In Nederland het Annemarié van Niekerk se boek, Om het hart terug te brengen, pas verskyn. Op 28 Oktober het Zuid-Afrikahuis in Amsterdam die bekendstelling regstreeks uitgesaai. By dié geleentheid het Adriaan van Dis ’n onderhoud met die skrywer gevoer.
En op 19 November om 17:00 tree die Nederlandse sosioloog Abram de Swaan met Annemarié by SPUI25 in Amsterdam in gesprek. Antjie Krog gaan ook daar wees om voor te lees, en vanuit Suid-Afrika gaan Ronelda Kamfer per video ’n gedig lees wat sy spesiaal vir die geleentheid geskryf het.
“Wat kan Van Niekerk mooi schrijven!”
In Nederland praat mense reeds met groot lof van Om het hart terug te brengen en die boek word in dieselfde asem as Antjie Krog se Country of my skull genoem. Robert Dorsman, wat gedigte vir die boek uit Afrikaans in Nederlands vertaal het, vertel: “Ik heb het boek in een adem uitgelezen, en dat zegt eigenlijk al genoeg. Echt heel goed! Prachtig!” Die joernalis Niels Posthumus beskryf Van Niekerk se narratief as “enorm mooi en beeldend”, en die Duitse literator en krimi-skrywer Friedemann Grenz prys Om het hart terug te brengen aan as “a book of great literary quality with an intricate structure”. Abram de Swaan, wat onder andere aan Yale en Berkeley studeer het en gesaghebbend oor geweld geskryf het, sê: “Het boek is spannend en onderhoudend, een echte ‘page turner’. Wat kan Van Niekerk mooi schrijven!”
Annemarié, wat die afgelope 18 jaar in Nederland woon, is “versigtig bly” oor dié komplimente wat die publikasie vooruitloop, veral omdat dit erkenning gee aan die belang van die onderwerp wat in Om het hart terug te brengen aangespreek word. Die boek is ’n aangrypende, ontstellende verkenning van die oorsake en omvang van die enorme geweld wat in Suid-Afrika aan die orde is, en Van Niekerk bou die narratief rondom plaasmoorde wat op Ida in die Oos-Kaap plaasgevind het. Op 15 Augustus 2015 is Ruben Gouws, ’n vriend van Annemarié uit haar beginjare as dosent aan die Universiteit van Transkei (Unitra), en sy moeder, tannie Hermien Gouws, deur drie aanvallers in hul huis om die lewe gebring.
Drie reise
Die struktuur van Om het hart terug te brengen val uiteen in drie reise. “Alhoewel ek aan die begin nog ’n bietjie in die duister rondgetas het, het ek redelik gou besluit dat ek die terugkerende reis wil gebruik as die rugstring van my boek,” vertel Annemarié, “’n reis terug na my verlede, na die geskiedenis van ‘my mense’, die geskiedenis van my land, en dat ek die moorde op Ruben en tannie Hermien hierbinne gestalte wil laat aanneem – ’n ander soort reis die spelonk van geweld in.”
Op die eerste reis maak lesers kennis met die 23-jarige Annemarié wanneer haar pa haar in Februarie 1986 per motor van Port Elizabeth (vandag Gqeberha) na Umtata (nou Mthatha) neem waar sy pas as Afrikaans-dosent by Unitra aangestel is. Hierdie afdeling fokus op Annemarié se grootwordjare binne die eng konteks van ’n Suid-Afrika waar politieke geweld ’n brandpunt bereik, en ook op die kompleksiteite van haar verhouding met haar konserwatiewe vader.
In Augustus 2015 word ’n tweede reis onderneem wanneer Annemarié, nou 52 en reeds 11 jaar in Nederland, na die Oos-Kaap reis om Ruben en tannie Hermien se begrafnis by te woon. Dié afdeling fokus grotendeels op herinneringe aan Annemarié se stormagtige, gewelddadige verhouding met Denzel, ’n swart man op wie sy in Umtata verlief geraak het, en hulle latere verblyf in Johannesburg.
Die derde reis volg van Desember 2016 tot Januarie 2017, wanneer Annemarié, nadat Ruben en tannie Hermien se moordenaars gevonnis is, navorsing in Suid-Afrika kom doen vir Om het hart terug te brengen.
