Adriaan van Dis gesels met ’n memoirskrywer en vertaler oor die binnelewe van liefde en geweld in Suid-Afrika

  • 0

Adriaan van Dis het onlangs met Annemarié van Niekerk ’n onderhoud gevoer oor Om het hart terug te brengen. Een memoir. Liefde en geweld in Zuid-Afrika. Die gesprek is op die amptelike YouTube-kanaal van die Zuid-Afrikahuis in Amsterdam waar die maandelikse boekeprogram Boeken uit het Huis aangebied word en weer te kyk is.

Van Van Dis, internasionaal vertaal en bekend as bekroonde skrywer en gesogte onderhoudvoerder, het vanjaar drie boeke verskyn, te wete KliFi. Woede in de Republiek, die versamelbundel De Parijs boeken, en onlangs ook die bundel Vijf vrolike verhalen.

Van Niekerk se memoir is in Nederlands uitgereik en in die gang van die gesprek blyk dit dat verskeie Suid-Afrikaanse uitgewers daarin belangstel om die Afrikaanse teks uit te gee. Van Niekerk se eggenoot, Jaap Goedegebuure, ’n gerekende Nederlandse letterkundige wat haar liefde vir Suid-Afrika en die Afrikaanse letterkunde deel, het haar boek in Nederlands vertaal en het ook met Van Dis daaroor gesels.

Van Niekerk se boek oor haar ervaring van liefde en geweld in Suid-Afrika noem Van Dis ’n pragtige boek waarby staan dat dit ’n memoir is. Hy verwys daarna as ’n soektog en reis in herinnering. Die vertelling ontvou deur middel van wisselende perspektiewe. Hy het ook na haar memoir verwys as ’n “ongelooflik eerlike boek” wat “heel pynlik” is en dat hy dit as kompliment bedoel.

Maniere van reis

Van Niekerk is dit eens dat daar wel stáán dit is ’n memoir, maar dit is eintlik ’n hibriede genre waarin sy geskryf het en waarin sy die geskiedenis van die land met haar eie geskiedenis, haar eie verhaal, ingevleg het, het sy vertel. Die manier waarop feit en vertelling vermeng word, het sy geskoei op Truman Capote se In koelen bloede, waar die gegewe ook gaan oor moorde wat gepleeg is.

“Dit is natuurlik ’n ontsettend pynlike ding om ’n moord te beskryf, veral van iemand wat ontsettend dierbaar vir jou was,” het sy gesê. Die boek begin met die moorde op haar vriend en sy ma. Toe die nuus haar bereik het, het sy na Suid-Afrika gegaan. “Ek moes uitvind waaroor gaan hierdie geweld in die land en daarvoor moes ek teruggaan, ook in die geskiedenis van die land, maar ook my eie geskiedenis, want ek moes dit vanuit my eie belewing skryf.”

Haar verkenning neem haar in die memoir op drie reise. “Op elkeen is dit ’n vermenging van die landskap wat ek sien terwyl ek reis, my herinneringe aan dinge uit my verlede, my kinderdae, ook later van tyd, en dit is dan weer vermeng met die geskiedenis van die land. As ek dan nou verby ’n spesifieke plek verby ry waar een of ander veldslag of iets afgespeel het, dan kom dit dan ook ter sprake. Ek gaan eintlik in hierdie boek op soek na waarom Suid-Afrika so ’n gewelddadige land geword het. Ek gaan soek dit in die geskiedenis, ek praat met mense, ek praat met mense wat almal geweld, moorde in hul omgewing beleef het, en ek het ook psigologiese en sosiologiese studies nagegaan oor gewelddadige lande en gewelddadige mense en hoe hulle so word. So dit is eintlik ’n ineenvlegting van al hierdie verskillende aspekte en daarom word dit ’n hibriede genre.” 

Van Niekerk het ’n uittreksel voorgelees wat handel oor ’n gesinsvakansie in 1974 wat deur onder meer Mosambiek en Swaziland onderneem is. Daarin ontvou ’n krisis van beskouing vir die 11-jarige verteller. Sy is gelaat met indrukke van ’n ander wêreld as die een wat sy tot op daardie stadium as die enigste geldende werklikheid ervaar het. Dit het gekom toe sy kennis gemaak het met die lewe van ander mense, diegene wat sy tot dan toe nooit in enige ander konteks as onderdanigheid aanskou het nie, en is sy gelaat met die indruk dat sy haar soos deur ’n swaar skerm moet wring.

