Wonderlike Wolseley in Witzenberg

  • 0

Draai ’n slag in by Wolseley en ontdek ’n ware verborge juweel.

Neem jou passer en sit dit op ’n kaart van die Boland en binne ’n baie klein kringetjie rondom Wolseley, daar aan die voete van die Witzenberge, sal jy verras word deur verskeie verborge juwele. Dis boonop minder as 90 minute buite Kaapstad en ’n lekker gesinswegbreek vir ’n naweek.

Natuurlik skiet die meeste mense verby na “mooier” en bekender buurdorpe, soos Tulbagh, Ceres of Worcester, maar dié wat hier gaan verpoos, gaan ryklik beloon word.

Plaasverblyf is dié manier om die omgewing op sy joviaalste te ervaar. Gooi jou swembroek in, laai jou fiets of kajak op jou dakrak, en druk sommer bordspeletjies in die kattebak, vir daardie lang aande om die braaivleisvuur met jou gesin en vriende.

Wysheid teen die muur

Ons arriveer laatoggend by ons verblyf by Witzenberg Guest Farm op die Boontjiesrivierpad, net anderkant ’n bordjie vir Fynbos Guest Farm & Animal Sanctuary. Maar daaroor later meer.

Die gastekamers

Die gastekamers is almal langs mekaar ingerig, met groot onderdakstoepe wat uitkyk op die dam. Teen die regterkant is ’n potblou swembad wat vir my knipoog in die somerson, maar die lekker ontbyt by The Creative Hub op die R43 voel nou lank-lank gelede en ons pak af, sit ons koue goed in die yskas en kies koers na Bosjes.

Uitsig oor die dam

Die een voordeel van The Creative Hub is dat jy dit nie kan miskyk nie, maak nie saak hoe vinnig jy verby gly in jou lugverkoelde motor nie. Die groot draak langs die pad wat Patrick Chipangula en sy span uit gebruikte dromme, gasbottels en motoronderdele maak, staan trots in die vlaktes vir almal om te sien.

Ons ry weer by die bordjie “Welkom in Chenin country” verby en my mond water sommer vir die yskoue wyntjie wat ek binnekort gaan geniet.

Elke keer as ons by Bosjes gaan kuier, is daar iets nuuts om te ontdek. Die pragplaas is maar ses jaar oop vir die publiek, maar hier word gewoel!

Die kapel

Die nuwe ingang en nuwe spa is albei oop, en terwyl die wag ons lisensieskyf skandeer, maak die water patrone teen die onderkant van die kapel se dak. Van die hoek waar ons sit, so oor die wingerde, lyk die gebou soos ’n groot inkvis wat na jou aangeswem kom.

“Hy sal jou dek met sy vlerke.”

Ons gaan stap eers weer deur die spirituele tuin na die kapel toe. Alle geskrifte kennisgewings in die tuin is in Engels, Afrikaans en Braille. Die water om die kapel is spieëlglad en dit lyk kompleet soos ’n groot wit voël wat weerspieël word in water as jy mooi kyk. Ek trap oor die bronsinsetsel van Psalm 91:4 in die sementpaadjie: “Hy sal jou dek met sy vlerke, en onder sy vleuels sal jy skuil.” Dit is waarvandaan die inspirasie van dié argitektoniese wonder kom.

Middagete by die spens

Ons stap met die paadjie terug na Die Spens, wat half in die grond gebou is en jou soos ’n karakter uit Lord of the rings laat voel. Een vrou agter ons verklaar: “Bosjes is die Witzenberg se eie Kirstenbosch.” Raar maar waar!

Dis koel en stil daar binne. Die pienk melkskommel is ’n lafenis teen die hitte, en die Oosterse varkliesroerbraai is vol vars gemmer, sojasous en knoffel.

Emma Laverlot kom staan by ons tafel en vertel kortliks meer oor die plaas, wat deur die Bothas en Stofbergs besit word, en sê een van die redes hoekom daar nie hordes bordjies en kaarte buite in die tuine is nie, is dat alle oë op die kapel moet bly. “Dis Bosjes se kroonjuweel.”

