Uitvoergehalte: In gesprek met Luna Paige oor Dis die dors

  • 0

Luna Paige is terug. Nie met net een nie, maar met twee vollengte-albums: Dis die dors in Afrikaans en Harmony in Engels. Izak de Vries het na hulle geluister en vir Luna ingevra.

(Klik hier om Izak se Engelse onderhoud met Luna te lees.)

Dis die dors is ’n ryk album. Dit speel met temas wat in- en uitvloei, byna soos ’n fuga. Hierdie vers uit die titelsnit sê dit mooi: Hoe sien jy dit?

Wat maak die mens so
Die mens so ontevrede
Wat maak die mens so
In die sirkel van die toekoms en verlede?

Dit voel vir my die aarde gee ons so baie. Tog is ons so uit voeling met wat tot ons beskikking is en wat werklik saak maak. Dit voel vir my soms of ons permanent in ’n sirkel vasgevang is, iewers tussen die verlede en die toekoms, en dat ons sukkel om die hier ten volle te ervaar as gevolg daarvan. Ek glo dis in die hier wat die waarde lê.

Vir Harmony se musiekvideo was jy grootliks die akteur. Hier word op twee lieflike mense, Mia van der Merwe en Reuben van der Nest, gefokus. Jy en die saagspeler Gavin Bulloch verskyn ook. Hoe het die verskillende video’s gebeur?

Ek het eerste aan ’n konsep gedink vir die Afrikaans. Dit was amper die maklikste een, dink ek. Omdat dit so sterk fokus op die natuur. Ons is darem maar gelukkig met ons landskappe in Suid-Afrika. Dit is asemrowend mooi. Ek het onmiddellik aan Lukas Stander gedink as ’n opsie vir die Afrikaanse video, bloot omdat ek al van sy landskapfoto’s en -video’s gesien het en kon sien hy het ’n ongelooflike liefde vir, maar ook oog vir, die vasvang van asemrowende natuurtonele. Die song het ook vir my gevoel na iets waarby die jonger generasie moontlik kan aanklank vind – veral tematies. Tog, as jy ouer is, sal jy anders luister na die lirieke. Ek hou van dié eienskap van die song – dat dit werklik op twee maniere geïnterpreteer kan word. Ek is maar skugter vir die kamera en het gevoel die natuur moet op die voorgrond wees. Lukas het die leiding geneem met my oorspronklike idee en ’n wonderlike storyboard saamgestel waarin Mia en Reuben hulle kon uitleef. Dit het vir my sin gemaak dat twee jongmense op die avontuur moes gaan. Ons het oor twee dae geskiet. Die Engelse video was ’n langsafstandgesprek tussen my en Tessa Jay Glanville wat in Johannesburg woon. Ons aanslag was meer vroulik, intiem, en persoonlik. Tematies moes ek die fokuspunt wees (tot my konsternasie). Dankie tog vir wonderlike tussenskote of B-rolls wat help storie vertel.

Hoewel daar hoop deurskemer in baie van die liedjies op die album, skroom jy nie om ook die donker binne te gaan nie. Hoe so? Hier is ’n strofe uit die eerste snit “Gee my ritme”:

Die wêreld skreeu haar stories uit
Gee my ritme
Om deur die dag te kom.

Ek skroom nie om die donker binne te gaan nie, want dit bestaan. Die lewe is wonderlik, maar dit is ook moeilik. Net soos mense daagliks geluk najaag, moet mense ook daagliks met leiding en hartseer omgaan. Dit is onvermydelik. Dit is belangrik dat ons altyd eerlik is met mekaar oor daai dinge. Dat ons incheck by mekaar en mekaar ondersteun. As ons dit nie doen nie, verloor ons mekaar iewers langs die pad. Die wêreld is mooi en hy is lelik. Dis in mekaar, in die natuur, in “purpose” en in die dors vir die lewe dat ons deur die hartseer kan kom. Ja, die lewe is ’n uitdaging. Maar dit is die uitdagings wat ons aan onsself stel wat ons help om deur hierdie lewe te beweeg.

Jy het ’n meestersgraad in maatskaplike werk en jou navorsing het gehandel oor mense met verslawing. Help musiek?

