Bridget Mangwandi, Mzansi se nuwe MasterChef

  • 0

Die 20-jarige Bridget Mangwandi het tydens ’n opwindende finale uitdaging van MasterChef South Africa seisoen 5 as wenner triomfeer.

Chanel Brink, Bridget Mangwandi en Nabila Shamshum

Nie net is sy die jongste deelnemer nog om hierdie titel op te raap nie, sy is ook die eerste swart vroulike MasterChef-wenner en het so TV-geskiedenis herskryf. Die finale rondte het bestaan uit net vroulike deelnemers, Nabila Shamshum (23), ’n skoolsekretaresse van Johannesburg, Chanel Brink (34) van Durban en Bridget Mangwandi van Hartbeespoort. Nie net dra Mangwandi nou dié gesogte titel en die MasterChef-trofee nie, sy wen ook R1 miljoen in prysgeld.

Kulinêre superster wil inspireer

Mangwandi, wat as ’n kulinêre superster beskryf word, sê haar MasterChef-trofee simboliseer moontlikheid, veerkragtigheid, inspirasie en uitnemendheid.

Sy noem dat hierdie oorwinning nie net ’n oorwinning vir haar is nie, “maar vir elke jong swart meisie wat van buitengewone prestasies droom. Ek hoop dit inspireer die volgende generasie om te glo die wêreld is hul oester, soos ek altyd vir myself sê.

“Ek het nog altyd groot gedroom en het geweet ek gaan iets besonders doen,” voeg sy vinnig by.

Gebede en affirmations

Tydens die finale kragmeting moes die toptwee, Bridget en Nabila, ’n miljoen rand-waardige tweegangmaaltyd opdis wat Afrika-uitnemendheid ten toon stel en hul evolusie van tuiskok tot sjef extraordinaire sou tentoonstel. Bridget het geskitter met ’n waaghalsige koningklipdis en sê dat “lamsvleis was deur die hele kompetisie my veilige opsie en het my keer op keer goeie terugvoer gegee”. Sy wou dit eers veilig speel en weer met lamsvleis werk, maar het geweet die beoordelaars gaan ’n lamdis met haar verbind en dat die beoordelaars “teen die tyd al weet ek kán ’n lamdis voorberei”.

“Toe my ma inkom was dit die bevestiging vir my om iets anders te doen. Ek het besluit op die koningklip en het net daarvoor gegaan. Ek het nie sover gekom om dit veilig te speel nie,” sê Mangwandi. “Ek het gefokus gebly deur my affirmations op te sê en het deur my hele kookproses gebid.” Sy spot dat die klankspan haar verseker moes hoor. “Die opgewondenheid en twyfel moes maar wag tot later, ek was in my zone. My ma het na die tyd vir my gesê sy kon sien ek bid.”

Risikoresepte om te beïndruk

Die beoordelaars was beslis in hulle verwagting van die twee disse: ’n voorgereg en ’n nagereg wat die finale twee deelnemers moes voorberei. Dié twee disse moes hulle groei en vernuf tentoonstel en wys dat hulle die titel en prysgeld werd is.

“Bring alles wat jy het na vore; wees daarin om te wen,” het beoordelaar Justine Drake laat hoor.

Met al die kennis wat sy deur haar reis gedurende die kompetisie opgedoen het en die morele ondersteuning van haar ma, het Mangwandi haar inspirasie uit haar ma se gunstelingresep, appelkooshoender, gevind. Sy het dit na ’n risikoresep vervang met vis (koningklip), iets waaroor die beoordelaars aanvanklik bekommerd was. Boerekoolrisotto, blomkoolpuree, klapperroom en grasuie het die appelkooskoningklip komplementeer.

Met haar nagereg het sy die neem van risiko’s ’n stappie verder geneem met ’n Italiaanse meringue met choux-deeg binne-in kortkorsdeeg en ’n Amarula-vulsel, ’n dis wat getuig het van haar verbeelding, presisie, talent, veelsydigheid, en het haar nuutverworwe tegniese vaardighede tentoongestel. Seisoen 5 se MasterChef-wenner sê sy is bly sy het met risiko gekook, want “dit het aan die beoordelaars my groei en tydbestuur gewys en ek wou juis dit wat my MasterChef-reis my alles geleer het, na vore bring.”

Mangwandi voeg by: “Ek wou regtig die beoordelaars beïndruk en bewys dat ek die titel as die volgende MasterChef werd is.”

Al drie die beoordelaars het hulle positiewe indrukke oor die finale twee deelnemers uitgespreek en beide geloof vir die groei en presisie wat hulle in die finale rondte getoon het.

“Ek straal van trots,” het die beoordelaar Zola Nene gesê.

Bridget Mangwandi se oomblik

Tydens die kwart- en halfeindrondte het Nabila oorwinning gesmaak en ook die beste gereg bedien in die rondte wat Chanel se uitskakeling meegebring het.

Bridget se ma en Nabila se ouers het by die seisoen se voorheen uitgeskakelde deelnemers op die MasterChef South Africa-portaal aangesluit om die seisoen se deurslaggewende kookkuns te aanskou.

Op die vraag of sy die oomblik kan beskryf, sê sy dat dit “moeilik is om in woorde te sit en ek kan dit eintlik nog steeds nie beskryf nie. Ek het eers nie dadelik besef dit is my naam nie! Toe sink dit in en ek besef, dit is my naam, dit is ek, ek is Bridget”, en toe besef sy dit is regtig aan die gebeur. “Dit het soos ’n droom gevoel.”