Toe Annemarié oor die struktuur van die boek getob het, het ’n gesprek wat sy met Arundhati Roy oor die beplanningsfase van boeke gehad het, insig gebring. “’n Roman groei om mens heen soos ’n stad,” het Roy vir haar gesê. “Sommige gedeeltes is deel van die ordelike stadsbeplanning; andere dele ontwikkel spontaan en onverwags. Dit is ’n voortdurende dans tussen beheer en loslaat.”
Roy, Atwood, Cole, Sahota en Soyinka
In Nederland het Annemarié se pad met bekende skrywers soos Arundhati Roy s’n gekruis. Na die verskyning van Roy se The ministry of utmost happiness, het Annemarié vir Trouw, vir wie sy artikels en resensies skryf, ’n onderhoud met die skrywer gevoer. Sy vertel: “Een middag, gedurende die paar uur wat sy in ’n hotel op Schiphol was, het Roy enkele onderhoude met die Nederlandse pers toegestaan. Sy is ’n klein bondeltjie mens barstens toe vol energie, ’n pragtige vrou met sterk opinies en ’n fenomenale no nonsense intelligensie.”
Benewens die bydraes vir Trouw het Annemarié rubrieke geskryf vir die Belgiese maandblad Streven. En hoewel sy sedert haar vertrek uit Suid-Afrika nie meer verbonde is aan ’n akademiese instansie nie, gee sy soms gaslesings aan universiteite in die Lae Lande en neem deel aan openbare podiums soos by die Perdu Poëziecentrum, die Historisch Café, SPUI25 en Zuid-Afrikahuis in Amsterdam.
Dit is dan ook binne dié verband dat Annemarié kennis gemaak het met groot geeste soos Margaret Atwood, Teju Cole, Sunjeev Sahota en die Nobelpryswenner Wole Soyinka. “Van jongs af is ek ’n groot fan van Soyinka, so dit was vir my ’n groot eer toe ek by ’n dinee van die Nexus-instituut in Amsterdam gevra is of ek langs hom aan tafel sal sit. Dit was ook tydens ’n Nexus-dinee wat ek Margaret Atwood ontmoet het.”
Toe Annemarié aan Om het hart terug te brengen begin skryf, was sy net klaar met haar en Pieta van Beek se seminale werk, My mother’s mother’s mother, South African women’s writing from 17th-century Dutch to contemporary Afrikaans. JM Coetzee was vol lof vir dié publikasie, wat in 2019 by Leiden University Press verskyn het. Maar, ten spyte van ’n gloeiende ontvangs in Nederland, Brittanje en die VSA, is Suid-Afrikaanse universiteite skynbaar kwalik bewus van dié belangrike bloemlesing. “Dit is eintlik ironies dat 43 Amerikaanse universiteite die boek aangekoop het vir hul biblioteke, in Nederland het die meeste universiteite ’n kopie aangeskaf, so ook universiteite in België, die Verenigde Arabiese Emirate, Switserland en Kanada,” sê Annemarié, “maar in Suid-Afrika het net die universiteite van Stellenbosch, Kaapstad, Pretoria en Potchefstroom ’n kopie op hulle rakke.”
New York
Annemarié het haar vir drie maande in New York afgesonder om aan Om het hart terug te brengen te begin skryf. Sy het tuisgegaan in die woonstel van die Amerikaanse skrywerspaartjie Elisa Albert en Ed Schwarzschild. “Vir my was dit die moment van ‘now or never’ – ek móés ’n begin maak met die boek. Ek het myself gedwing om elke dag ten minste 1 000 woorde te skryf en voordat ek dit nie gehaal het nie, het ek myself nie toegelaat om die apartement, of die biblioteek waar ek ook sommige dae gesit en werk het, te verlaat nie.” In dié tyd was sy juis besig om Teju Cole se roman Open city vir ’n derde keer te lees. “In die roman dwaal Cole se hoofkarakter, Julius, deur die strate van New York. Ek het nogal ’n ding met literêre flaneurs, soos ook die in die stadsboeke van Adriaan van Dis, Orhan Pamuk en Tao Lin,” vertel sy.