Die plaas is baie kindervriendelik, en daar is nie net speelparkies wat deur bekroonde landskapargitekte ontwerp is nie, maar ook baie lopende water in leivoortjies, dammetjies en fonteine, en piekniekplekkies waar gesinne en vriende in die natuur aan die voete van die Waaihoekberge kan ontspan.

Die plaas se wyne word deur buurplase gemaak en die Bosjes White is Chenin-gedrewe en heerlik. Mens se oë trek ’n ietjie vaak ná ’n lekker maaltyd, en die feit dat die luukse verblyf met sy 12 kamers van wisselende groottes en aanslag tussen twee geboue en ’n spa net verder op agter die tuine is, help natuurlik nie as jy moet aanskuif nie!

Die oulike kaart verduidelik die pragtige mosaïekmuur by Bosjes.

Gelukkig is die aanskuif net so lekker. Ons kry elkeen ’n oulike pamflet met kitsfeite oor die plaas, waar ek onder meer uitvind dat die blou-en-wit-mosaïek-“Boom van die lewe” by die restaurant uit 366 handgemaakte teëltjies bestaan en dat dié getal hulde bring aan die skrikkeljaar (2016) toe die plaas se vernuwing begin het. Die ontwerp verteenwoordig die mense, diere en plante wat hierdie plaas hul tuiste noem.

Ek lees ook daar is drie kameelperde op die plaas met die name Tina, Kobus en Jody, en dat die staproetes baie gewild is en die fietsroetes wat van hier tot by Rietdakkies Padstal strek, ook ’n fietsryer se droom is.

Voor ons verder ontdek, loer ons gou by Wolseley Toerismeburo in Voortrekkerstraat in, waar Chanel Erasmus, die toerismebeampte, se entoesiasme my onkant vang. Sy is ’n ware ambassadeur vir haar streek. Toe ek vra wat Wolseley van sy buurdorpe onderskei, glimlag sy groot. “Ons het baie hidden gems – moenie vir ons vlak kyk nie. Hier is nie ’n lelike view in hierdie vallei nie. Hier is ’n mooi uitsig, pragtige, natuurlike fiets- en staproetes en ’n warm swembadjie voor jou deur wat mense laat terugkom keer op keer.”

Die blokhuise buite die dorp is beslis ’n besoek werd.

Sy rits hulle af: Olive Rock se kosaanbiedinge, Bergsig se port- en sjokoladeproe, jou eie vrugtepluk by Hoogwater, perdry-uitstappies en Adene’s Farm Flowers op Platvlei-vrugteplaas met sy tonnels vol dahlias, wynproe by een van die wynroetelede, die natuurlike waterskeiding wat die Berg- en Breërivier skei – een van net twee sulke skeidings in die wêreld. En ook dat jy beslis ook nie die geskiedkundige Blokhuise buite die dorp by die ou staalbrug moet misloop nie. Slegs 441 van hierdie blokhuise is vanaf 1900 gebou om diens te doen in die Anglo-Boereoorlog. Dié blokhuise is in 1901 opgerig en is dus 123 jaar oud. Die ontwerp is ontwikkel deur die weermag se hoofingenieur in Suid-Afrika, Elliot Wood, wat dit gebaseer het op ’n soortgelyke patroon wat hy gedurende die 1880’s in Soedan gebruik het.

Baie van hulle is afgebreek en min is so goed bewaar soos die twee op privaatgrond daar langs die R43. Natasha Dicey by 082 780 7516 is die kontakpersoon as jy ’n toer daarheen wil onderneem.

Ek steek my hand op. Dankie, maar hokaai. Waar kry ons lekker braaigoete vir ’n ietsie oor die kole? Ons hoor dat padstalle die plek is vir al jou varsprodukte; dat die wynplase wyne teen baie billike pryse bied.

Gelukkig het ons voorheen gehoor dat The Creative Hub die beste gebakte suurdeegbrode het en ons s’n wag tuis.

