Vorige bure van ons in die Strand het vir meer as ’n dekade ’n strandhuis op Pearly Beach gehad. Dit was altyd ’n grappie dat jy van een see (by jou huis) ry na die ander see (jou strandhuis), maar dit is steeds die Atlantiese Oseaan. Ek ken nie die plekkie nie, maar weet hulle was altyd baie uitgerus en kalm ná ’n paar dae aan die kus. En net daar pak ons die motor vir ’n kuier om te gaan sien wat nou eintlik die geheim daar is.
Die pad na Pearly Beach – ’n klipgooi anderkant Gansbaai – is een van die mooistes wat jy seker in die Wes-Kaap kan ry. Eers is dit oor Sir Lowry’s-pas dat Tafelberg in jou agterruit klein word, dan deur die appel- en peerboorde van die Elginvallei voor jy gaan bene rek by Benguela Cove Wynlandgoed en sommer ’n kaasbord saam met ’n glas van hul bekroonde Benguela Cove Joie de Vivre Brut Cap Classique 2019 geniet. Dit was skaars drie maande gelede dat dié vonkel by die gerekende Veritas-toekenning die Duimpie Bayly Veritas Vertex-toekenning as die algehele kampioen ingepalm het.
Gaan stap rustig op die landgoed rond met die ligte windjie van die meer en see se kant voor jy in die skaduwee gaan sit met sterk koffie en iets soets, tot jy Hermanus en Stanford deur kronkel.
Pearly, soos ek hoor die locals dit noem, is ’n ware vakansiegangerparadys. Die strande strek amper nimmereindigend na weerskante, die visvanggeleenthede is soos op min ander plekke en die dorpie het selfs sy eie bierbrouery met ’n reuse-pizzaoond.
Ek het iewers gelees dat dit juis daardie nimmereindigende strand is wat een man só bekoor het dat hy dit vergelyk het met pêrels wat in die son skitter en dat die dorpie sy naam hieraan te danke het.
Dié man, Charlie van Breda, het meer as ’n eeu gelede vakansies op die plaas, Hagelkraal, deurgebring. Dit was sulke goeie tye dat hy besluit het om ’n plaas te koop en ’n kampplek naby die strand gebou het. Hy rig ses rondawels op en vakansiegangers en hengelaars kon in die rondawels bly of hul tente op die oop stuk grond daarnaas opslaan.
Hy noem dit Afsaal en ek kan nogal dink ná ’n lang jaar op die plaas het mense inderdaad hier kom afsaal vir kop skoonmaak en batterye herlaai. Natuurlik ook nie sleg as jy hou van visvang en die see so mildelik galjoen, kabeljou en witsteenbras aan jou lyn haak nie.
Dit bly natuurlik nie lank ’n geheime wegbreekplekkie nie. Die gewildheid neem toe en Charlie besluit om sy plaas te onderverdeel en ’n klein dorpie spruit spontaan daaruit. Teen die middel van die vorige eeu word sy eiendomme op ’n veiling verkoop en die nuwe eienaars is Jerry Puren, sy broer en ’n paar ander mense. Jerry was ’n bouer en het al die oorspronklike huise daar gebou. Hy open ook ’n winkeltjie by die kampterrein, wat vandag bekend staan as die Oord en deur sy dogter, Nelia Koekemoer, bestuur word, en hier kan jy waarlik enigiets koop.
Nelia en haar man, Jan, het mettertyd die helfte van die kampterrein in erwe laat onderverdeel om die Oord te bewerkstellig. Jy bly as’t ware op die strand.
Vriende bel voor ons behoorlik nesgeskop het en sê ons moet hulle ontmoet vir iets te ete en drinke by een van die wynplase op die Agulhas Wynroete (AWT) wat vyf jaar gelede gestig is as ’n nie-winsgewende maatskappy om die wyne, toerisme en natuurlike skoonheid van die Agulhas-area ten toon te stel.
Die AWT-lede verteenwoordig die streek se gunstelingwynkelders: Lomond van Kaap Agulhas; The Berrio; The Drift Estate; Skipskop Wines; Fortes Family Wines van Napier; Black Oystercatcher Wines; Ghost Corner; Land’s End; Strandveld Vineyards; The Giant Periwinkle; Zoetendal Vineyards; Trizanne Signature Wines van die Elim-wyk; Sijnn Wines van Malgas en Olivedale Private Vineyards van Swellendam. Heelwat van die kelders is binne 40 km van ons voorstoepie af, maar ons het ’n yskas vol lekkernye, selfs vis by die Gansbaai-hawe, opgelaai vir vroegaand braai en verskeie wyne van Lomond en gaan nêrens nie.
Ek moes lag toe die vrou by die hawe vir my sê: “Gansbaai is net oor vis en visvang – en haaikyk. Selfs die mall is Great White Junction!”
Die lattedakkie van ons ruwe buitestoep gooi laatmiddag patrone oor my sonhoed. Die windjie speel aan-aan met my boek se bladsye en dwing my om dit neer te sit en eerder na die hipnotiese golwe te kyk. Die druppeltjies loop strepies teen my glas gin en tonic af. Kort-kort swiep ’n swaeltjie laag oor die grond om bekkies vol water uit plassies van laasnag se reënbui te skep.
My geliefde kom verby met sy swembroek en handdoek en nooi my om saam te stap. Op die pêrelwit strand waag ek my voete in die water. Dan val my vriendin se woorde van die “buierige Atlantiese Oseaan” my by en ek onthou dat ons maar skraps anderkant Hermanus is hier, wat beteken die water is nog koud. Agulhas, waar die oseane ontmoet, is nog bykans 80 km verder oos.
Benewens die dreunende see wat soos ’n groot drakesnork ritmies opklink, seemeeue in die verte en ’n vlagpaaltou wat in die briesie trommel, is dit die tjiep-tjiep van die swarttobies.