Was sy ’n gebreinspoelde kind? het Van Dis haar gevra.

Van Niekerk "is gebore en het grootgeword binne daardie omgewing van apartheid en alles wat daaromheen gedraai het", dat “swart mense as submense beskou is,” het sy gesê. "Dis jou normaal, dis jou natuurlik. Jy weet nie eens dat daar enige plek êrens in die wêreld is waar dit anders is nie. Wat eintlik dan die moeilikste is van so iets, omdat jy nog nooit verder as daardie moontlikheid gedink het nie, is om dan te verander, is om dan te begin sien dat dinge nie is soos wat jy as vanselfsprekend mee grootgeword het nie."

Wanneer het die eerste krake begin? het hy gevra.

"Tydens my kinderjare was daar insidente gewees wat ek begin agterkom het dinge klop nie heeltemal nie. Ek het byvoorbeeld op ’n stadium my ma gevra waarom moet swart mense altyd by die agterdeur gaan klop. Waarom mag hulle nie deur die voordeur na binne kom nie? En dinge soos waarom moet swart vrouens hoofdoeke dra as hulle by ons werk in die huis? Al sulke dinge. My ouers het altyd maniere gevind om ’n bietjie daaromheen te verduidelik. Nooit het ek die gevoel gekry dat dit gaan om rassisme nie. Ek het nooit die gevoel gekry dat dit gaan om iets wat verkeerd is nie. Dit was vir my gewoon normaal."

Wat vir haar die eerste keer laat besef het dat daar ’n ander werklikheid, ’n ander waarheid is as dít waarmee sy grootgeword het, is toe sy op universiteit was. “Iemand wat ’n groot invloed op my ontwikkeling gehad het en om my kop oper gemaak het, was my Duits-dosent. Ewe skielik het ek begin agterkom daar is ’n ander manier van dink, ’n ander manier van kyk na dinge. En ek het veel meer begin lees en vrae vra. Deur die loop van my lewe was daar leidsfigure, mense wat my gelei het digterby wat die werklikheid eintlik was van wat in Suid-Afrika eintlik in daardie stadium aan die gebeur was. So ek het redelik laat ontwaak."

Die nagevolge van Soweto

Toe breek 1976 aan, die jaar van die Soweto-opstande. En die Nasionale Party-regering se optrede wat van Afrikaans die taal van die onderdrukker gemaak het. En tog het sy Afrikaans gaan studeer.

Het iets begin knaag? Wou sy iets verander? wou Van Dis by haar hoor.

"Ek het Afrikaans, Engels en Duits studeer op universiteit, maar aan die einde was my derdejaarsvak Afrikaans. Ek het van jongs af ’n ontsettende liefde gehad vir die literatuur en dit het ek ook by my ma geleer. Sy het vir my graag voorgelees. Ek wou graag met literatuur verder gaan, en omdat Afrikaans my moedertaal was, was dit vir my die normale roete wat ek geneem het."

Het sy nie gevoel daar is ’n groep jongmense wat hulle verset teen haar taal nie? het hy gevra.

"Ja, natuurlik, want dit het in 1976 gebeur, die Soweto-opstande. En ek was bewus daarvan gewees dat daar mense teen Afrikaans in opstand gekom het. My oom, een van my ma se broers, moes toe ook op daardie stadium as soldaat by Soweto ingaan om die opstande te help in bedwang bring. Maar by ons in die huis was dit meer ’n gevoel van angs en vrees oor wat gebeur nou in die land. Hoe gaan dit so gou as moontlik in bedwang gebring word? Ek het eers later die volle implikasies van die Soweto-opstande begryp. Ek skryf daaroor in die boek, van wat ek toe alles daarvan begryp het. En dat dit tot my deurgedring het dat ek nooit weer my mond kan oopmaak en ’n woord Afrikaans praat of enige ander taal met ’n Afrikaanse aksent praat sonder dat ek ge-label word as die onderdrukker nie, want Afrikaans is van toe af ook bestempel as die taal van die onderdrukker in Suid-Afrika. So jy neem dit letterlik op jou tong met jou saam orals waarheen jy gaan. Jou skuld, dat jy deel is van ...”

"Jy is vry goed in skuld," het Van Dis opgemerk.

