Hier respekteer almal mekaar

  • 0

Hommeltuigfoto, met vergunning van Abrahamic Family House

  • Foto’s: Maryke Roberts en verskaf deur Abrahamic Family House

Vir vyf dae ry ek op die Big Bus Tours se maroen dubbeldekkerbus by drie indrukwekkende vaalwit klipgeboue op ’n effense heuweltjie in Abu Dhabi verby. Hulle is almal ewe groot, maar die patrone op elkeen is verskillend. Dis die Abrahamitiese Familiehuis (AFH) hoor ek op die oudiogids. Op dag ses kom ek uiteindelik daar in Jacques Chiracstraat voor dié geboue te staan.

.......
Hier is almal welkom; hier heers vrede.
.......

Hier is almal welkom; hier heers vrede.

Die Abrahamitiese godsdienste is ’n groepering van godsdienste wat Abraham vereer in hul geskrifte, met die drie grootstes: Judaïsme, Christendom en Islam. Die godsdienste deel leerstellige, historiese en geografiese oorvleueling, het ek op die bus gehoor.

Die ingang na die indrukwekkende plek wat meer as 6 500 vierkante meter beslaan. (Foto: Maryke Roberts)

Die Abrahamitiese Familiehuis wat op 1 Maart 2023 geopen het, se missie bou voort op die Dokument oor Menslike Broederskap (The Document on Human Fraternity) wat in 2019 deur Pous Francis en Ahmed El-Tayeb onderteken is en veral gaan om die oortuiging dat oop dialoog, begrip en aanvaarding van kardinale belang is om die vele uitdagings wat die mensdom vandag in die gesig staar, aan te spreek.

........
Die Abrahamitiese Familiehuis wat op 1 Maart 2023 geopen het, se missie bou voort op die Dokument oor Menslike Broederskap (The Document on Human Fraternity) wat in 2019 deur Pous Francis en Ahmed El-Tayeb onderteken is en veral gaan om die oortuiging dat oop dialoog, begrip en aanvaarding van kardinale belang is om die vele uitdagings wat die mensdom vandag in die gesig staar, aan te spreek.
........

Die Abrahamitiese Familiehuis is in die Saadiyat-kultuurdistrik op Saadiyat-eiland geleë, langs toonaangewende museums wat die streek se multikulturele erfenis en die VAE se verbindings met die wêreld vier. Oorkant die strate voor my is die Guggenheim Abu Dhabi byna voltooi; neffens die AFH is die nasionale galery in aanbou; en in die linkerkantse hoek van my visie is die Natural History Museum amper voltooi.

Buite-aansig, met vergunning van Abrahamic Family House

My kop en lyf is in trauma vir die onverdraagsaamheid van die wêreld. Bomme reën neer op stede regoor die wêreld van Gaza tot Oekraïne, Mianmar tot Sirië, Etiopië tot Afghanistan. Maar waar ek in die Midde-Ooste staan, voel dinge soveel nader en werkliker as aan die suidpunt van Afrika.

Die vorige aand het ek die nuusdekking oor die 80ste herdenking van die bevryding van Auschwitz-Birkenau op 27 Januarie 1945 op die televisie in my hotelkamer gekyk. Dis ook bekend as die Internasionale Dag van Herinnering van die Holocaust. Ons juig oor dié oorlog met al sy gruwels verby is, maar ons het in agt dekades niks geleer nie.

As jy by die voorportaal instap, begroet hierdie woorde jou. (Foto: Maryke Roberts)

Dit beslaan 6 500 vierkante meter en is deur die Ghanese-Britse argitek Sir David Adjaye ontwerp. Die geboue se spierwit beton reflekteer die son en eer die sand en berge van die Emirate en elke vorm wat in die ontwerp gebruik is, is ’n verwysing na godsdienstige simbole.

Ek begin by die kerk, die St Francis-kerk, opgedra aan die 13de-eeuse monnik St Francis van Assisi. Die gebou front na die opkomende son in die ooste en sy ontwerp is geïnspireer deur die alter van die St Pieter se Basilika in die Vatikaanstad. Die abstrakte kruis weerspieël AFH se droom om mense van alle gelowe en denominasies te verwelkom, met respek vir verskillende oortuigings en praktyke.

