Uitvoergehalte: In gesprek met Jannie du Toit

  • 0

Izak de Vries het onlangs ’n vertoning van Jannie du Toit bygewoon, toe raak hulle aan die gesels oor wat voorlê in 2025, ook oor Du Toit se liefde vir Nederland en België.

Du Toit skop 2025 af in Pretoria by die Fairtree Atterburyteater en gaan direk daarna Stellenbosch toe om by die Drostdyteater op te tree. De wals van de liefde word ook op 1 en 2 April in die banketsaal by die KKNK aangebied.

Vir meer inligting kan belangstellendes sy webruimte besoek: www.janniedutoit.com.

Jannie. Kom ons begin by die twee “feeste”. Dit gaan in Pretoria en Stellenbosch aangebied word. Jy beskryf die versameling produksies as ’n “kunstefees in die kleine”. Hoe so?

In teenstelling met die Afrikaanse kunstefeeste wat oor die afgelope 30 jaar ontstaan het en danksy die aanvanklike groot sukses en gewildheid uit hulle nate gebars het, bestaan ons “minifesies” in Pretoria en Stellenbosch uit onderskeidelik vier en drie produksies wat saamgegroepeer en oor ’n naweek aangebied word. Ek het sulke fesies al meermale oor die afgelope dekade aangebied – onder andere in 2021, toe ek my halfeeu met musiek gevier het. Die beweegrede is onder andere dat ek ’n debuutproduksie aan die groot klok ophang, terwyl die publiek in ’n sekere omgewing dan ook die geleentheid kry om ander produksies vir die eerste keer te sien. Die keuse van produksies is naamlik gedoen op grond van die feit dat daardie produksie nie vantevore by die betrokke teater aangebied is nie.

In jou programnotas noem jy ook De wals van die liefde ’n keur uit Nederlandstalige “kleinkuns”. Hoe sou jy die woord kleinkuns verduidelik aan ’n leek soos ek?

My aanvoeling is dat die kleinkuns (kleinkunst in Nederlands en Kleinkunst in Duits) ’n aantal genres insluit, soos luisterliedjies (die Nederlanders praat ook van “levensliedjes”), toonsettings van gedigte op “ligte” musiek, kabaretliedjies, moderne folk soos dié van Dylan, Cohen en andere, selfs musiek uit blyspele. Die saambindende element is dat die teks of liriek – verkieslik van betreklik hoogstaande gehalte – sentraal staan in die lied. Ek hou ook daarvan om van die oorkoepelende genre as “teksmusiek” te praat. Die musiek moet alle aspekte van die teks dra, respekteer, selfs dién – die natuurlike vloei en woordklemme binne elke sin en die gevoel en die emosies wat in die teks vervat is. Musiek is ’n wonderlike draer van alle moontlike elemente van ’n teks – die ritme, frasering en vloei van ’n melodie, akkoorde, tempo en dinamiek in die uitvoering (laasgenoemde kom neer op volume – hard en sag) en talle musiekmiddele wat deur die eeue ontwikkel is. Vandaar dat woordmense soos Hennie Aucamp en Stephan Bouwer gedurende die Musiek en liriek-beweging (laat sewentigs, vroeë tagtigs) ons almal se aandag gevestig het op die luisterlied en die Nederlandse kleinkuns. Omdat die kunslied (art song, Lieder) deur eeue in klassieke skole gedoseer en bestudeer is, is daar grondige teorieë daarrondom – iets wat ewe waardevol kan wees vir die beoefenaar van kleinkuns. (Askies, ek word meegevoer 😉 .)

Ek wil later terugkeer na jou liefde vir Nederland, maar kom ons kyk eers na die besonderhede van jou program in Pretoria.

Saterdag 25 Januarie 2025

  • 09:30. Die eggo van jou oë. Hartsmusiek by Cowfish Restaurant (oorkant die teater)
  • 12:00. Die maan deur ’n gaatjie in die nag. Marie Tredoux van Jacobsbaai se liedjies met bindteks deur Dana Snyman
  • 15:00. Margaretastraat. Jannie vertel van die legendariese “liedjieaande” by sy huis in Pretoria

Sondag 26 Januarie 2025

  • 15:00. De wals van de liefde. Jannie se persoonlike gunstelinge uit die Nederlandstalige kleinkuns van die twintigste eeu.