Van Niekerk lag en sê: "Helaas, ja."

Van Dis: "Dit word guilty loves ... Die Duitse dosent het jou beter leer ken?"

Lief en leed

Guilty loves is iets wat deur haar lewe loop, het sy gesê. "Die Duitse dosent was ’n getroude man. Hy was 20 jaar ouer as ek. Hy was my professor, hy was my dosent. Ek was ’n tweedejaarstudent. Daar het iets ontwikkel. Ek het verskriklike skuldgevoelens daaroor gehad. Op ’n stadium het my pa ook bewus geraak van die verhouding."

Hul pa speel ’n belangrike rol, is ’n beskermende man, dwingend in sy beskerming en sy liefde, het Van Dis gesê. Toe sy gaan doseer aan die universiteit in Umtata, ontmoet sy daar ’n swart dosent. En dis die boek ín die boek, die reis ín die reis, ’n adembenemende verhaal oor ’n man wat sag is en wat Afrika vir Van Niekerk oopmaak, maar wat terselfdertyd onberekenbaar is. Dis bedoel as ’n ope vraag, het Van Dis gesê.

Dit was ’n stormagtige verhouding wat ongeveer sewe jaar geduur het en dit was nie net stormagtig tussen hulle twee nie, maar ook omdat haar pa heftig gekant was daarteen, het sy gesê. "Vir hom was dit totaal onaanvaarbaar dat ek ’n verhouding kan hê met ’n swart man. Hy het dit gesien as verraad teenoor ons gesin, teenoor die familie, teenoor die Afrikanervolk, teenoor alles wat hy vir my probeer tuisbring het, teen my hele opvoeding, en hy het geweier om hom te ontmoet. My pa het geweier om ooit sy naam oor sy lippe te neem en hy het ook tot sy dood toe nooit sy naam uitgespreek nie. Hy het altyd gepraat van ‘die man'. En dan was dit ook met ’n gevoel van 'die man' byna as 'die bose'. En dit het baie jare van baie pyn tussen my en my pa teweeggebring, want ek het geweier of ek het gewoon nié uit die verhouding gestap nie, al het dit later ontsettend ingewikkeld geword. Ek wou aan my pa bewys dit is moontlik dat ’n wit vrou met ’n swart man ’n goeie verhouding kan hê."

"Dit móés slaag. Daarom," het Van Dis benadruk.

"Dit moes absoluut slaag, ja. Ja."

Dit was dus liefde, maar ook ’n vorm van verset; sy wil nou behoort by Afrika, het hy opgesom.

"Ja, dit was liefde en ’n vorm van verset gewees. En dit het my laat verstrengel raak in ’n ontsettend ingewikkelde moreel-etiese kwessies van waar lê my lojaliteit nou eintlik. Want later van tyd het die verhouding gewelddadig geword."

Van Dis: "Jy was ’n feminis, veelal besig met vroueliteratuur. En laat jou ook so nou en dan slaan."

"Ja, en dit het by my verskriklike konflik veroorsaak, maar ek wou nie toegee dat so ’n verhouding nie kán werk nie, en ek het absoluut geglo dat dit gaan regkom. Ek het absoluut geglo in ons liefde, want ten spyte van die geweld was dit ’n intense verhouding met ’n intense passie en liefde vir mekaar," het sy gesê. "So dít was daar en ek het geglo dit sal regkom. Ek wou natuurlik glo dat dit regkom. En toe het ek daarmee begin worstel.”

Mense het “vreeslik druk” op haar gesit en gesê sy kon nie in so ’n verhouding aanbly nie. “Ek het vir myself gesê ek moet ’n besluit neem tussen wat spreek die sterkste tot my – die feit dat ek gekant is teen die rassistiese idees wat sê so ’n verhouding kan nie werk nie of die feministiese idees van jy kan so iets nie tolereer nie. Ek het jare lank geworstel daarmee. Dit het sewe jaar gevat vir my om daaruit los te kom."

Dit beskryf sy in die boek indrukwekkend en buitengewoon eerlik, het Van Dis gesê. Hy het genoem dat sy nou en dan politieke uitstappies maak in die boek, ook dat iemand wat nie heeltemal op die hoogte is van die Suid-Afrikaanse geskiedenis nie, dit sekerlik sal word by die lees van die boek.

