GAZ-webinaar: Studie van Afrikaanse letterkunde baat by buiteperspektief en meertaligheid – Marni Bonthuys

  • 0

Die Gentse Sentrum vir Afrikaans en die studie van Suid-Afrika (GAZ)-webinaar van die Universiteit van Gent se Sentrum vir Afrikaans en die studie van Suid-Afrika word op 16 Desember 2020 die eerste keer aangebied.

  • Bevestig bywoning teen 15 Desember hier.
  • Lees hier ’n onderhoud met Martina Vitackova, die koördineerder van die webinaar.

Akademici in Suid-Afrika en België gaan hieraan deelneem.

Marni Bonthuys, ’n dosent aan die Universiteit van Wes-Kaapland en aan Gent, is een van die deelnemers. Willem de Vries gesels met haar.

Marni Bonthuys

Jy gee tans klas aan die Universiteit van Gent en terselfdertyd aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Wat het hierdie jaar jou geleer, as akademikus, van die aanpassings wat internasionaal gemaak moes word en verbandhoudende probleme wat opgelos moet word? Verskeie akademici noem die verlies aan persoonlike interaksie met studente, maar terselfdertyd is internasionale samewerking vanjaar makliker as ooit tevore.

Dankie vir die geleentheid om meer van my betrokkenheid by die Universiteit van Wes-Kaapland en die Universiteit van Gent te vertel, Willem.

Vanjaar was logisties ’n moeilike jaar vir universiteite – die akademiese program is by die meeste universiteite nooit opgeskort nie en dosente moes binne enkele dae kursusse aanpas sodat dit elektronies of virtueel aangebied kon word. Op ’n persoonlike vlak was dit vir my as ’n ma met ’n jong kind besonder uitdagend, aangesien die meeste van my kindersorgopsies weggeval het terwyl ek moes voortgaan om my lesings tuis aan te bied. Persoonlike interaksie met studente het, soos jy noem, grootliks verlore gegaan en ek dink dis onvermydelik dat veral eerstejaarstudente daardeur benadeel is. Dit is (veral as jy nie gewoond is aan aanlyn klasse nie) moeilik om ’n student se doseerbehoeftes en vordering te bepaal as jy hom of haar nie in die oë kan kyk nie. Baie van UWK se studente het nie toegang tot persoonlike rekenaars of die internet nie en ek en my kollegas moes allerlei planne maak om almal te bereik. Talle van my lesings het via WhatsApp-groepe en in internet-“chat rooms” plaasgevind, omdat studente via selfone daartoe toegang kan verkry en dit min data gebruik. Verder het dit maar sleg met baie van my studente in die Kaap gegaan – siekte, werkloosheid en erge geldnood was aan die orde van die dag. Dit het my en my kollegas diep geraak.

Wat my betrokkenheid in Gent betref, sou ek in ieder geval soos laas jaar na België reis, omdat my man in die Belgiese Kempen werk. Hier kon ek darem tydens my lesings met studente in Gent Zoom gebruik, omdat die groepie kleiner was as my klasse aan UWK en internettoegang vir die meeste studente in België makliker bekombaar is (ek het net mooi met die aanvang van die tweede golf hier aangeland, toe kampusse weer moes sluit).

Terugskouend het die ekstra administrasie en konstante krisisbestuur verbonde aan die impak van die pandemie my tyd en energie vir navorsing geweldig ingeperk (nes waarskynlik dié van talle kollegas aan UWK en elders). Albei die internasionale kongresse waarby ek in 2020 betrokke sou wees, is ook gekanselleer. Ek moet dus bieg dat ek tans nog sukkel om die silwer randjie te sien, ook wat navorsing en internasionale samewerking betref. Dit was gewoon ’n jaar van struikelblokke en verliese.

Waaroor handel jou MA-lesings aan Gent en jou klasse aan UWK?

Ek doseer saam met Yves T’Sjoen en Martina Vitackova ’n magistermodule oor (onder meer) Afrikaanse letterkunde. My lesings het eerstens gehandel oor swart Afrikaanse skryfwerk, ’n dekades lange navorsingsfokus van die Departement Afrikaans en Nederlands aan UWK. Ek het ’n oorsig gegee oor die ontwikkeling van hierdie veld en ten slotte gefokus op my eie navorsing oor swart Afrikaanse vroueskrywers wat die laaste paar jaar sterk na vore getree het in ons letterkunde. Tweedens het ek gepraat oor Noord-Kaapse streeksliteratuur (ek self kom van die Noord-Kaap!) met die fokus op identiteit, ruimte en grondbesit. Dit is altyd interessant om vir die Gentse studente klas te gee omdat dit ’n mens dwing om in terme van ’n buiteperspektief te dink aan ’n letterkunde en land waarmee jy self so intiem bekend is.