Jy beskryf Die eggo van jou oë as “hartsmusiek”. Lig die sluiter so effens, asseblief?

Dit is liedjies wat my aangegryp het vandat ek die eerste keer die Beatles, Donovan, Koos Doep, Lucas Maree en soortgelykes se musiek gehoor het – liedjies wat my inspireer en my nie begin verveel nadat ek dit reeds honderde kere op my kitaar of saam met ander kunstenaars gesing en gespeel het nie. Ek noem dit graag “teksmusiek” – die woorde wil iets sê en die musiek komplementeer dit deeglik.

Die maan deur ’n gaatjie in die nag is al suksesvol by kunstefeeste opgevoer. Hoe het jy op Marie Tredoux en haar liedjies afgekom?

Nic Tredoux het sy vrou Marie se liedjies in 1988 aan my bekendgestel en my gevra om verwerkings van ’n aantal van haar liedjies vir ’n langspeelplaat te doen. Ek is sedertdien haar grootste bewonderaar. Sy het wonderlike kleinkuns daargestel – wat my betref van die heel beste in Afrikaans, maar sy het nooit die geleentheid gehad om ’n musiekloopbaan aan te pak nie. Laurika het, pas nadat Marie se langspeler uitgereik is, haar liedjie getitel “Mis oor Jacobsbaai” opgeneem op haar album Mannetjies Roux, en ’n ander een is in die jongste FAK-sangbundel opgeneem. Moenie dink in terme van die lawwerige, selfs platvloerse liedjies wat dikwels van daardie deel van die wêreld af kom nie – dink liewer aan die taalvaardigheid en fyn humor soos dié van Boerneef – wat ook van daardie deel van die wêreld af kom.

Dana Snyman was lank ’n inwoner van Jacobsbaai. Sou dit wees hoekom hy die brugteks geskryf het?

Dana het ’n draai by Marie se huis gemaak terwyl ek ook daar was – op haar 90ste verjaarsdag in 2019. Hulle het in die tyd dat hy in Jacobsbaai gebly het, groot vriende geword, en hy het op daardie oggend aangebied om die teks as uitsonderlike verjaarsdagpersent vir Marie te skryf.

Jy skryf dikwels brugtekste vir jou vertonings. In jou vertoning van Koos du Plessis se werk vleg jy byvoorbeeld baie vernuftig Koos se eie woorde tussen die liedjies in. Hoe maklik of moeilik is dit om met ander se tekste te werk?

Omdat Koos Doep se werk sterk temas bevat – deurdag en inspirerend – is daar baie moontlikhede vir kruisverwysings – intertekstualiteit. Een liedteks kan lig op ’n ander werp. Ook die feit dat hy, benewens liedtekste, gedigte en selfs prosa geskryf het, gee baie materiaal om mee te werk vir die brug- of bindteks.

Margaretastraat handel oor die legendariese “liedjieaande” by julle aan huis. Ek is nuuskierig. Hoe het dit gebeur?

Dis nogal ’n lang storie. Aan die begin van 1981 het Johan Kruger, ’n regsgeleerde wat in daardie stadium in Pretoria as advokaat gepraktiseer het, my genader om na ’n paar van sy liedjies te luister. Daar was ’n pragtige toonsetting van ’n Ingrid Jonker-teks, asook ’n paar oorspronklike liedere met goeie woord- en toonelemente – mooi liedjies op my oor. Johan het gehoop dat ek vir hom ’n goeie woordjie sou kon doen by ’n platemaatskappy, maar aangesien ek self nie ’n platekontrak gehad het nie, was ek nie in die posisie om dit te doen nie. Die platemaatskappye het alreeds vermoed dat die “luisterlied” nie ’n groot kommersiële toekoms het nie, en ek het besef dat dit ook nie maklik gaan wees om Johan se esteties mooi liedjies aan hulle te verkoop nie.

