Straatkuns: Die "invaller" maak toe ons oë vir die stad oop, buite galerye en museums

  • 0

Invader se kuns bo die venster

Ons is op pad Parys, Frankryk toe vir ’n yskoue Kersfees saam met vriende en familie. Twee weke voor ons vertrek, soek ek interessante – gratis – dinge om te gaan doen. Met ons geldeenheid so swak en Parys berug vir sy duur pryse, is dit waarvoor jy nie hoef te betaal nie altyd ’n lekkerte.

Ek kom op ’n storie af wat Lauren Collins vir The New Yorker gedoen het, oor die werke van Invader, die straatkunstenaar wat al vir bykans 30 jaar sy merk met meer as 4 407 kleurvolle mosaïekteël-kunswerke in 87 lande regoor die wêreld laat.

Die koningin is ook hier teen ’n muur in Parys verewig.

Toe ek jare tevore in New York onder meer sy pizzaskyf, hamburger en Ninja Turtle gesien het, het ek nie geweet dit het alles in Parys – sy geboortestad – begin nie. Ek het ook nie geweet hoeveel van sy werke ek al in ander stede gesien het, sonder om die kloutjie by die oortjie, oftewel die teëltjies by die storie, te bring nie!

Hy word een van die invloedrykste straatkunstenaars van ons tyd genoem. Hy word geloof, omdat hy kuns demokratiseer deur dit uit steriele kunsgalerye en -museums na die mense te bring.

Lauren skryf Invader “verander die wêreld se stede in ’n lewendige kunsgalery met sy speelse, pixel-agtige mosaïekwerke. Wat begin het as eenvoudige ontwerpe, het ontwikkel in ’n wêreldwye fenomeen. Sy werk is uniek in die straatkunswêreld: Hy kombineer die vinnige, nagtelike taktiek van graffiti-kunstenaars met die eeue-oue materiale van die Mesopotamiërs.

Die buitenste ruimtewesens kuier hier in Rue du Chevalier De Saint-George.

“Hy gebruik meestal die Franse Émaux de Briare-teëls wat in 25 kleure gemaak word – ‘maar ongelukkig nie in mooi pienk nie’ – en skep pasgemaakte ontwerpe vir spesifieke plekke – ’n proses wat hy ‘stedelike akupunktuur’ noem om die polsslag van ’n stad raak te vat.”

Hy vertel vir haar dat hy sy intervensies “invalle” noem en sy mosaïekwerke is “invallers”. Vandaar ook sy skuilnaam: Invader.

Almal wil deel van die roem wees. Gelukkig breek nie almal die kunswerke af nie.

Omdat sy teëlkuns só gesog is onder diewe, gebruik hy deesdae gesofistikeerde metodes om dit te beskerm. Die teëls word aan ’n uiterste temperatuurskok blootgestel, sodat hulle soos ’n koekie verkrummel as iemand dit probeer steel. Sodoende verseker hy dat sy kleurvolle ruimtewesens, spotprentkarakters en vrugte permanent deel bly van die stedelike landskap vir reisigers om te ontdek.

My nuuskierigheid is geprikkel en ek lees meer. Ek sien ook daar is blyke van hom in aksie in die ander wêreldbekende straatkunstenaar Banksy se dokumentêre film Exit through the gift shop, waarin Thierry Guetta – aka Mr Brainwash – Invader in die strate van Parys volg om te sien hoe hy werk.

Later in die film sit Invader een van sy werke teen die -d van die ikoniese Hollywood-teken in Los Angeles vas.

Ons land in Parys en binne die eerste halfuur sien ons twee van sy werke. Ons het nog baie om te verken, want daar is meer as 1 500 van sy werke in die strate van die Stad van die Liefde.

By een van die koffie- en pannekoekwaentjies op Place de la République gewaar die barista ons wat so teen die mure van geboue opkyk. In ’n swaar Franse aksent begin hy vertel: “In die laat 1990’s, terwyl die wêreld voorberei het op die koms van die nuwe millennium en gevrees het vir die sogenaamde Y2K-rekenaarvirus, het ’n geheimsinnige Franse kunstenaar, gewapen met sement, teëls en ’n unieke visie, sy eerste permanente merk op die strate van Parys gelaat.