Van Niekerk en Denzel (nie sy regte naam nie) het in Johannesburg gaan woon. Hoe is die verhouding in daardie omgewing opgeneem – dié van ’n meisie met ’n swart man? Arm in arm.

"Ja, dit was ook nogal traumaties by tye, want Suid-Afrika was natuurlik nog glad nie gewoond in daardie stadium aan verhoudings oor soos wat hulle gesê het 'die kleurgrens' nie. Ons het in Hillbrow, Johannesburg, gewoon. Hy mag toe nog nie in wit woongebiede woon nie. Maar Hillbrow was ’n bietjie van ’n grys gebied, ’n tussenarea waar dit ’n bietjie oorgesien is.

"Eendag op straat, dit was ’n Saterdag- of ’n Sondagoggend, ons het altyd gestap na so ’n Duitse koffiewinkel waar ons gaan koffie drink en koerant lees het ... Eendag het ons ook so oor die straat gestap en ek het gesien daar kom twee ou vroutjies van voor af. En ek het gesien hulle kyk na ons. Ek het gedog dat dit vir hulle miskien gaan oor lank gelede toe hulle ook verlief was. Ek het dit totaal verkeerd geïnterpreteer. Toe hulle byna by ons is, toe sê die een vrou vir die ander vrou: 'Sodom en Gomorra'. En toe het hulle so ’n draai om ons gestap. En die pyn wat so ’n moment jou aandoen, dis moeilik om te beskryf. Daar het aanmekaar sulke dinge gebeur."

En dan begryp sy ook steeds beter die houding van Denzel wat ’n bloedhekel het aan wit mense, het Van Dis oor haar indertydse geliefde gesê.

"Absoluut, ja. Hy het van die begin af ’n bloedhekel aan wit mense gehad oor wat hulle aan sy familie en sy ouers gedoen het. Sy pa het onder andere in die gevangenis beland as gevolg van wat ’n wit man hom aangedoen het.

“Ons het dan in ons verhouding ingekom, ek met my Afrikanerbagasie, hy met sy wrewel en wrok teen wit mense. Jy't mekaar lief, maar jy bring die dinge saam. As daar dan krisismomente kom of so, dan kom hierdie dinge na die oppervlak, dan speel dit ook ’n rol in jou ... Ek het dikwels die gevoel gehad dat hy sy haat vir wit mense op my uitgehaal het."

Behoort

Maar wat die boek ook laat sien, het Van Dis oor tóé gesê, is dat die wye, droewe land alleen maar uit skeiding bestaan, range en stande waaroor Van Niekerk uitgebreid skryf, deftiger Afrikaners met mooier swembaddens en groener gras. Die verskil tussen die Engelse en die Afrikaners wat die gevolg was van die Anglo-Boereoorlog en nog steeds gekoester word, kan jy byna sê. Niks heerlikers dan om verontwaardig te bly nie – die ergste wat jy kan doen, is iemand se verontwaardiging afneem, want dan het jy niks oor nie. Ook natuurlik die verskille tussen wit en swart, die skeure. Hoe het sy daarin ’n weg gevind? Deur ’n verhouding aan te gaan? Maar probeer sy toe ook op ander vlakke die skeure te heel? Sy skryf byvoorbeeld oor haar bediende wat veel vir haar beteken, maar sy weet van haar eintlik niks nie. “Angelina” blyk ’n heeltemal ander naam te hê.

"Die sogenaamde bediendes wat ons gehad het, het almal meestal Engelse name dan gekry as hulle by ’n wit gesin gaan werk, want die wit mense kon nie hulle name uitspreek nie. En was waarskynlik ook nie so geïnteresseerd in wat hulle regte name of van was nie," het Van Niekerk gesê. "Dit het ons ook nooit geweet nie. As ek daaraan terugdink ... Angelina was so intiem met ons kinders betrokke en het alles vir ons gedoen. As my ouers nie daar was nie, dan het sy ons saans in die bed gesit en soggens as ons wakker word, het ons skoene gepolish gestaan en ons ontbyt was reg. Dan dink jy: Ek weet nie wat haar naam was nie. Dis so ’n skisofreniese wêreld waarin ons grootgeword het.

"Jy is ook grootgemaak met die idee swart mense is minderwaardig, hulle is nie soos jy nie, en daarom hoef jy ook nie hierdie persoonlike dinge van hulle te weet nie. Jy hoef hulle dan eintlik maar net te ken in die funksie wat hulle verrig ten opsigte van jou as bediende of as nanny,” het sy gesê.

