Boomplantweek kry dieper betekenis vanjaar

  • 0

Al verloor die akkerbome hul blare in die winter, is hulle onlosmaaklik deel van die Eikestad se landskap.

Foto’s: Clifford Roberts, Francois Lombard en verskaf

Suid-Afrika se Nasionale Boomplantweek – wat vanjaar sy 80ste bestaansjaar vier en van 1–7 September 2025 gehou word – het op min plekke vanjaar só ’n diep betekenis as op Stellenbosch, Suid-Afrika se tweede oudste dorp en beslis die een met die meeste én oudste bome.

In die laat 17de eeu het die Nederlander, Simon van der Stel, Goewerneur van die Kaapkolonie, ’n blywende nalatenskap op Suid-Afrika se natuurlike en kulturele landskap gelaat toe hy ná die stigting van Stellenbosch in 1679 die reusetaak van die aanplant van duisende eikebome – ’n bepalende kenmerk van die dorp – onderneem het.

Van die dorp se bekendste bakens is met akkerbome omsoom.

Van der Stel was sterk beïnvloed deur Europese estetika en stedelike beplanning. Hy was geïnspireer deur die groen boulevards van Nederland en Frankryk toe hy hom Stellenbosch as ’n dorp van boomryke strate en vrugbare tuine in sy geestesoog voorgestel het.

........
Van der Stel was sterk beïnvloed deur Europese estetika en stedelike beplanning. Hy was geïnspireer deur die groen boulevards van Nederland en Frankryk toe hy hom Stellenbosch as ’n dorp van boomryke strate en vrugbare tuine in sy geestesoog voorgestel het.
........

Die Nederlanders – wat nie net aan bewind was in die Kaap nie, maar waarvan heelwat op Stellenbosch kom nesskop het – was baie bedrewe in hidrouliese ingenieurswese en het vinnig ’n leiwaterstelsel uit die Eersterivier daar naby Thibaultstraat prakseer en gou het vore ook in Riebeeck- en Millstraat verskyn.

In ou geskrifte word daar heel dikwels melding gemaak van besoekers se verbasing oor hoe mooi die dorp se tuine en boomryke strate is, vertel Johan Nepgen, toergids en eienaar van Stellenbosch on Foot, my op een van sy geskiedkundige dorpswandelinge: “Simon het op eikebome besluit: nie net vir hul skoonheid en skaduwee nie, maar ook vir hul praktiese waarde – eikehout was baie gesog vir meubelmaak en wynvatproduksie. Die eerste van hierdie bome is langs die Eersterivier en dwarsdeur die dorp geplant, wat gehelp het om die rustige karakter van Stellenbosch te vorm wat vandag nog voortduur.

Johan Nepgen, toergids en eienaar van Stellenbosch on Foot.

“Die hout was egter nooit geskik vir wynvate nie, maar het ’n simbool van die dorp geword.”

Baie van die bome wat onder sy leiding geplant is, is meer as 330 jaar oud, wat hulle van die oudste lewende eikebome in Suid-Afrika maak. Hierdie groen reuse, met hul breë blare en knoestige stamme, bied nie net historiese betekenis nie, maar ook ekologiese en kulturele waarde. Vandag word baie as nasionale erfenisbome beskerm en duisende toeriste van regoor die wêreld besoek die dorp vir daardie Instagram-foto voor ’n historiese akkerboom of ’n lekker glas wyn in die skadu van ’n eik.

........
Twee ingrypende gebeure die afgelope twee jaar het Stellenbosch se reputasie as die land se Eikestad ’n geweldige knou toegedien: eers ’n sterk storm in April 2024, wat meer as 200 ou bome ontwortel of erg beskadig het; en nou die polifagiese stompkopkewer, wat sedert 2012 verwoesting onder – veral uitheemse – bome saai en duisende akkerbome vernietig het.
........

Twee ingrypende gebeure die afgelope twee jaar het Stellenbosch se reputasie as die land se Eikestad ’n geweldige knou toegedien: eers ’n sterk storm in April 2024, wat meer as 200 ou bome ontwortel of erg beskadig het; en nou die polifagiese stompkopkewer, wat sedert 2012 verwoesting onder – veral uitheemse – bome saai en duisende akkerbome vernietig het. Die kewer het ook die afgelope paar jaar sy intrek in die ou eikebome op die dorp kom neem.

Aanvanklik is net indringerbome aangeval, maar die lys het aansienlik uitgebrei en verskeie inheemse bome is ook op die spel.

Bo en onder: Met een van ons staptoere met Stellenbosch on Foot, kan jy nie anders nie as om deur die bome bekoor te word.