Musiek is ’n universele taal wat emosie op ’n amper onverklaarbare wyse ontlok. Die mees weerstandige persoon kan fisiologies geaffekteer word deur musiek. Musiek kan mense ook onmiddellik verplaas na ’n tyd en ’n plek waar hulle sekere ervaringe gehad het (goed of sleg). Dit kan herinneringe ontlok. Dit kan emosies verteenwoordig wat mense sukkel om in woorde uit te druk. Dit kan jou help ontspan, dit kan jou help slaap, dit kan jou help dink, dit kan kalmeer, dit kan irriteer. Dit kan mense bymekaar bring wat andersins nooit bymekaar sou kom nie. Dit is ’n ongelooflike vorm van uitdrukking as jy self musiek maak. Of komponeer. Dit het amper ’n lewe van sy eie as jy eers begin. Baie sê dit neem sy eie gedaante sodra jy dit toelaat om te vloei. In verslawing is daar baie onderdrukte emosies, herinneringe, woede, skaamte, konflik, negatiewe gedagtepatrone, angs, ’n gevoel van isolasie, depressie, slapeloosheid, weerstandigheid. Musiek kan dus ’n betekenisvolle hulpmiddel in behandelingsplanne wees.

Jou metafore is interessant. Een van my gunstelinge op die album is “Die baadjies wat ons dra”. Dié baadjie is meer as ’n baadjie, is ek reg? Dit speel ook weer met teenstrydighede: “Hy’s my skaamte en my trots.”

Ja, ek sien die baadjie as identiteit. Ek raak in my Engelse album aan die klassekwessie in Suid-Afrika. En ek dink ek doen dit weer hier. Die song was aanvanklik geïnspireer deur Daniel Hugo se vertaling van Dimitri Verhulst se boek Die helaasheid van die dinge, wat gegaan het oor ’n arm gesin en ’n talentvolle man wat homself uit die armoede kon lig, maar baie innerlike konflik ervaar rondom sy identiteit ten opsigte van sy herkoms. Dit was vir my lekker om ’n song te skryf vanuit ’n arm man se perspektief, om uit te lig dat ons almal vooroordele het. Ryk teenoor arm, maar ook arm teenoor ryk. Ek is gefassineer deur die oorlewingsmeganisme van die klassegroepe – wanneer mense hul ekonomiese status aantrek soos ’n baadjie, as iets konkreet. En ja, in beide gevalle is daardie “baadjie” iets wat jou kan trots maak, maar ook skaam maak. As jy durf anders kyk na jouself.

Ek wil graag meer weet oor jou eie musikale reis. Hierdie album bevat verskeie genres, van die cha-cha tot Afroritmes, jazz, blues en teen die einde selfs ’n kunslied. Jy speel boonop akoestiese kitaar op verskeie van die snitte. Hoe kry jy dit reg?

Ek dink dis omdat ek nooit rêrig myself aan net een genre toegewy het nie, omdat ek nie spesifieke heroes in musiek het nie. Ek luister ook nie baie musiek by die huis nie. Dis amper asof ek musiek absorbeer in die verbygaan. Op die radio, op ’n reeks, in ’n restaurant, of kroeg, by iemand se huis, in iemand se kar. As iets vir my lekker is, gaan sit dit in my geheuebank en kom dit op ’n stadium te voorskyn wanneer ek ’n liedjie skryf. Ek sê altyd die song bepaal die genre. Ek besluit nie ek gaan nou ’n country song skryf nie. Ek skryf ’n liriek, ’n tema kom uit, en hy vra vir ’n spesifieke genre. Ek is mal oor die meeste musiekgenres. En hulle almal vind iewers hul pad na een van my liedjies. Vaderland, wie weet, dalk kom daar ’n metal song in my sestigs! Die kitaar en die klavier was nog altyd my twee instrumente. Kitaar is sekondêr tot die klavier in terme van spelvaardigheid. Maar ek geniet die styl van die songs wat ek op kitaar skryf. Dis asof die kitaar ’n ander kant van my musiekpersoonlikheid weerspieël. Ek dink tog my ouderdom, en dit waaraan ek blootgestel word, kan gehoor word in my musiek. Namate ek verander, verander my musiek. En dis op ’n manier wat lekker is as jy nie jouself vasgemaak het aan ’n spesifieke klank nie. Jy kan altyd eksperimenteer, en speel, en is dus nooit verveeld met jouself nie.