En tog was sy ook bewus as kind, soms, dat die bediendes met mekaar iets bespreek het as daar opstande was en die radio daaroor berig het en dan het sy die gevoel gehad dat hulle tog ’n ander kyk daarop gehad het.

Het sy die gevoel dat sy by die kontinent behoort? het hy gevra.

"Absoluut. Dit is ook vreemd, ja, want ek het ook ’n ontsettende liefde en begrondheid en my wortels in Afrika en ek hunker altyd terug nog na Afrika en dit sal ook altyd so wees.”

Alles swart opsy geskuif, dan kan jy Afrika beter sien? het Van Dis gevra.

"Só het ek grootgeword. Later het dit natuurlik alles verander. En soos wat dit nou is, is natuurlik hoe dit moes wees – dit moet ’n demokratiese land wees, almal moet gelyke regte hê en almal moet gelyke toegang hê tot opvoeding en skole en tot werke. Suid-Afrika soos wat dit nou is ... ek voel nou minder skuldig as ek daar kom, as ek daar is. Maar daar is natuurlik ook menseprobleme in die land."

Sy het dit uitgebreid daaroor in haar boek. Die aggressie van Denzel, haar guilty love affair met hierdie swart man, die aggressie in die man, is byna ook die aggressie wat in die land sit, het Van Dis gesê. Sy vertel byvoorbeeld – daar begin die boek mee – met die gruwelike moord op iemand wat baie naby aan haar is, Ruben, asook op sy moeder – die moeder word verkrag. Ook staan daar dan dat daar geen rassistiese motief aan was nie. Glo sy dit self?

Geweld

"Ek glo dit self, ja. Ek glo die moorde was nie rassisties nie. Daar is ook navorsing gedoen en statistieke daaroor van gevalle waar moorde gepleeg is en wat die redes daarvoor is, sover dit moontlik is om dit te agterhaal. Hulle sê iets soos 5% van die gevalle gaan werklikwaar oor rassistiese motiewe. Ek dink die jongens wat Ruben-hulle vermoor het, was gewoon diep beskadig deur ook wat in vorige generasies gebeur het in Suid-Afrika. En dit is soos wat Wouter Gomperts die psigoloog van praat, van transgenerasionale oordrag, van geslag op geslag.”

Sy het verder verduidelik hoedat dit nodig is dat jy binne veilige omstandighede grootword met ’n goeie sorggewer soos ’n moeder of ’n vader. As dit nie die geval is nie, hoe dit dan gebeur dat jy nie die potensiaal ontwikkel om te kan (wat Gomperts noem) “mentaliseer” nie. Jy kan nie ’n ander persoon sien as iemand soos jy met soortgelyke gevoelens nie, en dan is dit makliker om oor te gaan tot geweldsmisdade. Kinders wat onder sulke omstandighede grootword, word dikwels só, het sy gesê.

Van Niekerk gee ’n bykans Bybelse opsomming van ’n aantal moorde; uiteindelik kom sy uit op 18 673 slagoffers van amptelik geregistreerde moorde, 18 177 pogings tot moord, 51 moorde per dag, ’n werkloosheidspersentasie van 41% wat 70% uit jong swart werkloses bestaan en van die wit jongmense 22%.

En dit is die gevolge van apartheid? wou Van Dis weet.

"Daar is navorsing gedoen deur twee persone wat gewerk het aan die Universiteit van Kaapstad se sentrum wat geweldsmisdade ondersoek. Hulle het in ’n opsomming gesê dat die belangrikste redes en faktore in enige land ter wêreld waar geweld prominent is, is as daar groot ekonomiese verskille is, die verskille tussen armoede en rykdom. Die tweede faktor is as die verskille duidelik sigbaar is, en die derde een is as die verskille verband hou met etniese of ander, spesifieke groepe. En in Suid-Afrika is dit presies wat dit was, en dit word natuurlik nou veel beter. Maar daarby is die feit dat Suid-Afrika polities en sosiaal natuurlik ontsettend ontwrig was en dit het ook ’n klimaat wat geweld ontlok.”