Binne die Eminence Ahmed El-Tayeb Mosque, met vergunning van Abrahamic Family House

Ek dink terug aan ons besoek aan die St Francis van Assisi Basilika in Assisi, in Umbrië, Italië. Ek het nie gedink ek sou dieselfde vrede ervaar in ’n kerk in ’n Islamitiese land nie. Binne hang 13 000 meter se houtstellasies soos reusestalaktiete uit die dak. Die man by die deur het genoem dis geskep as ’n “storting van ekstatiese verlossing”. Dis geïnspireer deur ligstrale, wat godsdienstige reinheid suggereer.

Binne die St Francis Church, met vergunning van Abrahamic Family House

Dis ’n aanskoulike prentjie en noop jou om in een van die houtbankies te gaan sit en stil word, terwyl jy in verwondering opkyk.

Langsaan is ’n klein doopkapel met verspreide klein vensters waardeur lig instroom. Die agthoekige kamer bevat ’n doopvont wat in ’n grofgesnyde marmervorm uit die grond verrys.

Langs die kerk is ’n klein doopkapel met verspreide klein vensters waardeur lig instroom. Die agthoekige kamer bevat ’n doopvont wat in ’n grofgesnyde marmervorm uit die grond verrys. (Foto: Maryke Roberts)

Voor ek verder verken, gaan sit ek op een van die bankies by die koffieplekkie en kyk oor die see en die Sheikh Khalifa-brug wat die stad met die eiland verbind. Die sheikh was bekend vir sy houding van inklusiwiteit en verdraagsaamheid. Dis dus heel gepas dat jy van hier die brug kan sien.

Ek stap oor na die Moses Ben Maimon-sinagoge wat die 12de-eeuse Joodse filosoof eer en op Jerusalem gerig is. V-vormige kolomme verwys na die oorvleuelende lae palmblare op die sukka – ’n struktuur wat gebruik word tydens Sukkot, die Joodse fees van skuiling. Die brons gaastent wat van die plafon af val, simboliseer die oorspronklike tabernakel.

Die sinagoge (foto: Maryke Roberts)

My gedagtes dwaal ver toe ek voor die sinagoge se deur gaan staan. Vyf jaar gelede staan ek saam met ’n Joodse vriend in ’n klein museumwinkeltjie in Krakauw in Pole. Die vorige dag was ons saam in die konsentrasiekampe van Auschwitz-Birkenau. Ons almal is diep geraak deur die ervaring; hy diep getraumatiseer om te kon ervaar waar sy grootouers en hul uitgebreide familie uitgewis is tydens die Tweede Wêreldoorlog. Hy koop ’n mezuzah om by sy voordeur in Kaapstad te gaan aanbring.

Binne-in die klein houtstafie is ’n klein papiertjie met ’n gebedjie op, heel dikwels die Shema, verduidelik hy terwyl die winkelassistent nog ’n paar voorbeelde uit die glaskas pak dat hy die mooiste een kan kies.

Binne die Moses Ben Maimon Synagogue, met vergunning van Abrahamic Family House

Iets het daar in die konsentrasiekamp met ons vriend gebeur, ’n verdieping van een of ander gewaarwording oor waar hy vandaan kom, al is hy nie ’n praktiserende Jood nie.

Dit was op die week na 75 jaar vandat die SS-troepe die laaste gevangenes uit die kampe kom marsjeer het, met die wete dat die Rooi Weermag op pad is. Hierdie sogenaamde “Doodsmars” het baie van die 56 000 mense wat die hel van die kampe oorleef het, laat sterf van ontberinge onderweg. Asof die kampe nie erg genoeg was nie.

Dit bly vir my onverstaanbaar dat miljoene Jode vir hul geloof moes sterf.

Buite-aansig Moses Ben Maimon Synagogue, met vergunning van Abrahamic Family House

In die sinagoge was ek my hande en doen ’n gebed vir my vriend.

Die moskee is tydens my besoek toe vir die publiek. Daar is een of ander Islamitiese gedigtekompetisie aan die gang en dis dus net vir Moslems in tradisionele drag toeganklik.

Buite staan ’n gids en gesels met ’n paar besoekers. Ek het verkies om op my eie te verken, maar dis tog lekker om bietjie agtergrond te kry.

“Die Eminensie Ahmed Al-Tayeb-moskee, Groot Imam van Al Azhar, is gerig op Mekka en verwys na Islamitiese argitektuur met sy kluise en boë. Die mashrabiya-mure van delikate traliewerk is ontwerp om voorsiening te maak vir die sirkulasie van lug, terwyl lig gereguleer word en privaatheid gehandhaaf word.”

