Agt eeue sedert st Franciscus oorlede is en steeds relevant

  • 0

Die heilige dorpie, Assisi, in Italië. Jy parkeer ver van die kerk af en verken die stad te voet.

Dis vanjaar 800 jaar gelede dat St Franciscus van Assisi oorlede is. Toe my oorlede moedertjie vir my as 15-jarige ’n boekmerk met “Die gebed van St Franciscus” gegee het, kon ek nooit voorspel hoe dié heilige se nalatenskap die volgende 40 jaar periodiek my pad sou kruis nie.

Skaars 10 jaar ná daardie dag, kuier ek by ’n ouer vriendin op Malmesbury wat besig is met naaldwerk: Assisi-borduurwerk. 30 jaar later kyk ek op na die Basilica di San Francesco d’Assisi (St Franciscus-basilika) in Umbrië, Italië om vir haar ’n kersie aan te steek en borduurwerk te koop; en 40 jaar later staan ek voor die basilika in Sante Fe om vir vrede te vra in ’n onstuimige 2026.

Hoe het die wêreld nie verander die afgelope agt eeue nie!

’n Kaart gee aanduidings van hoe jy moet stap.

Franciscus was sy tyd ver vooruit. In ’n era van kruistogte en geweld het hy ongewapen na Damietta in Egipte gereis om met die sultan, Malik al-Kamil, te gesels om vrede te probeer bewerkstellig. Dit word steeds as een van die eerste én belangrikste gesprekke vir intergeloofdialoog gereken.

St Franciscus was die eerste wat die Kersfees-kriptoneel in 1223 in Greccio geskep het .

Hy was ook die eerste wat die Kersfees-kriptoneel in 1223 in Greccio geskep het om geloof tasbaar te maak vir die gewone mens.

Die basilika in Umbrië waar hy begrawe is, is ’n belangrike Rooms-Katolieke pelgrimsplek en sedert 2000 ’n UNESCO Wêrelderfenisplek. Dis ’n baken van Italiaans-Gotiese argitektuur, met beduidende Romeinse invloede. Die tweevlakstruktuur bestaan ​​uit ’n onderste kerk (Umbries-Romeins uit die Lombard-oorsprong) en ’n boonste kerk (Goties uit Franse oorsprong), wat dit een van die vroegste en belangrikste voorbeelde van Gotiese argitektuur in Italië maak.

Van die fresko’s in die basilika is werke van Giotto, Cimabue, Lorenzetti, Martini en Sermei.

Die katedraalbasiliek van St Francis van Assisi in Santa Fe is tussen 1869 en 1886 op versoek van aartsbiskop Jean-Baptiste Lamy gebou om die vervalle kleikerkie, La Parroquia, te vervang en die groeiende belangrikheid van die Katolieke Kerk in die gebied met ’n moderne Romaanse herlewingstyl te verteenwoordig.

Baie mense is soos St Franciscus in die dorpie Assisi aangetrek.

Met ons besoek aan die basilika in Umbrië stap ons verby heelwat mense in St Franciscus se tradisionele drag: growwe bruin oorkleed met ’n tou om sy middellyf waarvan die drie knope armoede, kuisheid en gehoorsaamheid voorstel.

Die kerk van St Stefanus

Ons loer eers by die kerk van St Stefanus (La Chiesa di Santo Stefano) in – een van die oudste heilige geboue in Assisi. Dit is nooit oor die eeue verander nie. Dit is in 1166 gebou en die fasade is sober en bestaan ​​uit vierkantige klippe, terwyl klein hangende boë die apsis versier. Die binnekant van hierdie kerk, met slegs een sypaadjie, is baie mooi en puntige boë en kaal mure kan bewonder word. ’n Paar pragtige fresko’s is ook steeds binne teenwoordig. Volgens oorlewering het die ou klok met sy klank die pyn van St Franciscus se dood gevolg.

Die eerste maal as jy die basilika sien.

Daarna stap ons aan na die basilika. Een van die vrywilligers verwelkom ons by die deure en vertel: “St Franciscus was nie altyd die toonbeeld van vroomheid nie. Hy is gebore as Giovanni di Pietro di Bernardone, en met ’n pa wat ’n ryk tekstielhandelaar was, het hy sy dae deurgebring met duur wyn, groot partytjies en mooi klere. Dis interessant om te weet dat sy pa wou gehad het sy naam moet Francesco wees, omdat hy met sy geboorte in Frankryk was en sy liefde vir die land in sy seun se naam wou verenig. Hy is toe herdoop na Franciscus. In 1202 veg die jong man vir Assisi teen Perugia en word in die Slag van Collestrada gevange geneem en bring ’n jaar in die tronk deur. Sy pa betaal ’n losprys en ’n kranklike Giovanni keer terug na Puglia om verder te veg, maar nadat hy ’n visioen gehad het waarin stemme vir hom gesê het: ‘Gaan herbou my huishet sy lewe ingrypend verander. Aanvanklik het hy dit letterlik opgeneem en klippe aangedra om die bouvallige San Damiano-kerkie te herstel, maar sy missie het gou verander na die herstel van die siel van die kerk self.”