Woede en die nawerking daarvan

Maar het die boosheid, die woede wat ongetwyfeld leef, voldoende kon uitkom? het Van Dis gevra. Hy het gesê Europa vind die Waarheid-en-versoeningskommissie pragtig: Iemand bieg oor hul sonde, daar is heelwat voete gewas, mense wat aggressiewe dade begaan het wat toe nie vervolg is nie. In Nederland mag die Nederlanders vir 50 jaar, by wyse van spreke, die moffe (skeldnaam vir Duitsers en wat verband hou met die Tweede Wêreldoorlog) haat. Is daar nog baie haat wat nog na buite moet kom om skoongespoel te word? het hy gevra.

"Baie swart mense in Suid-Afrika, veral van die jonger mense, voel hulle is te kort gedoen, hulle is nooit verskoning aangebied nie. En die wit mense in Suid-Afrika leef nog steeds in veel ryker, veel beter lewens."

Maar as ’n mens die Nederlandse koerante lees, dan sien jy by baie dan tog ’n wonderbaarlike solidariteit met die beklemde witte, onder andere oor die plaasmoorde, veral wit boere. Dít ontkrag Van Niekerk in die memoir, het Van Dis gesê.

Plaasmoorde

Sy wou eintlik baie lank nie betrokke raak by die hele debat oor plaasmoorde nie, het sy gesê. Dit is ’n enorme probleem en dit is verskriklik en dit mag nie, dit kán nie. Maar dit is nie ’n poging om wit mense sistematies uit te wis soos wat die regses sê nie. Nee, dit gaan oor ’n probleem van geweld, en op boerderye manifesteer dit ook. “Boerderye, plase, is natuurlik maklik, mense leef meer afgesonderd, maar – ek het ook die statistieke agter in my boek – as jy ’n boer is op ’n plaas, is jou kanse nie groter om vermoor te word as iewers anders in die land nie."

Van Dis het Van Wyk Louw aangehaal wat in die vyftigerjare geskryf het: "Moet ek vir iemand iets nog sê / in hierdie land / wat luid van alle stemme is / en blink en brand? / of waar die goue lug al lank / die aasvoël dra, / koud ’n gedoemde waarheid weet / wat niemand vra?" Het sy die gevoel dit was ’n digter wat gesien het dit gaan nie goed afloop nie? Is daar nog ’n plék vir wit mense in Suid-Afrika?

"Ek glo daar is ’n plek vir wit mense nog in Suid-Afrika. Dit kom nou weer terug na die vraag wat jy my vroeër gevra het ... Ek vóél Afrika. Ek voel glad nie Europa nie. En ek is wit. En ek glo vir mense soos ons, ons het daar grootgeword, ons is daar ingewortel, ons het ook ’n bydrae gelewer, dit is die grond wat ons ken.”

Van Dis het genoem dat hy Afrikanerfamilies ken wat vroeër altyd op suiwerheid aangedring het en wat liefs afgestam het van Jan van Riebeeck, en wat verhale vertel het van die een Van der Merwe wat 300 000 ander Van der Merwes agtergelaat het. Maar nou sê dieselfde mense wat almal besig is om hulle DNS te laat toets dat dit blyk “hulle het ’n druppel Afrikabloed ... begging to be black.”

"Ja, almal wil nou ‘n bietjie swart wees."

Hoe swart is sy? het Van Dis gevra.

"Ja, ek het ook swart bloed in my. Heel ironies het my pa ons familiegeskiedenis jare lank nagevors en hy het ’n stamboom uitgewerk tot van die heel eerste mense wat uit Europa Suid-Afrika toe gekom het. Maar hy het ook ontdek dat ons baie swart bloed in ons familielyn het. Ons familie gaan byvoorbeeld terug na Eva Krotoa.” Sy het gewys op Krotoa se rol as onder andere Van Riebeeck se tolk.

Rondom vertaling

Die gedagte aan tolking het Van Dis uitgebring by die vertaling. Hy ag dit buitengewoon melodies. Goedegebuure het gesê hy en Van Niekerk het vir ’n jaar aan dieselfde tafel daaraan gewerk en dit was ’n hoogtepunt in hul huwelik gewees, het hy gesê.

Die groot probleem is natuurlik dat Afrikaans en Nederlands so digby mekaar is dat ’n mens allerlei valse vriende kry, het hy gesê. Daar is heelparty woorde in Afrikaans wat jy dink een betekenis het, maar dan eintlik iets anders beteken. Só moes hy aan die begin van hul verhouding ook leer dat die woord "seker" wat vir hom 100% beteken in Afrikaans onder meer "miskien" beteken. Iemand wat die trein amper gemis het, wat in Afrikaans beteken nét gehaal, het Van Dis bygevoeg.