Met een van ons staptoere met Stellenbosch on Foot, kan jy nie anders nie as om deur die bome bekoor te word. (Foto: Francois Lombard)

In ’n studie deur die Universiteit Stellenbosch se Skool vir Publieke Leierskap (SPL), “An Assessment of the Potential Economic Impacts of the Invasive Polyphagous Shot Hole Borer in South Africa” wat in 2022 in die Journal of Economic Entomology verskyn het, skryf Martin de Wit, ’n ekonoom en akademiese hoof: omgewingsbestuur by die US se SPL, dat die potensiële impak van die kewer meer as R350 miljard oor die volgende 10 jaar kan beloop, as niks gedoen word nie.

Munisipaliteite gaan die swaarste trek, omdat baie van hierdie bome op publieke grond en langs riviere groei.

Stellenbosch is nie verniet bekend as die Eikestad nie, met strate wat met eike- en ander bome omsoom is. (Foto: Francois Lombard)

Die geraamde toekomstige skade is die resultaat van samewerking tussen ekonome by die US se Skool vir Publieke Leierskap en ekoloë by die DSI-NRF Sentrum van Uitnemendheid vir Indringerbiologie (SIB) aan die US, die US se Departement Bewaringsekologie en Entomologie en die Bosbou- en Landboubiotegnologie-instituut by die Universiteit van Pretoria.

Francois Roets, ’n ekoloog in die US se Departement Bewaringsekologie en Entomologie en een van die mede-outeurs van die verslag, sê ’n boomryke dorp soos Stellenbosch gaan omtrent al die Engelse eikebome en ’n klompie plataanbome wat sy strate omring, verloor. In Somerset-Wes, waar die kewer ses jaar gelede vir die eerste keer gesien is, is meer as 20 000 bome reeds besmet en die Stad Kaapstad het al duisende besmette en dooie bome afgekap en verwyder.

Dis nie net die dorpskern waar horingoue bome waghou nie, ook die omliggende gebiede is met akkerbome beplant.

Hy sê stedelike bome is meer vatbaar om voor die kewer se effekte te swig, aangesien hierdie bome gewoonlik reeds onder stremming in ’n stedelike omgewing is in vergelyking met dié in ’n natuurlike woud wat ryk is aan biodiversiteit.

Mense in stedelike gebiede is ook geneig om meer uitheemse boomspesies te plant, waarvan baie gekloon is en nie die genetiese diversiteit het wat nodig is om nuwe plae te beveg nie.

Bo en onder: Die stompe van die oudste boom is ingespan as kunswerk as deel van die Kunsmyl langs die Eersterivier.

De Wit sê voorts as niks gedoen word om die verdere verspreiding van hierdie indringer te voorkom nie, sal munisipaliteite landwyd tussen 2020 en 2030 ’n geraamde 65 miljoen stedelike bome moet verwyder en veilig ontslae raak daarvan. Dit sluit bome op private grond buite stedelike gebiede uit.

Tot op hede is daar geen deeglik getoetste insek- of swamdoder in Suid-Afrika geregistreer om besmettings van die kewer doeltreffend te behandel nie, ten minste nie vir stedelike bome nie.

Malindi Shields en Anita van Eyssen by die Eikendal-boomplantseremonie.

Navorsing is tans onderweg om ’n biologiese beheermiddel vir die swam én die kewer te vind. “Dit sal egter minstens ’n dekade neem voordat die agent [indien een gevind kan word] vrygestel kan word, en selfs langer voordat enige beduidende vermindering in verspreiding verwag kan word,” meen die skrywers.

........
Terwyl wetenskaplikes en botaniste onverpoos navorsing doen om te kyk hoe die kewer gestuit kan word en ou bome gesnoei en gevoed kan word, word daar ook nuwes aangeplant – by die duisende.
........

Maar moenie vrees nie: Dieselfde ywer wat die Nederlander 346 jaar gelede aangespoor het om honderde eikebome oral op Stellenbosch te plant, is in die Stellenbosch Wynroete-bestuur se nuutste projek te bespeur. Terwyl wetenskaplikes en botaniste onverpoos navorsing doen om te kyk hoe die kewer gestuit kan word en ou bome gesnoei en gevoed kan word, word daar ook nuwes aangeplant – by die duisende.

En met die gevaar van die stompkopkewer nou ’n aaklige realiteite, word daar met die nuutste aanplantings in die sentrale dorpskern voorkeur gegee aan Turkse, Naald- en Watereik, wat meer gehard is teen peste, om steeds die naam Eikestad gestand te doen. Buite die dorpskern word inheemse bome geplant.

’n Nuwe begin wanneer bome op plase geplant word.

