Uitvoergehalte: In gesprek met Arno Carstens oor Sewe sakke hoop

  • 0

Arno Carstens het ’n nuwe Afrikaanse kortspeler wat uitkom met die mooi titel Sewe sakke hoop. Die eerste snit “Hoe gaan dit” is reeds bekendgestel en die volle kortspeler is van 7 Junie af beskikbaar. Izak de Vries het hom hieroor en oor sy skilderkuns, wat op Instagram te sien is, ingevra.

Ek gaan nou sommer, tong in die kies, vra of jy nie ook politiek toe sal gaan nie, want wragtie sewe sakke hoop is presies wat die land nou nodig het. Dit was goeie tydsberekening! Hoe het dit gebeur?

Snaaks! Maar nee dankie, net sodra ek dink ek weet iets, vind ek uit ek weet niks. Ons het genoeg slim mense in wie ek krities vertrou.

Natuurlik gaan verhoudings gewoonlik oor die sewe sakke sout wat saam geëet moet word. Hoekom hoop?

Ek sien die albumnaam as iets wat ek kan gebruik om die musiek op te som en miskien ’n boodskap te stuur. In Sewe sakke hoop stuur ek een sak hoop vir elke dag van die week aan enigiemand wat dit hoor. Goeie wense is verniet.

Die titel van die kortspeler Sewe sakke hoop kom uit die lied “Sprokie”. Die musiek in hierdie sprokie is nie klokkies en marimbas nie, dis dissonante spronge en stiltes, gekoppel aan ’n dringende ritme wanneer die lied op dreef kom... Werk jy eers aan die woorde, of eers aan die lirieke?

Albei terselfdertyd. Daar is ritmiese woordgebruik gevolg deur lang note. Enigiets om monotonie te breek, maar tog natuurlik te klink. Die melodie omvou dan die lirieke. Die instrumentasie is die juwele en stiltes bou spanning.

Die lied besing tog ’n sprokie en daar is hoop. Tussen die dissonante klanke sê die spreker “geloof is al wat my na jou toe bring”. Sewe sakke hoop is vir my soos die pendulum in hierdie lied – dit swaai van wanhoop na hoop, is ek reg?

Korrek. Die lied is geskryf in die hart van lock down; daar’s ’n verlange na ’n normaliteit in die lied en ’n geloof dat alles reg kom soos die pendulum swaai.

Sewe sakke hoop begin met “Hoe gaan dit”, iets wat ons almal vir mekaar sê. In dié geval is dit juis ’n retoriese stelling, nie ’n vraag nie, want die lied handel oor ’n vriend wat baie ver is. “Ek sien jou min as jy om die draai bly, ek sien jou minder as jy oorsee loop.” Vir wie is dit geskryf?

Dis geskryf vir al my vriende oorsee. Ek weet hoe dit voel om daar te wees en hoe jy jou geboorteland mis. En ek weet ook hoe dit nou voel dat ek terug is en die spul nou daar is. Bietjie hartseer, maar nou kan Suid-Afrikaanse musikante lekker shows speel in Kanada, Ierland, die Verenigde Koninkryk, Australië... So, daar is onverwagse goed wat hier uitspruit.

“Nagblind” het ook ’n donker onderbou. “Daardie weggooidoek is nou my wintersbroek.” Jy speel dikwels met die “ekstase” en net daarna die onmoontlike seer. Dan soek ons weer hoop. Is ek reg dat hierdie sakke hoop wat ons moet eet, en soek, kan geld vir ons persoonlike verhoudings, maar ook ons land?

Nee en ja. Dis ’n verhouding met ’n teleurstellende geskiedenis. Of dit persoonlike of sekere ander situasies raak, is vir die luisteraar om te besluit. Ek het dit gesien uit die oë van ’n persoon wat al alles verloor het, maar besluit om die wêreld in ’n beter lig te sien. Die vraag ontstaan of hy miskien histeries ook kan wees.

Jou lied “Ligloop” gaan ook oor ’n verhouding. Dis nie maklik nie. Die twee skeur hulleself vir die ander een, maar hulle maak dit werk. Bliksem, dis ’n mooi lied. Hoe het jou naastes hierop gereageer?

My vrou en ek is al deur dik en dun. Ons verhouding het so verander oor die jare en as jy deurdruk, glo ek dinge kom reg. Ons is heeltemal ander mense vandag as jy moet vergelyk wat in die Heat Magazine in die early 2000’s rondgeval het. In “Ligloop” sing ek: “Ek skeur myself vir jou.” Dit is half lagwekkend en half tragies, en ek bedoel al twee.

 
 
 
 
 
View this post on Instagram
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 

A post shared by Arno Carstens (@arnocarstensmusic)

Die lied “Nou” sê “beeldskoon maak my oë seer”. Aan die begin is daar ’n onstuimige kitaarakkoord wat ’n bietjie soos ’n spookstem in die agtergrond bly... Later is daar ’n menslike stem wat agterlangs inval, amper weer soos ’n spookstem. Selfs die kitaar kom terug met ’n spookagtige stem. Dit is baie soos jou kunswerk The ghost within. Tog het “Nou” ’n klokhelder melodie.