Gebaseer op die ervarings wat ek in Johannesburg saam met Trilogie by die suksesvolle folkklub Mangles gehad het, het ek aan Johan voorgestel dat ons gereeld soirées, oftewel liedjieaande, moet hou. Die aande is aan die begin by verskillende huise gehou, maar omdat ek geglo het dat dit nie sporadies moet gebeur nie, het ek my huis in Margaretastraat in die middestad van Pretoria vir dié doel aangebied. Elke Vrydagaand sou almal wat in die trant van die luisterlied geskryf het, en entoesiaste wat hulle ondersteun het, welkom wees om die aand daar te kom deurbring. Andy Lubbe, vroeër lid van Trilogie, het in dié stadium saam met my in dié huis gewoon, en selfs as nie een van ons daar kon wees nie, het die huis oopgestaan. Vir talle jong liedjieskrywers wat aan die begin van hulle loopbane gestaan het, was dit ’n uitstekende geleentheid om hulle werk voor ’n waarderende gehoor te toets. Jou eie bottel wyn en eetgoed was al wat die aand (ook vir die kunstenaars) gekos het.

Bekendes wat daar te sien en te hoor was, sluit in Koos du Plessis, Janita Claassen en haar sangmaat RD van Huyssteen, Anneli van Rooyen, Coenie de Villiers, Lucas Maree, Richard van der Westhuizen, Ruben Lennox, Marietjie Stoop en Morg Jacobs – my ou maat van Trilogie se tyd – en natuurlik ook Andy, Clive en ek self – soms met van ons ou Trilogie-liedjies. Teksskrywers soos Babs Pretorius en Theo Naudé was gereeld daar – langdurige vriendskappe en vrugbare samewerking het ontstaan. Daar was natuurlik ook deelnemers aan die liedjieaande wie se werk nooit bekend sou word nie, of van wie miskien ’n enkele lied by geleentheid opgeneem is deur ’n ander kunstenaar, maar dat daar inspirasie ook vir hulle was, ly geen twyfel nie.

Een aand toe Coenie ook daar was, het Lucas Maree ’n draai kom maak omdat Koos du Plessis aangehou neul het dat hy na ’n liedjieaand toe moet kom. Lucas self vertel dat ek en Coenie hom daardie aand geïnspireer het om in Afrikaans te begin skryf – tot in daardie stadium het Lucas net in Engels gesing. Hy het sy wonderlike talent en vaardigheid met die kitaar aangewend om gewilde liedjies in kroeë te sing.

Na twee jaar het die liedjieaande aan die begin van 1983 tot ’n einde gekom, omdat ek die huis nie meer beskikbaar kon stel nie, maar dit het ’n duidelike behoefte aangetoon. Op inisiatief van Anneli van Rooyen en met haar aan die stuur begin Truk (die ou Transvaalse Raad vir Uitvoerende Kunste) kort daarna met ’n reeks konserte getitel Kerslig, vers en melodie, wat die werk vir die volgende 15 jaar sou voortsit, en aan veel meer jong kunstenaars ’n groter verhoog en meer geleenthede sou gee. Aan die begin van 1988, pas nadat ek uit die diens van Tukkies getree het, is ek by Truk aangestel as organiseerder van ligte musiek. Ek het toe die verantwoordelikheid vir Kerslig gekry, en het ook met die aanbieding van kabaretprogramme en ’n jazzreeks, Jazz for you, by die Staatsteater begin.

En dan is daar die program in Stellenbosch:

Saterdag 1 Februarie 2025

  • 19:00. Oppiekitaar. Net Jannie met net sy kitaar op die verhoog met ’n keur uit die talle liedjies wat hy oor die afgelope halfeeu geskryf het.

