......
Om die konteks van Adriaan van Dis se stelling in sy nawoord in die Rijksmuseum se uitstekende gedenkpublikasie, Goede Hoop. Zuid-Afrika en Nederland vanaf 1600, ietwat aan te pas: “Dit het alles begin kort nadat die eerste VOC-vlag in die grond geplant is.”
......
Duitsland het verlede week die beendere van die verlede behóórlik geskud toe dié land sy koloniale sonde in die destydse Duits-Suidwes, toe Suidwes-Afrika en sedert 1990 Namibië genoem, erken het.
Wat aan die Herero- en Nama-inwoners duskant die Suid-Afrikaanse grens gedoen is – die “onmeetbare lyding”, soos die Duitse minister van buitelandse sake, Heiko Maas, dit gestel het – was niks minder nie as ’n “menseslagting” nie.
Die Duitsers kies wel hul woorde versigtig ten einde die moontlikheid van groot monetêre klaseise te voorkom, ’n truuk wat by die Amerikaners geleer is. Dit is waarom ’n amptelike apologie nie ter sprake is nie; wat aangebied word, is €1,1 miljard se bystand vir infrastruktuurontwikkeling in Namibië.
Hiervoor is verteenwoordigers van die Herero- en die Nama-gemeenskappe nie te vinde nie – dit is ’n openbare-verhoudinge-aanbod, meen hulle, wat geen regstreekse voordeel vir die afstammelinge van die slagoffers van die menseslagting inhou nie. Dié slagoffers, tienduisende van hulle, is tussen 1904 en 1908 deur Duitse soldate geskiet, uitgehonger en tot die dood gemartel.
In JM Coetzee se essay “The diary of Hendrik Witbooi” (Late Essays – 2006–2017, Harvell Secker) oor die heldhaftige Nama-kaptein haal hy die destydse bevelvoerder van Duitse magte, genl Lothar von Trotha, aan: “Ek vernietig opstandige stamme met strome bloed en strome geld.”
......
Suid-Afrika se Herero en Nama was die Khoi en die San (sogenaamde Bosjesmannen), wat soos diere in die dae van kolonialisme gejag is.
......
Honderd jaar later, in 2004, het ’n verteenwoordiger van die Duitse regering reeds gesê dat wat gebeur het, ’n menseslagting was – en dat Von Trotha vandag hiervoor aangekla en gevonnis sou word. Maar ook by dié geleentheid, soos met Maas se toespraak verlede week, is daar vir vergifnis gepleit (“Bitte um Vergebung,” leer Coetzee dié leser ’n proesel Duits), terwyl geen Entschuldigung (verskoning) geuiter is nie.
Weerspreek die een die ander? En kan geld wonde genees?
Ook verlede week kom die Franse president, Emmanuel Macron, toe in Rwanda aan en vra verskoning daaroor dat sy land as deel van internasionale vredesmagte nie meer gedoen het om die menseslagting daar in 1994 te verhoed nie. In Suid-Afrika, toe hy Vrydag blitsig hier besoek afgelê het, was dit nie vir hom nodig om enige verskonings aan te bied nie – die Franse Hugenote het hulself skynbaar goed hier gedra, maar sou dieselfde van die Duitse sendelinge geld wat hier kom kerk opslaan het?
Om na die Duitse slagting van Herero’s en Namas terug te keer: Heel opvallend word dit – om Sterre Lindhout uit 28 Mei se de Volkskrant aan te haal – as “de eerste genocide van de twintigste eeuw” bestempel.
Maar ons weet dat ander inboorlinge in Suid-Afrika reeds vanaf die 17de eeu aan die ontvangkant van koloniale vergrype was – en hier wys die vinger ongetwyfeld na Nederland en dié se besetting van die Kaap van Goeie Hoop (eers van 1652 tot 1795, toe weer van 1803 tot 1806; tussenin was die Britte hier aan bewind).
Om die konteks van Adriaan van Dis se stelling in sy nawoord in die Rijksmuseum se uitstekende gedenkpublikasie, Goede Hoop. Zuid-Afrika en Nederland vanaf 1600, ietwat aan te pas: “Dit het alles begin kort nadat die eerste VOC-vlag in die grond geplant is.”
......
Is introspeksie deur ’n land van sy vergrype van die verlede egter voldoende?
......
’n Ander stelling van Van Dis tref net so akkuraat. Hoewel dié eintlik verwys na die ontstaan van die Nederlandse antiapartheidsbeweging, sou dit ewe goed van toepassing gemaak kon word op die land se verlede van kolonialisme en slawerny. Die stelling lees: “Skaamte het eers later by Nederland aangedoen.”
Maar soos die spreekwoord lui, liewer later as nooit. Dit is hoekom Nederland pas weer geprys is – uit verdienste – vir nóg ’n inisiatief van die Rijksmuseum, naamlik die tentoonstelling oor slawerny. Koning Willem-Alexander het dit middel-Mei geopen. Hierdeur is die land se aandeel in die gru-werklikheid van slawehandel gekonfronteer.
Is introspeksie deur ’n land van sy vergrype van die verlede egter voldoende? Taco Dibbits, hoof van die museum, het dit gou duidelik gemaak dat die tentoonstellingsinisiatief nie bedoel was om ’n demonstrasie van “woke”-heid, of seker ook politieke korrektheid, te wees nie, maar wel om ’n getrouer weergawe te bied van dit wat in die verlede gebeur het. Moet daar dan nie dalk meer gedoen word om na die afstammelinge van die slagoffers van Nederland se slawernyverryking uit te reik nie? Wat is daar vir Nederland te leer uit wat Duitsland pas gedoen het?
Suid-Afrika se Herero en Nama was die Khoi en die San (sogenaamde Bosjesmannen), wat soos diere in die dae van kolonialisme gejag is. Uitgehonger is deurdat hulle van weidingsveld vir hul vee, én óók hul vee, ontneem is. Wie se vroue en dogters seksslawe gemaak is. Blootgestel is aan tabak en drank en “Europese” siektes waarteen hulle inheemse Afrika-gestel nie bestand was nie.
Maar daaraan kan vandag niks gedoen word nie. Wat wel gedoen kan word, is om die afstammelinge van die Khoisan en die slawe – bruin gemeenskappe – op te hef deur opvoedingsprojekte, armoedeverligtingsinisiatiewe en entrepreneurskapsondersteuning. Dit kan gedoen word in samewerking met organisasies wat hulle met die lot van dié gemeenskappe bemoei, soos DAK Netwerk, ’n organisasie wat sy naam verkry van die voorletters van die Khoisan-ikone Doman, Autshomato en Krotoa, al drie welbekende karakters in die VOC-hoofstuk van Nederland se geskiedenis.
Waarna dié gemeenskappe vandag verlang, hulle wat gebuk gaan onder sosio-ekonomiese swaarkry, is dit wat die Kaap destyds vir die Nederlandse seevaarders in die vorm van die vestiging van ’n verversingstasie ingehou het: goeie hoop.
Lees ook:
Slavernij zindert overal na: spraakmakende tentoonstelling in het Rijksmuseum, Amsterdam
Intercontinental entanglements: slavery, Dutch colonialism and post-colonial identifications
Buro: MvHLitNet-argief: Good Hope. South Africa and the Netherlands from 1600: ’n resensie