Om oor Hendrik Witbooi en rap te praat

  • 0

Hendrik Witbooi

Moet ons praat van “rap” of “kletsrym”? Wat is die verskil tussen “rap” en “hip-hop”? Wat kan ons van ons samelewing leer as ons versigtig begin luister na wat rappers in Afrikaans, Nama en ander taalvariante kwytraak? Wat het rap en hip-hop met Hendrik Witbooi uit te waai? Sowaar, Hendrik Witbooi as historiese figuur het sterk gefigureer in ’n transnasionale gesprek (’n webinaar) oor taal en identiteit wat deur die “Gents Centrum voor het Afrikaans en de Studie van Zuid-Afrika” op 16 Desember aangebied is. Die seminaar is deur meer as vyftig mense bygewoon en die drie uitstekende paneelbesprekings het elk tot fassinerende gesprekke gelei. Ek is gevra om spesifiek verslag te lewer oor die laaste van die drie gesprekke, naamlik ’n onderhoud wat Marni Bonthuys met Annie Klopper gevoer het oor laasgenoemde se navorsing oor rappers wat uit landelike dele van die land kom, of landelike kwessies aanspreek – dis nou teenoor rappers wat tipies van die Kaapse Vlakte af kom en ’n bemoeienis met stedelike kwessies het.

Annie Klopper

Marni en Annie is albei verbonde aan die Departement Afrikaans aan die Universiteit van Wes-Kaapland en in die tradisie van die departement is hulle geïnteresseerd in die literêre uitsette van swart sprekers van Afrikaans – swart hier as swart inklusief gedefinieer, in navolging van Biko.

Annie se navorsing het tot op hede meestal oor wit kunstenaars gehandel. Sy het ’n magisterverhandeling oor Fokofpolisiekar geskryf en ’n boek oor hulle gepubliseer. Sommige het Annie se benadering van rock-liriek as literêre teks as uitdagend ervaar – het populêre musiek se liriek literêre meriete? Die vraag wat Annie oor populêre musiek as teks stel, handel egter oor meer as net literêre meriete en kompleksiteit – dit gaan oor wat dit vir ons van huidige identiteitskwessies sê. Wat sê musikante oor hulself en hoe hulle hul plek in die samelewing sien? In Suid-Afrika handel hierdie vrae noodwendig oor hoe ons om as “swart” of “wit” geklassifiseer word, of dalk self identifiseer, aan onsself en ander verduidelik. Dit gaan egter ook oor ons klasposisies (binne ’n postkoloniale kapitalistiese bestel), ons geslagsrolle (binne ’n patriargale bestel) en ons seksuele identifikasies (in ’n heteronormatiewe orde).

Marni Bonthuys

Annie se doktorsgraadtesis het op hierdie tema voortgebou en het oor wit rappers (onder andere Bittereinder en Jack Parow) se beoefening van ’n swart genre van musiek gehandel. Sy het bevind dat wit rappers baie bewus van hul identiteitsposisie is. Eerder as om die voor die hand liggende punt te maak dat hulle besig is met kulturele toe-eiening (“cultural appropriation” in Engels) – met ander woorde as bevoorregte wit musikante ontgin hulle die kultuur van onderdruktes tot hul eie voordeel – het Annie bevind dat wit rappers hul eie identiteitsposies probeer verskuif, om dit op ’n nuwe manier te posisioneer as ’n poging om by te dra tot ’n land waarin versoening nie ten koste van geregtigheid plaasvind nie. Op hierdie wyse vorm hip-hop-kultuur ’n manier om ’n identiteitsbrug te bou in die konteks van ’n land wat op grond van ras verdeel is.

Kulturele produksie – in hierdie geval musiek en liriek in die vorm van hip-hop en rap – gaan oor meer as net vermaak en plesier (dit gaan daaroor ook), maar kan ’n manier wees om die wêreld anders te verbeel en om daardie verbeeldings aan ander te kommunikeer. Anders gestel, musiek (en daarby liriek as literêre vorm) kan as agentskap beskryf word. Dit vertel nie net stories oor hoe die wêreld is nie, maar ook oor hoe dit kan wees. Annie se benadering tot populêre musiek is dus ’n simpatieke benadering wat identiteit nie as ’n vaste gegewe sien nie, maar as iets wat verbeel word en daarom herverbeel kan word.