Sondag 2 Februarie 2025

  • 11:00. Margaretastraat. Jannie vertel oor die legendariese “liedjieaande” van 1981 en ’82 by sy huis in Pretoria. Saam met hom op die verhoog is pianis Chanie Jonker.
  • 15:00. De wals van de liefde. Jannie se persoonlike gunstelinge uit die Nederlandstalige kleinkuns van die twintigste eeu.

Ek het Oppiekitaar in 2024 beleef. Dis jy en jou eie liedjies. Hoeveel liedjies het jy al in jou lewe geskryf?

Ek het maar so rofweg 150 liedjies geskryf, wat min is vir die lang tydperk. Die rede is nogal dat ek jare gelede besef het dat ek eintlik nog meer hou van sing as van liedjies skryf. Daarom dan ook dat ek deur die jare so baie programme aangebied het waarin ek liedjies sing van mense wat ek bewonder: Koos Doep, Jules de Corte, Brel, Lucas en Marie Tredoux. Nou ook die Nederlandstalige kleinkuns in die program De wals van de liefde.

Ek gaan effens wegdwaal, maar dit sluit aan by Oppiekitaar: Jy het opleiding in klassieke musiek, het regte gestudeer en is al jou lewe lank bekend vir ligte musiek van hoë gehalte. Kortliks: Hoe het jou musiekloopbaan verloop?

Tot my skande was ek in die ou standerd 8 op skool te lui om klavierstukke te oefen, en mnr Loots by Menlopark Hoërskool het vir my wyse raad gegee: Moenie daarmee aanhou as jy nie regtig wil nie. Ek het dadelik daarna begin kitaar speel, en omdat ek baie van akkoorde hou, het ek begin eksperimenteer met akkoorde en melodieë en mettertyd my eie liedtekste begin skryf. Daar was te veel bestieringe en seëninge op my pad om alles op te noem, maar hier is ’n paar:

  • ons groep Trilogie se totstandkoming vanaf 1971 en my besluit om nie op kommersiële musiek te fokus nie
  • Trilogie op SATV se toetsuitsendings van 1975
  • ons toekenning in die American Song Festival van 1976
  • my betrokkenheid by Musiek en liriek in die laat sewentigs
  • blootstelling aan Nederlandse kleinkuns einde 1979
  • ’n aanstelling by Tukkies deur Chris Lamprecht om musiekblyspele te skryf – 1981
  • samewerking met Christa Steyn van 1986 tot 2011
  • bekendstelling aan die kabaretverhoog deur Stephan Bouwer
  • deelname aan die ATKV se Liedjieskryf-werkswinkel van ongeveer 1985 tot laat ’90’s.

Dit was van die vroeë hoogtepunte wat die rigting van my musiekloopbaan bepaal het.

Jy het al met groot name in Suid-Afrika saamgewerk – Koos Doep, Lucas Maree, Stephan Bouwer ... ’n Mens gee en neem seker ’n bietjie elke keer wanneer jy in ’n ander se kring inbeweeg?

In alle eerlikheid het ek aansienlik meer gekry as gegee, maar ja, ek het inderdaad ook probeer om in elke situasie ’n bydrae te lewer.

Natuurlik is jy nie altyd alleen op die verhoog nie; soms wel. Vir jare het jy en Christa Steyn getoer. Onlangs het ek vir jou met Susan Mouton op tjello en Chanie Jonker op klavier gesien. Hoe beïnvloed sulke medewerkers jou keuse van ’n program?

Die virtuose klassiek-opgeleide mense bied vir my die moontlikheid om ’n wye verskeidenheid van musiekstyle goed afgerond op die verhoog aan te bied. Dit open vir my nuwe paaie – soms in musiek wat ek nooit as kitaarspeler of met my beperkte pianistiese vermoë sou kon betree nie.

Nou wil ek graag weer terugkeer na jou verbintenis met die Lae Lande. Je schrijft en spreekt Nederlands. Hoe is het gebeurd?