Dis die talentvolle Fred den Hartog se produksie wat so met jou kop smokkel. Daardie lied is ’n baie impulsiewe stuk werk. Die lied het soos ’n Glee movie ontstaan. Fred het vir my die stuk musiek gespeel. Toe ek dit hoor, het die vocals dadelik daai lirieke begin sing. Wat jy daar hoor, is meestal in een dag gedoen. Ek is mal oor die chorus.

My vraag is: Hoe komponeer ’n mens vir die bewuste en die onbewuste gelyk?

Praat jy van jou gehoor? As dit so is, wel, jy komponeer eers vir jouself. As dit goed is vir jou, is jy driekwart daar. ’n Mens weet nooit of mense daarvan gaan hou nie, so maak seker jy hou daarvan. As jy praat van klank vir die onderbewussyn, dan gaan dit meer oor watter atmosfeer deur die woorde geskep word, wat dan die agtergrondklanke sal beïnvloed.

 
 
 
 
 
View this post on Instagram
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 

A post shared by Arno Carstens (@arnocarstensmusic)

In “Nagblind” sing jy van iemand wat ’n naam in neon op die muur graveer. Jou skilderwerk, te sien op Instagram, is besonders. In Neon haze is daar ’n mooi vrou met ’n zol, haar T-hemp het tekens van ’n skedel – die dood dus. Sou jy die spel tussen lig en donker in die musiek en die (helder) kleure van jou kuns met donker ondertone as komende uit soortgelyke poele van die onbewuste sien?

Ja, my skilderye en musiek se paaie kruis. Dit kom van dieselfde plek af. Ek hou van donker en bright, ’n interessante sin van humor met ’n titsel onverwags. Nie al my werk is neon nie, dis maar net soos ek die verfwêreld ontdek dat ek met verskillende idees speel.

Neon spook nogal in jou werk:

  • In Die aandblom 13 was dit die girl sonder brieke wat neon geskitter het in die hartseer lied “Chemikalieë”.
  • Way back when (in 2003) was daar “Neon girl” op jou eerste soloalbum Another universe.
  • Verder terug was daar “Blue eyes” van die Nudies.

Hoekom neon?

Neon is ’n fassinerende kleur, want dit pas nie noodwendig in ons natuurlike omgewing nie, so ek gebruik dit om miskien iemand te beklemtoon, of miskien om kontras te wys tussen nuut en oud.

In die dae van die Springbok Nude Girls was julle luid en hard, maar kompleks. Jou eerste soloalbum het nog baie klanke van ’n groot orkes bevat. In Die aandblom 13 het ons viole en dies meer gehoor. Sewe sakke hoop is veelvlakkig, maar dit klink of daar minder instrumente is wat meer doen. Is ek heeltemal verkeerd?

Die talentvolle Theo Crous wat van die songs produce het, het vir ’n minder volle klank gegaan. Daar is ’n goeie gebruik van stiltes om die woorde meer gewig te gee.

Die aandblom 13 is in 2016 bekendgestel. Wat hou jou sedertdien so besig? Of anders, hoe verloop ’n “normale” dag in jou lewe?

Aandblom het ek ’n Engelse soloalbum gemaak en ons het ’n Springbok Nude Girls-album uitgereik wat ’n SAMA gewen het. So, ek bly besig. Daar is nog projekte aan die werk en ’n lekker Engelse rockprojek aan die einde van die jaar.

Jy het darem al op groot verhoë opgetree. Toer jy nog baie oorsee?

Yes, ek probeer elke jaar gaan speel vir die Scatterlings of Africa en oorsese gehore.

 
 
 
 
 
View this post on Instagram
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 
 

A post shared by Arno Carstens (@arnocarstensmusic)

Tweede laaste vraag: Van jou skilderye herinner my aan Breyten Breytenbach, maar hulle is tog ook behoorlik jou eie werk. Wie is jou muse?

Ek het ’n fassinasie met pragtige foto’s. Ek maak als bymekaar vir toekomstige collages en soms gooi ek goed bymekaar en dit gee my idees. Uiteindelik inspireer alle kunstenaars mekaar en vloei ons maar net waar die verf ons vat.

Laaste vraag: Wie is tans jou musikale muse?

Sjoe. Wel, daar is ’n kunstenaar Lil Yachty wat ’n album gemaak het Let’s start here. Die album se produksie is ongelooflik. Wat ek hou van dit, is dat hy ’n rapper is, maar hierdie album is iets buite sy vuurmaakplek en dis wat dit so verrassend en vars maak. Hy moes ’n Grammy gewen het. Hy is nie noodwendig my muse nie, maar hy het my respek. So, goed vir hom. In die Suid-Afrikaanse musiek het Worsie van Wyk se “Oerknal” my laat regop sit, dis briljant. Nie almal se smaak nie.

  • Foto’s verskaf.

Lees ook:

Uitvoergehalte: ’n Onderhoud met Frieda van den Heever oor haar album Spoorsny

Uitvoergehalte: In gesprek met Luna Paige oor Dis die dors

Uitvoergehalte: Brixton Moord en Roof se Strate sonder bome

Uitvoergehalte: “Wil jy sien hoe lyk die hemel” deur Christof Berg

Uitvoergehalte: "Sal jy?" deur André Schwartz

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top