Met hierdie nuwe projek waaroor Marni en Annie se gesprek gehandel het, bou Annie weer voort op bestaande werk oor rap (deur onder andere Adam Haupt), maar die fokus verskuif na plekke en kwessies wat selfs meer op die marge van populêre kultuur en literêre ontleding staan. Soos genoem, gaan dit hier oor rap wat handel oor plekke op die periferie van die Kaapse Vlaktes – die hinterland van Afrikaans, Kaaps en Nama – meestal Namakwaland.

Voor ons na Hendrik Witbooi terugkeer, ’n paar opmerkings oor terminologie en taal en waarom hip-hop en rap so belangrik is vir kontemporêre literêre studies van taal en identiteit. Wat is die verskil tussen hip-hop en rap? Hoekom verkies Annie om die woord “rap” te gebruik, eerder as “kletsrym” of “rymklets”?

In die webinaar het Annie verduidelik dat hip-hop ’n breër kultuurvorm is, waarvan rap ’n onderafdeling is. Hip-hop as kultuurvorm het in die 1970s in Suid-Bronx ontstaan in die konteks van armoede, bendegeweld, werkloosheid en gedwonge verskuiwings om vir wit en middelklas vervoorstedeliking (gentrification) ruimte te maak. Suid-Bronx se inwoners was oorwegend Afro-Amerikaans en Spaans-Amerikaans. Hip-hop as subkultuur bestaan uit graffiti, breakdancing, turntableism (die kreatiewe gebruik van draaitafels as instrument, nie net as klankbron nie) en rap. Van die vier komponente is rap die jongste. Die kultuur het uiteraard ’n voorgeskiedenis in die swart diaspora, maar as kultuurvorm is die Bronx ’n belangrike verwysingspunt.

Die woord “rap” kom van die idee van “rapping someone over the knuckles” – om iemand tereg te wys. Dit het, met ander woorde, ’n mate van doelgerigtheid, of agentskap. Dit gaan oor die vertel van stories in versvorm, ook om ’n mate van selfkennis te bewerkstellig. Later het mense ’n ander konnotasie aan die woord geheg, naamlik dat dit na “rhythm and poetry” verwys, maar volgens Annie was dit nie die oorspronklike betekenis nie.

Wat “kletsrym” betref, voel Annie dat “klets” baie anders as “rap” is – “rap” is doelgerig, dit daag uit, dit is polities, dit is soms aggressief, dit toon agentskap, terwyl om te klets glad nie daardie konnotasies het nie. Sy het uit die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) voorgelees om aan te toon dat die formele definisie van “kletsrym” verwys na ’n onsamehangende rymelary (ek parafraseer nou).

In die 1980’s reeds het hip-hop en rap aanklank op die Kaapse Vlakte gevind en die eerste groep was Prophets of Da City (POC), later ook Brasse Vannie Kaap. Ek vermoed ’n gedeelde geskiedenis met slawerny maak dat hip-hop so ’n ontvanklike gehoor in die Wes-Kaap kon vind. Sedertdien het rap globaal as dominante vorm van populêre musiek by rock en pop oorgeneem. In Afrikaans, Kaaps en ander taalvariante is daar reeds ’n magdom van rapgroepe en Adam Haupt was een van die eerste mense wat ernstig in die veld begin navorsing doen het. Annie gebruik die woord “glokaal” – “globaal” en “lokaal”, of plaaslik, om aan te dui hoe hip-hop en rap as globale fenomeen in plaaslike kontekste aangepas word – in die konteks van Suid-Afrika, nie net in Kaaps, Nama en Afrikaans nie, maar ook as musikale styl.

HemelBesem

Een van die rappers waaroor Annie se navorsing handel, is Simon Witbooi oftewel HemelBesem. Hy is in Vredendal gebore – op die soom van Namakwaland – maar het ook in Blackheath en Worcester gewoon, waar hy ’n prediker was. Hy is deur rappers soos Public Enemy beïnvloed. Hy het aanvanklik in Engels gerap, maar Afrikaans toe oorgeslaan toe hy Prophets of Da City en Brasse Vannie Kaap hoor. Hy voel meer outentiek of eerlik as hy in Afrikaans rap. Hy is ’n afstammeling van Hendrik Witbooi en Annie het ’n onlangse musiekvideo van HemelBesem oor sy voorsaat aan die gehoor voorgehou as voorbeeld van die tipe rapgebaseerde mondelinge geskiedenisse waarin sy belangstel.

