Min dorpe is so sterk gekoppel aan ’n taal en sy geskiedenis soos die Bolandse dorpie Paarl. Dis hier waar die Afrikaanse Taalmonument teen die hange van Paarlberg waghou oor die vallei en as bastion staan vir ’n taal wat in 2025 een eeu oud is en die monument dan ’n halfeeu.
Daar is luukse gastehuise met broekieskantomboorsels, Victoriaanse dakkies en rottangmeubels in ’n koeltekolletjie op die stoep; of ou gewels wat vertel van die Europese invloede wat hier kom nesskop het. Dit hou teen die dorp se lang hoofstraat wag onder eeue oue bome, en verbygangers lig nog hul hand om te groet.
Of wyk uit na die plase om die dorp waar van die land se bekendste wynetikette in netjiese wingerdrye tot volryp en barstend bak. Ons besoek is juis só opgestel dat ons terugstap in die geskiedenis en by die historiese Grande Roche Hotel uitspan, maar terselfdertyd die nuwe byderwetse eet- en kuierplekkies ontdek.
By Grande Roche is daar frangipanibome langs die paadjie na ons kamer en weer terug. Ek buk onder die swaar takke. Dit voel of die middaghitte die geur uit hul blomblare pers en dit op die ruie grasperk om jou voete kom lê.
Die herinneringe spoel oor my: Die vorige kere wat frangipani hom so aan ons opgedruk het, was in Indië. Loom middae met potblou swembadwater, drankies met sambreeltjies en die reuk van klam gras met frangipani-ondertone. Mens kan ’n parfuum met dié nostalgie maak.
Ons sit ons bagasie in ons kamer anderkant die lappie wingerd neer en kies koers na die swembad. Die water is blouselblou en uitlokkend. Palmbome van verskillende spesies toring bo ons koppe uit. Die windjie ritsel in die blare en dit steek af teen die ewe blou lug. Ons teug aan yskoue gin-en-tonics terwyl die middagure loom verbytik en die boek kort-kort kerplaks op my neus toe val en ek poog om weer ’n bladsy te lees voor ek verder ’n uiltjie knip.
Die son maak goue strale oor die bulte van Paarlberg agter die hotel. Dis daardie heilige uur wanneer die dag koeler word, almal hul asem uitblaas oor die hitte wat skietgee, glase waarin ys klingel, die reuke wat uit die kombuis kom.
Sjef Kevin Grobler, wat onder meer vir Jan-Hendrik van der Westhuizen se Jan in Nice in Frankryk gewerk het, is nou hier aan stuur van die kombuis, terwyl sy vrou, die kosstilis Inemarie, die bestuur van die restaurant behartig.
Ons is varsgestort en honger op die stoep en kyk hoe die son teen die berge anderkant die dorp patrone verf. Soos nog gaste arriveer, word die stoep ’n heerlike kuierplek waar stemme op die ligte aandwindjie aangedra word. Die sorgeloosheid kom hang om jou skouers soos ’n bekende tjalie.
Kevin voer ons gewillige monde en mae met een heerlike dis na die ander. Die kersies brand laag, die wyn uit die omgewing volrond op die tong.
Die slaap is ’n salige verlenging van goue ure wat ons vir twee jaar misgun is. Die wonder van deel wees van ’n stoepkuier met vreemde tongval as agtergrondmusiek, is iets wat mens amper vergeet het.
Ons sit vroegoggend op ons stoepie en kyk hoe die plaas ontwaak. Iewers gee ’n tuinier potplante water, die nag se frangipani’s en blare word uit die swembad in die restaurant se vierkant gehark en met die sif uitgeskep en die fonteine aangeskakel.
Ons kyk hoe tarentale en swaeltjies duik en fladder bo die druiwe wat soos tafeldruiwe hoog opgelei is en daaronder ’n koele blaredak vir gediertetjies bied.
Die son kruip stadig oor die wingerdblare vir nog ’n heerlike dag in die Paarl. Die eekhorings baljaar in die wingerde. Een skrik. Wye stert en protesterend skarrel hy teen die boombas uit. O die genoegdoening van só te kan sit!
Die tweede koffie is sterk en ryk en lekker en ons geniet die skouspel wat in die tuin aan’t gebeur is soos wat die sonstrale in elke klein hoekie onder elke klein blommetjie en blaartjie inkruip en die besproeiingsdruppeltjies soos klein kristalletjies op blare se punte skitter.
Ons stap terug restaurant toe vir ontbyt. Die musiek kom haal jou by die hekkie van die vierkant en lei jou na die restaurant se voorstoep. Mens kan nie anders as om stil te staan in die voordeur as die uitsig oor die Paarl jou begroet nie.
Gisteraand se goue lug en later flikkerende liggies is vervang met gekleurde motorspikkeltjies in die dorp se straatjies soos wat almal na hul bestemmings haas.
Alles is supernetjies en statig, maar voor die restaurant is daar ’n malse mengelmoes van Iceberg-rose en fyn struike wat oor die netjiese heininkie beur soos ondersteuners by ’n popkonsert.
Die lekker sonstoele op ons stoepie word onder die sambreel ingesleep en ons sit en lees vir ’n paar uur voor ons moet aanskuif na die volgende lekkerte.
