweë haar opsigtelike krag en spoed nie.
Rassisme het opgevlam in die geval van Ashwin Willemse. Willemse was ’n kranige en opwindende rugbyspeler in die apartheidsjare, toe begin is om sport te “normaliseer” deur sogenaamde mense van kleur in die tot nog toe hoofsaaklik wit sport toe te laat. Daardie mense is sg kwotaspelers genoem.
Willemse, ’n elegante en gewilde man, het ná sy rugbydae ook ’n loopbaan as sportkommentator gekry. Op TV was hy in ’n span saam met die beroemde (wit) afrigter Nick Mallett en die vorige (wit) rugbyster Naas Botha in gesprek. Dit was ’n hoogaangeskrewe program.
Toe, skielik, het Willemse op stel sy notas neergesit en van die stel afgeloop, terwyl hy die ander toesnou het dat hy net ’n kwotaspeler was en hulle Springbokke (die naam vir die internasionale span).
Daarna het die storm gebars: Was daar rassisme van die twee wit kommentators teen die bruin kommentator? Die saak, wat reeds baie weke duur, het nog nie uitsluitsel bereik nie, hoewel verskeie komitees dit ondersoek het.
Onder hierdie kwessie draai die duiwel rond.
Hoe manifesteer ’n diepgewortelde rassisme? Hoe manifesteer die nooitvergete druk van apartheid? Hoe “gevaarlik” is dit om mense met sulke verskillende agtergronde saam in een span te sit?
In baie mense se geheue stoei die ou herinneringe van rassistiese uitsluiting nog, veral toe Verwoerd, die destydse premier, die Britse krieketspan nie in Suid-Afrika wou laat speel nie omdat een van die spelers ’n bruin oud-Suid-Afrikaner, Basil D’Oliveira, was. ’n Japannese jokkie is ook verbied om in Suid-Afrika te kom meeding.
Aan die ander kant was daar die geliefde atleet Matthews Motshwarateu wat na Amerika uitgewyk om aan internasionale sport deel te neem. Vanweë sy lompe hardloopstyl is hy aanprysend “Loop en Val” genoem. Hy is ’n atleet wat nog ná sy dood as ’n groot Suid-Afrikaner gehuldig word.
Terwyl Gary Player die gholfwêreld se “poster boy” was, het ’n Indiër, Papwa Sewgolum, in Natal ook groot opgang gemaak – maar kon nie internasionaal speel nie.
Die prinses van Monaco, Charlene Wittstock, is ’n Suid-Afrikaansgebore swemster wat in die Olimpiese Spele naam gemaak het. Haar verbintenis met Suid-Afrika duur voort in stigtings wat sy in die land het en veral ook met die bevordering van swem. Die goedige grappie onder swart en wit vriende is: wit mans kan nie dans nie en swart mans kan nie swem nie.
Hoewel Suid-Afrika tot die wêreld se bewondering ’n uitstekende 2010-Fifa-wêreldtoernooi kon aanbied, kon Suid-Afrika se sokkerspan nie vir die wêreldtoernooi in Rusland kwalifiseer nie. Sokker word wyd gespeel en aangemoedig in Suid-Afrika. Soos met alle ander sportsoorte word die klag geopper dat die owerhede (die regering) nie genoeg doen om sport in die land te ondersteun nie. Administrasieskandale haal die voorblad en die vinger word gereeld na groot sportbase gewys.
Sportspanne wat verloor, loop erg onder kritiek deur. Paviljoensitters is ongenadig, intens beterweterig. Afrigters het in die algemeen kort aanstellings.
Maar sport bly onteenseglik die grootste bindende verkoopspunt as dit by advertensies of skoolopvoeding kom. En beslis sal Suid-Afrika bitter hard veg om Caster Semenya se reg op ’n plek in vroueatletiek te behou.
Lees ook op LitNet en Voertaal
Buro: MvHSlaan SA ’n "foutbal" met Anderson en Klaasen se Wimbledon-oorwinnings?