...
Dit help ook nie dat ’n universiteit soos Stellenbosch, wat sentraal geleë is in die hartland van die grootste gros sprekers van die taal, algaande van Afrikaans ontslae raak nie. In die ATR-SNI-verslag word daarop gewys dat 65% van alle Afrikaanssprekende bruin mense binne ’n 300 km-radius van die universiteit woon.
...
Die Cape Flats Krotoa Alumni-toekennings word jaarliks gehou om veral vroue, maar ook mans van die Kaapse Vlakte te vereer vir hulle gemeenskapsprojekte. Dit is die inisiatief van die bekende teenmisdaadaktivis Roegchanda Pascoe. Hierdie jaar se geleentheid is verlede Saterdag in die Kaapstadse stadsaal gehou en hoewel daar baie Engels gepraat is, het die Engels ’n Afrikaanse klank gehad.
Dit was by hierdie geleentheid dat minstens drie sprekers melding gemaak het van hulle stammoeder Krotoa se uitsonderlike taalvernuf: dat sy as ’n Khoi-vrou nie slegs die hele verskeidenheid tale van die inheemse groepe kon praat nie, maar ook tjoef-tjaf Nederlands in die Van Riebeeck-huishouding aangeleer het.
Portugees en Engels sou ook volg; en dit is hierdie vermenging van tale, vertel historici, taalkundiges en navorsers graag, wat uiteindelik die ontstaansbron vir Afrikaans gevorm het, saam met die invloed van die Afrika- en Arabiese tale van slawe wat hierheen gebring is.
Terwyl applous vir die ontvangers van die Krotoa-toekennings uit die gehoor opgeklink het, het die projekte waarvoor hulle vereer is – onder meer voedingsprogramme, gesondheidsprojekte en ontwikkelingsaksies vir voorskoolse kinders – ’n treurige prentjie geskets van die maatskaplike omstandighede waaronder die afstammelinge van Krotoa gebuk gaan.
Die groot meerderheid van hulle identifiseer hulleself as “bruin mense” en die situasie waarin hulle hulself bevind, is sowel ’n resultaat van historiese vervreemding as van hedendaagse vernalating. Wat tot die huidige stand van sake bydra, is die lae opvoedingsvlakke en afwesige vaardighede by die meerderheid uit hierdie groep.
Waar dié groep – as deel van die tweede grootste bevolkingsgroep in die land – wel ’n (positiewe) uitskieter is, is vervat in ’n nuwe verslag (getiteld “Die algemene demografie van Afrikaans, 2022”), wat verlede Vrydag buite Stellenbosch deur die Afrikaanse Taalraad (ATR) en die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) bekend gestel is.
Die verslag dui weliswaar op ’n verengelsingskoers onder bruin Afrikaanssprekendes van nagenoeg 20 000 per jaar in die dekade tussen 2001 en 2011, maar dit maak nie ’n noemenswaardige duik in die groeiende aantal bruin mense wat Afrikaans steeds as huistaal besig nie.
Uit ’n totaal van 6,85 miljoen Afrikaanssprekendes (volgens die 2011-sensus), is 3,44 miljoen sprekers van die taal bruin, terwyl 2,71 miljoen wit is. Hier is die rooiligflikker egter: “Afrikaanssprekendes krimp van 12,5% van die totale bevolking in 2016 na 11,8% in 2021 (Statistieke Suid-Afrika se 2022-syfers), ’n neiging wat tot die jaar 2040 voortgesit sal word,” aldus Connie Mulder van die SNI.
Hoewel die projeksie vir 2040 weliswaar ’n dalende aantal wit sprekers voorspel (af tot 2,57 miljoen), dui die syfers daarenteen aan dat die bruin, Afrikaanssprekende getalle teen dan tot 3,72 miljoen sal styg.
Maar ongelukkig word dié “taalkrag” waaroor hierdie groep beskik, nie in ekonomiese geleenthede omgeskakel nie. Talle van hulle skyn geen (onmiddellike) ander uitweg te hê as om hulself maandeliks na die groeiende rye begunstigdes van die staat se maatskaplike toelae te wend nie.
