Die mediadekking was maar skraps, soos so dikwels die geval is met gebeurtenisse wat verband hou met Suid-Afrika se inheemse groeperinge of eerste-nasie-mense. Dit is kompleet asof historiese vergeetagtigheid of hedendaagse ontkenning intree – en dit is jammer, eintlik skreiend, omdat die Khoisan die oorspronklike inwoners van die land is en dus onmisbaar in die ontstaansgeskiedenis van die reënboognasie.
Dié treurlied (of teregwysing) spruit voort uit die Vrouedag-byeenkoms die afgelope Dinsdag by die Kasteel de Goede Hoop in die Kaapse stadskern, digby die ewe historiese Parade en die stadsaal aan die anderkant van Darlingstraat. Hiertydens is die nalatenskap van ’n uitsonderlike vroue-Khoisan-ikoon gevier – ’n geleentheid wat byna ongesiens verbygegaan het. Haar naam was Krotoa, ook bekend as Eva (haar “doopnaam”); en Van Meerhof is sy getroud.
Jy kan die teleurstellende bywoning van die funksie, wat deur die Krotoa-stigting gereël is om voorbrand te maak vir die hernoeming van die Kaapstadse Internasionale lughawe na haar, in hierdie SABC-nuusvideo sien.
Ten minste was die openbare uitsaaier teenwoordig om die nuus met hulle gehoor te deel, maar nêrens anders kon ek tot nou enige ander berigte oor die viering opspoor nie. Die RSG-aktualiteitsprogram Monitor het wel ook met ’n verteenwoordiger van die stigting gepraat.
Maar waar was die res van die land se vernaamste mediaplatforms? Hulle het waarskynlik gefokus op die dekking van die regering en politieke partye se amptelike Vrouedag-vieringe, wat die Krotoa-geleentheid tot onder op die prioriteitslys van nuuskantore laat daal het.
’n Mens sou egter veral verwag dat Afrikaanse mediaplatforms die dekking van die geleentheid hul erns moes maak – en dalk word dit van ons in die Afrikaanse mediawêreld vereis om tog nog prontuit oor die netelige kwessie gesprek te voer – aangesien die meerderheid Afrikaanssprekendes in die land (dit is natuurlik die bruin gemeenskappe) afstammelinge is van die inheemse Khoisan-groepe.
Net die ander dag nog by ’n byeenkoms van die Dagbreek Trust, wat in die lewe geroep is om Afrikaans te bevorder, het die Khoisan-navorser Willa Boezak almal teenwoordig herinner waarom Krotoa, asook haar oom Autshomoa en ’n ander ikoon, Doman, nie durf vergeet word nie. Nie net was al drie van hulle tolke en belangrike skakels in die ruilhandel tussen die plaaslike inwoners en die koloniale aankomelinge nie, maar Krotoa het boweal van ’n jong kinderoppasser gevorder tot ’n belangrike tussenganger in die konflik tussen die plaaslike groepe onderling en tussen hulle en die Hollandse geselskap van Jan van Riebeeck van die VOC.
Dit was hierdie “natuurlike gawe vir tale” van Krotoa, Autshomoa en Doman, wat Nederlands, Engels en Portugees magtig was, waarop Boezak veral klem gelê het. Wat belangrik was van hulle drie, meen hy, is dat moedertaal vir hulle belangrik was en, tweedens, dat hulle gehelp het om Khoi-Afrikaans as die vroegste vorm van Afrikaans, so ver terug as 1595, te vorm.
Taal is ook wat Krotoa die afgelope week in die kollig gebring het. Of dalk nie soseer taal nie, maar naamgewing. Net voor die Covid-inperkings alles in die land tot stilstand gedwing het, was ’n openbare gesprek aan die gang oor die hernoeming van die Kaapstadse lughawe. Dit het die Krotoa-beweging teenoor die linkse, radikale ondersteuners van die EFF (Economic Freedom Fighters) van Julius Malema opgestel. Uiteindelik het die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (ACSA) aangekondig dat die kwessie van die tafel verwyder is.
