Suidoosterfeeskunstenaars in spesiale musiekvideo vir inspirerende vroue

  • 0

Die span agter die video

Kunstenaars wat vroeër vanjaar optredes in Suidoosterfees-produksies moes kanselleer as gevolg van die COVID-19-regulasies, het talente saamgesnoer in ’n spesiale musiekvideo wat Suid-Afrikaanse vroue vir hul inspirerende diens aan die gemeenskap eer.

Akteurs en sangers het saam met die bekende digter Diana Ferrus aan die projek, vervaardig deur die Suidoosterfees en die Cape Town Music Academy (CTMA), deelgeneem.

In die video word Lucas Maree se lied “Die weduwee se kruik” gekombineer met ’n ode wat Diana geskryf het aan essensiële werkers wat tydens die pandemie hoop en genesing in gemeenskappe bring.

Vicky Davis, programbestuurder by CTMA, was aan die stuur van die projek en vertel meer daaroor.

Vertel asseblief meer oor die projek – wat was die inspirasie daaragter?

Gedurende lockdown het ons (ek en Schalk Joubert) en die SOF gepoog om innoverende aanlyn projekte saam te skep wat nie net werk skep vir feeskunstenaars in ’n tyd wanneer daar nie optreegeleenthede is nie, maar ook opbeurende, relevante inhoud vervaardig wat Suid-Afrikaners kon geniet en waardeer.

Die kunstenaars wat in hierdie video optree – Cintaine Schutte, Buhle Ngaba, Nicole Holm, Babalwa Meintjies, Luna Paige, Lynelle Kenned en Jawaahier Petersen – was almal betrokke by Suidoosterfees-produksies wat kanselleer moes word as gevolg van die COVID-19-regulasies.

Ons wou graag ter viering van die afloop van Vrouemaand fokus plaas op inspirerende Suid-Afrikaanse vroue wat veral tydens die pandemie ’n enorme verskil in gemeenskappe maak en terselfdertyd ons vrouekunstenaars vier. Suid-Afrika het ’n lang geskiedenis van sterk vroue, ons wou dit opnuut belig. Die kunstenaars, Suidoosterfees se eie formidabele vroue en Diana Ferrus is genader om by die projek betrokke te raak. ’n Huldiging aan vroue, deur vroue.

Ek het die regie en verfilming behartig saam met die videograaf Mark Chipps. Schalk Joubert het die lied verwerk en vervaardig by Sunset Recording Studios, waar ons ook die lied opgeneem en die video geskiet het.

Die video is ook verfilm tydens die opname van die liedjie by die studio. Ons het ook by Naazneen Karriem se sopkombuis in Woodstock gaan skiet, asook by die ongevalle-eenheid by Melomed-hospitaal in Bellville, waar dr Karienya Kasvalu werk. Schalk het ook die redigering behartig.

Vicky Davis

Wat is die boodskap wat julle met hierdie video wil oordra?

Hierdie video wil ’n viering wees van vrouens se onmiskenbare essensiële bydrae tot die gemeenskap. Die ongelooflike werk wat vrouens soos dr Kasvula en Naazneen elke dag doen, mag nie ongesiens verbygaan nie. Die projek is ook ’n viering van ’n ander belangrike komponent van ons samelewing: die kunste.

Dit is n vroulike kragtoer van kreatiwiteit en ’n voorbeeld van die positiewe wat kan verrys uit die “vroue wat vroue ondersteun”-tema wat hierdie jaar Vrouemaand oorheers het, en dít is die boodskap wat ons graag met die video, die lente en die res van 2020 wil instuur.

Die Suidoosterfees het ook ’n sterk fokus op ontwikkelingsprojekte, en hulle probeer vir kansarm jong talent geleenthede skep. Dit is slegs moontlik met die ondersteuning van verskeie rolspelers, die “kruike” wat die projekte se bestaan verseker.

Dr Karienya Kasvalu

In die video word Lucas Maree se lied “Die weduwee se kruik” gebruik - waarom het julle op hierdie lied besluit?

Die Suidoosterfees het spesifiek “Die weduwee se kruik” gekies omdat Lucas Maree in die tydlose, universele lied onvoorwaardelike liefde en onbaatsugtige dienslewering perfek vasgevang het in sy lirieke.

In die video word vroue belig wat aanhou gee, sonder enige verwagting om iets terug te kry. Die vroue is ons spreekwoordelike weduwees.

Jana Hattingh, die uitvoerende hoof van die fees, vang dit mooi vas wanneer sy verduidelik:

“Suid-Afrika het ’n lang geskiedenis van sterk vroue. Vrouemaand en -dag is in 1994 amptelik uitgeroep om die protesoptog in 1956 deur 20 000 vroue na die Uniegebou in Pretoria te herdenk. Dié optog was gemik teen die drakoniese paswette van die apartheidsregering. Vandag veg vroue regoor die wêreldwyd steeds vir die reg op gelykwaardige behandeling. Finansieel moet vroue dikwels hul rande veel verder rek om in noodsaaklike behoeftes te voorsien. Spreekwoordelik is Suid-Afrikaanse vroue weduwees met kruike.”

Vertel asseblief meer oor Naazneen Karriem en dr Karienya Kasvalu, aan wie die video opgedra is?

Naazneen is die stigter van Naazneem’s Soup Kitchen for the People in Woodstock, en dr Kasvalu is ’n algemene praktisyn en traumadokter by die ongevalle-eenheid by Melomed-hopsitaal in Bellville.

Naazneen bedryf al vir ’n dekade lank ’n sopkombuis in Chapelstraat, Kaapstad.

Sy kook elke dag vir behoeftiges uit haar wendyhuis op ’n lappie grond tussen twee nagskuilings, en nou, tydens Covid, het sy meer as 300 mense per dag begin voer en kon sy nie voorbly met die behoeftes nie. Sy self het dit nie breed nie, en sukkel om haar en haar familie kop bo water te laat hou, maar sy doen dit uit die goedheid van haar hart omdat sy ander wil help.

Dr Kasvalu is ’n voetsoldaat in die stryd teen die pandemie in ’n Kaapse hospitaal se noodeenheid. Huisgenoot het in hul uitgawe van 2 Julie berig oor hierdie formidabele dokter wat daagliks die pandemie in die oë kyk.

Die twee vroue simboliseer twee noodsaaklike afdelings van ons samelewing wat veral in hierdie dae broodnodig is – aan die een kant die mediese sektor wat nou ons “frontline”-vegters is en wat elke dag hul lewens op die spel plaas, en aan die ander kant die gemeenskapswerkers wat met die indirekte effek van die pandemie worstel – die verergerde armoede, lyding en hongersnood.

Diana Ferrus en Naazneen Karriem

Wat beteken dit vir jou om ’n vrou te wees en waarom is dit belangrik om vroue te vier?

Ek is bly ek is ’n vrou, want alhoewel vrouens vandag mans 100% kan eweknie en met hulle kan kompeteer, sal daar altyd soveel meer lae bestaan aan ’n vrou en vrouwees wat net vrouens kan verstaan of ervaar.

Dit is soms ’n bygevoegde las, en soms hou dit mens terug juis omdat die ander geslag dit nie altyd sal verstaan nie, maar dit bly altyd ’n ongelooflike gawe en ’n vervullende ervaring, al is dit ook ’n groot verantwoordelikheid. Vrouens laat beslis die wêreld draai.

Ek is mal daaroor om met vrouens te werk, en daarom was die video een van die lekkerste projekte wat ek al aangepak het!

  • Foto’s: verskaf
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top