En nadat Annemarié bedags haar kwota behaal het, het sy die stad ingevaar. “Ek het my telkens betrap dat ek dink dat ek vir Cole êrens tussen die mensemassas, nes sy karakter Julius, sien loop. Dit was wensdenkery.” Toe Annemarié se man, Jaap Goedegebuure, en haar seun, Stephan, haar vir ’n paar weke kom besoek, is hulle een aand na die legendariese jazzklub, die Village Vanguard, net om die draai van waar sy gebly het. “Jaap is vooruit om in die ry te gaan wag. Toe ek en Stephan bietjie later van die oorkant van die straat aangestap kom, stop ek in my spore: ‘Kyk wie staan voor Jaap in die ry! Teju Cole!’
“Stephan se reaksie was: ‘Jy dink die hele tyd dat jy hom sien. Dis ’n hersenskim, ’n fata morgana.’ Dit was nie. Dit wás Cole. En dit was nie al nie: Die besoekers word plekke aangewys in die intieme klein klubruimte en ons is by Cole aan ’n tafeltjie geplaas. Toe ek niks uit my mond kry nie, het Jaap die woord gedoen: ‘Mr Cole, I presume?’”
Die “bijna magisch vacuüm” van drome
Om die moorde op Ruben en tannie Hermien te moes herbesoek, en daarmee saam sin te probeer maak van die geweldskultuur in Suid-Afrika, was uitmergelend. Maar van handdoek ingooi was daar nie sprake nie. “Dit was inderdaad ’n moeilike proses,” beaam Annemarié. “Die delf in die verlede, om dit weer alles onder oë te neem, dit óm te keer, dit van alle kante te bekyk, en op ’n manier woorde te vind om daaroor te kan skryf.” Spesifieke tydperke en insidente was soms só uitdagend dat sy fisies ongesteld geword het, veral die gedeeltes oor haar verhouding met Denzel. “Daardie tydperk saam met hom het ek tot heel laaste gelos; tegelyk ’n pragtige én pynlike fase van my lewe – dit was asof ek myself nie kon toelaat om daarheen terug te keer nie. Maar toe die res alles klaar en nog net dít oor was, moes ek die bul by die horings pak. Selfs toe ek en Jaap deur die vertaling daarvan gewerk het, het ek elke keer weer naar geword.”
Vir Annemarié speel drome ’n belangrike rol daarin om pyn en verdriet te verwerk, en om uiteindelik daardie “bijna magisch vacuüm” tydens die skryfproses te bereik waar “dromen en verhalen hun eigen vorm beginnen te vinden.” Sy vertel: “In my drome kan ek op ander soorte reise gaan as wat die werklikheid toelaat. Daarom het ek van die begin af drome deel van die struktuur van die boek gemaak. Drome lei jou tot plekke, situasies en belewenisse wat tot ’n ander dimensie behoort. Daar ontdek jy verborge, verskuilde of verstopte aspekte van jouself. En daar vind jy soms antwoorde en oplossings waarop jy nie bedag was nie.”
Jaap, Joan Hambidge en Annemarié se vlegsel
Annemarié het na Den Haag verhuis toe sy met Jaap Goedegebuure, een van Nederland se voorste literêre akademici, getroud is. Jaap het haar bygestaan met die vertaling van die oorspronklike Afrikaans waarin sy die grootste deel van Om het hart terug te brengen geskryf het, en ook om die Nederlands waarin sy die laaste dele geskryf het, te korrigeer. Dit was deels te danke aan dié saamwerkproses en Jaap se onderskraging dat sy vrede kon maak met pynlike herinneringe uit die verlede.
Oor die ervarings van geweld in haar verhouding met Denzel in Suid-Afrika, lank voordat sy Jaap ontmoet het, praat sy met ’n volwassenheid wat net deur heling bereik kan word. Dit verklaar ook waarom sy besluit het om nie Denzel se ware identiteit te onthul nie, juis om sy privaatheid te beskerm: “Ek het ook sy biografiese gegewens aangepas. Ek wil niemand skade berokken deur die boek nie. Die boek is geen wraakaksie nie. Inteendeel.”
Die verhaal oor hoe sy en Jaap verlief geraak het, is kosbaar. Hulle paaie het vroeër verskeie kere in Suid-Afrika gekruis. Maar daar was ’n spesifieke insident toe Jaap as Nederlandse letterkundedosent, en Annemarié as Afrikaanse letterkundedosent, ’n ALV-kongres in Oktober 1992 in Stellenbosch bygewoon het. “Op die kongres in Stellenbosch het iets gebeur wat Jaap nie kon vergeet nie. Tydens een van die referate het hy langs Joan Hambidge gesit en op ’n stadium – ek weet nie of die referaat dalk vervelig was nie – het Joan begin om ’n jong vrou voor haar se lang hare, wat tot by haar middel gehang het, te vleg.
