Bosasa se kaartehuis tuimel vinnig inmekaar

  • 0

Bosasa-werknemers wil glo staak nadat hulle gevra is om te werk voordat hulle afgedank word.

Die maatskappy wat sy naam verander het na African Global Operations (AGO), het die afgelope paar weke soos ’n kaartehuis ingetuimel nadat sy betrokkenheid by korrupsie die land geskok het. Dit was nadat  ’n voormalige grootkop by Bosasa Angelo Agrizzi soos ’n kanarie begin sing het voor die Zondo-kommissie wat ondersoek instel na staatskaping.

Agrizzi se getuienis voor dié kommissie het die een geraamte na die ander uit Bosasa se kas laat tuimel.

News24 berig Bosasa-werknemers het Maandag afdankingsbriewe gekry nadat daar vroeër aangekondig is die maatskappy het aansoek gedoen vir vrywillige likwidasie. Die afdankingsbriewe lui glo dat die werkers hul laaste weke by die maatskappy moet voltooi voordat hulle sonder werk sit.

’n Video waarin die voormalige Bosasa-grootbaas, Gavin Watson, die maatskappy se werknemers uittrap en verkleineer omdat hulle byna ’n tender van R800 miljoen verloor het, is ook vroeër op News24 gedeel. Die video is in 2017  tydens ’n personeelvergadering in Krugersdorp geneem. In die video trap hy sy personeel op ’n sarkastiese wyse uit en verkleineer sommige van hulle ten aanskoue van al die ander.

In ’n ander video wat ook in die media se hande beland het, getuig dieselfde Watson tydens ’n konferensie wat by die NG Kerk Moreletapark gehou is oor sy Christelike geloof en die Christelike waardes wat sy maatskappy toepas. Agrizzi het ook voor die Zondo-kommissie getuig hoedat personeelbyeenkomste gereeld met gebed geopen is.

Tydens Agrizzi se getuienis het Watson se naam gereeld opgeduik as die sleutelpersoon wat vir bykans 20 jaar lank aan die stuur gestaan het van grootskaalse korrupsie en omkopery waarby miljarde rand na bewering betrokke was.

Watson loop egter nog skotvry rond terwyl sy maatskappy besig om ten gronde te gaan en verskeie Bosasa-werknemers, onder andere die hoof fluitjieblaser Agrizzi,  reeds gearresteer is en in die hof verskyn het.

Agrizzi wat met die hele sak patats vorendag gekom het, het aan die Joodse gemeenskapsradiostasie Chai FM geen goeie woorde vir sy voormalige baas en vriend Gavin Watson gehad nie. Hy het hom beskryf as ’n narsistiese mikro-bestuurder wat in elke aspek van die sakeonderneming ingemeng het.

Agrizzi het die kultuur by Bosasa beskryf soos die van ’n “erediens” waar gebedsgeleenthede gehou is en geld geskenk is vir godsdienstige instellings om die twyfelagtige transaksies ongedaan te maak.

In die video waar Watson in die NG Kerk Moreletapark oor sy geloof getuig, het hy breedvoerig uitgewei oor die Christelike beginsels waarop Bosasa geskoei is. Hy het onder meer sterk klem gelê op die krag van gebed en hoe gereeld daar by sy maatskappy gebid word.

Sy getuienis by die Christelike saamtrek was in dieselfde tyd toe die spesiale ondersoekeenheid (SOE) reeds besig was met ’n ondersoek van bedrog en korrupsie by Bosasa. Die video waarin hy spog oor sy Christelike beginsels en sy maatskappy se Christelike waardes is deel van ’n DVD wat in 2009 as deel van die Daniël-konferensie gemaak is. Die konferensies word jaarliks regdeur die land by verskeie NG-gemeentes aangebied en is dié slag in die NG-gemeente Moreletapark aangebied.

Net soos Markus Jooste van Steinhoff is Watson iemand wat so ver as moontlik buite die kollig leef en die openbare oog en media vermy. Suid-Afrikaners sal waarskynlik moet wag totdat dié twee een of ander tyd in ’n hof aangekla word voordat hulle kant van die verhaal gehoor kan word. Dit beloof om ’n sepiedrama op sy eie te wees indien dit ooit gebeur.

Lees ook

Bosasa gee glo miljoene vir Zuma se stigting

’n Video wys sakke en sakke vol omkoopgeld

Wiele van geregtigheid begin draai oor staatskaping

Nóg skokke en onthullings oor korrupsie

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top