Thula thu, thula nana, thula sana ... stil word jy by Thuúla Hidden Haven

  • 0

By Thuúla Hidden Haven leef jy nie langs die landskap nie, maar daarin.

Nicholas Sparks se woorde in The notebook: “For silence is pure. Silence is holy. It draws people together because only those who are comfortable with each other can sit without speaking. This is the great paradox,” word die slagspreuk van ’n naweek met vriende by Thuúla Hidden Haven in Hemel-en-Aarde.

Daar aan die voete van die fluweelgroen heuwels tussen Hermanus en Caledon in die Overberg laat ons die natuur die praatwerk doen en vind weer opnuut dat die magiese stilte van ’n skilderagtige omgewing eers werklik met jou praat, as jy gemaklik is met dié wat dit saam met jou beleef.

Daar is plekke wat jy besoek, en daar is plekke waarheen jy wil terugkeer – al het jy nog skaars gearriveer. Thuúla is so ’n plek: ’n toevlug waar die landskap jou eerste asem steel en die stilte jou tweede.

Die verkeer op die N2 en N1 was onverwags druk. Dis immers Donderdagmiddag en ons glo ons is die enigste twee paartjies wat weerskante van die stad vroeg by die kantoor weggesluip het om onsself ’n self-verdiende langnaweek toe te eien. Maar die belofte van stadig leef, stilte, mensword is genoeg om deur te druk.

Ek het heel toevallig op sosiale media die kort video oor die verblyf gesien; alles aards, in skakerings van room en hout, grasmandjies, kerslig en kaggelgloed. ’n Warm swembadjie en pizzaoond buite; die lusernlande, fynbos en watervalle die enigste skilderdoek om te geniet.

Twee versteekte watervalle wink agter die rantjies.

Die grondpad kronkel verby lae plaasdrade, verby stapels vuurmaakhout en wiegende bome. Dan is die groot Thuúla Haven aan jou linkerkant waar groter groepe vriende of families kan bly, maar ons verkies die knus Hidden Haven ’n ent verder. Die rokie wat by die skoorsteen uitdartel, verklap dat die warm swembadjie ons aankoms inwag.

Die kuierplek met sy groot skuifdeure na buite wat die twee kamers van mekaar skei.

By Thuúla Hidden Haven is niks halfhartig gedoen nie. Die huisies is elegant, dog eenvoudig. Groot glasvensters en skuifdeure bring die buitelug na binne; sagte linne en hout laat alles voel soos ’n warm uitnodiging. Twee storte aan weerskante van die deur laat die natuur letterlik tot op jou drumpel kom. Jy leef nie langs die landskap nie, maar daarin.

Die kombuis met sy sementtoonbanke en houtrakke is knus, maar volledig; die stoep is ’n leefruimte op sy eie; die braaiplek en pizzaoond is die plek waar aandete en gesprekke op natuurlike wyse saamsmelt.

Kamers aan weerskante

Die kamers is weerskante van die leefvertrek en kombuis en voor jy kan sê: Fynbos! klap die vonkelwynprop en ons vier sit in die louwarm water – betower deur die stilte.

Die landskap van Thuúla het ’n ritme van sy eie. Elke dag voel effens anders as die vorige, maar op ’n snaakse manier ook nie. Ek hoor weer die weergawe van die Ndlovu-jeugkoor se “Thula thu, thula nana, thula sana” in my agterkop. Iets van die grootheid van stilwees in sy heiligste vorm wat hul engelstemme verkondig, kom sit in my lyf.

Ons dae het ’n vertroostende bekendheid: die sonsopkoms is ’n vertoning waarvoor jy onbewustelik vroeg wakker word. Soms klim hy op in ’n dramatiese, luidkeelse aankoms: strale wat die nag se dou vinnig van die fynbos laat verdamp, asof hy haastig is om te wys hy is terug. Ander kere draai hy stadig oor die horison, gehul in sagte mis. Die mure van die huisie kry goue skaduwees, soos waterverf wat nog nie behoorlik droog is nie.

Iemand maak koffie; die beskuit is in ’n mooi kleibakkie, en vrugte en joghurt wag buite op die sementtafel. Die lae dreuning van die versteekte watervalletjies roep egter soos ’n lustige vrou en gou is ons op die fynbospaadjie onderweg om in die bergpoel te gaan swem.

Een vir een stap ons elkeen op sy eie tyd huis toe. Ons het klaar geleer dat stilte ook kan praat. Dit fluister vir jou siel.

Met ons badkamer se sydeurtjie oop na die berge, stort jy met stoom – wat deur die laventelbos neffens die deur gegeur word – in jou neus.

Middagetes is keurige borde met koue vleis, varsgebakte suurdeegbrood, gepekelde lekkernye en kase wat jou na Italië en Frankryk se markies laat verlang. Laatmiddag is almal weer in die louwarm water van die swembadjie, wanneer die koel Overbergse luggie jou na ’n truitjie wil laat gryp. Pizzadeeg rys onder ’n doek of skaaptjops en wors wag vir kamertemperatuur voor hulle op die kole gaan sing.

Ons lag, ons luister musiek, ons deel ons lewens. Maar daar is baie stiltes; amper heilige tye waar jy Moeder Natuur kans gee om jou moegheid en stres met haar towerstaf weg te toor.