“Die beeld – volgens Jaap gekleur met ’n tikkie erotiek – het by hom vasgesteek en baie jare later het hy my hiervan vertel, onbewus daarvan dat daardie vrou ek was. Dit is amper 30 jaar gelede, en ons is byna 18 jaar getroud. Na ons huwelik moes ek eers ses maande wag op ’n verblyfsvergunning voordat ek en Stephan by Jaap in Den Haag kon aansluit.”
Om geweld te rekonstrueer
Met Om het hart terug te brengen slaan Annemarié ’n nuwe rigting met haar skryfwerk in. In teenstelling met vorige publikasies, is hierdie ’n diep persoonlike verslag waarin haar eie belewenisse intiem blootgelê word. Toe sy op 15 Augustus 2015 die nuus van die moorde op Ruben Gouws en tannie Hermien ontvang, het sy besef dat sy nie meer buite die debat oor plaasmoorde in Suid-Afrika kon staan nie. “Ek wou nooit daaraan deelneem of daarop kommentaar lewer nie – dit word te dikwels en te maklik deur regse stemme gekaap, en uit verband geruk. Maar toe ek die boodskap van die moorde kry, toe weet ek dat ek dadelik terug moet gaan Suid-Afrika toe, dat ek op my eie na Ida moes reis, per motor, dat ek moes gaan afskeid neem van my vriende, van Pinevale, die plaas waar die moorde plaasgevind het en waar ek dikwels naweke deurgebring het, dat ek wou gaan praat met die Gouws-familie wat binne hul familiekring al soveel keer slagoffers van moorde was.”
Sy moes ook op ’n soektog gaan om antwoorde te vind op al haar vrae oor geweld, en dié reis het haar geneem langs die paaie van die geskiedenis van Suid-Afrika. “Ek was gedrewe om te probeer agterkom hoe dit dan gebeur het dat hierdie pragtige land so gegysel word deur geweld – ’n reis wat my ook sou bring op die paadjies van my eie verhaal, die verhaal van my gesin, my familie, my mense, en ons betrokkenheid by die storie van ons land.” En so het die proses van skryf begin. “Ek moes dit uit my uit skryf; ek het geen keuse gehad nie.”
Om het hart terug te brengen word as “faksie” of outofiksie aangebied. Waarheid en verdigsel loop hand aan hand soos in Truman Capote se In cold blood. Die fiktiewe element kom na vore in die manier waarop Annemarié gebeure en gesprekke vir lesers rekonstrueer, byvoorbeeld wanneer sy herinneringe uit haar verlede oproep en tonele van Ruben en tannie Hermien se laaste ure op aarde beskryf. Die fiktiewe elemente gaan gepaard met feitelike informasie en hiervoor moes sy diep in haar geheue delf en omvattend navorsing doen.
“Ek was uiteraard nie teenwoordig toe Ruben en tannie Hermien vermoor is nie, maar ek het dae lank deur die hofverslae en die polisiefoto’s geworstel, ook die verslae van die patoloog. Ek het lang gesprekke gevoer met Ruben se broer – Chris Gouws – wat kort na die moorde op die toneel was en wat self, saam met sy vrou, Linie, ’n paar jaar vantevore op ’n soortgelyke manier aangeval is; ’n aanval wat Linie nie oorleef het nie.”
Sy het onder meer ook uitgebreide gesprekke gevoer met Ruben se buurman – Theuns, wat intussen oorlede is – wat minute voordat die moordenaars toegeslaan het op die werf teenwoordig was. “Ek het ook die verslag van een van die drie moordenaars, oor wát daar gebeur het, en die foto’s waarop hy uitwys wáár dit alles gebeur het, noukeurig deurgewerk.” Op grond hiervan het Annemarié die moordtoneel, “so afstandelik moontlik”, gerekonstrueer. “Ek het probeer om my emosies af te skakel. Ek het ook besluit om sekere momente nie te beskryf nie.”