Wat UWK betref, bied ek verskeie kursusse vir eerste- en tweedejaars, asook honneurs-studente aan. Ek gee ’n akademiesegeletterdheid-tipe kursus vir tweedetaalsprekers van Afrikaans en verder prosa- en poësiemodules vir eerste- en tweedejaars. UWK het amper 200 studente in die eerste jaar in Afrikaans en ongeveer 100 in die tweede jaar. Die elektroniese merkery vanjaar was nogal ’n uitdaging. Vir honneursstudente bied ek modules oor literêre teorie en poësie of prosa aan. Vanjaar het ek en my kollega prof. Steward van Wyk in die honneursmodule oor Afrikaanse prosa op distopiese fiksie sowel as historiese fiksie gefokus. Ek begelei ook ’n aantal MA-studies waarvan twee binne die volgende maand ingedien word, beide oor swart Afrikaanse vroueskrywers.

Op 16 Desember vanjaar word die eerste GAZ-webinaar van die Universiteit van Gent se Sentrum vir Afrikaans en die Studie van Suid-Afrika aangebied. Verskeie akademici in Suid-Afrika en België gaan saam hieraan deelneem. Waaroor handel jou bydrae? Is geleenthede van hierdie aard vanjaar meer prominent op die akademiese kalender en voorsien jy dat dit nog meer uitgebrei kan word? 

Die GAZ-webinaar is ’n onvoorsiene bonus waarop ek nie gereken het nie en iets wat Yves T’Sjoen in November bedink het. Ek dink definitief dit is ’n geleentheid wat in die toekoms uitgebou kan word. Dit het reeds meer belangstelling ontlok as waarop ons gereken het. Die bydrae waarby ek betrokke is, hou eintlik verband met my kollega Annie Klopper se postdoktorale navorsing aan UWK. Sy bou in haar post-doc voort op haar PhD-navorsing wat oor wit Afrikaanse rap gehandel het. Tans ondersoek sy spesifiek bruin rap op die Kaapse platteland. Haar fokus is veral op rap as voortsetting van plaaslike mondelinge praktyke, die kwessie van identiteitskonfigurasie en die skepping van agentskap. As gevallestudie beoog sy om oor die kunstenaar HemelBesem te gesels. HemelBesem, oftewel Simon Witbooi, is ’n afstammeling van die Nama-kaptein Hendrik Witbooi. Hierdie familieverbintenis maak Hemelbesem se plek en werk binne die tekstuele raamwerk wat Annie benut, ’n besonder interessante studie-onderwerp.

Hoe ervaar jy Nederlandse studente se lees van Afrikaanse letterkunde? En hoe ervaar jy studente in Suid-Afrika se lees van Nederlandse werke?

Ek doseer net Afrikaans vir nagraadse Vlaamse studente en die Afrikaanse studente vir wie ek Nederlands aan UWK doseer, is ook meestal my nagraadse studente. In beide gevalle het studente al ’n goeie stuk voorgraadse agtergrond oor Afrikaans of Nederlands as vreemde taal. Die meeste Vlaminge kan dus al redelik gesofistikeerde tekste in Afrikaans lees en begryp en die meeste Afrikaanse studente ook moeiliker tekste in Nederlands. Waarmee beide groepe sukkel, is konteks. Vir iemand wat nog nie self die geleentheid gehad het om tyd in die betrokke land deur te bring nie (as Vlaming in Suid-Afrika of Suid-Afrikaner in België), is die kontekstuele verwysings in die land se letterkunde soms moeilik om te interpreteer, wat dikwels die verstaan van die teks self kompliseer.

Jy is die redakteur van Tydskrif vir Nederlands & Afrikaans. Hoe belangrik is dit vandag vir ’n publikasie van hierdie aard om by argiefstelsels en netwerke in te skakel? By watter netwerke is die tydskrif tans ingeskakel? En wat beteken dit vir die tydskrif?

