Afrikaans: nog 10 kitsfeite

  • 0

Afrikaans het ’n ryk geskiedenis. Vroeë taalkontak tussen Nederlandse handelaars en inheemse Khoi-Khoi het reeds in 1595 plaasgevind.

Hiermee nog 10 kitsfeite oor Afrikaans:

♦ Die Moslem Theological School (1862), ’n gewese Moesliemskool in Kaapstad, was die eerste skool in Suid-Afrika wat Afrikaans as voertaal gebruik het. Die verbod op Afrikaansonderrig deur die Britse koloniste is deur Moesliemskole geïgnoreer.

Teen 1815 het Afrikaans vir Maleis as die onderrigtaal in Moslemskole (madrassas) in Kaapstad vervang, en teen die 1840’s was Arabiese Afrikaans in hierdie skole goed gevestig as onderrigmedium. ’n Koplesboek is ’n oefenboek waarin kinders die skrifgedeeltes en tekste uit die Koran oorgeskryf het. Die skryfoefeninge is in Kaapse Afrikaans gedoen, maar met die Arabiese alfabet.

Met vergunning van die kurator van die Afrikaanse Taalmuseum kon ek in die argief hierdie dokument besigtig, naamlik ’n bladsy uit ’n Arabies-Afrikaanse oefeningboek/koplesboek (met Arabiese skrif in inkpen geskryf). Oorspronklik handgeskrewe met die Afrikaanse vertaling in balpuntpen. Watermerk op papier met 1860.

♦ Een van die aanvanklike oogmerke van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) was om die Bybel uit Nederlands in Afrikaans te vertaal vir bruin Afrikaanssprekers.

♦ Gedurende die 17de eeu het die VOC terme soos “Africaander” en “Africaaner” vir die inheemse mense aan die Kaap gebruik. Teen die begin van die 18de eeu het “Afrikaner” slegs na slawe, vryswartes en Khoi wat in die Kaap gebore is, verwys, bv Jager Afrikaner. Khoi-groepe in Namibië met Afrikaans as moedertaal se bekende leiers het Jonker Afrikaner (1790–1860) en sy seun, Jager Afrikaner, ingesluit. Die Maleise gemeenskap het hulself Afrikaners – mense wat in Suid-Afrika gebore is – genoem, tot in die 1990’s. “Afrikaner” word dus histories nie slegs met wit Afrikaanssprekendes geassosieer nie.

♦ Die basis vir Standaardafrikaans is Oosgrensafrikaans, wat tydens die 18de eeu in die binneland ontwikkel het. Oosgrensafrikaans se wortels is Khoi-Grensafrikaans en Veeboer-Grensafrikaans.

♦ In die tyd van die vestiging van die GRA was Nederlands die skryftaal. Maar die Patriotte wou nie Nederlands skryf nie; hulle wou skryf soos hulle praat. Hulle wou nie Khoi-Afrikaans skryf nie, slegs Veeboerafrikaans. Maar: Khoi-Afrikaans en Veeboerafrikaans is teen hierdie tyd alreeds vir 100 jaar in hierdie binneland saam gepraat. Die neerhalende reaksie was: Maar die Patriotte skryf in Khoi-Afrikaans.

♦ Kaapse vroue van die vroeë Kaap kan as sg agente van taalverandering beskou word. In huishoudings met die boervrou, die werkers (Khoi of slawe) en kinders, het taalkontak plaasgevind. Van die vroegste Afrikaanse taalvorme, opgeteken deur vroue, is eers ’n eeu later deur mans amptelik gedokumenteer.

♦ Die taalbeleid van die VOC om Nederlands te laat voortbestaan, het ’n groot bydrae gelewer tot die behoud van Nederlandse taalstruktuur, spreektaalvorme en taalnorme:

[D]ie [VOC] [het] ’n streng taalbeleid … toe[ge]pas: in skole en die staatskerk is slegs Hollands toegelaat … Die gevolg? Teen die middel-1700’s het die Hugenote hul huistaal begin vergeet en hul kennis daarvan was iets van die verlede. Erger nog, hulle het as unieke gemeenskap met ’n uitsonderlike identiteit en leefwyse verbrokkel …

Ditto die Khoi-San … Hele taalfamilies … is daarmee heen … Net twee het oorleef: Nama en !Nu van die Kalahari-Boesmans. Oumense vertel nou nog hoe hul voorouers van Nama ’n “skindertaal” gemaak het deur dit net te praat wanneer hulle alleen was. (Willa Boezak)

♦ ’n Groep oorwegend Noord-Kaapse Afrikaanse boere (ongeveer 650) het hulleself ná die Suid-Afrikaanse Oorlog in Argentinië gaan vestig. Hulle wou nie deur die Britte regeer word nie.

♦ Jitsvinger het die term “Afrikaaps” gemunt.

♦ “My pen is in my hand” is dieselfde in Afrikaans en Engels.

Bronne

Carstens, Wannie en Edith Raidt. 2019. Die storie van Afrikaans: uit Europa en van Afrika ‒ Biografie van ’n taal (Deel 2). Pretoria: Protea Boekhuis.

Giliomee, Hermann. 2004. Die Afrikaners: ’n Biografie. Kaapstad: Tafelberg.

https://www.litnet.co.za/ont-taling.

https://www.litnet.co.za/genadendal-n-erfenisjuweel.

https://scholar.sun.ac.za/handle/10019.1/100364.

McCormick, Kay. 2002. Language in Cape Town’s District Six. Oxford: Oxford University Press.

.............

Lees ook op Voertaal en LitNet

Afrikaans: 10 kitsfeite

Op weg na die volheid van die Afrikaanse taal

Onderhoud: Waar het die spoor van Afrikaans as onderrigtaal begin?

Revisiting the end of the world: an interview on language identity and displacement

kykNET Silwerskermfees 2015: Boers at the End of the World | Boere op die aardsdrempel

Ont-taling

Genadendal: ’n erfenisjuweel

Die Bo-Kaap en Afrikaans

Internasionale Moedertaaldag: Khoekhoegowab-tale en Khoi-Afrikaans

Afrikaans: the language of dissent

Buro: MvH
  • 0
Top