Mens is verdwerg deur die pragtige geboue en soveel sorg is met die argitektuur geneem om elke geloof se simbole te inkorporeer. (Foto: Maryke Roberts)

Gelukkig vra ’n Franse vrou voor my wat mashrabiya beteken en die gids verduidelik dis ’n volkskundige argitektoniese element wat in Islamitiese argitektuur gebruik word en dikwels ’n tipe balkon of venster in die vorm van ’n klein tralie-opening wat die tweede of hoër verdiepings van ’n gebou omsluit en tipies uitkyk oor ’n binnehof. Dit laat lig deur, maar behou kontak met die buitekant.

Die moskee het sewe boë buite, wat die belangrikheid van die getal sewe in Islamitiese geloof huldig, vertel hy.

“Die argitektoniese visie vir die Abrahamitiese Familiehuis se fondamente berus op die drie gelowe en die lens word versigtig gebruik om te definieer wat soortgelyk is, in teenstelling met wat anders is. Ons vier hier dus ons ooreenkomste, eerder as ons verskille,” vertel een van die gidse wat mense rondneem.

Die kaart van die uitleg van die Abrahamitiese Familiehuis is op verskeie plekke in die mure ingelê en gee ’n goeie oorsig oor hoe groot dit eintlik is. (Foto: Maryke Roberts)

“Deur die krag van hierdie onthullings kom die ontwerp na vore as kragtige plutoniese vorms met ’n duidelike geometrie: drie kubusse wat op ’n voetstuk sit. Hulle druk hulleself elkeen anders uit, maar deel gelyke eksterne dimensies, met ’n verenigende dak op ’n gedeelde datumhoogte, wat verseker dat nie een van die geboue van die drie meer dominant is as sy eweknieë nie.

“Die argitektuur beklemtoon water en lig – die elemente van die skepping sentraal tot al drie gelowe – en die gebruik van spierwit beton verwys na die sand en berge van die VAE. Die verminderde palet van vier kernmateriale, hout, klip, metaal en water, verwys na die Aarde se fundamentele wesenlikheid en ’n idee van voorsienigheid.”

Buite-aansig van die Eminence Ahmed El-Tayeb Mosque, met vergunning van Abrahamic Family House

Die drie huise het elkeen hul eie openingstye: die moskee soos per Awqaf-gebedetye in Abu Dhabi; die kerk en sinagoge elke dag van 07:00 tot 21:00. Dit bied ’n onverwagse stilte in die woelige stad.

........
Die forum is ’n gedeelde sekulêre ruimte wat bestaan ​​uit ’n biblioteek en uitstalruimte en bied besprekings en konferensies aan wat begrip, dialoog en vreedsame naasbestaan ​​bevorder.
........

Die forum is ’n gedeelde sekulêre ruimte wat bestaan ​​uit ’n biblioteek en uitstalruimte en bied besprekings en konferensies aan wat begrip, dialoog en vreedsame naasbestaan ​​bevorder. Die tuin wat al die geboue verbind, is ’n bykomende ruimte vir bymekaarkom en konneksie, ’n plek vir ontmoetings, leer en gesprek vir lede van diverse geloofsgemeenskappe en besoekers van alle oortuigings.

Daar is verskeie hoekies waar jy met koffie of tee of dadels kan gaan sit en ontspan. In die agtergrond is die kerk en die nuwe Nasionale Galery wat soos reuse-skoenlappervlerke verrys. (Foto: Maryke Roberts)

Ek loop weer ’n draai na die kerk en sinagoge. Een van my kollegas wat saam met my ’n museumsimposium by die Louvre Abu Dhabi oorkant die pad meemaak, vang my oog. Sy woon in Parys en hou haar foon uit en vra met haar swaar Franse aksent: “Neem asseblief ’n foto van my voor die sinagoge, maar moet vir niemand vertel my voorouers is Joods nie.”

Ek kyk met ’n fronsende voorkop na haar, die onbegrip duidelik op my gesig. “Met die onverdraagsaamheid jeens Jode wat nou weer in Frankryk en die res van Europa opvlam, kan ons nie kanse waag nie. My dogter studeer en ek het haar ook gemaan om nie oor haar Joodse herkoms te praat nie. Mens weet nie watter moderne Nazi’s jou dalk teiken nie.”

Ons het regtig niks geleer nie, maar iets het ook hier met my gebeur. ’n Verdieping van begrip en verdraagsaamheid.

Lees ook:

Simposium poog om dialoog op Afrika-kontinent te bewerk

Unieke uitstalling in Midde-Ooste fokus op Afrika-kuns

Openbare ruimtes word met kuns versier

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top