Netwerke is ontsettend belangrik vir publikasies soos TN&A. Hoewel die posisie van die tydskrif die laaste aantal jare aansienlik verbeter het, is die situasie van ’n niche- akademiese tydskrif soos TN&A maar altyd prekêr. Databasisse en (soms selfs informele of vriendskaplike) kontak met kollegas by ander universiteite – veral in hierdie tydskrif se geval: by Vlaamse en Nederlandse universiteite – is dus van kardinale belang. Tans het TN&A ’n webtuiste waarop alle vorige uitgawes gratis beskikbaar is. Ons is ook besig om die tydskrif op nog meer aanlyn platforms beskikbaar te stel.

Aan die Gentse Sentrum vir Afrikaans en die studie van Suid-Afrika word Afrikaans, onder meer, binne die konteks van meertaligheid geplaas. Hoe vergelyk jou ervaring daarvan in letterkundestudies en jou belewing van dié studieterrein in Suid-Afrika?

Ek dink die Europeërs is ons wat meertalige letterkundestudie betref, ver voor. Ons is in Suid-Afrika nog baie geneig om letterkunde in aparte kategorieë te bestudeer – omvattende nagraadse letterkundestudies oor Afrikaanse én Engelse Suid-Afrikaanse letterkunde is byvoorbeeld nie algemeen nie. Letterkundestudies waar tekste in Afrikaans, Engels en ’n Afrikataal betrek word, is nóg skaarser. Daar is uiteraard verskeie taalpolitieke en praktiese redes hiervoor. Dit is egter ’n jammerte, aangesien meertalige letterkundenavorsing die toekoms is en dit na alle kante toe letterkundestudie kan verryk. Afrikaanse letterkundenavorsing het byvoorbeeld só al baie by die verbintenis met Nederlands gebaat.

Wat ervaar jy tans as belangrike interpretasiegereedskap vir die bestudering en dosering van die letterkunde, ’n ryke weefwerk waarin talle studievelde ter sprake is en toepassing vind?

Ek het tydens my onlangse lesings hier en ook in Suid-Afrika weer besef watter belangrike rol kennis van die geskiedenis in letterkunde-analise speel. Naas Afrikaans en Engels was Geskiedenis een van my hoofvakke op universiteit en ek is steeds dankbaar vir die agtergrond wat dit my gegee het waar dit by letterkundenavorsing kom. Verder dink ek, soos ek hier bo al suggereer, dat kennis van meer letterkundes ook vir enige literatuurstudent ’n aanbeveling is. Vergelykende studie is die veld waarbinne baie van ons in Afrikaanse en Nederlandse letterkunde navorsing doen. Die Europeërs se verwysingsraamwerk is dikwels nog wyer – die meeste van my Gentse kollegas kan naas Nederlands, Afrikaans en Engels ook ten minste Frans en Duits lees. Kollegas soos Martina kan selfs nog meer tale lees en praat. Transnasionale letterkundestudie geniet tans wêreldwyd aandag en die verstaan van meer tale maak soveel meer interpretasiemoontlikhede vir die letterkundestudent oop.

Waarin stel jy belang wat betref jou studieterrein en watter soort navorsing doen jy?

Die meeste van my navorsing handel oor poësie en ek werk dikwels komparatief tussen Afrikaans en Nederlands. Ek het die laaste paar jaar in aansluiting by die fokus van my nagraadse UWK-studente begin skryf oor die veld van swart Afrikaanse vroueskrywers. Ek stel ook baie belang in streeksliteratuur en kanonisering. Die literatuursosiologie en identiteitstudies is ’n deurlopende invalshoek in my navorsing sedert my eie studentedae.

Lees ook op Voertaal en LitNet:

Persbericht: Webinar van het Gents Centrum voor het Afrikaans en de studie van Zuid-Afrika

GAZ-webinaar: Martina Vitackova vertel van ’n Gentse webinaar oor Afrikaanse letterkunde en komende publikasies

Belgisch poëziedebuut van Breytenbach in Yang Kahier (1968)

’n Gesprek met HemelBesem oor “Witbooi”

Toyota US Woordfees 2020: HemelBesem en Tilman Dedering vertel meer oor Nama-vryheidsvegter Hendrik Witbooi

Tydskrif vir Nederlands & Afrikaans daarop gerig om meerstemmigheid te bestendig

Suid-Afrikaanse letterkundes en transnasionale bande: in gesprek met Louise Viljoen

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top