Breyten schrijven #48: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters. Conversatie met Johann Lodewyk Marais

  • 0

Door het oog van de dichter is de titel van een schriftelijke gesprekkenreeks over de literaire nalatenschap van Breyten Breytenbach (1939-2024) en de impact van Breytenbachs lyriek op het schrijverschap van hedendaagse Afrikaanstalige, Nederlandse en Vlaamse dichters en ook enkele vertalers. Op 24 november 2026, twee jaar na het overlijden van Breytenbach, verschijnt de bundel Postumiteiten voor Breyten in de Lage Landen en in Zuid-Afrika (Skribis/Naledi), waarin de dialogen worden gebundeld. Het huldigingsboek wordt gepresenteerd op de vooravond van het internationaal symposium “Inter-Breyten. Breytenbach in context” (26-27 november 2026, Universiteit Gent: https://voertaal.nu/oproep-voor-referaten-inter-breyten-breytenbach-in-context/).

In een tweede deel van de huldigingsbundel met dialogen komen Breytenbach-vorsers aan het woord. Ook die bijdragen worden voorgepubliceerd op Voertaal.

De inleidende tekst met een toelichting bij de opzet van de dialogen over de literaire erfenis van Breyten Breytenbach kan hier worden gelezen: https://versindaba.co.za/2026/01/21/yves-tsjoen-postumiteiten-voor-breyten/. Dertig dichters en vertalers komen aan het woord en tien onderzoekers. De dichters en vertalers ontvangen allen dezelfde vijf vragen over hoe zij zich in hun schrijf- en vertaalwerk verhouden tot het oeuvre van Breytenbach. In deze aflevering spreekt Johann Lodewyk Marais.

...
Breytenbach se virtuose taalgebruik, verbysterende beelding en grensoorskrydende verbeelding het die moontlikhede en uitdrukkingsvermoë van Afrikaans merkwaardig verruim.
...

YT: Johann, is in het lyrisch werk van Breytenbach voor jou een afzonderlijke bundel of zelfs een esthetische fase aan te wijzen die om een specifieke reden jouw uitgesproken voorkeur geniet? De schrijver heeft in drie omvangrijke delen zijn verspreid gepubliceerde bundels samengebracht: Ysterkoei-blues. Versamelde gedigte 1964-1975, Die ongedanste dans. Gevangenisgedigte 1975-1983 en Die singende hand. Versamelde gedigte 1984-2014. Welke Breytenbach is voor jouw dichterlijke loopbaan betekenisvol gebleken? Verkies je het vroege werk of de ‘late style’ in Breytenbachs lyriek? Zou je zelf gewagen van een bepaalde literaire invloed, dus een moment of zelfs een gedicht dat jouw dichterschap in enigerlei mate mee heeft gestuurd?

JLM: Ek het die eerste keer aan die Hoërskool Harrismith met Breyten Breytenbach se digbundel Die ysterkoei moet sweet en sy kortprosatekste in Katastrofes (albei 1964) kennis gemaak. Nie een van hierdie bundels was in die Carnegie-dorpsbiblioteek of die skoolbiblioteek beskikbaar nie. Ek het dit per pos uit Kaapstad bestel, wat tot groot verrassing oor die nuwe, vars voorkoms van die bundels gelei het.

Kort daarna het ek ook Ingrid Jonker se Rook en oker (1963) ontvang. Hierdie bundels het vir my kosbare leeservarings gebied en my deelname aan en bestudering van die Afrikaanse literatuur as ’n opwindende moontlikheid laat ontgin.

Tydens ’n besoek aan Kaapstad in standerd 9 het ek Kouevuur (1969) gekoop. Later kon ek, saam met Lotus (1970), meer van Breytenbach se werk onder die skuilnaam Jan Blom uit die dorpsbiblioteek lees. Die biblioteekpersoneel en plaaslike lesers was waarskynlik onbewus van wie die werklike skrywer van laasgenoemde bundel was.

In hierdie vroeë werk het ek die digter se oeuvre redelik goed leer ken. Ek was getref deur sy buitengewone beeldende vermoë en die manier waarop sy gedurfde spel met woorde, sins- en strofebou, en sy progressiewe versvorm en benadering my verwagtinge as leser uitgedaag het. Sommige gedigte, soos ‘3.14 (windroos)’ in Lotus, was eenvoudig asemrowend mooi.

