GAZ-webinaar: Martina Vitackova vertel van ’n Gentse webinaar oor Afrikaanse letterkunde en komende publikasies

  • 0

Aan die einde van wat internasionaal allerweë ’n uitdagende jaar was, daag  daar vandeesmaand in letterkundestudies iets met die aard van ’n nuwe lente en ’n nuwe geluid op in die vorm van die eerste webinaar van die Gentse Sentrum vir Afrikaans en die studie van Suid-Afrika (GAZ). Akademici van verskeie wêrelddele gaan hieraan deelneem. Die koördineerder van die webinaar is die Tsjeggiese vertaler van Afrikaanse letterkunde Martina Vitackova. Sy gesels met Willem de Vries.

Belangstellendes wat graag die GAZ-webinaar wil bywoon, moet teen 15 Desember e-pos stuur na Martina.Vitackova@ugent.be om ’n Zoom-skakel daarvoor te ontvang. 

Martina Vitackova

Jy is oorspronklik van Tsjeggië en jy praat en skryf vlot Afrikaans. Hoe het jou studies en werk as akademikus jou by Afrikaans en jou betrokkenheid by die Gentse Sentrum vir Afrikaans en die Studie van Suid-Afrika uitgebring?

Toe ek in Olomouc in die ooste van Tsjeggië my studie in Nederlands en Japannees begin het, het die Suid-Afrikaner Lianne Barnard Afrikaans as keusevak aangebied. In die vyf jaar wat ek gestudeer het, het ek die taal aangeleer, en ook geleer van die Afrikaanse letterkunde en drama. Mettertyd het Afrikaanse letterkunde steeds dominanter in my navorsing geword en uiteindelik was my PhD-tesis ’n komparatiewe studie oor ’n aantal Afrikaanse en Nederlandse romans. Toe die aanbod kom om ’n postdoktorale studie aan die Universiteit van Pretoria te doen, het ek nie getwyfel nie en ek het na Suid-Afrika getrek. Dit was my liefde vir die Afrikaanse letterkunde wat my na Suid-Afrika gebring het en dit was weer liefde wat my na Europa laat terugkeer het. Met my werk by die Gentse Sentrum kan ek albei dié liefdes kombineer, en dis ook baie lekker om daar te werk.

Jy vertaal Afrikaanse literatuur in Tsjeggies. In Mei vanjaar het ’n kort bloemlesing verskyn wat in die tydskrif TVAR opgeneem is. Vertel asseblief van hierdie tydskrif en uitgawe. Werke van watter digters het jy daarvoor vertaal?

Verlede jaar reeds het ek met die organiseerder van die poësiefees Den Poezie (Dag van poësie) kontak gehad wat daarin belanggestel het om in die kader van dié fees ’n Afrikaanse aand aan te bied. Daar was konkrete planne om Antjie Krog na Praag te bring, wat ons hopelik in 2021 sal kan uitvoer. Die gedagte was om vir die Tsjeggiese leser, wat eintlik niks van die Afrikaanse letterkunde weet nie, ’n voorsmakie te gee van Afrikaanse poësie, en dit is hoe die kort bloemlesing tot stand gekom het. Die literêre tydskrif TVAR verskyn reeds 30 jaar elke twee weke en is een van die toonaangewendste publikasies op die gebied van kontemporêre letterkunde in Tsjeggië. In die bloemlesing is gedigte van Breyten Breytenbach, Clinton V du Plessis, Corné Coetzee, Antjie Krog, Marlene van Niekerk, Pieter Odendaal en Ronelda Kamfer opgeneem. Ek het die verskeidenheid van kontemporêre Afrikaanse poësie probeer weergee, maar dit was beslis geen maklike keuse nie.

Beoog jy verdere vertalings? Indien wel, van watter skrywers en/of digters? En hoekom?

Ek wil vir seker Afrikaanse literatuur in Tsjeggies bly vertaal. Met die uitsondering van my eie vertalings is daar nog geen Afrikaanse boeke uit Afrikaans vertaal nie, so, ek het nog baie werk om te doen! Daar bestaan vertalings van enkele romans van André P Brink en onlangse vertalings van Deon Meyer-boeke, maar in die geval van beide outeurs uit Engels vertaal. Ek beplan egter al jare om Agaat van Marlene van Niekerk te vertaal – dié roman behoort in soveel tale moontlik vertaal te word.  