’n Lekker plek vir ’n selfie by Fynbos Café en Farmstall

Laatmiddag het ons ’n behoefte aan iets koud, en dis Fynbos Café en Farmstall op die R46 se bordjie met die woorde “Today’s good mood is sponsored by coffee” wat ons oog vang.

Moriti

Die vriendelike Moriti – die eienaar, Peter Nel, se Great Dane van vier jaar oud – lê die hele deur vol. Dit dwing jou natuurlik om eers kop te vryf!

Elias Mapaya van Fynbos Café en Farmstall met ons alkoholvrye piña coladas.

Ons dink aan koeldrank, maar Peter verlei ons met alkoholvrye piña coladas wat soet-bitter op ons tonge dans en die hitte verdryf. Die padstal is saans toe, maar as groepe bespreek, maak hulle pizzas in die buiteoond, die musiek speel agter in die beskutte vierkant, en regte skemerkelkies word gemaak.

Maurice Lancaster

Peter het die padstal op sy en sy lewensmaat, Maurice Lancaster, se plaas oor etlike jare aan verskillende mense uitverhuur, maar drie jaar gelede besluit om dit self te bestuur. Dis die ideale plek vir gaste wat by hul Fynbos Guest Farm & Animal Sanctuary oorbly of een van die twee staproetes op die plaas wil onderneem.

Peter

Hy vertel ons dat “hierdie klein dorpie oor ongelooflike talent beskik. Dink aan Adene’s Flowers wat nou al wêreldbekend is; die wêreldklashoutprodukte van Imari de Waal van ARK Workshop op Welgelee-plaas wat nou al twee maal in New York uitgestal het; Patrick Sibanda se leerprodukte, en vele ander.”

Peter kook sy eie konfyt van vrugte uit die omgewing; hy het 40 heuningkorwe op die plaas en verkoop sy eie heuning en laat ook sy eie olyfolie pars. Daar is tonnels buite vir groente en kruie vir die padstal, en hy vertel gretig dat hierdie ’n bestemming is. Jy kan lank bly en ontspan, of vir ’n kort rukkie stop, iets eet en drink en verder ry.

Maar gewoonlik as mense – en veral kinders – hoor van die dierehawe wat hy en Maurice al vir 17 jaar bedryf, word dit ’n lang kuier, want almal wil gaan kyk. Terwyl ons opstap om die diere te gaan ontmoet, hoor ons hulle is baie gewild vir kinderpartytjies, want daar is trekkers, sleepwaens en melkskommels betrokke, en natuurlik kan die kinders nie die diere weerstaan nie.

Te verstane: Jy kan van ’n emoe tot ’n lama en alles tussenin se kop vryf en voer!

Meer as 90 persent van die diere in hul sorg is uit haglike omstandighede gered. Peter en Maurice kry geen finansiële hulp nie en is op toegangsfooie en donasies aangewese.

Die mooi glashuisie

Hoe langer jy met Peter en Maurice gesels, hoe meer maak elke klein teken wat oral teen boombasse en paaltjies in die groter tuine vasgekap is, sin: soos Rumi se aanhaling: “We are stars wrapped in skin. The light you are seeking has always been within”; of “Who looks outside, dreams. Who looks inside, awakens”; of “Be still and the Earth will speak to you.” Hul plaas bring ’n rustigheid terwyl jy die diere voer. In die meditasietuin staan ’n klein ronde geboutjie met helderkleurige glaspanele.

’n Kunswerk deur Susan Smuts

Die lig dans op die mosaïekvloer waarvan elke stukkie glas, spieël en teëltjie sorgvuldig deur Maurice se geduldige hande gelê is. Die klein boepensolielampies wat uit die dak hang, wieg saggies in die laatmiddagwind, wat lafenis teen die snikhete middag bring. Ek gaan sit binne en laat die vrede en stilte oor my spoel. ’n Kunswerk deur Susan Smuts teen die muur trek my aandag en ek lees later agterop: “Mother Earth – hers is an old-fashioned heart that hold young endless love.”