Pixelkuns

“Geïnspireer deur die ikoniese 1978-arcade-speletjie Space Invaders, ontwerp deur Tomohiro Nishikado, het Invader begin met ’n lewenslange sending: om die openbare ruimte te ‘infiltreer’ met pixelkuns uit keramiekteëls.”

Invader se amptelike webwerf dien vandag as die sentrale argief en lewende databasis van hierdie wêreldwye kunsepidemie, waar elke enkele werk noukeurig gedokumenteer, gefotografeer en gekatalogiseer word.

Elke stuk is uniek; geen werk word ooit gedupliseer nie.

Invader by Shakespeare and Company

Waarom juis die laeresolusie-vreemdelinge van vroeë videospeletjies? Dis weer die barista wat vertel: “Vir Invader verteenwoordig hierdie wesens die perfekte simbool van ons moderne era: die vroeë boustene van die digitale wêreld wat nou ons daaglikse lewens oorheers. Deur hierdie digitale pixels te omskep in fisiese teëls, skep hy ’n tasbare brug tussen die virtuele en die werklikheid.”

My geliefde antwoord terug in Frans: “Net soos ’n rekenaarvirus ’n stelsel binnedring, dring Invader dus stede binne. Sy kuns is gratis, toeganklik vir almal en ontduik die tradisionele, kommersiële galery- of museumstelsel, wat kuns dikwels agter geslote deure vir die rykes bewaar.

“Deur sy werke op straat te plaas, dwing hy verbygangers om op te kyk, hul omgewing nuut te ontdek en deel te word van ’n reuse- wêreldwye skattejag. Elke nuwe mosaïek kry ’n unieke kode (soos PA_1000 vir die duisendste werk in Parys) en ’n telling tussen 10 en 100 punte op grond van die grootte en kompleksiteit daarvan.”

Ek is nie seker of die barista se verbasing was met dié uitlating of die feit dat dit in Frans was en hy in gebroke Engels met ons gesels het nie.

My man vertaal gou vir my en ek lag en stel die arme jong man gerus dat ek nie Frans praat nie en dus dankbaar was vir sy Engelse verduideliking!

My man wys op sy slimfoon vir die barista ’n interessante artikel van die kunsversamelaar Hervé Lancelin, wat in Art Critic skryf dat Invader se ikoniese klein indringers ons alledaagse stede omskep “in lewende opelug-galerye, waar die grens tussen videospeletjies en antieke mosaïekkuns vervaag.

’n Universeel herkenbare TV-toetsseinbeeld is al byna toegeverf, maar darem nog daar.

“Dit is ’n meesterlike vermenging van geïnstitusionaliseerde vandalisme en stedelike poësie wat die eeue-oue tradisie van mosaïek omskep in ’n draer van futuristiese popkultuur. Trouens, sy pixel-aliens is vandag selfs meer bekend as hul oorspronklike digitale voorgangers.

“Hulle trotseer nie net die elemente van die natuur en moedswillige vandale nie; mense veg ook teen die gierigheid van kunshandelaars wat die werke van die mure wil afstroop om dit teen astronomiese pryse te herverkoop. Ten spyte van hierdie konstante bedreigings, bly Invader se kuns onwrikbaar sit, vasgeplak aan die siel van die stad as simbole van verset teen die kommersialisering van die publieke sfeer.

Wat hierdie gemaskerde kunstenaar egter werklik uniek maak, is nie bloot die visuele trefkrag van sy werk nie, maar die diepgaande konseptuele intelligensie wat dit onderlê. Invader is baie meer as net ’n eenvoudige stedelike teëllêer; hy is die beliggaming van ’n deurdringende sosiologiese beskouing oor die mens se verhouding met die stad.”

Lank lewe Freddie Mercury!

Sy woorde word geëggo deur One Day for Globe, wat op 11 November elke jaar Straatkunsdag vier. Hul webwerf verklaar: “Straatkuns is ’n kunsvorm wat direk met die publiek in verbinding tree en mense se lewens raak. Hierdie geleentheid stel kunstenaars in staat om hul verhouding met die omgewing deur hul werke te openbaar en dit sigbaar te maak vir die gemeenskap. Straatkunstenaars bied hul skeppings aan die publiek om denke, vrae en opvoeding te stimuleer. Hierdie werke weerspieël die mensdom se verhouding met die natuur. Kuns is ’n instrument wat sosiale bewustheid verhoog en mense bymekaarbring.”

