Frieda van den Heever is ’n bekende stemkunstenaar en ’n groot gunsteling onder luisteraars van RSG. Hoewel sy al lank musiek maak, het Spoorsny, haar eerste groot album, nou ál die belangrike musiekplatforms getref. Dit is goeie musiek, met woorde wat ’n mens lank bybly en weer laat luister, dan weer.
Izak de Vries het met haar gesels ná hy die album ’n goeie klompie kere deurgeluister het.
Ek gaan baie bewustelik by die eerste snit begin, “Bon voyage”, die een wat jy skynbaar laaste opgeneem het saam met Die Heuwels Fantasties. Reise, om te vlieg en te stap, om te beweeg van een plek na ’n ander, is deurslaggewend vir die hele album. Hoe het dié snit, en die lieflike video, tot stand gekom?
Ek het regtig my verbeelding vrye teuels gegee en hierdie song laat ontvou soos hy wou. Ek het probeer “gaan” waarnatoe ek nie wil nie – vlieg … Ek is oor die algemeen glad nie ’n bang mens nie en het nie eintlik enige paranoia nie, maar ek het ’n soort angs oor vlieg – in ’n tuig. Ek dink daar sit nog trauma in my lyf vas na ’n slegte ondervinding. In elk geval, die song druk iets uit van die kortstondige, soms broodnodige troos wat lê in ontsnapping van die harde realiteit. Van die stryd wat ons voer teen die flatline, die wil om oorlewing, om nie koud gekry te word terwyl jou hart nog klop en jou brein nog golwe maak nie. Die verlange om dood te gaan maar nie dood te bly nie. Die droom om te kan vlieg met voete. Dis ook ’n klein ode aan Underworld se “Born slippy” (1996), eintlik Trainspotting in sy geheel, waarin ek hierdie track die eerste keer gehoor het en wat onuitwisbare merke op my jong gemoed gelaat het.
Die vrystelling van die album was eintlik met maande uitgestel omdat ek so opgesien het na ’n video maak. Ek weet dis soort van deel van die pakkie van publisiteit en goed, maar ek is nogal kamerasku en sou eerder wou hê iemand anders moet daarin speel. Toe besluit ek om mense te vra wat my goed ken en wie ek liefhet en gelukkig ook groot waardering en respek voor het op ’n professionele vlak. Ek en Jozua Malherbe en Rolanda Marais-Malherbe het gaan sit en idees uitruil en met ’n baie klein begroting en ’n baie groot gelukskoot – Joz moes ’n peperduur Ferrari van ’n kamera (ek dink dis ’n Sony) uittoets en terugvoer gee – kon ons toe hierdie video in ’n dag skiet. Die Malherbes is ’n gedugte span as dit kom by look & feel, en die atmosfeer wat hulle saam met Lourens van Rensburg en die produksiespan van 7flims geskep het, het my en Pierre (Greeff) die vryheid gegee om net te kon speel.
Die video van “Bon voyage” is ongelooflik goed gemaak. Teen die heel einde beweeg die vroulike figuur (jy) uit haar kassie en beweeg aan. Om weg te breek uit die bekende, uit te breek, uit ’n kas te klim, is ook iets wat nogal gereeld in die album voorkom. Vertel ’n bietjie meer?
Ja, mooi geluister. Ek het dit self nie eens besef nie. Ek dink nie dis iets wat enige mens vanself kies nie. Dit vat ’n wake-up call van binne of buite om mens tot genoeg stilstand te ruk om te besef jy moet weer beweeg. “A self that goes on changing is a self that goes on living,” sê Virginia Woolf. Auden het geskryf dat ons eerder geruïneer sal word as om te verander, dat ons eerder sal doodgaan in ons vrees as om die kruis van die oomblik te dra en ons illusies in die gesig te staar en te laat sterf.
Antjie Krog het iets geskryf wat my ontstig en rig:
ek wil gepor, gekneus en oopgeruk word
deur ander maniere van dink ek wil
beheer opgee, my uitkyk ontwrig, al
my sekerhede moet skipbreuk ly ek
wil in ’n deurlatende vel stap, my oorgee
aan wat anderkant “ek is” leef –
sonder dié permanente haag
van mag en pantser van blinde ekheid.