Breytenbach se avant-garde gees het my aangegryp en sou, na my mening, die sleutel of poort tot sy magtig ontplooiende oeuvre wees. Waarskynlik was dit veral sy werk tot en met sy inhegtenisname in 1975 wat my geboei het – insluitend Die huis van die dowe (1967) en Skryt. Om ’n sinkende skip blou te verf (1972). Dit was juis daardie vroeë poësietaal waarvoor ek ontvanklik was, saam met die werk van ander groot digters soos N.P. van Wyk Louw en D.J. Opperman, wat my literêre verbeelding gevoed en gevorm het.

YT: Naast de expliciete maatschappijkritische poëzie zijn er de gedichten waarin de verbeelding van Afrika vorm krijgt, de vele liefdesgedichten, de lyriek waarin verval, verrotting en de dood bepalende motieven zijn, het nomadische Middenwereld-discours, de Zen-Boeddhistische gedichten. Is er een facet in Breytenbachs poëzie dat je met bijzondere belangstelling of affiniteit hebt gelezen?

JLM: Om Breytenbach se werk te lees, was telkens ’n oorweldigende én horisonverrykende ervaring. In baie opsigte bly sy oeuvre onoorskoulik – juis in die lig van sy magdom publikasies, uiteenlopende belangstellingsvelde en ervarings, sy opmerklike rol as openbare figuur, en die vele uitsprake wat die ontvangs van sy werk en optrede in meerdere of mindere mate ontlok het.

Sy pragtige liefdesgedigte, wat oënskynlik in die eerste instansie aan sy vrou Yolande gerig is en soos ’n goue draad deur sy bundels loop, het my dikwels beswymel. Tog het enkele gedigte en bundels my bygebly, en as jong, ontluikende skrywer het ek gewonder of ek ooit in daardie rigting sou kon ontwikkel.

Die kennismaking met Breytenbach se Zenboeddhistiese gedigte het my kennis van hierdie godsdienstige en filosofiese ingesteldheid verbreed, maar in die lig van my eie lewenshouding het dit my tog nie daartoe oorgehaal nie. Sy poësie oor uiteenlopende ruimtes het my egter sterk aangetrek. Natuurlik was daar sy Paryse ervarings en verwysings na dié wêreldstad – ’n plek waarmee verskeie van die Sestigers ’n noue verbintenis gehad het – maar ook ander geografiese en kulturele ruimtes wat sy toenemende wêreldburgerskap weerspieël het.

Sy belesenheid het telkens deurslag gegee: deur hom het ek byvoorbeeld die eerste keer van die Chileense digter Pablo Neruda gehoor en kennis gemaak met die Griekse komponis Mikis Theodorakis. Daarby het sy herinneringe aan sy grootwordjare in die Boland, sowel as latere besoeke aan “die swoel kontinent” Afrika – soos in die gedig toe suiderkruis toe’ uit Kouevuur – my as leser op uiteenlopende roetes laat vertrek.

In Kouevuur het ek met groot aandag Breytenbach se reis langs die Ooskus en Weskus van Afrika gelees, sowel as sy gewaarwordinge tydens die pre-revolusionêre tydperk in die Portugese provinsie Mosambiek (en Eswatini). Juis daarom het die reël “Afrika my Afrika” uit die betrokke gedig vir my oor die jare heen “nie net ’n abstraksie” geword nie.

Hierdie blootstelling, veral deur Breytenbach se besoek aan “die swart stad” Lourenço Marques (nou Maputo) in Mosambiek – waar hy die “swart kind” vra om hom teen bitterheid te “weer” en te “waak” – het ’n vroeë impuls geword vir my latere historiese en sosiologiese navorsing langs die Ooskus. Dit het uiteindelik neerslag gevind in navorsingsverslae oor ongedokumenteerde immigrante uit daardie buurland, sowel as in die reisboeke Lae wolke oor Mosambiek. ’n Reisboek (2003) en Kumbukumbu. ’n Reisboek oor Kenia (2022).

As Westerling, gedrenk in ’n revolusionêre gees, kon Breytenbach die vinger op die komende wendings in Afrika lê. Hierdie Afrika-gedigte, ingebed in die pre- en postkoloniale geskiedenis van die kontinent, verdien beslis meer aandag en deeglike kontekstualisering.