Inisiatief het nou dié boomplantprojek veel wyer as net Boomplantweek geneem.

Ek gaan klop by die Stellenbosch Wynroetes-kantoor op die dorp aan. My motor is geparkeer onder ’n pragtige akkerboom en ek het die stap in Kerkstraat in die skaduwee van reuseakkerbome terdeë geniet. Elmarie Rabe, bestuurder van die Wynroetes, vertel: “’n Belofte van Wynroete-lede, wat onderneem het om verlede jaar tydens Boomplantweek meer as 1 000 bome te plant om die dorp se lowerryke status te behou, is ver oortref met meer as 6 300 wat reeds geplant is. Boonop hou ons aan met plant en ons meer as 130 lede bring hul kant.

“Wat begin het as ’n missie om die landskap van die land se Eikestad te herstel, staan nou as ’n simbool van veerkragtigheid. Tot op hede is bydraes deur produsente regoor die streek gelewer, met onder die grootste Villiera, wat meer as 2 000 jong boompies geplant het, en De Zalze Gholflandgoed, insluitend Kleine Zalze Wines, met 3 258,” vertel sy.

Van die bome wat afgesaag moes word weens stormskade, is in die Kunsmyl langs die Eersterivier gebruik. Loer gerus hier meer oor dié projek: https://www.artmile.co.za/.

In samewerking met die Stellenbosch-roetefonds sal hierdie veldtog ook plaaslike legendes vereer: Gedenkbome sal in hul eer ook langs die Eersterivier geplant word. Saam met die boom wat verlede jaar vir Jeanneret Momberg, voormalige uitvoerende hoof van Visit Stellenbosch, geplant is, sal nog 10 inheemse bome binnekort volg om bekendes van die Stellenbosch Wynroetes te herdenk, soos vorige voorsitters, stigterslede, sowel as wyle Danie Steytler Sr van Kaapzicht-wynlandgoed.

“Die sukses van hierdie inisiatief was buitengewoon, nie net om bewustheid te verhoog van die bome wat ons omring nie, maar ook om ’n tasbare, blywende impak op die omgewing te maak,” sê Elmarie. “Ons is geïnspireer om voort te gaan om die natuurlike skoonheid wat Stellenbosch definieer, te plant, te bewaar en te vier.”

“Ons nooi alle natuurliefhebbers uit om by hierdie inisiatief aan te sluit deur bome te plant en hul pogings te deel,” sê Elmarie. “Gebruik sosiale media en die hutsmerke van Stellenbosch Wynroetes om die gesprek aktief en lewendig te hou.”

.......
Simon van der Stel se visie destyds was meer as net esteties; dit was ’n vorm van langtermyn burgerlike beplanning, gewortel in skoonheid, nut en nalatenskap.
.......

En hoe gepas dat dié boomplantprojek in Erfenismaand (September) 2024 begin het en nou weer in Erfenismaand 2025 steeds voortgaan.

En hoewel eikebome uitheemse bome is, is hulle onlosmaaklik deel van Stellenbosch – en Suid-Afrika – se erfenis.

Simon van der Stel se visie destyds was meer as net esteties; dit was ’n vorm van langtermyn burgerlike beplanning, gewortel in skoonheid, nut en nalatenskap. Soos die moderne Stellenbosch aanhou groei, staan die bome wat hy geplant het as ’n lewende herinnering aan die verlede – stille getuies van eeue van verandering, maar stewig gewortel in die grond van een van Suid-Afrika se mees historiese dorpe.

En nou pryk daar duisende nuwe bome regoor die dorp en omliggende plase om die volgende 300 jaar se vooruitgang mee te maak.

Kitsfeite

  • Vir meer inligting oor die projek, besoek www.wineroute.co.za of kontak die Stellenbosch Wynroetes-kantoor by info@wineroute.co.za, 021 886 4310 of volg die vordering op Facebook, Twitter en Instagram.
  • Vir ’n lekker historiese wandeling onder die skaduwee van die dorp se eikebome, kontak Johan by https://stellenboschonfoot.co.za/.
  • As jy bome wil aanplant, maar versigtig is vir die stompkopkewer, raadpleeg eers jou naaste kwekery vir die lys wat botaniste saamgestel het vir meer geharde bome of meer geskikte bome vir jou streek.
Lees ook:

Stap vir geregtigheid én studenteregte

Pak jou tas: Stellenbosch

Toyota Stellenbosch Woordfees 2024: Stap in Idasvallei

Ervaar die Eikestad saam met glanssjef Bertus Basson en sy vriende

Chardonnay ’n staatmaker danksy twee pioniers

Ontvlug na tradisie by Vriesenhof

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top