- Die eerste Afrikaanse hiphop-lied wat opgeneem is, is “Dallah Flet” deur Prophets of Da City in 1990. Afrikaanse hiphop was dus reeds lewenskragtig ’n paar dekades voor Jack Parow, HemelBesem en Die Antwoord. Our World (1990) (waarop “Dallah Flet” verskyn) is Suid-Afrika se eerste hiphop-album.
- Fanakalo, die sg. (pidgin)-taal van die Suid-Afrikaanse myne, is ook deur Afrikaanse en Nederlandse woordeskat beïnvloed (6% Afrikaans, 70% Nguni (insluitend Zulu en Xhosa) en 24% Engels). Byvoorbeeld: spor (Afrikaans: spoorlyn); mosha (Afrikaans: mors); stul (Afrikaans: stoel) en skafu (Nederlands: schaften / kos eet). Fanakalo is ’n skaars voorbeeld van ’n oorbruggingstaal van kommunikasie (pidgin) wat ’n inheemse taal, eerder as die taal van ’n koloniserende of handelsmag, as basis het.
- Tradisionele wit Afrikanervolksliedere soos “Siembamba” en “Suikerbossie” se wortels is Kaaps-Maleis.
- Genadendal is die oudste sendingstasie in Suid-Afrika. Die publikasies wat via die Genadendalse drukpers gepubliseer is, is van die vroegste voorbeelde van Afrikaanse drukmedia. In ’n brief van 1899, gepubliseer in die maandblad De Bode van Genadendal, is die gebruik van Standaardnederlands op skool bevraagteken. In ’n 1904 brief is daar oor Afrikaans as ’n taal in eie reg besin.
- Die satiriese rubriek Straatpraatjes (tussen 1909 en 1922 gepubliseer) is gebaseer op die wit Afrikaner rubriek, Parlementse Praatjes. Parlementse Praatjes was in die Nederlandse koerant, De Zuid-Afrikaan (1830-1930), gepubliseer (De Zuid-Afrikaan was ’n Kaapse koerant). Straatpraatjes het aspris Kaapse Afrikaans (die gesproke taal van Kaapstad se bruin werkersklas) gebruik om teen die Afrikaans soos gebruik deur wit, middelklassprekers in byvoorbeeld die Parlement, te protesteer. Satire is ook gebruik om segregasie en wit rassisme teen te staan.
- Die opkoms van Afrikanernasionalisme in die 1870’s was, onder andere, ’n reaksie op die gedwonge gebruik van Engels deur Britse goewerneurs in die kerk, skole en die staatsdiens.
- In 1647 het die skip die Haerlem in Tafelbaai gesink. Taalkontak tussen die Nederlandse matrose, wat ’n jaar in die Kaap gebly het, en die Khoi, het toe reeds plaasgevind. Twee matrose het die toestande aan die Kaap gunstig evalueer. Hierdie skatting het onder andere tot die vestiging van ’n klein nedersetting aan die Kaap die Goeie Hoop in 1652 gelei.
- Moderne formele en informele Afrikaans vertoon baie invloede van Khoi-Afrikaans wat grammatika betref (dus nie slegs woordeskat nie), soos sinstrukture (Hy wat Gert is en nie ... nie), woordstrukture (aanja, bly staan, staanmaak, loop slaap) asook uitspraak (gjel naas geld).
- Tuan Guru, ’n prins van die Ternate-eilande in Oos-Indonesië, is in 1780 as politieke banneling van die VOC na die Kaap gebring. Hy was vir 13 jaar ’n gevangene op Robbeneiland (in die 1770’s het hy die sogenaamde Nederlandse indringers in Indonesië teengestaan). Hy het ook ’n manuskrip in 1781 hier saamgestel: die Ma`rifat al-Islām wa ’l-Imān was die hoofhandboek van die eerste Moslemskool en was ’n prominente godsdienstige teks onder die Kaapse Moslem-gemeenskap tydens die 19de eeu. In 1793 het Tuan Guru die eerste Moslemskool (Dorp Street Madrasah) gestig. Hy was die eerste imam van hierdie eerste opvoedkundige instelling van die Kaapse Moslems. Hy het gevolglik die eerste moskee, die Auwal-moskee, in 1795 gestig weens die groei in studentegetalle. Die skool en moskee was die eerste instellings van die Kaapse Moslem-gemeenskap. Teen 1842 was Islam die godsdiens van ’n derde van die bevolking in Kaapstad.
- Die Kaapse Afrikaanse uitspraak van woorde soos “beter” en “loop” as “bieter” en “loep” (sg. hoë vokale) onderskeidelik, en die gebruik van “dj” in plaas van “j” in byvoorbeeld “djamme” (in plaas van “jammer”) is deur Maleis beïnvloed. Die hoë vokale kom ook in Khoi-Afrikaans voor.
- Die wortel van “Afrikaans” (die Afrikaanse taal) is “Afrikaan”, wat “inheemse bewoner van Afrika” beteken. Dié benaming van die Afrikaanse taal verwys na die taal se ontwikkeling op die Afrika-kontinent as ’n taal in eie reg.
- Afrikaans is die enigste Germaanse taal wat in Arabiese skrif getranskribeer is.
Bronne:
- Etimologiewoordeboek van Afrikaans (EWA). 2003. Stellenbosch: Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal
- https://www.litnet.co.za/afrikaans-language-dissent/
- https://www.sahistory.org.za/article/afrikaner-newspapers-and-newspaper-industry-1830
- https://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/100364
- https://www.litnet.co.za/die-bo-kaap-en-afrikaans/
- https://www.litnet.co.za/erfenissimposium-5-desember-2013-indrukke-en-fotos/
- https://www.litnet.co.za/internasionale-moedertaaldag-khoekhoegowab-tale-en-khoi-afrikaans/
- https://www.litnet.co.za/die-khoekhoegowab-tale-en-afrikaans/
Lees ook
Buro: MvHKitsfeite oor Fanakalo, die taal van die Suid-Afrikaanse myne