Hierdie afgelope jaar was in baie opsigte ’n eksperimentele tyd vir klasgee en akademiese werk internasionaal. Wat het die vakgebied, in jou ervaring, vanjaar bygekry, wat in vorige jare dalk minder prominent was? Vertel ook asseblief van jou betrokkenheid by die Samespraak-projek.

Dit was sonder twyfel ’n spesiale, vermoeiende jaar. Ná die eerste lamlê-periode (toe mense net alles gekanselleer het) het ek egter gemerk ons almal soek ’n manier om dinge tog te laat gebeur, soos om byeenkomste aanlyn te laat plaasvind. Ek het op hierdie manier ’n aantal besondere lesings en kongresse bygewoon. Ek het ook ingesit in die vergadering van die redaksionele span van Stilet. Dit was vir my baie spesiaal toe ek gevra is om aan die Elsa Joubert-simposium, georganiseer deur die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam, deel te neem. Uiteindelik kon die sprekers nie fisiek daar aanwesig wees nie, maar dit het tog ’n wonderlik moment geword wat op hierdie manier baie meer mense bereik het.

Die Samespraak-projek is een van die positiewe dinge wat ons aan die globale pandemie te danke het. Dit is ’n aanlyn platform vir nagraadse studente en postdoktorale ondersoekers van die Lae Lande, Suid-Afrika en ander lande wat oor Afrikaanse en Nederlandse letterkunde vergelykende navorsing (wil) doen. Ek neem met plesier en trots aan dié projek deel en sien baie uit na die begin daarvan in Januarie 2021. My ervaring as buitestander wat oor beide Afrikaanse en Nederlandse letterkunde navorsing doen (al dan nie komparatief nie) sal hier goed te pas kom. 

Op 16 Desember vanjaar vind die Universiteit van Gent se eerste GAZ-webinaar plaas. Daarin bekyk Yves T’Sjoen, Louise Viljoen en Alwyn Roux Vlaamse bande in Breyten Breytenbach se oeuvre. Jy, Liezl Dick en Wemar Strydom gaan referate oor krities-witwees-studies lewer en in ’n afdeling oor onder meer swart Afrikaanse rapmusiek op die Kaapse platteland gaan Marni Bonthuys en Annie Klopper hul navorsing met die gehoor deel. Vertel asseblief van jou referaat.

Dit is nog een van die positiewe dinge wat die jaar 2020 laat gebeur het. Ons is opgewonde oor die webinaar, wat hopelik ’n tradisie by die Sentrum sal word.

Ek dink ons het ’n lekker gevarieerde program saamgestel wat, gesien die aantal inskrywings, tot vele mense spreek. In my paneelgesprek gaan ek saam met Liezl en Wemar oor hulle navorsing gesels, maar veral oor die belang van krities-witwees-studies in Suid-Afrika én in België. Ná my terugkeer na Europa het ek besef hoe onbewus die Belge van hul eie witwees is. Dit lyk vir my baie interessant en leersaam dat ons studente en kollegas van hierdie denkraamwerk hoor en sien hoe ’n mens dit in die praktyk kan gebruik. Daar gebeur in Suid-Afrika en in die Afrikaanse akademie tans opwindende dinge op hierdie gebied waarvan België kan leer.  

Onlangs het jy die Afrikaanse populêre romanse begin navors en jy skryf dat jy daarin ’n toenemend inklusiewe verteenwoordiging bespeur wat nader aan die ervarings van Suid-Afrikaners se sosiale werklikheid lê. Waaraan skryf jy hierdie veranderende tendens toe in ’n genre wat tradisioneel met tipering en resepmatigheid verbind word? Hoe skakel hierdie veranderende genre by ander literêre sisteme in wat groter en ander diskoerse binne die letterkunde betref? Jy het dan ook onlangs in Gent ’n webinaar oor Afrikaanse liefdesverhale gelewer. Vertel daarvan en veral op watter terrein en onderwerpe jy tans jou navorsing toespits.