Hoe waar is dit nie, veral hier!

Voor ons kan sê “sebrahings”, is die middag verby en hoor ons van die bioskoopaande wat hulle aanbied. Gaste kan pizza en wyn geniet en daar is plek vir 12 mense, en dis nou so gewild dat Pete en Maurice nou twee maal per week “movie nights” aanbied. Die voorste ry is gemaklike boontjiesakke; agtertoe is banke en gemakstoele; en die lugversorger pur soos ’n tevrede kat in die hoek en die hitte van die middag is vergete.

Die son skilder patrone teen die lug toe ons terugkeer na ons verblyf. My warm lyf klief deur die swembad se koue water en so nat-nat pak ek vuur. Wat ’n propvol dag om onder die sterre te oordink!

Die Seven Oaks-chardonnay wat heeldag in die yskas skuil, is koel en net wat die dokter vir ’n snikhete skemer voorgeskryf het.

Op die spieëlgladde dam maak visse borreltjies wat al wyer uitkring. Daar is allerhande voëlaktiwiteite en ek hoor weer Chanel van die toerismekantoor se stem: “Elke plaas het ’n dam en mooi uitsigte hier in ons vallei.” Swaeltjies swiep laag oor die oppervlak en skep klein bekkies vol water.

Blomme

Vroegoggend is ons gestewel en gespoor vir ’n blomuitstappie na Adene’s. Danksy ingryping van Chanel kan ons, op ’n dag waarop die plaas toe is vir die publiek, gou gaan inloer.

Nog blomme

Ons ry op ’n teerpad wat meer grond as teer het, al langs die peerboorde tot by die plaas.

Nog ’n bakkievrag blomme

Dis ’n geroesemoes van vragmotors en bakkies met vragte blomme wat weggery word; werkers hark en vee in die tonnels – en ons stap soos ape met ons slimfone en “oe” en “aa” by dahlias en anemone en renonkels in elke kleur en grootte – rye en rye daarvan.

Ontbyt op ’n tuisgemaakte roosterkoek

Buite is ’n lekker piekniekplek en ek maak ’n knoop in my sakdoek dat ons saam met vriende sal terugkeer, sodat my vrou ook arms vol blomme kan koop.

Hulle sê die pad deur ’n man se hart loop deur sy maag, en dis beslis waar oor ons volgende kuier: Rietdakkie Padstal en Plaaskombuis op die R43. Dis glo dié plek vir roosterkoek en koffie, en nie lank nie of ons smul aan roosterkoek met eiers, spek en tamatiesmoor.

Tuisgemaakte konfyt uit die kontrei

Die vrouens koop konfyte en neute en interessante tee, maar die tweede koppie boeretroos hou ons mans besig by die tafel. Die eienaar, Maryke Botha, kom vra of ons dalk iets soets wil hê voor ons ry, en ek vra sommer uit. “Die idee van die padstal kom al dekades aan toe groente van ’n wa af verkoop is, maar die ‘formele’ struktuur is in 1990 deur my man, Rian, begin toe hy in sy studentevakansie ’n stellasie van houtplanke met ’n rietdakkie gebou het. In 2001 is ’n geboutjie opgerig – kompleet met witgebleikte mure, ’n gewel en rietdak, maar ’n fratsongeluk in 2019 het daardie era afgesluit. Ons het in 2020 ons nuwe padstal geopen.”

Die padstal se argiteksplanne is omgetower vir mooie plakpapier.

Sy verduidelik dat dit nie húlle padstal is nie, maar die gemeenskap s’n, want nie alleen is hul ondersteuning van die omliggende boere oorweldigend nie, hulle verkoop ook alles en nog wat uit die kontrei. Die buurman se dogter, wat ’n argitek is, het die ontwerp gedoen en ou sketse gebruik en ingekleur en plakpapier gemaak vir die nuwe padstal. Plaasliker as dit gaan jy kwalik kry.

