
Die verwelkomende liggies van ons pod as ons saans terugkom van ’n sonsakwildrit.
Die bordjie by die hek is onverwags en eerlik: “Roofdiere en wilde diere agter hierdie heining.” Ek skuif regop in my sitplek en glimlag. Dis presies hoekom ons ná drie jaar terug is by Mount Camdeboo Privaat Wildreservaat, sowat 60 kilometer oos van Graaff-Reinet. Nie net vir ’n romantiese wegbreek vir Valentynsdag nie, maar vir daardie fyn tinteling van avontuur wat hand aan hand loop met Karoo-stilte.
Die rit van net meer as drie uur van Gqeberha se lughawe voel soos ’n stadige ontknoping: die landskap word ruimer; die horison wyer; jou gedagtes stiller. Dis vreemd hoe ’n plek soos die Groot Karoo terselfdertyd onbekend én volkome bekend kan voel en elke besoek iets anders aan jou blootlê.
Mount Camdeboo lê in die Sneeuberge – ’n plek met hart en siel, en dit neem jou net ’n paar minute om te verstaan hoekom. Met ons aankoms by die ou herehuis wat in ’n luukse gastehuis omskep is, is dit die klein dingetjies wat die hardste fluister: die swaar oregondeure met hul lae knoppe; die houtvloere wat herinner aan geslagte se voetval, aan werkende hande en eenvoudige roetines.
Hier leef die geskiedenis in die mure.
Dis asof die huis jou nie net verwelkom nie, maar jou herinner: aan tuiskoms, aan erfenis, aan ouma se plaashuis waar houtvloere met Cobra blink gemaak is en tyd stadiger beweeg het.
Skielik is die vroeg opstaan vir die vlug uit die Kaap vergete. Iemand het ’n glas tuisgemaakte limonade, gegeur met ’n tikkie laventel, langs my kom neersit. Die koel soetigheid is sag, amper vertroostend.

Ons eet ’n ligte middagete en drink tee op die stoep van die herehuis, voor Martin ons kom haal.
Vir ’n paar sekondes is ek amper spyt ons bly nie in die herehuis oor nie, maar dan doem die beelde van die hout pods op en my FOMO is weg.

Martin Teuteberg
Ná ’n ligte middagete, kom haal die hoofgids, Martin Teuteberg, ons.

Die Ford
Jy los jou motor daar by ontvangs en hoewel ons Ford Everest XLT 2025-model 2.0L Bi-Turbo Diesel heerlik was, is ek dankbaar ons hoef nie die steil bergpad na die pods self te ry nie.
Ons, ons bagasie én aandete word op ’n wildkykvoertuig gelaai en jy weet: Nou begin die avontuur. Die rit na die pods hoog in die berge neem sowat 50 minute – lank genoeg om die wêreld onder jou te laat wegval.
“Hier word die geskiedenis van geslag tot geslag oorgedra; die kennis van die veld en die grond ook – deur mense wat hier gebore is. Wat elke bult en boom ken,” vertel Martin so in die ry. Sy stem dra respek, nie net vir dit wat om ons lê nie, maar vir die mense wat dit verstaan en wil bewaar.
Hoër op die berg sien ons die eerste pod waarin ons voorheen gebly het. ’n Moderne kokon op ’n platkop - minimalisties, afgesonder maar luuks. Dié een kyk inwaarts, na die voue van die berge. Ons weet hoe dit voel om daar jouself te verloor en weer mens te word.
Die tweede een kyk oor die plato tot waar die aarde en lug mekaar ontmoet. Dis knus en lig binne: hout, linne en stilte; ’n wêreld van Karoo-vlaktes, berge en hemel buite. Hier bestaan tyd nie.
Groot glasdeure, vensters teen die kant en in die dak bring die landskap in: die son wat oor die vlakte gly, die skadu van wolke en snags ’n sterrehemel wat eenvoudig oorweldigend is.