Gesprekke in die boek met haar pa en met ander mense moes sy uit haar herinneringe en verbeelding herskep. “Ek het dit so waarheidsgetrou en karaktergetrou as moontlik gedoen, maar dit bly fiktief. Mens kan nie ’n gesprek van jare gelede woord vir woord onthou nie, en boonop is mens se geheue selektief – elkeen onthou ’n situasie of ’n gesprek op ’n ander manier.” Annemarié vertel dat sy haar herinneringe aan die mense moes toets wat in alle fases van haar lewe teenwoordig was. “Baie keer het hulle herinneringe weer dinge wat ek lankal vergeet het, teruggebring, pynlike dinge wat ek verdring het.”
Naas gesprekke met haar susters, Ilse en Christine, moes sy oplees oor die Suid-Afrikaanse geskiedenis en sielkundige en sosiologiese studies oor geweld, gewelddadige samelewings en plegers van geweld raadpleeg. Sy wou seker maak dat statistieke en feite in die boek korrek is.
Sodat nuwe drade in die web roer
Soos wat die kommentators in Nederland uitwys, is die skryfwerk omvattend en literêr uitmuntend. Motiewe en simbole word tot in die fynste besonderhede in die narratief ontgin en alles pas soos ’n legkaart inmekaar. Annemarié het van die begin af geweet dat, ten spyte van die outobiografiese en historiese aspekte, die boek sterk literêr moet wees. “Dit kon nie anders nie – dis waarmee ek altyd besig is: literatuur lees, daaroor dink en skryf. Dan is dit onvermydelik dat in detail uitgewerkte motiewe en simboliek deel van die opset word. Dan gaan doen jy ook navorsing oor elke simbool of motief of verwysing wat jy invleg, en so begin daar weer nuwe drade in die web roer.”
Aanvanklik wou sy die boek iewers heen neem, “maar voor jy jou kom kry, neem hy jou, met onverklaarbare krag, iewers anders heen – ’n bietjie soos om met ’n Jack Russel te gaan stap.”
Die titel van die boek verwys na die helende krag van ’n inheemse Suid-Afrikaanse plant: “In Sotho wordt die struik motlepelo genoemd, letterlijk betekent dat ‘om het hart terug te brengen’ ... In Zoeloe wordt die insiswa genoemd, ‘hij die de duisternis verdrijft’.” In Om het hart terug te brengen verduidelik die skrywer: “De weduwen van gesneuvelde krijgers gebruikten het om hun verdriet te verlichten. In de traditionele geneeskunde, heeft iemand me eens verteld, wordt het gebruikt bij de behandeling van allerlei stressgerelateerde klachten – angst, depressie, paniekaanvallen en oververmoeidheid.”
Annemarié beskryf hoe sy vir jare lank stukkies van die Mthathi-boom se bas, wat ook in tradisionele geneeskunde en rituele gebruik word, en wat Ruben met sy knipmes vir haar gesny het, as ’n amulet langs haar bed gehou het. Sedert haar tyd in Umtata het sy egter sowat 15 keer verhuis, en die stukkies bas het verlore geraak. Maar sy vind troos in die meubels in haar huis wat sy en Ruben destyds saam gerestoureer het. Teju Cole se woorde in sy essay-bundel, Vertrouwde en vreemde dingen, oor hoe voorwerpe mens soms intens bewus maak van wat was en nie meer is nie, is vir haar betekenisvol. “Omdat ’n voorwerp ’n reservoir kan wees van ’n spesifieke persoonlike ervaring, gevul met ure uit iemand se lewe – aangeraak en verslete en gerafel deur gebruik – so is Ruben in ons huis in Den Haag oral teenwoordig. Die stukkies bas is dus nie meer daar nie, maar wel die voorwerpe wat my aan Ruben verbind. En nou ook my boek wat ek aan hom opdra, wat vir my ook ’n soort amulet of talisman geword het – iets wat voortgevloei het uit die vertroostende aksie van jare se skryf.”
Die skryfproses was vir Annemarié ’n simboliese handeling waarmee sy haar hart teruggebring het na haar geliefde land en kontinent. Op dié manier kon sy insig, vrede en kalmte kry teen die angs wat ons almal jaag. En al is die frekwensie van geweld in Suid-Afrika buitensporig hoog, skram sy nie weg van die feit dat geweld oral inherent deel is van die menslike kondisie nie. “In Europa het dit veral te make met rassistiese geweld, ook geweld teen vlugtelinge – nie noodwendig net fisies nie, maar in die houding en uitlatings van mense, in diskriminerende gedrag, in die besluite wat geneem word deur regerings.”