YT: De schrijver heeft zich uitgedrukt in beschouwende en lyrische teksten. Daarnaast hield hij publieke toespraken, schreef zijn Notes from the Middle World, de trilogie met ’n Seisoen in die paradys, The True Confessions of an Albino Terrorist en Return to Paradise. De literaire genres waarin de schrijver zich uitsprak en een beeldrijk universum creëerde, zijn onlosmakelijk met elkaar verbonden, wat ook over het schilder- en tekenwerk kan worden gezegd. Welke teksten kunnen jou begeesteren en welke leeservaring verbind je met particuliere teksten in het oeuvre?

JLM: Breytenbach het in Februarie 1973 die Universiteit van Kaapstad se Somerskool bygewoon. Nadat hy vroeër, weens sy huwelik met Yolande – wat onder die apartheidswetgewing as “nie-blank” geklassifiseer is – verbied is om sy geboorteland te besoek, was die toestemming wat hy uiteindelik ontvang het om die Somerskool by te woon, ’n hoogs simboliese oomblik: die regering het ’n uitsondering gemaak. Politieke spanning het egter onmiddellik gevolg weens sy uitsprake teen apartheid en sy openlike verset. Die besoek het ’n historiese gebeurtenis geword wat die rol van literatuur en intellektuele debat in die stryd teen apartheid beklemtoon het.

Na aanleiding van sy besoek aan Suid-Afrika het Breytenbach ’n reeks artikels in die Sondagkoerant Rapport oor sy en Yolande se reis gepubliseer. Die sensasie wat sy teenwoordigheid in die land ontketen het, het hom ’n groot en beroerende invloed besorg, wat toenemend onder die vergrootglas geplaas is. Op skool was die lees van Breytenbach (en André P. Brink) se werk grootliks ongewens – dit was niks minder nie as ’n politieke daad om te verklaar dat jy hul boeke lees, en selfs iets waarvoor jy jou moes skaam.

In my standerd 9‑jaar het ek in ’n opstel met die titel ‘Vensters’ na ’n gedig in Skryt verwys waarin die name van persone voorkom wat, soos dit gestel is, “onder behandeling van die veiligheidspolisie geboorte aan hul dood gegee” het. My opstel het tot ’n hewige reaksie gelei.

Later daardie jaar is ek by my huis, in my ma se teenwoordigheid, deur ’n lid van die Buro vir Staatsveiligheid besoek. Ten minste een van my onderwysers – duidelik gevoed met Broederbond-sentiment – en ’n ander dorpenaar moes as informante opgetree het, wat die persepsie bevestig het van hoe gevaarlik Breytenbach geag is. Tydens hierdie ontstellende geleentheid is ek verplig om twee van my geheel en al nie‑politiese gedigte aan die besoeker te oorhandig – tekste wat waarskynlik iewers op ’n lêer beland het.

Die daaropvolgende jaar is Breytenbach gearresteer toe hy die land onwettig binnegekom het. Tydens sy verhoor in die Paleis van Justisie in Pretoria is hy tot nege jaar gevangenisstraf gevonnis. Dit het ’n duidelike waarskuwing aan jong skrywers ingehou: selfs dié wat nie polities aktief was nie, moes versigtig wees. Die lees van Breytenbach (en Brink) se poësie het gevolglik dikwels in stilte en met terughoudendheid plaasgevind.

Ek het Breytenbach se ’n Seisoen in die paradys (1976), wat hy onder die skuilnaam B.B. Lasarus gepubliseer het, as ’n reisteks en selfportret vol beskrywings, gedigte en foto’s waardeer. Ná sy vrylating het ek insae gekry in die werk wat uit sy gevangenskap voortgespruit het. Sommige gedigte het, as ’n misplaaste gebaar van die owerhede, vroeër verskyn. Dié is in die bundel Voetskrif (1976) opgeneem.

’n Belangrike gebeurtenis in hierdie tyd was my bywoning van Breytenbach se tweede hofsaak in 1977. Die digter D.J. Opperman, wat in 1976 aan akute lewerversaking gely het maar daarna wonderbaarlik herstel het, het na die noorde gereis om die hofsaak by te woon. Ek het hom die eerste dag, baie maer en netjies in ’n pak geklee, saam met sy jongste dogter Diederi in die deur van die hofsaal sien verskyn terwyl ons gewag het dat die verrigtinge begin. (Daardie dag het die regspanne geluister na die bande van die gesprekke tussen Breytenbach en die bewaarder Lucky Groenewald.)