Daar heers, jammer genoeg, ’n misvatting dat die populêre genres, en veral romantiese fiksie, outyds en konserwatief is omdat dit met formules en stereotipes sou werk. Maar dis juis die populêre genres wat sosiale verandering weerspieël, en daarop inspeel, omdat hierdie genres kulturele produkte van ons tyd is. Hierdie genres en skrywers reageer ook vinniger op die veranderende sosiale realiteit en kan ons daarom baie van die maatskappy vertel, dikwels veel meer as die sogenaamde “hoë letterkunde”. Nog ’n faktor wat ’n rol speel, is dat die hele genre grotendeels deur vroue vir vroue is, en oor vroue gaan – wat Sarah Frantz en Eric Sellinger in hul boek oor die navorsing van romantiese fiksie “triply shameful” noem. Ook al hou die verkoop van romantiese fiksie wêreldwyd die hele boekemark staande, kry hierdie genre van akademici sowel as resensente die minste aandag. Dit is ’n strukturele probleem wat ek met my onlangse navorsing probeer belig.

Sedert verlede jaar bied ek by die Gentse Sentrum vir die magisterstudente ’n lesing oor romantiese letterkunde in Afrikaans aan. Ek gee ’n oorsig van die bestaande navorsing, bespreek die spesifieke kenmerke van die romansemark in Suid-Afrika en in Afrikaans, en stel ’n aantal teoretiese raamwerke voor waarmee ’n mens kan werk. Sover was die studente (en kollegas!) baie entoesiasties oor die onderwerp.

My eie belangstelling is veral gerig op afwykings van “die norm” in romantiese fiksie. Dus: tekste waarin die heldin of held ouer is, gestremd, neuro-atipies, oorgewig, en so meer. My navorsing bevestig, trouens, dat daar meer en meer van hierdie afwykings is, en dat dit in werklikheid nie meer ’n uitsondering op “die norm” is nie.

Jy werk tans aan ’n temanommer van die tydskrif Stilet hieroor. Vertel meer van hoe hierdie tematiek in jou navorsing neerslag vind. Wanneer verskyn die uitgawe en watter temas word daarin gedek?

In my navorsing was ek altyd besig met die weergee van vroue en vroulike subjektiwiteit. Beide my magister- en PhD-tesis was basies ondersoeke na hoe vroue in hul skryfwerk hul spesifieke ervarings as vroue verwerk. Stadigaan het ek besef ek moet eintlik veral na romantiese fiksie kyk, want dit is die plek (die enigste plek dalk) waar die ervaring van die vrou sentraal staan. Op dieselfde tyd is ek na Suid-Afrika, waar ek ’n luisterende oor gevind het in Willie Burger, wat self navorsing oor populêre fiksie doen. Kort voor lank het ek ’n hele aantal akademici ontmoet wat ook deur hierdie genre in die letterkunde geboei word – onder andere Ilse de Korte, saam met wie ek die spesiale uitgawe van Stilet voorberei.

Ek en Ilse beplan om met dié uitgawe die leemte aangaande populêre romantiese fiksie in die Afrikaanse akademie in te vul. Ons stig prakties ’n nuwe navorsingsveld. In die tema-uitgawe van Stilet wil ons die huidige stand van (die studie van) Afrikaanse populêre romantiese fiksie saamvat sodat dit as ’n stimulus vir verdere navorsing kan dien. Daarby wil ons die rol van Cecilia Britz in die ontstaan en bestaan van die Afrikaanse romanse vier en benadruk. Die oproep om bydraes is onlangs gepubliseer (te vinde op die webblad van Stilet). Ons hoop om teen die einde van hierdie jaar voorleggings te kry en die finale artikels tot einde Maart 2021 te ontvang. Die uitgawe sal dan laat in 2021 verskyn.

Tans bespreek ek ook met Lynda Gichanda Spencer van die Rhodes-Universiteit ’n tema-uitgawe van Journal of Popular Romance Studies oor populêre romantiese fiksie in Afrika. Die oproep vir dié bydraes sal aan die begin van 2021 verskyn.