Die geleentheid op Vrouedag het die gesprek egter nuwe bene gegee: Die stigting en ander dring steeds daarop aan dat die lughawe Krotoa se naam moet dra, soos wat die Universiteit Stellenbosch byvoorbeeld die RW Wilcocks-gebou, genoem na die universiteit se eerste rektor, na Krotoa hernoem het. Ook die verhoogstuk Krotoa, Eva van de Kaap, geskryf deur Sylvia Vollenhoven (en opgevoer in samewerking met die Volks Operahuis), word geprys as ’n eerbiedige illustrasie van haar as “volksmoeder”.
Die stryd om behoorlike en volgehoue erkenning vir Suid-Afrika se inheemse groeperinge is egter nog nie verby nie. Struwelinge tussen verskillende groepe en diegene wat op hoofmanskap aanspraak maak, maak sake natuurlik nie makliker nie. Dit speel nou weer uit met die beplande Liesbeek Park-ontwikkeling in die Skiereiland, waar van die eerste opstande teen die koloniale magte plaasgevind het – selfs die multisnasionale sakereus Amazon wil hulle Afrika-hoofkwartier daar vestig, maar die een hofgeding ná die ander vertraag tans die ontwikkeling en bedreig die voortbestaan daarvan – in hoofsaak weens die geskil oor watter Khoisan-groepe dit steun en wie nie bereid is om dit te steun nie, ten spyte daarvan dat ’n Khoisan-kultuurdorpie een van die belangrikste aspekte sal uitmaak.
Om die Khoisan-koppestampery tot ’n einde te help bring en dié gemeenskappe groter erkenning te bied, is ’n Kommissie oor Khoisan-aangeleenthede in Oktober verlede jaar deur Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van plaaslike regering en tradisionele sake, in die lewe geroep. Groepe en individue kan voorleggings aan die kommissie maak om amptelike status te verkry, maar dit gaan ongetwyfeld ’n stryd wees vir die kommissie, wie se termyn in 2026 verstryk, om sy werk afgehandel te kry.
Krotoa se einde was tragies: Ná haar man, Pieter, se dood, is sy onder meer na Robbeneiland verban, haar kinders is haar ontneem, sy is as ’n uitverkoper deur haar eie mense uitgekryt en, omgekeerd, as ’n vloerlap deur die koloniale heersers behandel totdat sy uiteindelik as ’n alkoholis haar laaste asem uitgeblaas het. Dié verontmenslikende behandeling wat sy moes verduur, maak egter nie haar historiese rol in die eerste pogings tot sosiale kohesie tussen plaaslike inwoners en besoekers uit ander wêrelddele minder belangrik nie.
Hierdie rol kan nuwe betekenis gegee word as die belangrikste aankomspunt vir besoekers aan die Kaap wél tot Krotoa Internasionale Lughawe herdoop word, soos wat die stigting hom voor beywer. Naamgewing het ongelukkig in die verlede mense verdeel, maar as dit behoorlik en met opregte bedoelings gedoen word, kan naamgewing help om heling te bring. Dit is wat die gekwelde Kaap van ewige Goeie Hoop die meeste na hunker, hier waar die spoke van die Khoi en die San se gefolterde siele steeds dwaal, slagoffers van wat oudpresident Thabo Mbeki in sy “I am an African”-toespraak met die aanvaarding van die nuwe Grondwet in Mei 1996 na verwys het as “the most merciless genocide our native land has ever seen”.
Nou was dit tyd, het Mbeki bepleit, dat die hoorbare stilte hieroor verbreek moet word sodat dit wat hier afgespeel het, ons moet leer om nooit ooit weer onmenslik teenoor mekaar – en teenoor aankomelinge van elders, bygesê – op te tree nie. Krotoa se naam moet om daardie rede veral besoekers aan die Kaap welkom heet; háár stem moet juis dáárom gehoor word: Gâitses!
Lees ook op LitNet Akademies (Geesteswetenskappe):
Lees ook op Voertaal en LitNet:
Jakes Gerwel-gespreksreeks (Suidoosterfees): Krotoa – wat beteken sy vandag?
Sylvia Vollenhoven: "Je kunt het heden niet losmaken van het verleden"