Veilig en knus
Binne is daar ’n koningingrootte bed, ’n kompakte kombuisie, badkamer en ’n houtdek met ’n privaat vuurmaakput. ’n Entjie verder wink die verhitte swembadjie: die stapeltjie hout gereed vir vuurmaak.
Met aandete se slaai en botter veilig in die yskas en die hoofmaal in ’n verhitte sak, klim ons terug op die voertuig vir ’n laatmiddag wildrit. Martin praat met dieselfde gemak oor diere as oor wolke. Soms is daar lang stiltes – geensins ongemaklik nie, maar kosbaar. Dis asof hy met elke nuwe gastepaar die veld op ’n ander manier ervaar.
Die veld omvou jou met reuke en klanke: warm grond, gras, ’n sagte briesie teen jou wang. Jy onthou weer hoe dit voel om in die oomblik te leef.

Danksy die lekker zoemlens van die Canon R6, kan jy die natuur tot op jou neuspunt intrek.
Ons sien diere, maar dis die skouspel teen die hemele met sononder wat ons aandag vashou.
Terug by die pod noop die onverwagse koue ons om die swembadjie se kaggeltjie te stook en ons sak met glase vonkelwyn onder die warm water. Later, by kerslig, eet ons ryk beesstert en drink wyne van Glenelly uit die Kaapse wynlande. Daardie nag lê ons op die bed en kyk deur die dakvenster hoe ’n kunstenaarshand met silwer strepe vol sterre teen die naghemel skilder.
Die volgende oggend is die wind lig en die son flou. Rooihartbeeste word goud in die eerste lig toe ons weer saam met Martin die veld inry. “Dis die lekker van reën,” sê hy. “Die aarde vee sy lei skoon. Alle spore is vars. Dis ’n nuwe begin.”
Hy wys vir ons hoe jakkalse, bokke en voëls hul spore los; hoe sommige diere in hul eie spore trap om hul teenwoordigheid te verdoesel. “Kyk nie net met jou oë nie,” sê hy. “Kyk met jou hart ook.”

Bergsebras wat ongehinderd deur ons teenwoordigheid hul gang gaan.
By Sebrasdam is die diere nog nat van hul oggendbad. Die water is bruin van die modder en ek wonder hoe daardie swart en wit lywe weer so helder gaan lyk. ’n Paar blesbokke wei rustig en in die verte hoor ons twee leeus roep. “Hier is net vier,” sê Martin sag. “Dis besonders om hulle te hoor.”
Ons hoop om hulle tog met ons kuier te sien, maar die behoefte is anders: nie dringend nie, eerder ’n versugting.
Mount Camdeboo se transformasie van landbougrond na ’n florerende wildreservaat is merkwaardig. Die droom is om die Karoo se natuurlike balans te herstel – stadig, doelbewus. “Met geduld,” sê Martin. “Die veld herstel vinnig as jy hom kans gee.” Sedert 2018 word die Groot Vyf een na die ander teruggebring: witrenosters, olifante, leeus, jagluiperds, buffels – almal vorm weer deel van die ekologie.

Teen die andersins vaaltes van die Karoo, is gekleurde geveerdes ’n lekker vonds.
Dis nie net die groot diere wat aandag kry nie. Mount Camdeboo werk ook om bedreigde spesies soos die bergsebra, bloukransvoël en verskeie boksoorte, soos eland en gemsbok, terug te bring en te beskerm. Elke stap in hul bewaring is versigtig beplan om balans te handhaaf – tussen mens, natuur en tyd. Die drakapasiteit is goed, mymer hy. Meer vir homself as vir ons.

Die bene rek en koffie drink, of bene rek en sonsaksopies is altyd ’n lekkerte in die veld.
Martin wys waar ou ossewaroetes deur die valleie geloop het. Ons het ’n luilekkerdag van lees en slaap en swem, voor hy laatmiddag terugkeer vir ’n wildrit.