Sy werke is nooit morsig of slordig nie,

En dit doen Invader beslis!

Sowat 18 maande gelede kom ons toe sy werk as kunswerke – binne ’n uitstalling – teë. Dis in Seoel, Suid-Korea as deel van die Icons of Urban Art-uitstalling. Lees meer hier: https://voertaal.nu/ikone-van-straatkuns-onder-een-dak/

In Tokio, die bakermat van die arcade-kultuur en videospeletjies, voel die Space Invaders natuurlik tuis in distrikte soos Shibuya en Harajuku, waar hulle saamsmelt met die neonligte en futuristiese atmosfeer.

Noudat mens se oog ingestel is vir sy werk, sien ons dit oral: op ’n staalbrug; weggesteek tussen tientalle advertensieborde en straatligte; in klein stegies waar die “vandalepolisie”, soos een vrou ons vertel, dit nog nie verwyder het nie. My gunsteling was die rooi, wit en pienk Hello Kitty langs ’n wenteltrap. Ek dink dit was te oulik vir dié polisie om te verwyder en darem te eie aan Japan!

In Januarie verken ons Los Angeles as deel van ’n skeepsvaart met Norwegian Cruise Line (NCL).

Ek hoor by ’n museumgids buite die ikoniese Griffith Observatory – terwyl ek na die Hollywood-teken se letter -d staar om te kyk of ek Invader se kunswerk kan sien – dat Invader selfs ’n kunswerk Space2 aan boord die Internasionale Ruimtestasie (ISS) geïnstalleer het.

“En in Cancun, Mexiko het hy saam met die beeldhouer Jason deCaires Taylor gewerk om mosaïeke op die bodem van die oseaan te installeer. Dis vasgemaak aan koraalriwwe, waar slegs duikers en die seediere dit kan sien.”

Ek hou van sy sin vir humor! Die gids s’n ...

Hy sê in Los Angeles is daar verskeie Invader-werke, maar dis die drie kopbene met ’n brandende kers op wat vir my uitstaan, en ook by The Last Book Store as jy terugkyk na die mannetjie met die vergrootglas.

By die planetarium hoor ons ook daar is ’n teken by Pink’s Hot Dogs in N La Breaweg bekend as LA_001: Invader se eerste in dié stad. Ons kry dit nie, maar geniet wel die warmbrakke!

Dis daar tussen happe deur dat ons besin oor Invader. Sy identiteit bly ’n geheim, maar sy invloed op die kuns- en populêre kultuur is onmiskenbaar.

Dis baie interessant hoe hy sommige straathoeke jare later weer kom besoek, met ’n nuwe werk.

Wat begin het as ’n klein, rebelse daad op ’n Paryse straathoek, het ontwikkel in ’n monumentale artistieke reis.

Dis Lancelin se woorde in daardie kunsresensie in Art Critic wat my die langste gaan bybly: “In ’n tyd wanneer openbare ruimtes toenemend geprivatiseer, bewaak en in kommoditeite omskep word, verteenwoordig Invader se invalle poëtiese dade van weerstand, wat ons daaraan herinner dat die stad eerstens en bowenal behoort aan diegene wat dit bewoon en droom.

“Elke klein teël-vreemdeling is ’n uitnodiging om stedelike ontdekkingsreisigers te word, eerder as passiewe verbruikers van ruimte.”

Kitsfeite

  • Een van die mees revolusionêre aspekte van Invader se loopbaan is hoe hy sy aanhangers aktief by die kuns betrek. Deur sy amptelike slimfoontoepassing FlashInvaders (https://www.space-invaders.com/flashinvaders/) het hy sy lewenswerk in ’n interaktiewe videospeletjie omskep. Wanneer mense ’n mosaïek op straat gewaar, kan hulle dit met die toepassing skandeer. As die toepassing die werk suksesvol herken, kry die gebruiker punte wat ooreenstem met die waarde van die spesifieke werk.
  • Hy skryf ook gidse oor elke stad wat hy “inval”: https://www.space-invaders.com/post/maps/

Foto’s: Clifford Roberts

Lees ook:

Pareltjes uit Amsterdam: Karel Appel in die Stedelijk Museum

Georgia O’Keeffe: 40 jaar ná haar dood blom haar nalatenskap steeds

Museums moet inklusief word en die jeug betrek om dit te bereik

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top