Wys die Union Jack vir mense in jou vriendekring en vra wat kom dadelik op in hul gedagtes. Die antwoorde sal tien teen een iets wees soos: Koningin Elizabeth; Lady Diana; Buckingham Palace; Big Ben; Harrods; ’n pint (bier); fish and chips; of bangers and mash ...
Daar is egter veel meer wat eg Brits is en veral eg Londen, onder andere die nederige bagel! Regtig, praat maar met enige Londenaar wat hier gebore en getoë is. Die bagel is so eg Londens soos ’n black cab-taxibestuurder met ’n Cockney-aksent. Ek loop my storie vooruit.

Liverpool Street-stasie
My nuuskierigheid en ondersoek na egte bagels het my na net een area geneem, Oos-Londen en noord van die Teemsrivier. Almal met wie ek gepraat het, was dit eens: East End, mate! ’n Sentrale stasie vir die area is Liverpool Street. Vandaar is die tradisionele Oos-Londen-voorstede, soos Tower Hamlets, Hackney, Whitechapel en Bethnal Green, maklik bereikbaar.
Een straat in die area wat sinoniem is met kos, is Brick Lane, ongeveer 15 minute se stap van bogenoemde stasie. Brick Lane is nie bloot ’n straat in die ooste van Londen nie. Dis ’n stuk dinamiese geskiedenis van transformasie, migrasie, aanpassing en ’n gees van vasbyt. Daar is min strate in Brittanje wat soveel keer herskep is deur die koms van mense met hul unieke vaardighede en eie kulture.
Die straat het sy naam te danke aan die baksteen- en teëloonde wat hier bedryf is gedurende die 15de eeu om Londen te voorsien van materiale vir sy post-Middeleeuse uitbreidings en na die Groot Vuur van 1666. Gedurende daardie jare lê Brick Lane net buite die ou stadsmure.

Brick Lane
Die eerste groot transformasie van die straat kom in die laat 17de eeu toe Franse Hugenote arriveer en hulself in Spitalfields- en Brick Lane-omgewing vestig. Hulle sorg vir die vestiging van weefwerk wat Brick Lane in ’n sentrum vir die tekstielbedryf verander. Baie van die ou huise het vandag nog groot soldervensters uit hierdie periode.
Teen die 19de eeu word die straat die hart van Londen se Joodse gemeenskap – die sogenaamde Jewish East End. Joodse immigrante wat ontsnapping van vervolging in Oos-Europa gesoek het, het hulle destyds hier kom vestig. Talle sinagoges en allerlei werkswinkels gaan in die area op en natuurlik eetplekke.
Die straat word beroemd vir sy soutbeesvleis-beigels (Jiddisje spelling). Dis ’n tradisie wat tot vandag toe voortbestaan. Na die Tweede Wêreldoorlog word Brick Lane herskep met die koms van die Bangladesji-gemeenskap. Sinagoges word Moskees en die sogenaamde kerriehuise spring orals op. Vandag, as gevolg van die afskaling van industrieë en stedelike restourasie (gentrification), tref ’n mens hoofsaaklik kunstenaars, ontwerpers en entrepreneurs hier aan. Straatkuns, vintagestyle en kosmarkte het gevolg. Een tradisie bly egter staan – soutbeesvleis-bagels!

Beigel Bake – Brick Lane
In Londen is daar net een plek waarheen jy gaan wanneer die lus jou oorval vir ’n ordentlike bagel en dit is Beigel Bake in Brick Lane. Die plek het oor die jare ’n byna ikoniese status verwerf. Dis in 1974 deur die broers Amnon Cohen en Sammy Minzley begin. Hulle was deel van ’n Joodse familie met baie ervaring as bakkers. Die onderneming sou uit ’n agtergrond van Oos-Europese bakkerytradisies en -kulture groei. Gedurende die 70’s was Brick Lane reeds ’n multikulturele kookpot, met onder andere talle kosjerbakkerye.
Hoe proe ’n goeie East End bagel? ’n Bagel is gewoonlik so groot soos ’n gemiddelde mens se handpalm met ’n klein gaatjie in die middel. Die buitekant het ’n dun korslaag en die binnekant is sag, maar effens taaierig en nie soos gewone brooddeeg nie. Bagels se eiesoortige tekstuur kom daarvan om dit eers vir 30 tot 60 sekondes te kook en daarna te bak. Dit gee die deegoppervlak daardie effense glans en hou die vog in.

Bagel met soutbeesvleis, agurkies en sterk Engelse mostert
Beigel Bake is 24/7 oop en bedien ongeveer 7 000 bagels per dag. Die rye staan by die deur uit en wag om hul bestelling te plaas. Wanneer jy eers binne is, gebeur dinge vinnig en jy moet weet wat jy wil hê. Ek bestel myne met “alles op” – £7,20. Dis ’n maaltyd op sy eie.
Buite op die hoek van Brick Lane en Bethnal Green Street staan en eet ek my bagel in die Londense Januarie-koue. Met elke hap proe ek bagel, soutbeesvleis, agurkies, mostert en die geskiedenis van Brick Lane en Londen.
- Teks en foto’s: Stephen Fourie
Lees ook:
Londen se koffiefees sit dié stad se kafeïen terug waar dit hoort