Die swembadjie word met ’n houtvuur gestook en is heerlik as die luggie knyp.
Ons stop af en toe om ’n bossie te ruik of van nader te bekyk. Martin let op alles, wat enige wildrit ’n ervaring maak wat nie net ’n gejaag na diere is nie. Hy sê dis belangrik om hierdie kennis en staaltjies te deel, anders verdwyn dit.
Hy stop selfs op ’n hoogtetjie dat ons na die wolke kan kyk. Dit bol en baklei soos katte in ’n sak en hy sê ons gaan natreën as ons te lank vertoef. Met sonsakdrankies hoog bo in die berg, beduie hy na links en sê ons moet mooi kyk, al is die sakkende son in ons oë.
Nie lank nie, of twee witkruisarende kom aangevlieg, hoog bo ons koppe. Een gaan sit teen die hoë kranse op ’n reusenes; die ander draai nog vir ’n wyle op die lugstrome hoog bo die vallei. Vir ’n wyle voel ons net so vry soos daardie voël.
Geen woorde is nodig nie. Die oomblik is storie genoeg.

Elke klein wonderwerk in die natuur verdien ’n verposing; mens is nie net daar vir die grootwild nie.
Die natuur is nog nie klaar nie: Daar wag ’n donderstorm. Ons het ’n vuurtjie in die vuurput gepak en by lanterns het ons die mooiste uitsig oor die weerlig se silwer dans oor die vlaktes. Dis soos reusesweepslae teen die gitswart nag. Ons gaan sit en lees binne met ’n glas wyn en kyk hoe die reëndruppels in patroontjies teen die glasdeure en -ruite afloop.
Ons is baie vroeg op die laaste oggend. Die koffie op die houtdek is sterk. Ons asem Karoolug in vir oulaas. Mens wil nie afskeid neem nie, nie van die omgewing nie, maar ook nie van die stiller, vrediger self nie.

Die leeu
En op pad terug af met die kronkelpad sien ons toe wel die leeu. Ons vertoef lank daar tot die veld weer stilgeword en vergeet het van ons verstoring. Ons kyk hoe die wind deur sy maanhare speel. Aanvanklik het hy vir ons gekyk, maar verloor later belangstelling – asof ons nie sy stilte gaan steel nie.
Wat Mount Camdeboo besonders maak, is nie net sy wild of sy luuksheid nie; dis sy siel. Hierdie reservaat dra die gees van die Karoo: vasberade, stil, eerlik. Die mense wat hier werk, doen dit met trots en met ’n gevoel van roeping. Van Martin wat elke plant se naam ken, tot die kombuisspan wat plaasbrood met ’n glimlag bak en inpak – alles gebeur met aandag en warmte.
Mount Camdeboo is ’n stil, helende herinnering aan wat belangrik is. Hier, hoog in die voue van die Karooberge, vind jy nie net stilte nie; jy vind jouself en besef jy het jou bagasie by die hek gelos.
Hoe heerlik om ligter te wees!
Kitsfeite:
- Bespreek jou magiese verblyf by Mount Camdeboo se hout pods bo-op die berg of in die herehuis onder in die vallei by https://newmarkhotels.com/accommodation/mount-camdeboo-private-game-reserve.
- Mount Camdeboo is deel van die Greater Camdeboo Conservation Initiative en aktief betrokke by die hervestiging van die Groot Vyf. Die Karoo is regdeur die jaar betowerend – koel winters, warm somers en helder, droë lug.
- Al die foto’s is geneem met die nuwe Canon spieëllose R6. Sy tjoepstil sluiter beteken jy kan diere afneem sonder om hulle te laat skrik, weghardloop of -vlieg. Loer by www.canon.co.za.
- Die ooptes van die Groot Karoo is die ideale plek om die nuwe Ford Everest XLT 2025-model te ervaar. Dit sit lekker hoog as jy langs die pad wil wild kyk en dis heerlik koel en gerieflik om die grondpaaie te navigeer. Loer by www.ford.co.za.
Foto’s: Clifford Roberts met die nuwe Canon R6 en verskaf
Lees ook:
Thula thu, thula nana, thula sana ... stil word jy by Thuúla Hidden Haven
Die Chobe: Hoeveel keer kan jy ’n visarend hoor roep voor dit jou nie meer diep raak nie?