HemelBesem gebruik sy musiek, skryfwerk, motiveringstoesprake en rol as taal- en gemeenskapsaktivis om kwessies van identiteit aan te speek. Hy gebruik soms die woord “bruin” om na homself te verwys, maar sê dat die kategorie nie na ’n “tribe” verwys nie (anders as “Afrikaner”), maar ’n baie diverse groep mense. Hy gebruik soms die woord “kallits” in die styl waarin sommige Afro-Amerikaners pejoratiewe skelwoorde vir hulself toe-eien.

Soos baie van die ander Kaapse en Afrikaanse rappers is HemelBesem baie bewus van sy Khoi herkoms, dit is deels waarom Hendrik Witbooi so ’n belangrike rol speel. In die opname word die naam Witbooi amper ’n tipe mantra – miskien as soeke na ’n leier – HemelBesem het al na Khoi-consciousness verwys. Annie sien hierdie heronderhandeling van identiteit as ’n tipe agentskap, as ’n voorbeeld van hoe verbeelding in populêre kultuur en liriek gebruik word as reaksie op ’n geskiedenis vol trauma.

Die beste seminare (of webinare) laat ’n mens met meer vrae as antwoorde, maar omdat jy aan deksels interessante navorsing blootgestel is. Met hierdie webinaar was dit die geval. Ek wens daar was meer tyd. Ek sou meer wou hoor oor hoe die Belgiese studente wat Afrikaans bestudeer die kwessies ervaar – ook vanuit die konteks van ’n verdeelde samelewing. Ek sou ook meer wou hoor oor hoe Annie se sienings oor haar eie identiteit deur haar navorsing uitgedaag word. Ek sou wou hoor of sy ook beplan om met ’n paar vroulike rappers te praat. Verder was daar ’n aantal interessante temas wat die drie sessies in gemeen gehad het. Ek verwys hier na die eerste sessie oor Breyten Breytenbach se literêre produksie in, en in kontak met, die Vlaamse wêreld in die 1960’s en 1970’s, asook die tweede sessie oor “witheid” en “witwees” – vanuit die perspektief van kritiese rasseteorie en queerteorie. Ons sou verder kon praat oor transnasionalisme, asook hoe identiteit en ongelykheid in die letterkunde vervat, verbeel en uitgedaag word.

Lees ook op Voertaal, LitNet en LitNet Akademies:

GAZ-webinaar: Studie van Afrikaanse letterkunde baat by buiteperspektief en meertaligheid – Marni Bonthuys

GAZ-webinaar: Martina Vitackova vertel van ’n Gentse webinaar oor Afrikaanse letterkunde en komende publikasies

’n Gesprek met HemelBesem oor “Witbooi”

HemelBesem: “Ek glo dat die taal steeds besig is om te groei”

Toyota US Woordfees 2020: HemelBesem en Tilman Dedering vertel meer oor Nama-vryheidsvegter Hendrik Witbooi

Hip-hop en edutainment: ’n onderhoud met rymkletser Siep

Rosey die Rapper: “Dié is ek en ek wil rap”

Hip-hop as brugteks: ’n Resensie van Mogul Mowgli

Intercontinental entanglements: slavery, Dutch colonialism and post-colonial identifications

Muchu gustu: And that’s a rap. Oor Fresku

kykNET Silwerskermfees 2020: Van Parow tot Parowfest, ’n onderhoud

In gesprek oor witwees in Suid-Afrika met Melissa Steyn en Christi van der Westhuizen / In conversation about whiteness in South Africa with Melissa Steyn and Christi van der Westhuizen

LitNet Akademies Weerdink: Die "Die Land"-musiekvideo, mites en nostalgie

Die banale as (rap-) identiteit: Jack Parow se "Cooler as ekke"

LitNet Akademies Weerdink: Van Voëlvry na Voëlvryf na Spoegwolf

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top