Jy kan sien dat ek baie hulp van buite moes kry om hierdie ongemaklike kopskuif van die swart-en-wit tot binne-in my grysstof te kry. Ek het vir lank vasgevang gevoel in my nuwe werklikheid van 2021 af – in my huis, my skedule, my verantwoordelikhede. As ek ’n greintjie minder verantwoordelikheidsin gehad het of nie deur die ouers grootgemaak is wat my grootgemaak het nie, sou ek maklik kon weghol. Ek het ’n rebelse, roekelose streep as ek ingehok voel. Ek het egter besef die uitbreek moet binne-in my gebeur. Ek sal die mure van my verstand moet afbreek en vryheid vind in toewyding, skepping, die misterie van die alledaagse.
’n Deel van Spoorsny het weggeloop uit jou produksie Skoonveld wat by die Toyota US Woordfees opgevoer is. Hoeveel van die oorspronklike produksie het op die album beland?
Al 11 snitte was in Skoonveld. Ek het drie liedjies van die produksie uitgelaat vir die opnames.
In Skoonveld het jy saamgespan met Schalk van der Merwe, Frank Freeman, Annemie Nel en Marina Louw. Wie het met jou saamgewerk op Spoorsny? Ek kon nie ’n lys kunstenaars opspoor nie.
Fred den Hartog het ses van die snitte vervaardig en omtrent al die kitaarspel op die album self gedoen.
Johnny de Ridder het die ander vyf snitte vervaardig, en onder die wakende wakker oor van Jürgen von Wechmar van Sunset Recording Studios was ons in veilige hande.
Die musikante wat op die album gespeel het, was Sheldon Yoko op tromme, Anjulie de Nock op tjello; William Haubrich het die blaasinstrumente gedoen en Simon Orange het die orrel gespeel op “Branders ken strande”.
Skoonveld is afgehandel. Jy is óf skoonveld, óf jy is nie. Maar iemand wat spoorsny, is bewustelik besig om te soek, om te beweeg. Hoe het dinge in jou kop verander om van Skoonveld na Spoorsny te beweeg?
Skoonveld het eensklaps te hard en meedoënloos geklink, amper soos die manier waarop verlies en leemte mens op sommige dae tussen die oë tref. Ander dae is dit sag en byna-byna mooi. Nie so weg soos gister nie. Ek het ’n onmiddellike sintuiglike verband met die woord “spoorsny” gevoel. Nie intellektueel nie, in my lyf. My reuksintuig is baie sterk, selfs skerper ingestel as my gehoor, en daar is iets instinktief daaraan. Dis ’n wilde oerbesigheid. Dis nie iets wat ek uitdink, beplan, vermy, bereken of manipuleer nie, dit ís net. En toe ek in Louis L’Amour-boeke lees van “cutting for sign”, het ek geweet dit lei my iewers heen. Spore is nou hier en dan nie. Spore is aan’t beweeg. En spore is ook “tracks”. Soos op albums. Ek het iewers gelees iemand skryf dat monumente sê: “Ten minste het ek tot hier gekom.” Spore sê: “Hier’s waar ek was toe ek weer beweeg het.” Ek sou nie iets monumentaal oprig met hierdie album nie; eerder momenteel. ’n Oomblik vasvang en dan stil-stil weer beweeg.
Ek het ook so ingebore agterdog teenoor enige ding wat nie twee is nie. Wat nie ruimte het vir paradoks nie. Skoonveld was vir my te één. Spoorsny het ruimte gelaat vir oënskynlike teenstellings – waar die één die sáám ontmoet. Die verlange om te ontsnap en om by die huis te kom, om te vlieg en om te land, om te vergeet en om te onthou, om los te breek en vas te hou – die paradoks van menswees.
Ek wil sê dat hier dalkies protesmusiek te bespeur is – hoewel baie subtiel. As dinge nie gesê kan word nie, moet hulle maar gesing word? Hoe sien jy die rol van die kunstenaar – ’n figuur wat bewustelik voorkom in Spoorsny – binne ons vreemde samelewing?
Ek het al vantevore meer onsubtiele protesmusiek geskryf as wat ingesluit is in Spoorsny. Meer gerig op die landskappe buite my – die buurt, die stad, die land. Hierdie album se kaart, of die kaart wat die album gemaak het, was een van die binnelandskap. As mens egter die etimologie van die woord “protes” insleep – om iets na vore te bring in die publiek, ’n soort getuienis – is daar dalk wel subtiele protes te bespeur.
