Toyota US Woordfees 2022: Krotoa: Eva van de Kaap – ’n beskouing

  • 0

Sylvia Vollenhoven se drama Krotoa Eva van de Kaap was tydens die 2022 Toyota US Woordfees op die planke.

Die verhaal speel oor twee tydvakke af: in die geskiedenis, maar ook in die hede.

Dié oorgang word moontlik gemaak deur die verhoog voor te hou as ’n filmstel. Ons sien dus akteurs in historiese kostuums, met enkele historiese artefakte agter hulle. Langs die kante van die verhoog is egter moderne voorwerpe, soos plastiekwaterbottels en spieëls omring deur elektriese ligte. Ook op die verhoog sit twee musikante: Die een is geklee in ’n kostuum wat gepas sou wees in Van Riebeeck se tyd, die ander in ’n tipe gemoderniseerde Khoi-drag.

Die gehoor weet dus van die begin af dat hier metateater plaasvind.

Die aksie begin. Ons kyk na ’n historiese stel en die akteurs speel hul historiese rolle. Dan lui ’n selfoon en die vrou haal ’n moderne toestel uit haar outydse kostuum. Sy sê aan iemand, onbekend aan die gehoor, dat sy behoorlik keelvol is vir die “Hollander wat so sukkel met sy karakter”.

Gemelde “Hollander” kom dan op die verhoog, haal sy pruik af en begin inderdaad gesels oor hoe moeilik hy as moderne Nederlander dit vind om simpatie te hê met Van Riebeeck, die karakter wat hy moet speel.

Van sy vroulike teenspeler se kant kry die Nederlandse akteur min simpatie. Haar simpatie lê wel by die Krotoa as vrou: ’n tolk en diplomaat in die dag, maar ’n matras vir die kompanjie se mans in die nag.

Die moderne karakters se wêreldbeskouing word so in die storie ingevleg. Dit lewer dus kommentaar, sonder om preke af te steek.

Die vrou wil byvoorbeeld weet of die Nederlander dink dat vergoeding vir kolonialisme nie dalk ’n goeie manier sal wees om oor die skuldgevoelens te kom wat die Europeërs steeds dra nie.

Uiteindelik ontwikkel ’n vriendskap tussen die twee, en saam met hulle moderne karakters wat begin mens word vir die kyker, leer die gehoor ook die historiese karakters ken.

Goeie navorsing

Die stuk is nie bedoel om ’n diep dokumentêre blik op die historiese karakters te bied nie, maar daar word dikwels uit Van Riebeeck se dagboeke en ander historiese bronne aangehaal.

Die stelontwerp en kostumering is slim.

Uiteindelik is dit egter ’n metaverhaal – een wat goeie inligting gee oor die verlede, maar ook ’n moderne blik bied op ’n tyd wat lank reeds verby is.

Musiek

Een van die hoogtepunte van die stuk is die klankbaan. Frazer Barry en Riku Lätti is gewoonlik goed, en saam is hulle dikwels voortreflik. In hierdie stuk is hulle subliem. Lätti speel veral die trekklavier, terwyl Barry allerlei boë en horings en houers vol sade speel en skud om klanke eie aan die inheemse mense van die Weskus voort te bring. Van die instrumente het ek nog net in musiekmuseums gesien.

Barry speel ook kitaar.

Beide Barry en Lätti verlaat soms hul poste om karakters voor te stel op die verhoog. Die woord veelsydig sou hulle rolle op die verhoog onderbeklemtoon.

Die hoofspelers

Bianca Flanders speel Krotoa, die vrou wat as veeltalige meisie eers ’n skropvrou was in Van Riebeeck se huishouding, later ook ’n tolk, en selfs diplomaat. Sy kry dit reg om Krotoa, wat gedoop word en toe Eva sou word, se verskillende ouderdomme en lewenservaringe goed uit te beeld. As die moderne aktrise oortuig sy ook – sy hou die Nederlander eers op ’n afstand en word dan, deur woorde en gebare, sigbaar meer geïnteresseerd in hom as mens.

Geon Nel, wat beide Van Riebeeck en later ook Eva se man speel, oortuig in sy onderskeie rolle, en kry dit reg om ook ’n moderne Europeër korrek oor te dra. Sy Engels is deurgaans erg Europees.

Tale

Die stuk is veeltalig. Nederlands en Engels word afgewissel, en op die filmstel word ook een van die tale van die Khoi gepraat.

Tussendeur word daar ook Afrikaans gepraat.

Sodra enige taal anders as Engels gepraat word, verskyn Engelse woorde op ’n skerm agter die akteurs. Só kan die gehoor byvoorbeeld deel in die vernuf van ’n jong Krotoa wanneer sy as tolk én diplomaat moet optree tussen die Nederlanders en ’n Khoi-hoofman.

Flanders speel die rol(le) vlot.

Die skrywer

Sylvia Vollenhoven het bekend geword vir haar roman Keeper of the Kumm, wat ook verfilm en vir die verhoog verwerk is.

Daarin is ’n ondersoek na die taal en die verhale van die Khoi, vervleg met ’n soeke na haar eie verlede.

Daar is ooreenkomste tussen haar roman en Krotoa Eva van die Kaap, hoewel hierdie stuk veel meer op die wisselwerking tussen historiese karakters en die moderne mens fokus, terwyl Keeper of the Kumm nouer met haar eie verlede verband gehou het.

Die koppelvlak

In Nederland en in België word daar tans ernstig gekyk na die koloniale verlede, en die plundering van die kolonies. Hierdie drama kyk meer na die rol wat die koloniale bestel op mense gehad het. Individue.

Deurdat die moderne karakters mens word in die oë van die kyker, groei ’n soort simpatie met die karakters. Van Riebeeck en sy trawante word nooit vergoeilik nie. Hulle word eerder menslik. Maar dan word die karakter van Krotoa ook meer menslik, en tragies.

Deur menslike stories te vertel en nie politieke toesprake af te steek nie, word ’n diep bewussyn van ons hartseer verlede na vore gebring sonder om bloot vinger te wys en te betig.

Krediete

Akteurs: Bianca Flanders, Geon Nel, Frazer Barry, Riku Lätti

Skrywer: Sylvia Vollenhoven

Regisseur: Basil Appollis

Produksiebestuurder: Blythe Linger 

Verhoogbestuurder: Kathleen Stephens 

Stelontwerp: Volksoperahuis 

Beligtingsontwerp: Faheem Bardien

Tegniese versorging: Ben du Plessis 

  • Plakkaat, verskaf; foto's, Izak de Vries
Lees ook:

African Library: Keeper of the Kumm by Sylvia Vollenhoven

Artfluence-menseregtefees: Die verlede vierkant in die oë

Ontvanger van P.C. Hooft-prys, Alfred Schaffer, ’n digter werksaam in die gebied tussen Afrikaans en Nederlands

Duitsland erken uiteindelik volksmoord in Namibië

’n Stikstofkrisis, die koloniale verlede en ’n bietjie goeie nuus

Die koloniale wond in die grond

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top