Jy het lanklaas ’n solo-album in Afrikaans gedoen. Die vorige album was gebaseer op die toneelproduksie Korreltjie kantel en was saam met Nick Turner en Jamie Jupiter. Tog kom van die snitte, soos “Gee my ritme”, “Groot is jy” en “Oerdans”, al lank met jou saam. Vertel ’n bietjie hoe jy sommer twee albums op een slag kon uitgee?

Ek dink ek het musiekonttrekkingsimptome gehad. Na drie jaar buite die musiekbedryf (2021, 2022, 2023) het ek nie ophou skryf nie. Tussen 2015 en 2020 het ek aan Iluminar Produksies gewerk, waar ek as vervaardiger van Die ander konsert, Korreltjie Kantel, Her blues en Smeltkroes opgetree het. Al vier produksies het by feeste gespeel. Ek het ook ander kunstenaars verteenwoordig en aan projekte by die CTMA gewerk wat my redelik besig gehou het. My eie musiekloopbaan het aan die agterspeen gesuig. Na ek Korreltjie Kantel na Nederland en België geneem het in 2019, was die plan om buiten groot beplande Iluminar-projekte ook in 2020 my nuwe musiek bekend te stel, op te neem en so meer. En daar tref tragedie die industrie. Dit was redelik ontmoedigend om te sien hoe die momentum wat ek oor vyf jaar gebou het, en die werk wat ek gevolglik vir 2020 in posisie gehad het, soos mis voor die son verdwyn het. Ek het geweet die industrie gaan in nood terugbeweeg na sy bloudruk, en waarskynlik slegs werk met “sure bets” eerder as “new bets”. Ek het groot aspirasies vir die besigheid gehad, maar moes realisties wees en die werksmag betree om my dak oor my kop te hou. Die skryf het egter nooit opgehou nie. Hier en daar het ek aan ’n klein projek deelgeneem, selfs musiek opgeneem en uitgegee. Maar toe ek einde 2023 rustig sit en kyk hoeveel songs ek het, besef ek ek het amper 13 Afrikaanse songs en 14 Engelse songs. Ek besluit toe maar om beide albums op te neem, voor die musiek vir my oud raak. Uiteindelik het ek 11 Engelse liedjies en 10 Afrikaanse liedjies opgeneem, waarvan sommiges al voorheen opgeneem is, maar nooit by ’n album ingesluit is nie, of bloot net nie die blootstelling geniet het wat ek dink hulle werd is nie.

Ek het “Fughetta vir drie stemme”, jou verwerking van Antjie Krog se gedig, op die verhoog gehoor tydens die Toyota US Woordfees. Jou opname, in drie stemme, is besonders. Vertel meer asseblief?

Een van die projekte waaraan ek aan deelgeneem het tydens my tyd by Paul Roos Gimnasium, was Al om Antjie – ’n produksie wat by Woordfees plaasgevind het. Schalk Joubert het my gevra of ek ’n gedig hiervoor sal toonset. Dit was redelik laat in die game gewees, en my tyd was min. Maar dit was die vreemdste ervaring. Ek het nie gesukkel om ’n gedig te vind nie. Antjie Krog se “Fughetta” het onmiddellik na my toe uitgespring. Ek sal dit nooit vergeet nie. Ek het in my klein woonstel begin met die song. Ongeveer 10 ure later, baie laat in die nag, het ek eufories om my rondgekyk – dit het gelyk of my woonstel deur ’n orkaan getref is. Dit was net papiere (op die grond, teen die mure), koffiekoppies, wynglase en kledingstukke oral. Maar die song was daar. Al drie stemme. En dit was bleddie mooi. Ek het rêrig gevoel asof iets oor my gekom het. Ek was daar, maar ek was ook nie daar nie. Om dit op te voer is ’n tameletjie. Ideaal wil mens drie aparte stemme hê. Ek het dit op ’n loop pedal gedoen (met al drie parte deur my gesing) en het daarom besluit om dit ook so op te neem. Maar live sal ek love om dit te doen met drie stemme, ’n simfonie, en ’n koor. Franco Prinsloo het vir my koorparte geskryf wat ek nog op ’n stadium live sal moet laat opvoer. Ek en Frieda van den Heever en Nicole Holm het vroeër die jaar die song opgevoer in my Storielied Reünie-vertoning by die Daisy Jones. Die gehoor was gaande daaroor. Ek hoop ek kan dit weer saam met dié twee ongelooflike vroue doen.