Tobies vlieg soos wafferse Top Gun-vlieëniers formasies in die lug: eers vinnig oor die sand, dan kringe teen die blou, dan so laag oor die rotse dat jy dink hul pensies gaan teen die skerp punte skraap.
Ek onthou ’n onlangse besoek aan De Hoop Natuurreservaat se nuwe privaat villa. Die marienegidse wat ons vir die dag rondgeneem en die oseaan en rotspoele se wonders aan ons uitgewys het, het vertel: “Swarttobies se wyfie het ’n lang, dunner bek. Sy maak skulpdiertjies los en die mannetjie breek dit oop. Hulle werk in perfekte harmonie en die liefdesverhouding duur ’n leeftyd.”
As ek kyk na die patrone wat die paartjies teen die lug maak, lyk dit asof hulle baie goeie lewensmaats is.
Ons het ook geleer dat die kuikens kan swem en vlieg by geboorte, maar later hul vermoë om te swem verloor.
Die lug is oranjepienk toe die vuurtjie knetter en die knoffel en suurlemoensap en botter oor die dik, heel vis drup. Die soetpatats in foelie prut eenkant in die kole en die saligheid oorval ons.
Laataand met ons mage vol en ons lywe lui, kyk ons sterre deur daardie lattedak en dit lyk of dit liggies teen ’n donker plafon is.
Saterdagoggend is ons vroeg op die stoep met koffie en dan dorp toe na die Pearly Beach-klub soos jy die dorp inry, wat ’n miernes van bedrywighede is. Dis tyd vir die plaasmarkie en dis ook dié plek vir ontbyt op die dorp.
Ek moet lag toe ek die twee opsies op ’n swartbord neffens die kombuis sien: babelas of classic. Niks meer nie, niks minder nie. Dis ook blykbaar die beste plek vir vis en tjips.
Ons koop beskuit en ingelegde produkte en lekker donker heuning, terwyl die reuk van pannekoek ons neuse terg. Dis beslis die dorp se kuierplek en hoewel dit 30 jaar gelede as hengelklub ontstaan het, is almal vandag welkom, hoor ek by die kroeg toe ons ’n glas koue witwyn bestel, terwyl ons name al hoër op die pannekoek-waglys kruip.
Ons vind ook daar onder die “vistermanne” uit dat jy altyd moet seker maak dis die regte seisoen voor jy lyn natmaak en dalk iets onwettigs uittrek. Jou kanse vir steenbras, kabeljou en galjoen is die beste by Blouwaterbaai of Spykerbaai. In die somer is dit tyd vir kabeljou. Steenbras, mosselkraker en galjoen byt regdeur die jaar.
Ek sê ons vang nie vis nie, maar geniet ’n mooi sononder op ons kampstoele met ’n glasie in die hand en ’n peuselding in die kies. Ek word met ’n koor begroet. Die beste plekke daarvoor is Castle Beach, Blouwaterbaai, Spykerbaai of voor die oord. Ek hou daarvan; voor die oord is voor ons huisie!
Met ons kaneelsuiker-buit in die hand, kies ons koers strand toe. Ek merk teenoor my bejaarde pa op dat ek lanklaas so baie padtekens van ’n ander aard gesien het: eers is dit vir skilpaaie, dan walvisse, dan visvang en dan later borde vir swarttobies.
Ons gaan stap ver op die wit sand. Die see spoel so af en toe oor ons voete en wis ons voetspore uit. My pa kom ewe wys met die woorde: “Ja, dis die lewe, nè? Jy kan net vorentoe. Dit wat agter jou lê, is op ’n manier reeds uitgewis.”
Dis laatmiddag toe ons by die Whale Coast Brewing Co instap vir ’n lekker wegneem-pizza. Ons het dan nou gehoor die beste plek om die son te sien ondergaan, is op ons eie stoepie, maar mens moet darem eet ook! Ons bestelling is geplaas en ons stap oor na die Pearly Beach-gemeenskapstuin wat 12 jaar terug tot stand gekom het. Dit bestaan uit ’n oulike fynbossentrum en Herbarium wat albei gratis is om te besoek. In die sentrum is die streek se fynbos in klein potjies uitgestal en jy lees meer oor die plante voor jy buite in die tuin sien hoe welig die fynbos groei.
Die walvisstandbeeld buite is ’n lekker aanduiding van hoe groot dié pragdiere is en as jy gelukkig is om tussen Junie en November te kom kuier, is die baaitjie hul speelplek.
Toe ons terugstap, is daar net genoeg tyd om die eienaars en brouer Jacques le Roux, sy dogter Kayla en skoonseun Stavros Pastellides te ontmoet en ’n proebord met hul biere te proe. Dis natuurlik net die regte pasmaat vir ons pizzas en met ’n vierpak onder die blad kies ons koers huis toe.
Die sonsak-sit met ’n sopie, die kleurespel teen die hemel, die sterre wat een-een aan die hemele kom hang, is ons weer beskore. Die luggie is koel om ons skouers toe ons laataand kersies aansteek en kaartspeel met die reuk en klank van die see op ons neuse, tonge en ore.
Sondagoggend is ek lui en besluit om met my boek en koffie terug te klim in die bed. My pa volg my voorbeeld, maar my geliefde is avontuurlustig en gaan verken die omgewing op sy fiets.
Ons braai vir oulaas met die branders wat skuimend wit op die potblou waters breek. Die swarttobies dans; die seevoëls sorg vir ’n lugvertoning.
Ek verstaan heeltemal hoekom ons bure destyds so pienkwang en uitgerus huiswaarts gekeer het ná net ’n paar dae by hierdie “ander” see.
- Foto’s: Clifford Roberts