Daar is, nou dat ek daaroor dink, oral sosiale kommentaar ingesluit in die lirieke – die patriargie, die breinspoeling van georganiseerde geloofsgroepe waar mens nie leer om vir jouself te dink nie, witbrood-onder-die-arm-klaagliedere, real estate; fake asem ... maar ek het nie gaan sit met die doel om protesmusiek te skryf nie. Ek het nie eens gaan sit as ’n kunstenaar wat ’n rol moet speel of vervul nie. Daar was ’n soort emosionele oorlewingsdrang ter sprake, vermoed ek, en as mens dan werklik sonder om doekies om te draai uiting kan begin gee aan die diep persoonlike, kan dit universeel resoneer. Anne Michaels het geskryf: “The dead leave us starving with mouths full of love”, en ek skat al daai liefde kan mens versmoor as jou mond dit nie kan uitstort nie – skree, huil, sing ... Ek het gaan sit om van ’n soort pyn ontslae te raak, en toe ek agterkom ek kan nie daarvan ontslae raak nie, moes ek vrede maak daarmee dat dit ’n kreatiewe aanbod kan wees, soos Leonard Cohen my geleer het: “Whatever pain you can’t get rid of, make it your creative offering.”
Jou eie lewe is omgekeer toe jou geliefde oorlede is. Toe ons die lied “Huil maar” die eerste keer hoor, het my geliefde gewonder of jou kinders al groot genoeg is om ’n opinie te hê oor jou musiek?
O, hulle’t baie opinies, orraait. My oudste is nou 10 en sy ma is eintlik op hierdie stadium vir hom ’n groot embarrassment, terwyl my vyfjarige nog met my wil trou. As my jongste ’n bietjie omgeëllie is, vra hy somtyds of hy “een van Mamma se liedjies” kan luister – hy moes dit noodgedwonge aanhoor terwyl ons besig was met die opnames en ek in die kar daarna moes luister (vir veranderinge, verbeteringe, intonasieglipse ens), maar verder luister ons nie daarna by die huis nie. Hulle het by die skool gehoor van die musiekvideo en toe het my oudste my so skuins gekyk en gesê: “Is jy nie bietjie oud vir sulke goed nie, Mamma?” So daar het jy dit. Die musiek klink ook nie soos die meeste van die musiek waarna ons saam luister nie.
Die toestemming wat “Huil maar” gee, is wel iets wesenliks in ons huis. Die seuns was bevoorreg genoeg om ’n paar jaar te kon hê saam met ’n pa wat nie skaam was om met sy hart op so mou te loop nie. Hy het sommer aan die tjank gegaan vir enigiets wat mooi of eerlik of hartseer is.
Ek het amper nie die snit ingesluit by die album nie. Dit het “te maklik” gekom – seker in 10 minute geskryf – en ek het gevoel daar’s nie genoeg vleis aan nie. Of te min chilli ... ek weet nie. Omdat dit geskryf is vir ’n kind, vir my kind. Maar die eenvoud het my getroef en toe sluit ons dit tog in. Ek het wel seker ’n jaar nadat die video van “Huil maar” op YouTube gesit is, gesien daar’s ’n comment met my foonnommer by: “mamma ek is lief vir jou en pappa”, so hy het dit gesien en hopelik ook gehoor. Die eerste woorde wat oor my lippe gekom het na die dokter my man dood verklaar het, was: “Wat gaan ek vir my kinders sê?” Later het die vraag verander na: “Wat gaan van hulle word?” My vraag het intussen verander na “Wie gaan hulle word?”, en ek bly meer nuuskierig as voorskriftelik daaroor.
“Huil maar” is egter nie net vir kinders geskryf nie. Ek dink ou ooms soos ek moet dit ook ter harte neem, nie waar nie?
Ja, ek dink te veel mans moes hoor “Sluk jou trane” of “’n Ware man tjank nie.” Trane – nie net in die uitdrukking van woede nie (so irriterend as mens kwaad is en die trane kom, nè?), maar in die verwerking van woede, kan alchemies wees. David Whyte se essay oor “Anger” bly vir my ’n groot pasaangeër in hierdie verband. Hy begin deur te sê woede is die diepste vorm van omgee. Verder glo ek werklik in die genesende krag van soutwater – die see, die sweet, die trane.
“Huil maar” het natuurlik ’n direkte godsdienstige strekking: “Want hy weet hoe dit voel / sy pa het hom ook eens verlaat / hy’t ook getjank / hy was in doodloop, daai straat.” Vertel meer?