Toe ek vir my kollegas vertel dat ek ’n onderhoud gaan doen, was een se opmerking: “Sy is so ongelooflik goed. Absolute rolmodel, glo ek, in alle opsigte van musikant-wees.” Wat dink jy sou sy met so ’n mooi kompliment bedoel?

Sjoe, gits. Ek weet nie. Maar dit beteken baie om dit te hoor. Die bedryf vra vir ’n dik vel, en of mens dit nou wil erken of nie, in ’n werk waar jy ’n produk is, is dit soms moeilik om die ego opsy te skuif. Ons is mos maar net mens. Dit is soms swaar wanneer jy voel of jy ongesiens deur die bedryf beweeg. Ek moet myself herhaaldelik herinner dat verskriklik baie musikante (en ek is seker ander kreatiewes) presies dieselfde voel. Van ons grootste foute is om onsself met ander te probeer vergelyk of om op die skouer geklop te wil word. Ervaring in die bedryf is baie keer tweevoudig – dit wat mense deel, en dan dit wat mense werklik ervaar. Die bedryf is moeilik vir almal, selfs vir dié wat lyk of hul verskriklik goed doen. Daarom, as ek so iets hoor, beteken dit meer as wat enige iemand hul kan verbeel. Dit is bemoedigend om te weet jy word tog iewers opgemerk vir die werk wat jy so onverskrokke aanhou lewer.

Ons is almal maar op “Geleende tyd” – dit is die titel van een van jou snitte, wat eindig met “En dis OK”. Wat lê vir Luna Paige en Iluminar Productions, jou maatskappy, voor?

Ja, jong. Ons moet maar so sê soos mens ouer word en besef there’s no leaving this ship without perishing. Ek reken ek het besef dat dit vir my ongelooflik belangrik is om seker te maak dat ek in die tyd wat oor is, lewe soos ek wil lewe. Ek is nou in my veertigs, en ek weet in dié tyd kyk mens na jou lewe en jy vra “Is this it?”. Mens wonder of die volgende 20 jaar van jou lewe dan nou so gaan lyk? Ek het ook hierdeur gegaan. En met ’n skok besef ek doen al vir 20 jaar dieselfde ding oor en oor. Met die hoop dat dinge op ’n sekere manier gaan uitspeel. Ek is nie spyt oor my laaste 20 jaar nie. Dit het my gemaak wat ek vandag is. En ek het baie ongelooflike stories om te vertel. Maar ek het wel besluit dat ek van nou af dinge anders gaan doen. Ek gaan by ’n nuwe gang afloop, nuwe deure oopmaak, en kyk wat daar aangaan. Ek glo in “intent”. Ek het dus my planne. Ek hervat graag my 2019-plan om ’n Europese toerskedule te vestig. Ek het ’n opwindende besigheidsplan vir Iluminar – waarvan ek nie nou al die aap uit die mou gaan laat nie – bloot omdat ek oop is vir die lewe om te gebeur wyl ek vir die volgende ses maande deur Europa gaan toer. Ek is wel opgewonde om te deel dat ek sal vlog oor my reise in Italië, Spanje, Portugal, Griekeland, Kroasië, moontlik Slowenië, Engeland, Ierland, Skotland, Nederland, België, Duitsland – en die moontlikheid van ’n paar ander soos die wind my waai. Ek het nog altyd ’n ongelooflike wanderlust gehad, en het besluit dié gaan ek bevredig voor ek 45 jaar oud is. Ek sal my ervaring deel en mense kan my volg op sosialemediaplatforms om tred te hou met my reise. Ek sal terugkom vroeg in 2025, waarna ek beslis landwyd sal toer met my musiek soos op Harmony en Dis die dors, sowel as splinternuwe musiek soos deur my reise geïnspireer.

  • Fotografie: Nardus Engelbrecht
Lees ook:

Export quality: In conversation with Luna Paige about Harmony

Uitvoergehalte: Brixton Moord en Roof se Strate sonder bome

Uitvoergehalte: "Sal jy?" deur André Schwartz

Uitvoergehalte: “Wil jy sien hoe lyk die hemel” deur Christof Berg

Uitvoergehalte: Kirky van Kirkwood se "Song vir Ma"

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top