Niet veel ervan heeft te doen met mijn school- en universiteitsopleiding in Zuid-Afrika – alhoewel ik de letterkunde meer dan gewoon mooi vond. Veel meer gaat het over lezen en beluisteren van Nederlandse teksten, daarna het zingen ervan en dan natuurlijk te kletsen met héél goeie vriende die ik door de decades heen in Nederland en Vlaanderen gemaakt heeft. Gewoon door de taal te beluisteren, te schrijven, te zingen en te praten – natuurlijk niks ervan perfect! Ik heb wel ook een groot liefde voor taal – Latijn was mijn favoriet op school en universiteit.

Jy het daar ook al met groot Nederlandstalige name saamgewerk. Jules de Corte en Robert Long is maar twee name waaraan ek dadelik kan dink, want ek ken hulle musiek goed. Hoe leer ’n Suid-Afrikaanse regsgeleerde met ’n kitaar uit Suid-Afrika sulke ouens ken, wonder ek sommer tong-in-die-kies?

Jy kan dit seker ook maar bestieringe noem – De Corte het ek in 1996 doelbewus gaan opsoek in Nederland en ek het saam met hom na die ateljee van sy vriend Joop Timmer in Nuenen gegaan. In daardie ateljee het hy sy laaste album, Ingelijst, in 1990 opgeneem en daar het ek saam met hom “Ik zou weleens willen weten” gesing. As ek reg onthou, het Johan Allers die video-opname gemaak. Ek is nogal trots op my vermoë om te harmoniseer, maar soos Stephan Bouwer sou sê: Dit was van my mindere werk ;-).

Robert Long het ek deur sy agent ontmoet omdat ek sy lied “Geef ons vrede” wou vertaal vir my album Palet in 1991. Ons het in daardie tyd saam ’n hapje gegeten in Antwerpen, en ek en Christa sou rondom 2004 saam met hom in Nederland gaan toer. Hy het toe ’n “hartinfact” gehad, wat ons planne laat skeefloop het. Maar ons het baie goeie vriende met hom en Kristof gebly totdat hy op my verjaarsdag, 13 Desember 2006, oorlede is. Ek en Christa was baie verbaas toe ’n gehoorlid in Brussel haar virtuose komposisie “Vlieg hoog” woord vir woord saam met my sing. Robert en Kristof het ons kom verras en was in die gehoor. Omdat ek ’n kopie van Palet aan hom gestuur het met my opnames van my vertaalde “Gee ons vrede” en sy lieflike “Achter de horison daarop”, het hy “Vlieg hoog” jou wraggies waar geken – ek raak tranerig hier waar ek skryf. Robert en Jules was daarby ook groot vriende en bewonderaars van mekaar se werk. Ek het steeds kontak met Kristof.

Later in 2025 gaan jy weer daar toer, is ek reg? Vertel asseblief meer? Wie gaan jou byvoorbeeld begelei?

My plan is om met my program Oppiekitaar te gaan toer – net met my kitaar en my eie liedjies. Om die Nederlandstalige gehoor beter te laat verstaan waaroor die Afrikaanse liedjies gaan, vertel ek meer daaroor “in het Nederlands”.

Ek wil egter ook ’n tweede gedeelte by die optrede voeg wat ek Tien vriende noem: tien van die heel mooiste Afrikaanse liedjies in die kleinkunsgenre wat deur persoonlike vriende van my geskryf is – Koos Doep, Christa Steyn, Lucas Maree, Coenie de Villiers en enkele andere.

Op uitnodiging gaan ek in twee groot jubileumkonserte van ’n bekende Groningse sanger (Klaas Spekken) optree en oraloor verdere optredes – meesal kleinskalig – doen. ’n Week lange besoek en ’n paar optredes in Portugal sal ook heel moontlik plaasvind.

Ek sal dit vreeslik waardeer as mense sal help uitkyk vir geleenthede om op te tree.

  • Foto’s: Izak de Vries

Lees ook:

Uitvoergehalte: In gesprek met Luna Paige oor Dis die dors

Uitvoergehalte: In gesprek met Arno Carstens oor Sewe sakke hoop

Uitvoergehalte: ’n Onderhoud met Frieda van den Heever oor haar album Spoorsny

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top