Refleksie en asemskep

Na ’n moordende 20 weke van kook vir die MasterChef-titel gaan die 2024 MasterChef South Africa seisoen 5-wenner, Bridget Mangwandi, ’n kortstondige ruskans neem om asem te skep en die dankbaarheid van haar MasterChef-reis en -oorwinning te absorbeer. “Dit was ’n monumentale gebeurtenis en dit was harde werk om die punt te bereik.”

Mangwandi sê sy wil “die geleenthede wat met die gebeurtenis kom tot die maksimum benut” en daarom wil sy in die beste gemoedstoestand moontlik wees.

“Daar is samewerkingsgeleenthede met borge, projekte en konneksies met mense wat voorlê. Soveel mense het my reis inspireer en ek wil hierdie momentum aan die gang hou en ontwikkel in iets soveel groter.”

Wat volgende?

“Aanhou kook,” is Mangwandi se besliste antwoord.

Van tuiskok tot sjef met groot ideale! Bridget Mangwandi is opgewonde en entoesiasties oor haar kulinêre loopbaan. Sy wil Karibiese disse kook en “Afrika se erfenis vier” deur hierdie disse aan tuiskokke bekend te stel sodat elkeen dit self kan voorberei.

“Ek wil ander lande se disse, soos kos uit Libanon, probeer en mense aanmoedig om dit ook te probeer. Jy gaan my steeds by pop-up-restaurante sien en ek sal voortgaan om my eie kookstyl te vertoon.”

Boodskap aan die jeug

“Droom groot met vrymoedigheid, die wêreld is jou oester met soveel moontlikhede. Jy hoef nie ’n pad te volg wat reeds gevestig is nie; jy kan jou eie pad volg en jou eie toekoms skep. Jou lewe is jou eie reis.”

Mangwandi sê dat “al maak dit nie sin vir ander mense nie, jy weet waarheen jy op pad is”. Sy wil veral graag jong meisies van kleur aanmoedig en sê: “Weet dat jy verdien om daar te wees en in staat is om groot dinge moontlik te maak.” Sy wil jong meisies ook daarop attent maak dat die gebrek aan verteenwoordiging eerder as aanmoediging moet dien. “Dit is juis jou superpower en die vuur om jou tot groot dinge aan te moedig.”

Vir Bridget Mangwandi is dit belangrik dat jong mense gelukkig moet wees met die loopbaan wat hulle gekies het om te bou.

“Glo in jou roeping, werk hard, beur voort en wees jouself,” sluit sy af. “Dit sal jou deur uitdagings dra en jou weg in die lewe baan.”

MasterChef-magie gaan voort

Al was MasterChef seisoen 5 in beoordelaar Katlego Mlambo se woorde “’n rollercoaster”, sien ons in 2025 ’n splinternuwe MasterChef-reeks op ons televisieskerms.

In hierdie nuwe reeks sal 12 geliefde Mzansi-kombuis-mal-persoonlikhede die hitte in die MasterChef-kombuis trotseer. Weer eens sal beoordelaars Justine Drake, Zola Nene en sjef Katlego Mlambo al die bekendes se kulinêre skeppings onder oë neem. Kykers kan ook heerlike formaatkinkels verwag.

Die Celebrity MasterChef-kampioen sal die pryspot van R1 miljoen met ’n liefdadigheidsorganisasie van hul keuse deel. In die reeks se eerste vier episodes sal die 12 bekendes in groepe van drie verdeel word om hul liefde vir kook ten toon te stel. Die wenner van elk van hierdie “uitdunne” sal dan deurgaan na die halfeindstryd, waarna twee in die eindstryd die stryd sal aansê.

Onder die 12 bekendes wat heerlike maaltye en onvergeetlike oomblikke gaan voorberei, is die sanger-liedjieskrywer Holly Rey, die Afrikaanse akteur Armand Aucamp, die gewilde Expresso-aanbieder Graeme Richards, Sinoyolo Sifo, ’n apteker wat op sosiale media bekend geword het, en die legendariese televisiepersoonlikheid Prim Reddy.

Kykers kan ook uitsien na ’n paar verassingsbesoeke van bekendes, soos die Mej SA-naaswenner en Mej Supranasionaal SA 2023 Ayanda Thabethe, die stylikoon Seth Shezi, Bafana Bafana-middelveldspeler Reneilwe “Yeye” Letsholonyane, akteur Bohang Moeko, rockmusikant en digter Danie du Toit, die modekenner Mzukisi Mbane en die radio- en televisiester Dineo Ranaka.

In episode 1 sien ons vir Holly, Prim en Yeye teen mekaar te staan kom. Dié nuwe seisoen is tydens ’n langtafelete bekendgestel en gaste kon ’n deel van die eerste episode sien.

Die sesdelige, sterbelaaide Celebrity MasterChef seisoen 3 het op Saterdag 30 November om 20:30 begin, met heruitsendings op SABC 2 op Sondae om 18:30 en op Woensdae om 18:00.

  • Alle foto’s verskaf

Lees ook:

Bewaring en voortreflike kos op een bord

’n Suid-Afrikaanse Kersete vir Marinda se laaste 2024-kookklas

Wonderlike kulinêre geheime wag in Brive en omstreke in Dordogne

Of history and Cape wine, on a road less travelled

Herlewingslandbou hier die wagwoord – en jy kan dit proe!

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top