Geen maklike antwoorde nie
Om het hart terug te brengen bied nie maklike antwoorde op die kwessie van geweld in Suid-Afrika nie. Die omvattende navorsing en statistiek wat in die boek aangeteken word, dui daarop dat plaasaanvalle nie eenvoudig afgemaak kan word as rasgedrewe kriminaliteit nie. Navorsers oor die verskynsel van geweld en die oorsake wat daartoe lei dat ’n land, ’n regime of individue gewelddadig word, soos Gomperts en De Swaan, en ook Kriegler en Shaw, wie se navorsing spesifiek op die Suid-Afrikaanse situasie gerig is, herlei die oorsake van geweldskriminaliteit na die enorme ongelykhede in ons samelewing. Die verwoestende effek wat armoede en konstante angs op kinders het, met die gevolg dat hulle later nie in staat is om hul medemens se gevoelens te “mentaliseer” nie, sal nog lank met ons wees.
“Geweldige skade is aangerig deur die vernedering en verontmensliking van soveel generasies mense in Suid-Afrika. Die bal is moeilik te stuit. Boonop speel ‘transgenerasionele oorerwing’, wat Wouter Gomperts in sy artikel ‘Geweld en mentaliseren’ noem, ook in Suid-Afrika ’n rol,” sê Annemarié. Verder staan die grootskaalse ekonomiese verskille en ongelykheid in Suid-Afrika ten nouste saam met etnisiteit. “As hierdie dinge nie gelyk getrek word nie, sal die druk waaronder die sosiale orde in Suid-Afrika staan, ook nie minder word nie.”
“Ons moet spasie skep vir hoop”
Maar die hoop beskaam nooit dat dinge beter sal raak nie. “Daar is al baie vooruitgang sedert die koms van demokrasie – kanse op opleiding en beter loopbane is nou vir ’n veel groter spektrum mense ’n moontlikheid, en dus ook toegang tot ’n menswaardige bestaan.” Toe Annemarié vir Arundhati Roy uitvra oor haar versetaksies teen die Indiese premier Modi, het die Bookerpryswenner geantwoord: “Verandering bly altyd ’n moontlikheid. Ons moet spasie skep vir hoop, ons moet bly hoop, nie net vir onsself nie, maar vir die mensdom en ons geskiedenis.”
Om het hart terug te brengen is hierdie week in Nederlands gepubliseer, maar elke Suid-Afrikaner behoort dit te lees. Dit is ’n verlies dat dit nie plaaslik in Afrikaans en Engels beskikbaar is nie. Volgens Annemarié is ’n Suid-Afrikaanse uitgewer nog nie aan boord vir ’n uitgawe hier te lande nie. “Maar my Nederlandse uitgewer, Atlas Contact, is hoopvol dat daar belangstelling elders sal wees en hulle gaan by die Frankfurter Buchmesse voelers uitsteek. Daarvoor is ’n stuk in Engels vertaal.”
Woon die boekbekendstellings aanlyn by:
Op 19 November om 17:00 kan jy die Nederlandse sosioloog Abram de Swaan se gesprek met Annemarié by SPUI25 in Amsterdam aanlyn meemaak. Antjie Krog gaan ook daar wees. Klik hier.
Bydraes deur Annemarié van Niekerk op LitNet:
Annemarié se LitNet Akademies-resensie-essay oor Leon de Kock se André P Brink en die spel van liefde
Annemarié se bespreking van Goede Hoop. Zuid-Afrika en Nederland vanaf 1600, asook ’n onderhoud met Maria Holtrop en Daniel Horst oor die Rijksmuseum se 2017-uitstalling wat met die publikasie gepaard gegaan het.
Annemarié se artikel oor Astrid Roemer wat die PC Hooft-prys in 2016 gewen het.
Klik hier vir al Annemarié van Niekerk se artikels en resensies op LitNet.
Lees ook:
Om het hart terug te brengen door Annemarié van Niekerk: Het hart op de goede plaats
Marieke Lucas Rijneveld se The discomfort of evening: wenner van die 2020 International Booker Prize