Die hofsaak is die volgende dag hervat. Breytenbach is ingebring en het in die beskuldigdebank bly sit totdat regter W.G. Boshoff hom na die getuiebank geroep het. Hy het opgestaan en na regs beweeg, verby die persbank waar joernaliste soos Rykie van Reenen en Martin Welz – bekend vir sy verslag Breyten en die bewaarder (1977) – gesit het.

Opperman was weer in die gehoor. Toe Breytenbach by hom kom, het hy opgestaan en met sy maer hand vir Breytenbach ’n handdruk gegee, waarskynlik as ’n wens van sterkte vir wat sou volg. Daarna het Breytenbach na die beskuldigdebank beweeg, waar hy die eed voor regter Boshoff afgelê het en sy advokaat – die latere regter Johann Kriegler – hom begin ondervra het. Onder die gehoor was ook figure soos die akademikus Ampie Coetzee en die skrywer John Miles.

Almal het besef dat ’n stuk geskiedenis voor hulle ontvou.

Later het ek vir ’n paar jaar in die Sentrum vir Suid-Afrikaanse Letterkundige Navorsing (SENSAL) by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN) ’n kantoor gedeel met Francis Galloway, wat destyds aan haar proefskrif en uiteindelike publikasie Breyten Breytenbach as openbare figuur (1990) gewerk het. Die afwagting rondom Breytenbach se vrylating, saam met sy groot charisma, die mistieke aard van sy persoonlikheid en sy besonderse skryfwerk, was deel van die daaglikse literêre gesprek. Galloway se werk oor Breytenbach het ook ’n rol gespeel in die breuk tussen personeellede en Charles Malan, destyds hoof van die sentrum, en die uiteindelike ontbinding daarvan.

In hierdie jare het Breytenbach nie slegs deur sy letterkundige werk ’n rol gespeel nie, maar ook deur sy openbare uitsprake. Die wortels en motivering daarvan was reeds vroeg in sy oeuvre sigbaar, maar sy intense en gedurfde stryd teen politieke onreg, tesame met sy openlike verset teen die heersende opset in Suid-Afrika vóór die demokratiese verkiesing van 1994, het dit onmiskenbaar bevestig.

Danksy die gebruik van Breytenbach se tekeninge en skilderye op buiteblaaie, en selfs binne sy boeke, kry die leser ’n wye blik op sy visuele werk. Sy dubbele talent as skrywer én skilder verteenwoordig ’n boeiende simbiose. Die skilderye, met hul dromerige en surrealistiese aanslag, sluit nou aan by sy dikwels nie-Westerse digkuns en prosa. Temas soos identiteit, ballingskap en die spanning tussen lig en donker en tussen orde en chaos vorm die skering en inslag van sy oeuvre. Sy visuele werk is ekspressief en benut simboliek en kleur op ’n wyse wat sterk invloede van buitelandse kunsrigtings verraai. Breytenbach se sorgvuldige aandag aan die vormgewing en voorkoms van sy boeke is wesenlik deel van sy boekgeskiedenis en het my beïnvloed om ook meer hieraan aandag te gee.

YT: Hoe heb je zelf het werk van Breytenbach leren kennen? Welk beeld bewaar je van de kennismaking en is het in de loop van het leesparcours eventueel gewijzigd? Welke rol dicht je Breytenbach toe met betrekking tot het Afrikaans, dat hij een “bastertaal” noemde – een creoolse taal en vooral als een taal van Afrika zag?

JLM: Ek het Breytenbach as jong, ontluikende leser leer ken. Op skool was ek aanvanklik hoofsaaklik blootgestel aan die meer tradisionele poësie van Afrikaanse én Engelse digters. Figure soos Eugène N. Marais, C. Louis Leipoldt en Totius uit die era vóór die Dertigers het ’n bepaalde beeld van poësie by my gevorm. Digters van die daaropvolgende generasie, soos W.E.G. Louw, N.P. van Wyk Louw, Elisabeth Eybers en D.J. Opperman, het ek deur individuele bundels uit die dorpsbiblioteek leer ken.