Dié lekkerte is ’n besoek aan die Taalmonument, wat onlangs in die nuus was toe ’n oorgretige Suid-Afrikaanse politikus besluit het die naam moet verander. Gelukkig het Afrikaanssprekendes hul stemme dik gemaak in petisies. Hoe heerlik om daar aan die voete van die indrukwekkende monument te staan.
Op een van die toere daar hoor ons dat toe die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie, oftewel die VOC, in 1652 ’n verversingspos aan die Kaap gestig het om varsprodukte aan verbygaande skepe op hul reise na en van die Ooste te voorsien, was Hollands die voorkeurtaal, en die amptenare het hoofsaaklik Hoog-Hollands gepraat.
Die matrose en soldate was van verskillende Europese lande afkomstig, onder meer Nederland, Duitsland, Frankryk en die Skandinawiese lande, maar is almal verplig om Hollands te praat. Hulle het derhalwe ’n vereenvoudigde vorm daarvan gepraat.
Met dié dat die wortels van Afrikaans oor drie kontinente versprei lê – Europa, Asië en Afrika – het die argitek, Jan van Wijk, die monument só ontwerp om erkenning te gee aan die diverse herkoms van Afrikaans.
Daar is ook ’n koffiewinkel, die Groen Galery, met nuwe skeppende werke in Afrikaans wat uitgestal word, asook speelparke en buitelugspeletjies.
Jy kan ook inloer by die Taalmuseum in die hartjie van die Paarl in die pragtige, historiese huis van Gideon Malherbe, een van die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in 1875. Die museum se uitstallings lig besoekers in oor die geskiedenis en diversiteit van Afrikaans. Mens sien onder meer die GRA se drukpers waarop die eerste Afrikaanse koerant ter wêreld gedruk is. Jy sien ook voorbeelde van die oudste Afrikaans wat in Arabiese skrif geskryf is en beleef die avontuurlike reis van Afrikaanse musiek. Begeleide toere is met vooraf bespreking by die Taalmuseum beskikbaar.
Maar dan is ons eers honger en dors.
Laborie, wat uit 1691 dateer, het veel meer as ’n bekroonde wynlandgoed geword; dit is nou ’n kuierbestemming met The Avenue en ons val lekker vas by Stoep, een van die vele plekke waar jy kan eet en drink. Stoep-sit was lanklaas só lekker. Die musiek speel uit oor die ooptes en jou voet tik onwillekeurig saam.
Agter die grasgroen bome en wingerde wink Paarlberg, wat sowat 500 miljoen jaar oud is en bekend vir die drie reusagtige granietrotse genaamd Paarl-, Bretagne-, en Gordon-rots. Die inheemse Khoikhoi het die berg Skilpadberg genoem en van waar ons sit, is dit baie duidelik hoekom.
Ons staar uit oor die groen wingerdrye, met ’n glas Laborie Brut-vonkelwyn, en laat die loomte van die middag ons omvou.
Buite kabbel die water in ’n voortjie en jou oog volg die stroompie tot by die pragtige koperstookketel onder die bome.
Die spyskaart kan lekker tapasstyl geniet word met klein peuselborde en ’n glas Laborie-wyn van jou keuse, of jy kan à la carte eet en met ’n bottel van dié landgoed se wyn kuier. Hier word wyn al vir meer as 300 jaar gemaak.
Die tuisgemaakte geroosterde ragu en linguini is my keuse en my geliefde smul aan hoendervlerkies wat sy vingerpunte vol heerlike taaiheid laat voor hy verskeie ander disse as kleinbordjies geniet. Hy drink yskoue chenin blanc en ek teug aan merlot.
Die plante teen die mure binne Stoep laat die middaghitte wyk en ons krul later op ’n fluweelbank op met kaaskoek en koffie.
Ons laaste stop voor ons huiswaarts keer, is om ons wynrak aan te vul. By die KWV Emporium is daar ’n wye verskeidenheid wyne en ander produkte te proe en te koop, maar dis veral die bekroonde KWV-brandewyn wat pas weer in Londen by die International Spirits Challenge 2022 as die wêreld se beste brandewyn aangewys is, wat jy moet koop! Suid-Afrikaanse brandewyn is vanjaar 350 jaar oud en dis beslis iets om te vier!
- Gaan loer ook in by die Spice Route Destination met verskeie lekkerbekplekke, geskenke, ’n bierbrouery, glaswerkswinkel en -ateljee, alles met die mooiste uitsig, terwyl die kinders op die lekker grasperk en in die speelpark kan baljaar. Ons het die La Grapperia Bistro en Pizzeria baie geniet en daar die gin-proe en pizza geniet. Dis natuurlik dié plek vir flammkuchen! Onder die proelokaal is die Beach Club, waar jy met jou voete in die seesand aan jou gin kan teug en die vertes kan instaar!
- Gaan kuier ook by die nuwe wynkroeg, The Wine Hive, in die hoofstraat. Daar is ’n wye verskeidenheid Suid-Afrikaanse en Italiaanse wyne te proe en te geniet. Die kos is lekker Italiaans-geïnspireerde happies. Dis die gesig van Nomoya Wines, wat in 2021 gestig is deur die Italiaanse paartjie Michela Sfiligoi en Attilio Dalpiaz en die wingerdboukundige Talia Engelbrecht.
Foto’s: Clifford Roberts en verskaf
Lees ook:
Geen perde in die Perdeberg, maar hope ander dinge om te geniet