Jy is verskeie tale magtig en lees wyd. Hoe vergelyk jou bepaalde studie van Afrikaanse verhale met dieselfde tematiek in die ander tale waartoe jy direk toegang het? Wat omtrent die Afrikaanse letterkunde boei jou as akademikus en as leser?

Afrikaanse letterkunde, en Suid-Afrika in die algemeen, is in sekere opsigte net te spesifiek om sommer met andere taalgebiede, kulture en literature te vergelyk. Maar daar is natuurlik ooreenkomste: met Vlaandere en Nederland danksy die duidelike kulturele en historiese bande, maar ook met Tsjeggië, wat óók ’n jong demokrasie is wat steeds die las van die verlede dra. ’n Mens kan byvoorbeeld sekere parallelle trek tussen die opkomende generasie swart skrywers in die Nederlandse letterkunde (van beide Vlaandere en Nederland) en swart Afrikaanse skrywers, en die Roma-skrywers in Tsjeggië.

Dit is moeilik om te verduidelik wat presies die Afrikaanse letterkunde vir my so boeiend maak. Die verskeidenheid van kulturele en linguistiese invloede is sekerlik ’n deel daarvan. 

Jy het in Suid-Afrika aan die Universiteit van Pretoria klas gegee. Wat was jou ervaring van die studente in Suid-Afrika wat Afrikaans betref, vergeleke met dié wat jy tans in Gent het? Watter modules bied jy tans aan?

In Suid-Afrika het ek ’n module oor romantiese fiksie aangebied. Ek het vir Afrikaanse studente Nederlandse taalverwerwing gegee, en vir honneurs- en MA-studente lesings in feministiese literatuurwetenskap. Dit was ’n aangename ervaring en ek het die interaksie met die studente baie geniet. Veral die Afrikaanse studente moes altyd ’n bietjie opwarm voordat hulle bereid was om te gesels, maar eintlik is die Tsjeggiese of Vlaamse studente in hierdie opsig nie soveel anders nie.

In 2020 het ek by UGent vir die BA-studente Taalverwerwing Afrikaans aangebied, en vir die MA-studente Afrikaans doseer ek die letterkundedeel saam met Yves T’Sjoen en Marni Bonthuys. Veral die klein groep MA-studente was ’n absolute plesier. Deur die tweede grendeltyd moes alles aanlyn gebeur, maar dit was baie aangename, ontspanne klasse, miskien juis omdat ons almal by die huis was.

Hoe vergelyk die studie van Afrikaanse letterkunde in Gent met wat byvoorbeeld in die Neerlandistiek elders plaasvind? Vind jy dat kanse vir nouer samewerking ontstaan en dat daar ruimte is om bande en verskille tussen dié letterkundes te ontgin? Vertel meer van jou werk aan die Gentse Sentrum in hierdie verband. 

Ek sien parallelle met die Neerlandistiek buite Nederland en Vlaandere en die studie van Afrikaanse letterkunde buite Suid-Afrika, byvoorbeeld in Gent. Daar is absoluut toegevoegde waarde aan letterkundige studies van ’n buitelandse perspektief en aan vergelykende studies. Dit het ’n ruk gevat voordat die skeidslyn tussen die intra- en ekstramurale Neerlandistiek verdwyn het, en ek dink dit sal ook met die studies van Suid-Afrika en Afrikaans gebeur. Daar verskyn meer en meer samewerkingsprojekte tussen die Lae Lande en Suid-Afrika, soos die Samespraak-platform. Die Gentse Sentrum is ’n goeie voorbeeld van hoe hierdie samewerking kan werk en ek voel ek is hier op die regte plek. Met my unieke posisie as van buite Vlaandere en Suid-Afrika, maar met ’n goeie kennis van albei, kan ek veel vir die studente verduidelik en bemiddel.  

Lees ook:

Persbericht: Webinar van het Gents Centrum voor het Afrikaans en de studie van Zuid-Afrika

Belgisch poëziedebuut van Breytenbach in Yang Kahier (1968)

GAZ-webinaar: Studie van Afrikaanse letterkunde baat by buiteperspektief en meertaligheid – Marni Bonthuys

Dialoog: Yves T’Sjoen en Alwyn Roux in gesprek oor hulle projekte

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top