Die uitroep “My God, my God, waarom het U my verlaat?” is vir my die ultimate liefdesverklaring. Om uit te roep na iemand wat nie teenwoordig is nie. As jy die God wat weg is, of van wie jy weg voel, kan aanspreek op so ’n intieme manier met soveel vuur in die oomblik wanneer jou flatline naby is. Dit was egter meer as ’n godsdienstige verwysing. My man het ook een sop ’n tyd sy pa aan die lewe afgestaan en dis ’n ander soort doodloop, daai straat.
Dié van ons wat jou al lank volg, onthou kassette (!) met interessante, alternatiewe gospelmusiek op. Ek is nie seker dat Spoorsny gospel is nie, maar daar is ’n baie sterk resonansie én vrae te bespeur rondom godsdiens. Lees ek dit reg?
Ja, ek dink dis veilig om te sê my alternatiewe geestelike musiek sou ook nie hulle pad na die gospelrak in CUM gevind het nie. Mens kan mos gospel op ’n afstand ruik. Ek dink die klank was effe te Oosters vir mense se gospel-ore. Vreemd, nè – dat note en akkoorde op dieselfde instrument verskillende gewaarwordings in mense kan losmaak en dat ons so gebreinspoel is om dan te dink ’n klank het ’n godsdiens.
Ek skryf nie met ’n spesifieke oogmerk in gedagte nie. Ek skryf nie om iemand anders van iets te oortuig of om iemand in die “hemel” te kry nie. Daar’s net sekere verhale, boeke en dan die Woord wat so deel is van my vlees dat ek nie enigiets eerlik verwoord sonder dat dit spontaan in my gebeentes weerklink nie. God het seker geweet ek gaan aan die slaap raak in die kerk as (goedkoop) antwoorde die enigste predikant is. Ek bly wakker in die teenwoordigheid van goeie vrae, dialoog, diskoers. Ek moet kan (geh)oor gee. Anders sou ek al lankal opgegee het. “Ek loop my uitroeptekens krom” en leef met vrae.
Baie van die liedjies op Spoorsny is gebore in en saam met die geloofsgemeenskap waar ek my bevind. Ek het gou besef dat daar vir my net twee moontlikhede is in die kerk: Óf ek bly eerlik, vra vrae, worstel en aanbid in dieselfde asem en vertrou maar dat die mense my sal vat soos ek is, óf ek hou ’n front voor, maak asof God se bors van porselein gemaak is, lyk soos die son maar kruip weg in die donker dat mense nie my skaduwees kan sien nie, en verlaat die gekkespul na ’n warm minuut.
There is a wild woman under our skin who wants nothing more than to dance until her feet are sore, sing her beautiful grief into the rafters.
And if you are able to sing from the very wound that you’ve worked so hard to hide, not only will it give meaning to your own story, but it becomes a corroborative voice for others with a similar wounding.
Toko-pa Turner, “Belonging: Remembering ourselves home”.
Wat kan ons volgende van jou verwag op jou musikale reis?
Seker maar nog ’n paar spore. Ek weet self nie. Ek leef eerlikwaar soos ’n Boeddhis as dit kom by (die tirannie van) verwagting. Ek het nie baie nie en dié wat mense van my het, probeer ek ook bestuur. Ek het onlangs die boek Grit deur Angela Duckworth gelees en begin wonder of ek nie ook maar my duisend ure moet insit, meer doelwitte stel en met vyfjaarplanne opkom nie. Ek het dit vir so ’n paar oomblikke oorweeg en toe het my waters troebel geraak tot ek verder gevloei het. “Ease creates, urgency destroys,” sê Nancy Kline. Eb en vloed, seisoene, die ritme van genade het my nog nooit laat val nie. Nee wag, dis ’n gevaarlike standpunt. Nog nooit so hard laat val dat ek nie weer kon opkom nie. Letsels is een ding, beletsels ’n ander ...
Maar, so met my lewe wat aan ’n draadjie hang, skryf ek darem al weer nuwe songs en as ek lewe en gesond is en my kinders se emosionele welstand dit toelaat, sal ek nou en dan hierdie jaar die musiek by vertonings en feeste deel.
Lees ook:
Uitvoergehalte: In gesprek met Amandala oor "Bloukopkoggelmander"