Bosasa was soos ’n sekte, onthul nuwe boek

  • 0

Met ’n Bybel onder die arm en Christelike waardes as riglyn, het Bosasa die land se geldkoffers vermoedelik so geplunder dat dit die Guptas na Sondagskoolkinders laat lyk.

Dit is die prentjie wat vorendag kom in ’n boek wat pas deur LAPA Uitgewers gepubliseer is. The Bosasa Billions: how the ANC sold its soul for braaipacks, booze and bags of cash gee ’n chronologiese weergawe van die hele Bosasa-sage.

Die boek se eerste oplaag van 10 000 is blykbaar onmiddellik deur boekwinkels opgeraap en ’n tweede oplaag is reeds bestel. Die skrywers van die boek is die joernaliste James-Brent Styan en Paul Vecchiatto.

Terwyl Bosasa besig was om die land vermoedelik te plunder en die staatskas rot en kaal te steel, het hulle voorgegee om ’n maatskappy te wees wat Christelike beginsels handhaaf en die benadeelde deel van die land se bevolking deur middel van swart ekonomiese bemagtiging wou ophef.

Daar is daagliks gebedsbyeenkomste gehou wat deur die hipergelowige Gavin Watson self gelei is. Voormalige werknemers sê dit was soos ’n sekte. Die hoofdoel van die sekte was egter nie om siele red nie, maar om siele te verkoop.

Bosasa se tentakels het na bewering tot in die hart van die land se instellings gestrek: die presidensie, die kabinet, die nasionale vervolgingsgesag (NVG), die media en selfs die parlement.

Vir byna twee dekades het Bosasa die een meesterskuif na die ander uitgevoer om sy tentakels soos ’n seekat s’n om die staatskoffers te span. So het hulle, na bewering, tenders ten bedrae van miljarde rand ingepalm.

Dit was veral die departement van korrektiewe dienste wat, na bewering, tot op die droesem deur Bosasa gemelk is. Om dit reg te kry, het hulle amptenare en politici vermoedelik met ongekende bedrae geld en geskenke omgekoop.

Die omkoopgeld en luukse geskenke is vermoedelik as aas gebruik om tenders en kontrakte te bekom. Ondanks stapels inligting en bewyse in die openbare domein, kon Bosasa langer as tien jaar daarin slaag om enige vervolging vry te spring en was hulle skynbaar baie in hulle skik daarmee.

Die Bosasa-baas, Watson, het volgens die skrywers van die boek geglo hy is onaantasbaar solank wat oudpresident Jacob Zuma aan sy kant is. En hiervoor is Zuma na bewering ryklik met buitensporige partytjies en geld beloon.

Die skrywers vertel breedvoerig van uitspattige partytjies wat vir Zuma gehou is. ’n Yslike koek van meer as R20 000 is byvoorbeeld vir Zuma laat bak vir sy 72ste verjaarsdag. Die koek is deur Bosasa se destydse bedryfshoof, Angelo Agrizzi, ontwerp. Hy het aan die skrywers vertel die koek is inderhaas oor ’n naweek gemaak en het selfs Bosasa se kenteken bevat. In een geval het Watson na bewering self R300 000 kontant na Zuma se privaatwoning in Nkandla geneem.

Invloedryke ANC-lede soos Nomvula Makonyane, ’n voormalige premier van Gauteng en kabinetslid, was glo ook op Bosasa se betaalstaat. Amptenare uit die dae van die apartheidsregime en amptenare wat nuut deur die ANC aangestel is, was vermoedelik verenig in hulle gulsigheid om in ruil vir dienste gelewer van Bosasa se omkoopgeld te ontvang.

Die enkele amptenare wat daarteen geskop en geweier het om deur geld omgekoop te word – soos Vernie Peterson van korrektiewe dienste, wat later dood is – is na bewering gou uitgeknikker met behulp van hooggeplaaste politici wat ook in Bosasa se sak was.

Korrupsie, patronaatskap, die kaping van staatsinstellings en inhaligheid is met ’n skyn van Christelike beginsels en die sogenaamde strewe om minderbevoorregtes te help, na bewering gebruik om hulle eie sakke vol te stop.

Besonderhede van die fluitjieblaser Aggrizzi se klein swart boekie waarvan hy voor die Zondo-kommissie getuig het, word ook in die boek bespreek. Daarin het hy onder kodename boekgehou van omkoopgeld wat vermoedelik gewissel het van R5 000 tot soveel as R1 miljoen kontant op ’n slag.

Die geld wat vermoedelik in ’n kluis in Bosasa se kantore gehou is, is na bewering gebruik om Bosasa se tendermasjien wat die goue eiers gelê het aan die gang te hou. Die maatskappy het volgens Agrizzi tussen R4 miljoen en R6 miljoen per maand in kontant aan omkoopgeld betaal waarvan hy alles in die swart boekie boekgehou het.

Hierdie omkoopgeld was egter slegs ’n druppel aan die emmer om die deure na die land se staatskas oop te sluit en vermoedelik tenders van miljarde rand te bekom.

Lees ook

Bosasa se kaartehuis tuimel vinnig inmekaar

Wiele van geregtigheid begin draai oor staatskaping

Bosasa gee glo miljoene vir Zuma se stigting

Nóg skokke en onthullings oor korrupsie

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top