Die bo-basilika van St Francis van Assisi in Umbrië van naderby.

Twee jaar voor sy dood op 3 óf 4 Oktober 1226 het Franciscus die stigmata ontvang (die wonde van Christus op sy eie liggaam), wat hom die eerste aangetekende persoon in die geskiedenis gemaak het met hierdie verskynsel. Sy gesondheid het vinnig agteruitgegaan namate hy blind geword het, maar selfs in sy laaste dae het hy die bekende “Loflied van die son” (“Cantico delle creature”) gekomponeer.

Die fresko’s

Tussen 1965 en 1983 is restourasiewerk aan die basilika gedoen om die wonderlike fresko’s te beskerm. ’n Aardbewing in 1997 het groot skade aan die boonste basiliek veroorsaak en benewens dele wat ingeval het, is 130 vierkante meter fresko’s verpletter. Na die aardbewing is die basiliek vir twee jaar gesluit, waartydens restourasiewerk uitgevoer is. Mens kan dit skaars glo as jy na die prag en praal binne kyk.

Interessante bronsplate in en om die basilika.

Die man vertel ook dat die gebed van die heilige wat wêreldwyd só gewild is, nie in enige van sy geskrifte gevind is nie, maar dekades ná sy dood aan hom toegeskryf is. Sedertdien word dit algemeen as gebed van die heiliges beskou.

Ons laaste brokkie inligting is dat die heilige se graf in die krip van die basilika geleë is en met ’n eenvoudige klipsarkofaag. Dit is onder die hoofaltaar van die laerkerk geleë en in 1818 herontdek, nadat dit vir byna 600 jaar versteek was, om die diefstal van sy relieke te voorkom.

St Franciscus is in 1226 oorlede, maar is in 1230 na sy permanente graf oorgeplaas, omdat die basilika van St Francis van Assisi eers in 1230 voltooi is. Sy liggaam is tydelik elders begrawe om dit teen diefstal deur mededingende stede te beskerm en toe in geheim verskuif om veiligheid te verseker.

Pragtige argitektuur van die basilika in die voorgrond en die groen heuwels van Umbrië in die verte.

Volgens oorlewering was dit Franciscus self wat presies aangedui het waar hy begrawe wou word: die onderste heuwel van die Umbriese stad waar die wetteloses, diegene wat deur geregtigheid veroordeel is, gewoonlik begrawe is.

Toe ons ’n uur later weer buite in die son staan en oor die dorp en heuwels uitkyk, vertel ek ons vriend dat ons nou die strate moet invaar om vir my bejaarde vriendin – vir wie ons ’n kersie binne aangesteek het, omdat sy nooit hierdie pelgrimstog sal kan aanpak nie – Assisi-borduurwerk te soek.

Die verhaal van St Franciscus en sy naaldwerk – spesifiek die herstel van sy klere – is een van die sterkste simbole van sy filosofie van nederigheid en omgee vir die skepping.

Franciscus het nie ’n nuwe kleed gekoop wanneer syne verslete geword het nie. Hy het sy eenvoudige, bruin wolhabyt oor en oor herstel. Vir hom was elke gat in sy klere nie iets om oor skaam te wees nie, maar ’n geleentheid om selfversorgend en spaarsamig te wees.

Hy het dikwels growwe lappe van ander ou materiale gebruik om die gate toe te werk. ’n Baie spesiale deel van hierdie storie behels sy geesgenoot, St Klara. Terwyl Franciscus die paaie bewandel het om die woord te verkondig, het Klara en haar susters (die Clarisse) dikwels vir hom en sy broers naaldwerk gedoen. Hulle het albies (wit onderrokke vir die mis) gemaak met fyn borduurwerk.

Daar word vertel dat selfs toe Franciscus amper blind was teen die einde van sy lewe, hy steeds probeer het om sy eie klere te herstel, maar dat Klara en haar susters later ingegryp het om sy las te verlig.

Vir Franciscus was naaldwerk meer as net onderhoud; dit was ’n metafoor: respek vir materiale, want niks mag gemors word nie. Deur ’n kledingstuk te herstel, het hy respek getoon vir die skaap wat die wol gegee het en die mens wat dit geweef het. En ook heelmaking: Net soos hy gate in sy habyt toegewerk het, het hy probeer om die “gate” in die samelewing en die kerk toe te werk met vrede en liefde.

“In hierdie 790ste herdenkingsjaar herinner sy naaldwerk ons daaraan dat groot verandering dikwels begin met klein, geduldige stappies – steek vir steek,” sluit die winkeleienaar in een van die borduurwinkels in die dorpie af.