Vreemd genoeg was dit ’n enkele gedig van Breytenbach, ‘Die brandende amandelboom’, in Die huis van die dowe, wat my deur die verwoording van ’n spesifieke lentestemming betower het. Ek moes dit in my standerd 9-jaar gelees het. Al is dit nie een van Breytenbach se “beste” gedigte nie, het dit my ingetrek by sy unieke wêreld.

Terugskouend was dit goed dat hierdie kennismaking met Breytenbach se werk eers ná ’n vroeë blootstelling aan die ouer literatuur plaasgevind het. Só kon ek later as leser die waarde van ’n historiese bewussyn besef en waardeer. Die kennismaking met sy groeiende oeuvre het my bewondering vir sy werk bevestig en verdiep.

Breytenbach se virtuose taalgebruik, verbysterende beelding en grensoorskrydende verbeelding het die moontlikhede en uitdrukkingsvermoë van Afrikaans merkwaardig verruim. Hy het ’n korpus tekste nagelaat wat soos ’n oerknal begin en steeds verder uitkring. Lesers en ondersoekers wat hul verdiep in hierdie skeppingskrag bly verwonderd.

Teenoor hierdie erfenis staan die betreurenswaardige agteruitgang in die onderrig van Afrikaanse letterkunde – sowel op skool as in tersiêre instellings – en die beeld van Afrikaans as “’n grafsteentaal”, wat ’n droewige en onnodige opset oproep.

Reeds op skool, en later by die Universiteit van Pretoria, het ek die ontwyking van Breytenbach se poësie – veral deur dosente soos A.P. Grové – ervaar as ’n subtiele waarskuwing dat ’n mens amper skaam moes wees om hom te lees. In die huidige, dikwels vyandige politieke bestel voel dit soms asof ek weer skaam moet wees om Breyten te lees, omdat hy in Afrikaans, “die taal van die onderdrukker”, geskryf het.

YT: Kun je in een paar zinnen het grensverleggende en zelfs de iconische betekenis van de dichter Breytenbach onder woorden brengen? Of anders gezegd: hoe zou je zelf voor toekomstige lezers van Breytenbach, in Zuid-Afrika en elders, de poëzie aanbevelen?

JLM: Ek sou Breytenbach graag deur die oog van die geskiedenis wou laat sien – met meer perspektief en begrip vir die era waarin hy geleef het, die sosiale rol wat hy vervul het, sy persoonlike en ander verhoudings (waaroor daar biografiesgewys te min bekend is), en hoe hy die Afrikaanse literatuur deur dramatiese fases van vernuwing, ontsteltenis, verandering, omwenteling en uiteindelik ontnugtering geneem het.

Natuurlik is daar Breytenbach se uitdagende skryf- en skilderwerk, waarby lesers op verskillende vlakke aanklank kan vind. Tog bly dit merkwaardig dat só ’n kunstenaarsfiguur, gevorm deur die onstuimige tye ná die Tweede Wêreldoorlog, die jare van apartheid, fases van kolonialisme, die koms van ’n nuwe demokratiese Suid-Afrika en die daaropvolgende ontnugtering, sy stem en werk kon laat geld.

In Breytenbach se gedigte, prosa en kunswerke ontvou ’n verhaal wat die leser uitnooi om die verhouding tussen kuns, geskiedenis en persoonlike belewenis te heroorweeg. Sy geskakeerde poësie bied ’n ryk leeservaring, maar dit behoort altyd binne konteks gelees te word. Só kan sy sosiokulturele, politieke en persoonlike lotgevalle die duidelikste praat.

Die ontvanklike leser kan deur ’n enkele gedig omgehaal word om, in die verbeelding, met al die kleure van die vetkryt, ’n profiel van ’n mens in wisselwerking met die veelkantige wêreld begin teken. Op hierdie manier word Breytenbach se werk nie net as artistieke skepping nie, maar ook as ’n dokument van ’n tyd en ’n lewe gelees.

Lees ook:

UNISA se Breyten-seminaar: "Breyten Breytenbach in turbulente jare, enkele persoonlike perspektiewe"

Breyten schrijven #47: Postumiteiten voor Breyten. In gesprek met Karen Kuhn

Breyten schrijven #46: Breytenbachs lyriek door de blik van dichters. Conversatie met Dominique Botha

Breyten schrijven #45: Postumiteiten voor Breyten. In gesprek met Andries Visagie

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top