Sodra die son sak, neem die hemel die volle verhoog oor. In die pikdonkerte buite, onder ’n hemelruim sonder ligbesoedeling, word sterre nie net flonkerende ligkolletjies nie – hulle word karakters. Jy sit op die stoep, omvou in die aandluggie, en kyk hoe die Melkweg oor jou skuif soos ’n ou rolprent wat net vir jou gespeel word.

Die enigste lig in die hele vallei? ’n Enkele stroperkoplig in ’n kanolaveld, ver, ver weg – ’n flikkerende herinnering dat mense wél bestaan, al voel Thuúla soos ’n wêreld sonder ander mense.

Een oggend, terwyl ek met my tweede koffie op die stoel voor ons kamer sit, beweeg daar onverwags lewe in die bos langs die stoep. ’n Groot insek worstel tussen die stingels. En daar land ’n Piet-my-vrou, wat sonder huiwering sy prooi vang en onmiddellik verdwyn. Hier word die natuur nie mooi gemaak nie. Sy is mooi en as jy gelukkig is, ontbloot sy sulke oomblikke aan dié wat stil genoeg is om te sien.

Dieselfde geld vir die jakkalsvoël wat tussen die reusebome agter die huis jag. Elke keer as hy van die een kant na die ander vlieg, bars ’n helse kabaal op in waarskuwing: ’n horde klein geveerdes wat skril keel opsit. Dit voel soos ’n miniatuurtoneel uit ’n BBC-natuurdokumentêr, net sonder David Attenborough se stem.

As jy ’n plek soek waar die wêreld stadig word; waar voëls, water en sterre die program bepaal; waar jy jou skedule kan verruil vir ’n rustige ritme, is Thuúla Hidden Haven dié plek vir jou. Halfpad tussen die hemel en die aarde, maar voluit in die hart van die natuur.

Nog iets om te doen:

Thuúla is ’n bestemming op sy eie, maar dis tog ook lekker om die pragtige omgewing in die omliggende Hemel-en-Aarde en Hermanus te gaan verken. Dis ’n streek waar wyn, fynbos en seelug hande neem en jou omarm. Die koelklimaat-wynstreek is die tuiste van ons land se voorste Chardonnays en Pinot Noirs. Gooi jy hierdie saam, kry jy een van my gunstelinge: Cap Classique, vonkelwyn wat aan die Kaap in die tradisionele sjampanjemetode met tweede gisting in die bottel gemaak word.

Klein hoekies is vir romantiese kuiers by Creation Wines ingerig.

En as jy net een plek gaan besoek vir wynproe, kuns en lekker eet, maak dit Creation Wines in die Hemel-en-Aarderif, ’n klipgooi van Thuúla af. Die ervaring begin reeds buite waar beeldhouwerke van Nanette Rangers die tuin versier. In die verte wink Babylonstorenberg as agtergrond vir haar kuns. Binne is werke van Jero Revett, oftewel The Wild Wanderer, wat met seekatbloed en -ink skilder teen die mure.

Die volle kos-en-wyn-pasmaatete-reis sluit skulpe en klippe en proefbuise en parfuumgeure in.

Jy kan wynproe, ontbyt geniet, of een van hul kos-en-wyn-pasmaatete-reise onderneem. Daar is skulpe en proefbuise en waaiertjies en klip tussendeur wat jou na aan die aarde en die ware storie agter elke wyn en dis hou.

Die pragtige werke van Nanette Ranger versier die mooi tuin nog verder. Agter haar werke hou Babylonstorenberg wag.

Die landgoed is al verskeie male as van die wêreld se beste toerisme- en volhoubaarheidskampioene aangewys.

Die spyskaarte het iets vir elkeen: van vleiseters tot veganiste of dié wat allergies vir suiwel is.

Creation se spyskaarte – wat hul kenmerkende anti-inflammatoriese pasmaatspyskaart insluit – is in oorleg met ’n integrerende medisynespesialis op maaggesondheid saamgestel en is baie ander restaurante ligjare vooruit wanneer dit kom by gebalanseerde, gesonde spyskaarte en volhoubaarheid. Hul fokus op seisoenale kos beteken jy eet gesonder, varser en meer bekostigbaar.

Die spyskaarte het iets vir elkeen: van vleiseters tot veganiste of dié wat allergies vir suiwel is. Jou keuse, maar jy gaan nooit geur inboet of afgeskeep voel nie, maak nie saak watter een jy kies nie.

Kitsfeite
  • Bespreek verblyf in een van Thuúla se huise by www.thuula.com.
  • Jy kan selfs ’n “En Route with Creation” in Hermanus en in Stanford doen. Dis ’n staproete saam met Susan Mann van HermanusLocal om Creation se verskaffers te besoek, wat almal deel vorm van die Creation-suksesstorie. Wat uniek is, is die goue draad deur albei – Creation: hulle wyn (natuurlik!); hulle samewerkers; hulle verskaffers; die sensoriese ervarings; die fokus op welstand. Dis ’n pasmaatspyskaart, ’n Creation-wyn word gekoppel aan ’n spesiaal gekose gereg, by een van Creation se medewerkers. Gaste stap saam met ’n gids, eet, drink en ontdek. En só eer ons Creation se fokus op al die sintuie – sowel as op welstand – regdeur die ervaring. Bespreek jou staproete in Hermanus of Stanford met Susan by susan@eatlikealocal.co.za of 0782399512 of besoek www.eatlikealocal.co.za.

Foto’s: Clifford Roberts

Lees ook:

Riverhide: Rivierwegkruip laat die stres verdwyn

Trek jou longe vol Karoolug op Prins Albert

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top