Die gawe span by Rietdakkie Padstal is van links Mijailin Fortuin, Shannon Moses, Katriena van Rensburg, Yolandi Montzinger, Sarah Karelse en Maryke Botha, eienaar.

“Die lekkerte van die platteland en spesifiek hier op Wolseley, is hier is ons nog outentiek. As jy kom kuier, ontmoet jy nog die eienaars,” vertel sy.

Die Theatre of Aromas-ervaring

Gelukkig is ons mae goed gevoer, want by Seven Oaks se proelokaal is daar verskeie wynproe-opsies. Eers is dit die Theatre of Aromas-ervaring. Groot bruin skuifdeure waaragter swart gordyne hang, wag in die hoek. Jy gaan ruik elke komponent wat in wyn voorkom, en as jy vashaak, skandeer jy die QR-kode om oor elke geur te lees. Daar is tans 27 geure in die ervaring, en dis pret om te sien hoeveel jy raak kan ruik.

Die mooi proelokaal onder die bome is in 2020 geopen.

Ravenishia Adams

Ravenishia Adams is die proelokaalassistent. Sy vertel van al die verskillende proe-opsies uit hul vyf wynreekse en ons besluit op die borrels: Per L’Amore Di Andie, wat na die plaas se eienaars se dogter vernoem is. Sy het epilepsie en R10 van elke bottel gaan aan die Epilepsiestigting om met navorsing te help. Dit word nie op die plaas gemaak nie. Die huidige oesjaar is verlede jaar vrygestel.

Die volgende toekomstige lekker witwyne

So tussen die proe deur vertel Ravenishia dat die plaas net 100 ton vir hul eie gebruik hou; die res gaan alles na ’n koöperatiewe kelder. Die plaas het 55 hektaar onder rooi- en witdruiwe.

Ons hoor dat Patrick Pols die plaas in 2003 op ’n veiling gekoop het. Sy vrou, Jacqui, was nie baie geneë met nog ’n veilingaankoop nie, en toe sy vra wat daar presies op die plaas is, het hy geantwoord daar is sewe eikebome in ’n ry. Sy het gesê: “Ek sal jou vir eers vergewe as ons die plaas Seven Oaks kan noem.”

Toe Jacqui twee maande later vir die eerste keer daar aankom, het sy net ses eikebome getel! Patrick moes ’n plan maak, en ’n sewende eikeboom is inderhaas geplant. Kyk wanneer jy aankom, en jy sal die kleiner sewende eikeboom in die ry en naby hul hoofingang sien.

Die Seven Oaks-logo

Daarom het die Seven Oaks-logo ses groot en een klein eikeboom om die naam en die storie uit te beeld en te herdenk.

Terug by ons akkommodasie kies ons weer eerste koers na die swembad, en toe is dit tyd vir ’n namiddagslapie onder die lugversorger. Die hitte en ontdekkings het ons moeg gemaak.

Oor die dam gaan die son pienk en goud en vaalblou onder deur die boomtakke onder. Twee eendjies gly geruisloos oor die water en hul lyfies maak ’n reuse V-vorm agter hulle, wat al wyer uitkring en later teen die kante van die dam verdwyn.

Toe die hitte buite uiteindelik wyk, sit ons op die stoep met die yskoue Andie Cap Classique en kyk hoe die sterre een vir een teen die pikswart hemel deur onsigbare hande opgehang word en die maan later opkom en patrone op die water gooi.

Ek ruik sommer weer die geure onder die glaskoepels by Seven Oaks toe die borrels so lekker op my tong polka.

Ons mae is weer goed gevoer met ons padstalvondste. Ons kom beslis terug na hierdie saligheid.

  • Woorde en foto’s: Clifford Roberts
Lees ook:

Clos Malverne: Oos, wes, tuis nie bes in hierdie geval

Bekoorlike Riebeek-Kasteel een van SA se oudste dorpe

Kruis en dwars in Kruisrivier

Van laventellande en pastis tot nostalgie en goeie SA wyne

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top