Mogul Mowgli
Regie: Bassam Tariq
Draaiboek: Riz Ahmed en Bassam Tariq
Vervaardig in die Verenigde Koninkryk
Mogul Mowgli, met Bassam Tariq in die hoofrol, het by die onlangse Europese Filmfees gespeel.
Zed, die hoofkarakter, is ’n hip-hop-kunstenaar.
Ons ontmoet Zed in die VSA waar hy gehore aan sy voete het, meisies in sy bed en ’n kontrak wat hom van stampvol kroeë na stampvol arenas gaan sien groei as kunstenaar. Sy harde werk word uiteindelik raakgesien.
Alles is egter nie wel nie. Sy huidige meisie en sy baie oulike, intelligente bestuurder moedig hom aan om ’n slag weer huis toe te gaan.
“Huis” is in Brittanje. “Huis” is ook waar sy Moslemgesin nog sterk vasklou aan hulle Pakistani-wortels.
Zak is ’n Brit, maar sy ouers is inkommers.
By die huis word hy deur ’n deel van die gesin en vriendekring verwelkom as die superster wat hy besig is om te word, maar ’n ander deel van die gesin en ’n deel van die gemeenskap sien slegs ’n Moslemseun wat nie meer sy geloof en tradisies slaafs volg nie. Sy pa en ma is baie ondersteunend, maar sy broer en talle ander maak gereeld geluide oor die feit dat Zed so afvallig leef.
Terwyl hy by sy ouers aan huis is, gaan hy na die moskee en probeer weer by die tradisies inpas. In dié tyd gaan dinge nog slegter. Hy begin hallusineer en sy lyf is moeg.
Dit sou verkeerd wees om die hele storie te verklap, maar sy diagnose word so vroeg reeds gemaak dat ek net genoeg gaan deel om te verduidelik waarom hierdie film die moeite werd is om te sien.
Ná hy inmekaarsak op straat, word hy opgeneem en met ’n outo-immuunsiekte gediagnoseer. Daar ís behandeling voor, maar hy sal ’n beenmurgoorplanting moet kry. In die proses moet sy eie beenmurg eers gedeaktiveer word en dit sal hom steriel laat – kinders is dus nie ’n opsie nie. Die dokter beveel dus aan dat Zed sperm laat vries voor die behandeling begin.
Die res van die storie gaan ek nie verklap nie; wel sal ek enkele temas aanraak wat die film uitlig.
Tradisionele geloofsbeskouings vs ’n postmoderne leefstyl
Die film handel oor ’n jonger geslag se interpretasie van geloof en kultuur wat in kontras staan met hulle ouers s’n, maar wat dan ook botsing veroorsaak met dié jongmense wat nog glo dat die heilige geskrifte absolute waarhede bevat; dit is hulle wat nog met hulle hele hart glo in ’n godheid se onveranderbaarheid. ’n Mens wil byna skryf “Glo”, want die oomblik wanneer ’n godheid só belangrik raak in ’n mens se lewe, verdien dit eintlik ’n hoofletter.
In hierdie geval is Allah natuurlik die naam wat aan die jongmense se godheid gekoppel word.
In Mogul Mowgli word daar met groot agting gekyk na die geloofsbeskouings van hulle wat glo, of dan Glo. Ek is nie deel van ’n Moslemgeloofsgemeenskap nie, maar is baie bevoorreg om gereeld deel te hê aan vieringe in die dampkring van die Islam. Self het ek al die voorreg gehad om in moskees te kom, selfs by meer as een geleentheid met kameras, en ek kan bloot sê die geloofsgemeenskap is smaakvol uitgebeeld.
Tog word daar vrae deur die draaiboek gevra, ook deur Zed in sy musiek, en later ook deur Zed in die keuses wat hy moet maak rakende sy siekte.
Daar is ’n besonder hartseer oomblik waar Zed ná ’n moeilike episode in die moskee vir hom ’n zol draai. Hy word raakgesien deur iemand wat hom herken en ’n selfie wil neem. Die jong bewonderaar maak dan beswaar as Zed die zol vir hom met sy linkerhand aangee – broers in die geloof gee goed vir mekaar met die regterhand aan. Zed sê dan dat dagga haraam is – waarom dit met die regterhand aangee? Haraam beteken onheilig. Kyk gerus hoe hierdie episode eindig.