In die genoemde verslag van die ATR en die SNI word ook vermeld dat die bruin Afrikaanssprekende kohort relatief-jonk is (mediaanouderdom: 25,8 jaar). Altesame 4,58% van die groep is bo 65 jaar, teenoor 46,9% wat hulself in die onder-25 jaar ouderdomsgroep bevind.
In hulle geval, sê die outeurs van die verslag, behoort onderwys en intreevlakarbeid geprioritiseer te word. Helaas, ’n skamele (eintlik skokkende) 1,3% van bruin, Afrikaanssprekende skoolverlaters gaan universiteit toe en net sowat 4,5% registreer vir enige vorm van tersiêre onderrig – in albei gevalle die laagste onder alle Suid-Afrikaanse bevolkingsgroepe.
Dit help ook nie dat ’n universiteit soos Stellenbosch, wat sentraal geleë is in die hartland van die grootste gros sprekers van die taal, algaande van Afrikaans ontslae raak nie. In die ATR-SNI-verslag word daarop gewys dat 65% van alle Afrikaanssprekende bruin mense binne ’n 300 km-radius van die universiteit woon. Maar watwou: nadat die universiteit vroeër sy afskaling van die taal tot in die Konstitusionele Hof suksesvol verdedig het, is die strop nou stywer om die nek van Afrikaanse studente en personeel gedraai.
...
Die tyd vir ’n “Afrikaanse lente”, gelei deur dié stemme, het dalk nou aangebreek as ’n teenreaksie vir pogings uit ideologies-gedrewe regeringskringe wat Afrikaans van sy Afrika-wortels wil stroop en ook teen die “verdrukking” van ’n rektoraat by ’n universiteit wat met Afrikaanse geld opgerig is.
...
Hoe so? vra jy. Die antwoord is die verband wat in ’n ander nuwe verslag, dié van die Khampepe-kommissie ná beweerde rassisme by die US, getref word tussen die taal en die “rassisme” in die dwase optrede van beskonke wit manstudente. Onthou jy die Huis Marais-voorval? Die Khampepe-kommissie is in reaksie daarop in die lewe geroep. Die kommissie se verslag, wat hierdie week openbaar gemaak is, plaas Afrikaans nou as onderrig- en gebruikstaal op die US-kampus en in sy koshuise as’t ware op die rand van ’n afgrond waarvan dit moeilik sal kan terugdraai.
Nodeloos om te sê, sal dit min help as die gewoontestryders teen die benadeling van die taal en sy sprekers ook hierdie keer voor in die ry van kapsiemakers stelling inneem. Ander inheemse stemme moet nou na vore tree – soos die bruin, Afrikaanssprekende afstammelinge van Krotoa.
Die tyd vir ’n “Afrikaanse lente”, gelei deur dié stemme, het dalk nou aangebreek as ’n teenreaksie vir pogings uit ideologies-gedrewe regeringskringe wat Afrikaans van sy Afrika-wortels wil stroop en ook teen die “verdrukking” van ’n rektoraat by ’n universiteit wat met Afrikaanse geld opgerig is. Ons sien tog hoedat gemeenskappe, waar Afrikaans floreer, daagliks opstaan en hulle moue oprol om die verskil te maak, ten spyte van die suidoosterwind van ’n sukkelbestaan wat hulle daagliks moet trotseer, soos diegene wat verlede Saterdagaand vereer is.
Nou word daar uit die geledere van die staat en die US van hulle verwag om namens hulle taal – as ’n mens Neville Pedro se gedigtitel uit sy bundel Psalms van ’n plaaskind mag leen – te “bedel vir oorlewing”.
Lees ook:
Sodat ons nie die rol van Krotoa in die Kaapse geskiedenis sal vergeet nie
Toyota US Woordfees 2022: Krotoa: Eva van de Kaap – ’n beskouing