Goedegebuure het as verdere voorbeeld die woord "dam" genoem, ’n woord wat by hulle beteken dat jy water afdam. In Afrikaans is dit gewoon die water self, het hy gesê. Uit sy Zeeland-boereagtergrond weet hy ’n dam op ’n boerdery is  ’n waterput wat gegrawe is en waar die perde en die koeie hul lawe aan die water. Maar ’n dam op ’n plaas in Suid-Afrika is dikwels aangelê met sink, beton of wat dan ook. Dit is iets ánders. Hy kon dit nie vertaal as “die put” soos wat hulle in Zeeuws sê nie, en ook nie eers “die poel” nie; dit is ’n soort water-bassin, maar dit is ook nie ’n goeie woord nie, dus moet jy soek en soek en uiteindelik het hulle dan iets gevind.

 Goedegebuure het altyd vroeg soggens sowat 1 000 woorde vertaal en dan lees hy dit hardop voor. Sy het dit dan geproeflees om te kyk of dit ’n bietjie beantwoord aan haar Afrikaans. Daaruit ontstaan dan telkens ’n diskussie van minstens ’n uur en dan begin hy allerlei dinge in die vertaling bystel. Hulle het juis diskussies gehad oor dié soort valse vriende, ook oor dinge wat onvertaalbaar is.

Land en literatuur

Van Dis het genoem dat Goedegebuure ’n groot belangstelling ontwikkel het vir die Afrikaanse literatuur, ook dat hy waarskynlik ook veel geleer het oor die land toe hy die boek vertaal het.

Dit is absoluut waar, het Goedegebuure gesê, en ook genoem dat hy sedert 1992 gereeld in Suid-Afrika was en dat hy oombliklik verlief geraak het  op die land. Hy en Van Niekerk het in 2003 by mekaar uitgekom en is in 2004 getroud. 

Vir Van Dis is een van die mees wonderbaarlike dinge van die boek dat terwyl hy dit gelees het, oor al die gruwele en al die boosheid wat hy ook ervaar as leser, ’n mens ook enorm baie van die land hou.

Omdat sy self so van die land hou, het Van Niekerk gesê. “Ek is ontsettend lief vir die gevarieerde landskap en dan het ek gewoon myself probeer terugplaas en gedink wat ek voel as ek daar kom, hoe voel die grond onder jou voete, wat ruik jy, wat sien jy. Ek het eg probeer om dit fisies te herbeleef in my herinnering.”

Dit het haar meer as voortreflik geluk, het Van Dis gesê. Wat mis sy tans die meeste?

Dit blyk sy mis die verskeie landskappe van die land – die Karoo, veral die Suid-Vrystaat waar haar pa se plaas was, die boerdery wat hy van sy pa geërf het. “Daar het ons wintervakansies deurgebring, die mooiste vakansies van my lewe.”

Nou sit sy ontheem met ’n Zeelandsee man in ’n propvol land. Die prys is hoog, het Van Dis gesê.

Die prys ís hoog. Sy moes lag toe sy dit bevestig.

Van Dis het haar gelukgewens met wat sy in die boek reggekry het en noem dit ’n pragtige, verwarrende boek. Hy het die hoop uitgespreek dat lesers geduld aan die dag sal lê, maar veral dat die kritiek oopstaan vir iets wat anders inmekaar sit as wat ons so maklik dink die geval is. Hy het ook Goedegebuure opnuut gelukgewens met die gehalte van sy voortreflike, baie melodiese vertaling.

– Op 25 November 2021 gesels die joernalis en vertaler Ingrid Glorie met die skrywer Irma Joubert en haar vaste Nederlandse vertaler, Dorienke de Vries, oor Een thuis in Afrika, die derde deel van Joubert se Onderweg naar Zuid-Afrika-trilogie. Die Surinaamse skrywer Cynthia McLeod gaan ook deel wees van die gesprek.

Lees ook:

Een reis van geweld naar genade

Annemarié van Niekerk se reis na SA se moorddadige hart

Om het hart terug te brengen door Annemarié van Niekerk: Het hart op de goede plaats

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top