Die groot geloofsvraag kom wanneer Zed se gesin besef hy mag dalk nooit kinders voortbring nie. Zed se pa wil kleinkinders hê. Hy is baie oopkop, en baie ondersteunend jeens sy seun se uitheemse idees om ’n loopbaan te bou – maar om nie te kan kinders kry nie? Daar trek hy ’n streep.
Zed se broer gaan verder: Hy beweer dit is ’n komplot van die wit regering om Pakistani’s te steriliseer.
Kyk die film. Wat hierna gebeur, laat jou lag, maar daarna gaan jy trane wegpink.
Hip-hop en die liminale ruimtes
Zed leef vir hip-hop.
Die film gee baie ruimte aan Zed se werk. Aan die begin sien ’n mens die jongman wat kook op die verhoog. Die akteur Riz Ahmed moet gelukgewens word. Hy is besonder goed in die rol van masjiengeweerkommentator.
Regdeur die film werk Zed aan lirieke, selfs in die hospitaal. Later, wanneer dit moeilik gaan, dink Zed ook terug en so sien ons, in terugflitse, hoe Zed deur harde werk sy musiekloopbaan gebou het. Telkens kry ons dus sosiale kommentaar deur die woorde van Zed se hip-hop.
Zed mag ’n Brit wees, maar sy ouers is in Pakistan gebore en hy is ’n Moslem. Hy mag lig van kleur wees, maar hy is bruin. Zed is egter ook nie meer ’n Pakistani nie. Zed gaan moskee toe, maar bevraagteken die sekerhede van sy ouers se geloof. Zed kom uit ’n arm gemeenskap en gaan deur harde werk vooruit.
Zed pas dus nêrens in nie, behalwe as hy hip-hop doen. Dan behóórt hy.
Hip-hop se kunstenaars spreek dikwels sulke liminale ruimtes aan. Wat beteken dit? In die antropologie word liminale ruimtes geïdentifiseer as kopruimtes waar beoefenaars van rituele besef hulle is nie meer onskuldig verknog aan hulle verlede nie, maar hulle is ook nie volwaardig deel van ’n nuwe bestel nie.
Zed se hip-hop is krities oor sy ouers geloof, maar hy spreek ook Westerse Islamofobie aan.
Zed is dus ’n Moslem, maar nie meer ’n gelowige Moslem nie. Dit bring hom in konflik met diegene wat hom sien as afvallig, maar hy weet ook dat hy nooit volledig en sonder bagasie aanvaar sal word in die wit, Westerse sekulêre omgewing nie. Hy is tussenin.
In sy jonger dae het hy gereeld deelgeneem aan poetry slams waar een kunstenaar ’n ander daag. In een van die terugflitse onthou Zed hoe ’n swart immigrant – ’n Brit van Afrika-afkoms – hom daag en vrae vra oor Zed se lewe in Brittanje omdat sy ouers nog soos Pakistani’s leef. Wanneer Zed dit dan durf waag om velkleur aan te spreek, breek ’n geveg uit ... Zed is nie wit genoeg vir Brittanje nie, maar ook nie swart genoeg vir diegene wat hulself as “swart” sien nie.
Hip-hop is ’n breë beweging, en die film toon ook hoe sekere kunstenaars daarin is suiwer om geld te maak, terwyl ander dit as ’n sekulêre roeping sien. Zed se nemesis is ’n hip-hop-kunstenaar wat vinnige motors en talle wulpse vroue in sy video’s gebruik. So gaan dit ook in ander lande: Die glamkunstenaars ry Bentleys en drapeer vroue om hulle arms. Die MC’s van wie Zed een is, lewer sosiopolitieke kommentaar, vra vrae en kan soms baie krities wees oor die samelewing.
Hip-hop in Suid-Afrika en Nederland
Suid-Afrika is geseënd met talle kunstenaars wat hip-hop beoefen: HemelBesem, YOMA, Die Hooflig, Churchil Naudé ... die lys is lank en baie wydlopend. Ons hip-hop-kunstenaars tree gereeld in Nederland en België op.
Danksy samewerking van onder andere #cocreateZANL – ’n inisiatief van die Nederlandse ambassade – word daar ook gereeld MC’s uit Nederland na Suid-Afrika gebring.
In 2016 het HemelBesem en vriende die vertoning ALLBasters geskep in samewerking met Sasnev en #cocreateZANL.