Ek staan later by ’n stalletjie en kyk na die Assisi- geborduurde boekmerke en onthou my vriendin se waarskuwing: “Dit moet Assisi-borduurwerk wees. Kruissteek gaan ook soms deur as Assisi, maar Assisi is ’n kombinasie van kruis- en holbeinsteek, ’n reguit steek wat die kruissteek-ontwerp omraam. Die kruissteek vul meer die reguitsteek in; gee dit lyf. En ek verkies ook ou ontwerpe, nie moderne goed nie.”

Ons het mooi lappies vir haar gekry en vandag is sy 85 en dis steeds op uitstalling in haar historiese huis op Kimberley.

Die katedraalbasiliek van St Francis van Assisi in Santa Fe.

Etlike maande gelede staan ek in die ysige winterreën voor die katedraalbasiliek van St Franciscus van Assisi in Santa Fe in Nieu-Meksiko, Amerika voor die indrukwekkende bronsdeure wat tonele uit die geskiedenis van die Katolieke Kerk in Nieu-Meksiko uitbeeld. Dis deur Donna Quasthoff in die Romeinse styl gemaak en in 1986 tydens die gebou se restourasie aangebring.

Die eerste paneel beeld Fray Marcos de Niza uit toe hy die Zuni Pueblos vir die eerste keer gesien het. ’n Ander paneel toon genl Don Diego de Varga wat kniel voor ’n Franciskaanse monnik, wat die stad en sendingstasie formeel aan die burgemeester en geestelikes teruggee na die “herowering” van die Indiane. Nog ’n gedenkplaat beeld die Spaanse koloniste uit wat uit die brandende dorpie terugtrek in die 1680-Pueblo-rebellie. Die laaste paneel beeld die Apostoliese afgevaardigde, aartsbiskop Pio Laghi, bygestaan ​​deur aartsbiskop Robert F Sanchez uit, wat die eeufees van die St Francis-katedraal vier, terwyl ’n Indiese vrou die Onse Vader in Tewa teken.

Die binnekant van die katedraalbasiliek van St Francis van Assisi in Santa Fe bied skuilte teen die koue – letterlik en figuurlik.

Hier hoor ons by ’n vrou in die kerk: “Vir die mense van Nieu-Meksiko is Franciscus nie net ’n heilige van ouds nie, maar die beskermheer van die natuur – iets wat deurslaggewend is in die droogtegeteisterde woestynlandskap waarin ons ons bevind.”

Sy stap deur die kerk en gee ’n bietjie agtergrond, terwyl sy kosbaarhede uitwys: “Franciskaanse monnike het Nieu-Meksiko in 1598 binnegekom en die eerste kerk is in 1610 in Santa Fe gebou. Nadat vorige strukture tydens die Pueblo-opstand van 1680 verwoes is, is ’n nuwe kerk in 1714 opgerig. Vandag is slegs die kapel van Our Lady La Conquistadora, wat die VSA se oudste Maria-beeld (1625) huisves, nog oor.

“In 1850 het biskop John Baptiste Lamy besluit die ou gebou is ontoereikend. Hy het Europese vakmanne gekry om die huidige Romaanse katedraal tussen 1869 en 1887 rondom die ou kerk te bou. Die katedraal spog met Franse loodglasvensters en is die rusplek van sewe aartsbiskoppe. In 2005 het pous Benedictus XVI dit tot basiliek verhef weens die historiese belang daarvan.”

Ek sit vir ’n lang ruk in stilte op een van die houtbankies en laat die vrede en stilte van die kerk oor my spoel. Dis in teenstelling met die chaos van die wêreld buite die deure, buite die grense van Nieu-Meksiko en buite die grense van Amerika.

’n Kers aan en smeek vir vrede

Ook hier steek ek voor ons vertrek ’n kers aan en smeek vir vrede. Die wêreld is onderstebo – oorlog verswelg nasies – amper weer soos eeue gelede toe Franciscus vir vrede moes gaan pleit.

Wie weet waar my pad weer met die nalatenskap van St Franciscus s’n sal kruis. En hoe die wêreld dan daar sal uitsien?

Die gebed van St Franciscus

Here, maak my ’n instrument van U vrede. Waar daar haat is, laat my liefde saai; waar daar onreg is, vergifnis; waar daar twyfel is, geloof; waar daar wanhoop is, hoop; waar daar duisternis is, lig; waar daar droefheid is, vreugde.

O Goddelike Meester, gee dat ek nie soseer sal soek om getroos te word nie, as om te troos; om verstaan te word nie, as om te verstaan; om liefgehê te word nie, as om lief te hê.

Want dit is deur te gee dat ons ontvang; dit is deur te vergewe dat ons vergewe word; en dit is deur te sterf dat ons tot die Ewige Lewe gebore word.

Die boekmerk se boodskap van 40 jaar gelede is steeds deel van my wese. Die woorde dien as ’n morele kompas.

Lees ook:

Onverwagte pelgrimstog in Nieu-Meksiko

Hier respekteer almal mekaar

Op die spoor van ’n wetenskaplike monnik

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top