Albasters rol rond en is glibberig. ALL of us is ook basters ... Basters leef in die liminale ruimtes.
Francis Brown, Skafalau, Die Hooflig, James Bhemgee, Marakit, HemelBesem, Gian Groen, Herman Kleinhans, Linkris en Yoma.
ALLBasters het baie opsetlik verskeie Suid-Afrikaanse rassegroepe omarm. Gian Groen en James James Bhemgee het opgetree, maar so ook HemelBesem, Linkris, Die Hooflig, Herman Kleynhans, YOMA en tannie Francis Brown. Tannie Francis het haar lied “Bruin kind” gesing.
Skafalau en Marikit
Uit Nederland het Skafalau en Marikit aangesluit. Beide is immigrante wat nou in Nederland woon.
Die boodskap van ALLBasters sou kon wees dat sekulêre Nederland en Christelike Suid-Afrika propvol liminale ruimtes is. Meer nog, dat musiek, veral hip-hop, dan die platform skep vir kunstenaars om oor hulle ervarings te praat en dat hul aanhangers hulself in die kunstenaars se woorde kan vind. Marikit het baie opsetlik een lied in ’n spieël gesing, met haar rug na die gehoor. Tannie Francis het haar nagemaakte dresser op die verhoog gehad met ’n speel-speel spieël waarin sy gereeld gesit en kyk het.
Deur erkenning te gee aan die liminale ruimtes sien die gehoor iets van hulleself in ’n hip-hop-spieël.
Die bewustheid van liminale ruimtes skep egter ook ongemak. In Mogul Mowgli sing Zed oor varkvleis, wat natuurlik skokgolwe in die Moslemgemeenskap sal veroorsaak. In ALLBasters het Skafalau verwys na die protes teen die Zwarte Piet-tradisie in Nederland.
Churchil Naudé
Ook in Suid-Afrika is die woorde soms hard. Churchil Naudé, wat gereeld met kunstenaars soos Stef Bos saamwerk, het pas die digbundel Drol innie drinkwater gepubliseer. Talle van die gedigte het hulle ontstaan in sy lirieke. Dat hy daarmee wou aanstoot gee, is nie altemit nie. Drol innie drinkwater is ’n bewuste poging om die skoon, gekultiveerde en veilige ruimtes van Afrikaans binne te dring.
Churchil Naudé en Stef Bos tydens ’n uitsending waaraan ’n Belgiese radiostasie meegedoen het.
Tog ís Naudé Afrikaans.
Is hip-hop ’n brugteks?
Hip-hop is ’n musiekvorm waaraan verskillende tale gekoppel word, maar Mogul Mowgli het weer bewys dat ’n klein, onafhanklike film oor ’n Pakistani-gesin in Brittanje spieëls kan ophou waarin Suid-Afrikaners hulleself herken.
Hip-hop skep ’n platform waarop verskillende tale, gelowe en kulture kan byeenkom om ’n soort middelgrond te bereik – al is dit dan ook net om te erken dat die middelgrond juis ’n baie ongemaklike plek is.
Diegene wat nie redelik bekend is met Moslemtradisies nie, sal waarskynlik nie verstaan hoekom dele van Zed se familie so ontsteld is deur sy optrede nie, net soos talle mense sonder ’n intieme kennis van Afrikaans die omvang van Churchil Naudé se protes nie sal kan raaksien nie.
Tog bied ’n film soos Mogul Mowgli juis die geleentheid vir buitestanders om ’n slag te loer na die lewens van “ander”.
Mogul Mowgli was ’n welkome toevoeging tot die Europese Filmfees. Ek sou vermoed dat dit effens té riskant sou wees om lang speelvakke in Suid-Afrika se kommersiële teaters te kry, maar ek sou dit aanbeveel vir diegene wat na kunsfilms soek.
Die storie speel wel in Brittanje af, maar die temas gaan mense regoor die wêreld aanspreek, veral as hulle ’n belangstelling in hip-hop het. Dalk kan ons fondse kry om dit redelik wyd aan Suid-Afrika se hip-hop-liefhebbers te vertoon.
Fotografie: Izak de Vries | Plakkaat verskaf
Lees ook:
HemelBesem: “Ek glo dat die taal steeds besig is om te groei”
Ons Perspektief – A virtual exhibition by Vrystaat Kunstefees 2020
Intercontinental entanglements: slavery, Dutch colonialism and post-colonial identifications